|
Die Geestelike Son - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 64
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128. |
|
|
Sonbewoners op weg na die kindskap van God
64 Die oudste begin nou net te spreek, en daarom sal ons nou na hom luister. Sy woorde lui so:
Julle almal, my aanwesige kinders hier, luister na wat ek vir julle sal sê en gee dit ook deur aan hulle wat nie hier aanwesig is nie! Julle weet dat ons by soortgelyke geleenthede, waarby die hout op die altaar deur `n hoëre mag begin brand, uit die vlamme van die brandende hout die loodsware voorwaardes gelees het waaraan voldoen moet word, omdat die hoë kindskap van God slegs op hierdie manier bereik kan word. Nooit voorheen het die buitengewone groot geluk ons ten deel geval om uit die mond van `n kind van God te verneem, hoe mens in die eerste plek langs die natuurlike, kortste weg die kindskap van God kan verkry en verder wat daar eintlik presies agter die kindskap van God verborge lê.
2 Hierdie hoogverhewe gas met beide sy medegaste, het ons egter vanuit die oerbron en vanuit die diepste grond laat sien, wat al ons wysheid nooit sou bereik het nie. Ons weet nou dat God, die almagtige Skepper van alle dinge, Self `n volmaakte mens is en altyd as Vader woon te midde van hulle wat Sy kinders is.
3 Verder het ons grondig en noukeurig kennis geneem van die hoedanigheid van `n kind van God en weet nou waarom dit as sodanig erken moet word. Ten derde is ons baie duidelik uitgelê, hoe alle vry skepsele wat van homself bewus is en God as hulle Skepper erken, op die mees eenvoudige en seker mees doelmatige manier, kinders van God word.
4 Dat dit alles waar is, hoef verder geen bewys te verg nie, want om te begin is die borg vir hierdie volledige waarheid nog onder ons en vervolgens staan my eie wysheid borg daarvoor, en vanuit my wysheid het ek, soos julle almal baie goed kon hoor, hierdie hoë bode tog alle moontlike teenwerpinge gemaak om te sien of sy uitsprake ook die strengste proef van die wysheid sou kan deurstaan.
5 Julle het ook almal gehoor met welke onverbiddelike standvastigheid die hoë gas my altyd tegemoet gekom het, en my deur die waarheidskrag van sy woorde as`t ware regstreeks weggelei het van die dwalinge van my insigte. As ons nou sulke voor die hand liggende bewyse vir die waarheid van die uitsprake van hierdie bode het, wat wil ons dan nog meer hê?
6 Die vraag is nou dus enkel en alleen of ons werklik die uitgestippelde weg wil bewandel of nie; wil ons die weg van die deemoed, die liefde en alle selfverloëning in die gees en in die waarheid tree, of wil ons dit nie? `n Vraag wat eweveel wil sê as:
7 Wil ons, na die aflegging van ons verganklike liggaam, as geeste ewige wagters van ons nog so groot wêreld hier bly, of wil ons na die aflegging van die liggaam, dadelik in die gees kinders van God word en daarheen gaan, waar Hy, die enige ewig en oneindig bo alles magtige God en Heer, woon te midde van Sy kinders, wat Hy liefhet met die hele oneindige liefdeskrag van Sy hart?
8 Sien, my liewe kinders, dit is `n buitengewone, baie gewigtige vraag wat hom slegs deur die daad, maar nooit deur die selfs allerwyste woorde sal laat beantwoord nie. Tewens maak ek julle almal daarop attent dat na die aflegging van die liggaam, ons geestelike toestand ook buitengewoon heerlik is, sodat dit aan uiterlike prag en heerlikheid sekerlik al die denkbare ver oortref. Ons is hier in ons liggaam al so buitengewoon mooi gevorm, dat ons uiterlike vorm, volgens wat ek baie goed gemerk het, selfs vir die kinders van God `n groot bewondering afdwing; en tog is hierdie liggaamlike skoonheid nouliks `n vlugtige skadubeeld van die skoonheid wat eie is aan ons onsterflike gees. So is ook ons uiterlike, stoflike woninge al van so 'n stralende skoonheid, dat bewoners van ander, kleiner wêrelde by die eerste aanblik daardeur hulle lewe sekerlik sou verloor. Tog kos die bou daarvan ons slegs geringe moeite, want met die mag van ons verenigde wil is ons immers volkome heer en meester oor die materie wat hom moet voeg, buig en verhef volgens ons wil.
9 Maar wat is selfs hierdie mees verhewe en grandiose (spoggerige) materiële geboueprag, ten opsigte van ons geeste, wat die verste verre ligsfeer bewoon, wat ons byna onbegrensde groot wêreld buitengewoon wyd uitgestrek omgewe?
10 Kyk, dit alles weet ons reeds uit allerlei ervaringe, want daar is immers verskeie onder ons, aan wie dit reeds meermale vergun was om die geestelike dinge van ons wêreld baie duidelik te aanskou. Bygevolg is ons lot deurgaans van `n onskatbare heerlikheid, want ons is as geeste tog waaragtige groot meesters, aan wie nie slegs hulle eie, byna eindelose wêreld ter allerhelderste beskouing ten dienste staan nie, maar ook nog tallose ander wêrelde, wat almal min of meer van ons groot wêreld afhanklik is. Dit alles bymekaar, my kinders, kan ons niks anders sê nie as:
11 Wat wil julle nog meer hê, julle oorgelukkige kinders van `n wêreld wat `n ligdraagster is vir miljarde en nog eens miljarde ander wêrelde? So is dit ook waar, dat daar by diegene wat soveel het as ons en so gelukkig is as ons, tog sekerlik `n hoë graad van dwaasheid saam spreek wanneer hy nog meer wil verkry en nog gelukkiger wil word.
12 Kyk, hierdie sekere wyse gevolgtrekking het ek ook tog aan hierdie hoë gas voorgelê en hy het my dit ook in `n gunstige sin bevestig. Maar luister nou, my kinders; dit gaan by die verkryging van die kindskap van God deurgaans nie om die meer of die gelukkiger word nie, maar om die volmaakter en lewendiger word in die liefde tot God. Julle weet egter almal uit eie ervaring dat ons grootste geluk hier, net soos ons grootste geluksaligheid, deur niks soseer bepaal word as byna enkel en alleen deur ons wedersydse liefde nie. Hoe meer ons mekaar liefhet, hoe inniger ons onsself in die liefde, sowel liggaamlik as geestelik, verenig, des te gelukkiger en saliger is ons ook!
13 Is die periode vir ons nie die gelukkigste, waarin ons onsself binne die mure van ons huise in wederkerige liefde verenig en die hele wondermooie buitewêreld geen blik waardig keur nie? Julle almal kan op hierdie vraag uit eie lewendige ervaring niks anders antwoord nie as; dit is die volle lewenswaarheid!
14 Wel nou, daarin lê dan ook die groot verskil tussen ons allergrootste, maar daarby tog steeds uiterlike geluksaligheid, en die aller innerlikste saligheid van die kinders van God. Wanneer die wederkerige liefde ons as skepsele egter al so gelukkig maak, hoe eindeloos saligmakend moet die liefde dan wel wees, waarby skepsele, as kinders van God, hulle Skepper as Vader sigbaar in die allergrootste liefde omvou en hulle weer deur Hom eindeloos almagtig liefdevol omvou word?! Waar op hierdie hele groot wêreld leef daar wel `n wese wat in staat sou wees om slegs één atoom van die grootte van so `n saligheid te besef, waarby die skepsel as kind teenoor sy Skepper, sy God, staan en Hom met alle liefde kan omvou en weer deur Hom met die allergrootste liefde omvou word?!
15 Sien, my liewe kinders, dit is die oneindige verskil tussen ons en die kinders van God! Bedink net hoe oneindig klein ons saligmakende vonkie liefde moet wees ten opsigte van die eindelose oorvloed aan liefde wat in God woon! En tog bepaal die oneindige klein vonkie ons grootste saligheid! Maar hoe groot moet die saligheid dus wees van die wesens wat vrylik met die hele oneindige rykdom aan liefde van hulle goddelike Vader kan omgaan?!
16 Wat sal ons nou doen? Sal ons bly wat ons is, of sal ons met nuwe lewenskrag as kinders in die arms van ons almagtige, heilige, ewige Vader hardloop?
17 Ek lees nou op julle gesigte dat julle almal alles wil verlaat om by die Vader te kom! Ja, dit is ook geheel en al my idee. Ons wil Hom liefhê, asof ons duisend harte het, en ons wil deemoedig wees asof ons gladnie sou bestaan nie, dit is maar net om na die uiterlike lewe oor te gaan na die plek waar hierdie heilige Vader woon!
18 En jy, hoogverhewe bode, wees volkome daarvan verseker dat ons nou almal eensgesind die weg sal bewandel wat jy vir ons gewys het. Seën ons op die nuwe pad, sodat ons gelukkig mag aankom op die plek waar jy jou sekerlik lankal allersalig bevind in die woning van God, jou eindelose heilige Vader!
19 Sien, na hierdie woorde val die oudste op sy aangesig en sy kinders volg sy voorbeeld. Nou seën ons hulle en nadat ons hulle geseën het, kan julle julleself ietwat deur my laat optel. Kyk nou, ons het omhoog gegaan en ons mooi wêreld sweef alweer soos `n baie klein sterretjie in `n eindelose diepte. Maar kyk daar benede; dit is julle son. Ons is nie meer ver daarvandaan nie; tog sal ons nie te vinnig, maar eerder haar geheiligde oppervlak saggies nader. Die keer egter nie die materiële nie, maar die geestelike oppervlak, en wel op `n plek wat nou juis volkome ooreenstem met dieselfde plek op die materiële oppervlak. Laat ons dus saggies na benede gaan!
|
|
|
|
|