Voortsetting van die wandeltog op die son. Die oorgang van die materiële na die geestelike lewe in ooreenstemmende beelde
31 Kyk, daar lê alweer `n pragtige laan voor ons wat ook na die einde toe smaller word. Dit is al die derde een wat ons betree. Wanneer julle hierdie drie lane agter mekaar bekyk, dan sluit hulle in `n sekere sin soos drie op mekaar gesteekte kegels by mekaar aan, waarby die eindpunt van die een telkens in die basis van die volgende val; want as die lyne van die eerste laan sou deurloop, dan sou hulle mekaar moet kruis op die punt waar ons die eerste monument aangetref het. Maar die berekening is so gemaak dat beide die rye bome presies daar ophou waar ons aan die einde van `n laan telkens `n groot boomronding met `n ornament in die middel aangetref het. Daarom begin hierdie derde laan ook weer baie breed en sal ten slotte net soos die voorafgaandes baie smal eindig.
2 Sou iemand miskien dan nie kan sê: Ek vind dit volstrek gladnie esteties nie. Of die lyne van die laan moet parallel loop, of die laan moet verhoudingsgewys breër word, en moet die lyne in dieselfde verhouding uit mekaar loop waarin `n reëlmatige reguit laan skynbaar smaller word. Op hierdie manier sou so 'n laan dan van begin tot einde skynbaar soos `n reghoek lyk of as `n volkome oral ewe breë baan. So `n struktuur sou van meer kennis en vernuf getuig as so 'n skynbaar inmekaar krimping van `n laan.
3 Dit is weliswaar waar; so `n struktuur kan op die eerste oogopslag benouend lyk, veral by so 'n lang laan soos hierdie, maar die mense wat hierdie laan aangelê het, het `n veel hoër doel daaraan verbonde as slegs die van die uiterlike skoonheid. Daarom beteken hierdie drie lane volkome sinvol en korrek die oorgang van die materiële na die geestelike, innerlike lewe.
4 Hoe moet mens dit begryp? Dit kan ons baie maklik aantoon, want iets soortgelyks bestaan ook op julle aarde, al word dit daar nie direk deur `n laan uitgedruk nie. Met enkele voorbeelde sal ons dit tydens die wandeltog deur hierdie derde laan, waarby tog nie veel belangriks te sien is nie, volkome verduidelik.
5 Gestel dat een of ander vakkundige man `n boek oor sy vak skryf. Dit boek begin met `n dikwels besonder uitvoerig en buitengewone saai voorwoord; gewoonlik is so `n voorwoord omvangryker namate die daaropvolgende werk self geringer van inhoud en omvang is. Die voorwoord mond geleidelik aan uit in `n eenvoudige en tewens kort samevatting, waarin nog eens met weinig woorde gesê word wat die hele voorwoord eerder volkome oorbodig vermeld het. Die voorwoord is gelukkig verby. Daarop volg `n leë, blanko blad waarop soms niks, soms egter met groot letters die gewigtige woord "Inleiding" staan. Slaan mens die fatale blad om, dan begin daar weer `n inleiding, wat nog uitgebreider is as die voorwoord. In hierdie inleiding staan, net soos in die voorwoord, niks anders as `n ietwat breedvoerige lofrede en aanbeveling van die daaropvolgende hoofwerk. Waarmee eindig hierdie ellelange inleiding egter? Gewoonlik met `n kort gesegde, soos: Ons sal ons nie langer besig hou met hierdie oorweginge nie, maar tot die hoofsaak oorgaan. Daar sal die geagte leser alles uitgebrei belig vind wat maar terloops in hierdie inleiding vermeld kon word. En dit is dan ook die einde!
6 Waarom het die skrywer sy inleiding so breedvoerig begin en laat hy dit so dunnerig eindig? Kon hy dit nie net so goed as heeltemal weggelaat het nie? Ons kan hierdie vraag nóg met ja, nóg met nee beantwoord, want dit beantwoord wel aan die beoogde doel. Of dit ook doelmatig sal wees vir die leser, dit sal die leser, nadat hy die hele werk deurgelees het, self die beste kan bepaal.
7 Na hierdie inleiding volg die eintlike hoofwerk dan. Wat sal dan wel, na `n ook weer baie breedvoerige en veelbelowende begin, daarin staan? Sekerlik niks anders as dit wat reeds in die voorwoord en in die inleiding gesê was nie, maar dan met nóg ietwat meer woorde. En so eindig `n geograaf sy werk met die beskrywing van `n gewoonlik baie onbeduidende gehuggie, want vir die groter plasing het hy `n beter plek; dit staan altyd meer aan die begin.
8 `n Wiskundige plaas aan die slot van sy diep deurdinkte werk nog enkele kort, onopgeloste opgawes, waarvan die laaste gewoonlik die mins belangrike is.
9 Ook `n geskiedskrywer bewaar die mees onbeduidende feit vir die allerlaaste bladsy, terwyl hy aan die begin `n baie breë blik op die gehele aardoppervlak gewerp het. So kan julle, met uitsondering van God se Woord, byna alle werke bekyk, en julle sal ontdek dat hulle baie dun aan die slot eindig. Ek hoop dat die voorbeeld duidelik genoeg is.
10 Bekyk ons nou net die bou van `n huis, `n toring of `n kerk; hoe breed dit vanaf die basis opgestel is; maar die huis eindig ten slotte boaan met skuins na mekaar toe lopende kante, die toring in `n spits en die kerk gewoonlik ook in `n baie skerp toelopende dak. Die voorbeeld hoef geen nadere toeligting te kry nie, want die daaglikse beeld gee die korrekte verklaring hiervoor.
11 `n Derde voorbeeld kry julle deur die beskouing van julle seremoniële erediens. Met groot praal kom die mens uit die sogenoemde sakristie (konsistoriekamer) en die mens stel hom dan, sowel voor die altaar as in die agtergrond van die kerk, op die koor steeds meer in die breedte; maar sekerlik na die derde deel van die mis word die dele van die mis al korter en gewoonlik ook steeds minder seggend, en waar mens eintlik die grootste breedvoerigheid sou verwag, naamlik by die sogenaamde "consecrasie", (toewyding) lyk dit al baie skraps daar. Daarna word dit steeds soberder, totdat alles uiteindelik met die kort "Ite missa est" afgeloop is.
12 `n Sogenaamde toneelstuk begin dikwels buitengewoon geheimsinnig by julle en eindig meestal in `n besonder niksseggende skynhuwelik. So begin julle instrumentale musiekstukke ook dikwels baie breedvoerig en eindig dan so summier, waarvan `n mens sou kan sê: Vir die uiters eenvoudige slot was werklik nie soveel ophef nodig gewees nie. So begin ook julle toonladder (toonskaal) met `n swaar, breë en diep bastoon om ten slotte met mooi hoë, baie fyn tone te eindig. Het julle nou genoeg aan hierdie voorbeelde?
13 Omdat ons nog nie aan die einde van die laan gekom het nie, maar ons reeds in `n baie smal gedeelte daarvan bevind, kan ons ook ten oorvloed nog `n voorbeeld daaraan toevoeg, wat ons saak in `n baie helder lig sal plaas; want in die gees gaan dit net soos op aarde. Op aarde het die mense nooit teveel geld nie en al het iemand nog soveel, as hy nog meer kan kry nie, sal hy dit nie versmaad nie. So het mens in die gees ook nooit teveel lig nie; daarom wil die wyse ook steeds wyser word. Ons voorbeeld sal dan ook nie oorbodig wees nie, omdat die lig daardeur toeneem.
14 Hoe lui die voorbeeld egter? Dit lê julle na aan die hart. Julle hoef maar `n blik te werp op die huidige opvoeding van julle kinders, en dan het julle die hele voorbeeld al kant en klaar. Watter grootse en uitvoerige planne maak welgestelde ouers dikwels nie vir hulle kinders nie? Die seun moet studeer en hom daarna nog allerlei ander kunste en vaardighede eie maak; en vir die dogter kom daar minstens `n halfdosyn verskillende leraars oor die vloer. Dit lyk wel asof die seun `n regent en die dogter die vrou van `n vors moet word. Uiteindelik het die seun sy studies voltooi en het die dogter haar in die besit van allerlei niksseggende vaardighede uit die kloue van haar leraars bevry. Maar wat gebeur daar nou?
15 Die goed ontwikkelde en gestudeerde seun word, om praktyk ervaring op te doen, in `n bedompige kantoor op `n sitplek neergesit, van waar hy ook nie bepaald veel vooruitsigte het nie; en vir die dogter geld die volgende: Nou moet ons haar ook nog die nodige huishoudelike vaardighede laat bybring. Wanneer julle die gegewe slegs ietwat aandagtig bekyk, dan kan die betekenis van die steeds smaller wordende laan van die in die begin so breed geprojekteerde menslike lewe julle onmoontlik ontgaan.
16 Maar vir die seun begin spoedig na sy baie sobere praktyk periode weer `n ietwat breër ampsloopbaan en die dogter word uitgehuwelik aan `n man, van wie mens aanvanklik ook groot verwagtinge het. Maar die ampsloopbaan van die seun word uiteindelik alweer by sy pensionering beperkter en die vooruitsigte van die getroude dogter bied ook geen breë perspektief meer nie, want deur haar menige voordeel wat sy as vrou geniet het, vervlugtig dit geleidelik aan, en sy verskraal ten slotte saam met haar vooruitsigte.
17 Wel nou, wat is vervolgens die einde van die derde lewenslaan? Ek dink dat ek dit nie verder vir julle hoef uit te lê nie. Julle hoef maar na die eerste en die beste kerkhof te gaan, en daar sal julle `n hele spul uitlopers van `n breë beginne menslike lewenslaan vind.
18 En kyk, vanuit hierdie gedagte bou hierdie sonmense alles juis so, dat dit volkome met die lewensomstandighede ooreenstem.
19 Eens bou die mense op aarde ook op `n soortgelyke manier. Die sogenaamde Egiptiese piramides is `n sprekende voorbeeld daarvan, want hierdie grootse bouwerke was niks anders as grafmonumente vir groot en magtige mense nie. Hoe groter en magtiger iemand was, des te groter was die piramide wat hy vir hom as grafmonument laat bou het. Wie dit aan die onderkant wil opmeet, sal aansienlike verskille aantref, maar boaan loop hulle almal in `n ewe spits top uit.
20 Dieselfde wysheid vind ons in nog `n baie belangriker mate dan ook hier op hierdie ligwêreld, waar die mense, van veral die distriksgebied, waaragtige oerwyses is. Die vervolg sal vir ons opheldering daaroor verskaf.
21 Omdat ons gaandeweg al pratende weer by die gewenste, hier werklik baie smal einde van hierdie laan aangekom het, sal ons ook weer moedig `n blik vooruitwerp om te sien of daar geen hindernis meer is nie, waardeur ons genoodsaak sou wees om van ons reguit lyn af te wyk. Tot nou toe sien ek, behalwe die ringmuur, wat ons al taamlik genader het, geen hindernis nie. Daarom kan ons onsself heeltemal ongehinderd voortbeweeg oor hierdie nog rustende vrye vlakte tot by die muur. Hoe dit by die muur met ons sal gaan, sal die ervaring ons leer. Dus maar dapper op die muur af!