Die oorsprong van alle dinge en verskynsels
51 Julle het my raad so goed as moontlik opgevolg en kyk nou, soos wat ek kan sien, stom verbaas na die wonderlike dinge wat hulleself hier in `n baie ander lig aan ons voordoen.
2 Daarom vra julle nou: Maar beste vriend en broeder, hoe is dit dan in hemelsnaam moontlik?! Kyk, toe ons so in ons gemoed aan die Heer dink, verander die wit lig waarmee alle dinge hier omgewe was, geleidelik aan in `n rooiagtige lig en deur die rooiagtige lig is alle voorwerpe nou baie duidelik te siene.
3 Ons sien nou die versierde pilare, die galery, die deure binne in die gebou en die hangende, gelykbenige, uit balle saamgestelde kruis. Nou kan ons die twaalf balle sien wat ons voorheen maar net op gevoel getel het.
4 En kyk net daar, wat `n prag in hierdie balle! Elke bal blyk wel `n klein wêreld te wees waarin nagenoeg tallose wonderlike dinge as`t ware lewend te siene is en dan in elke bal weer iets baie anders. En vir sover ons dit met ons oë kan waarneem, blyk die skeppinge in hierdie balle presies ooreen te stem met die twaalf stellinge wat jy, beste vriend en broeder, ons in twaalf skitterende uittreksels aangereik het.
5 Ag, hoe heerlik is dit tog om sulke wonderbaarlike dinge te aanskou! Waarlik, mens kry nooit genoeg daarvan nie; mens is telkens weer verruk by die aanblik van hierdie miniatuurwêrelde in die twaalf balle waaruit die kruis saamgestel is.
6 En kyk net na die pilare. Werklik, aan die buitekant is hulle so glad gepolys dat ons die oppervlak van die eter nie gladder vir onsself kan voorstel nie, maar die inwendige van die pilare is tog eg lewend en stem in `n meer uitgebreide en uitvoeriger mate ooreen met alle wonderlike verskyninge in die balle. Dit is buitengewoon pragtig om te sien hoe die kleure van die mees veelsoortige vorme, wat hulle binne in so `n pilaar beweeg, voortdurend rustig wissel.
7 `n Sagte skittering bekoor die oog steeds opnuut, want by die geringste beweging kom ander kleure tevoorskyn en die merkwaardigste daaraan is, dat hierdie kleure, wat gelyk is aan die van ons op aarde, hier `n baie ander karakter aanneem. Ons ken ook rooi, groen, blou, pers en geel en die mees verskillende oorgange van hierdie kleure, maar werklik, wie daaroor sou wil nadink, kan dit doen en vir elke kleur `n basis vasstel en volgens hierdie basis die oorsprong daarvan bepaal. Ja, hy mag sê welke rooi die oorspronklike rooi, welke groen die oorspronklike groen, welke blou die oorspronklike blou, welke pers die oorspronklike pers en welke geel die oorspronklike geel is, waarvan dan alle ander kleurnuanses afgelei is.
8 Welke rooi is dan die eintlike rooi? Is bloedrooi die eintlike, of roosrooi, of purperrooi, of skarlakenrooi, of karmynrooi? Dit is almal rooi en tog is elke rooi anders as die ander. Is donkerrooi meer die oorspronklike rooi of ligrooi? En elke kleur het sodanige verskille; waar is nou die oorsprong daarvan? Kyk, beste vriend en broeder, dit kan niemand op aarde eintlik bepaal nie, maar hier sien ons die basiskleure werklik en dit laat ons dink aan `n ryp ananas (tipe pynappel), waarvan die mense sê dat hy elke smaak wat `n mens hom maar kan inbeeld, in homself het.
9 Hier sien ons dan ook werklik kleure wat dikwels asof vanuit die agtergrond na vore straal. Hierdie kleure het so `n merkwaardige glans, dat mens in die rooi alle nuanses tegelyk kan sien en die skakering rig hom as`t ware na die wens van die toeskouer. Die rooi, wat mens hom die sterkste voor die gees bring, spring op die oomblik ook die sterkste na vore, maar sonder om die eintlike basiselement van die kleur rooi tot niet te maak. Ja werklik, van sodanige kleure sou `n arme sondaar op aarde sekerlik nooit kon droom nie.
10 Bygevolg het ons op aarde wel suiwer gedeelde en gebroke kleure, maar van `n basiskleur wat al haar nuanses in haarself het, is daar by ons absoluut geen sprake nie. By ons kom wisselinge in die wese van die kleure ook wel voor, maar by hierdie wisselinge kom daar by elke wending `n baie ander kleur tevoorskyn. By die wisseling hier, glans daar in die rooi kleur maar net alle nuanses van rooi, in die groen alle nuanses van groen en so verder deur die hele kleurepalet.
11 Wonderlik genoeg ontdek ons daarnaas egter nog baie nuwe, vreemde kleure, wat ons nog nooit op ons skraal aarde teëgekom het nie. Ja werklik, op aarde is alles slegs stukwerk, alles slegs in mat, `n baie gebroke weerglans van al die heerlikheid wat ons hier in so `n oordaad aanskou.
12 O liewe vriend en broeder, sê ons tog wat ons hiervan moet dink. Waarom kon ons voorheen in die wit lig niks, maar nou in die rooi lig tog so eindeloos baie sien?
13 Ja, my liewe vriende en broeders, dit alles bewerkstellig die liefde en haar lig. Ek het dit immers al dadelik in die begin vir julle gesê: In die absolute lig van die wysheid is daar vir `n beperkte gees niks of weinig te sien nie, maar in die lig van die liefde word die lig van die wysheid in vorme gepers en dit kan nie meer uit die eenmaal opgelegde vorm ontkom solank die lig van die liefde, of beter gesê, die vuur van die liefde lyk asof sy dit met duisend sterk arms gevange hou nie. In die absolute lig van die wysheid lyk die mens soos `n van die wynstok afgesnyde rank wat verdor en mettertyd oplos en nooit een of ander vrug voortbring nie. In die lig van die liefde bly hy egter aan die wynstok en bring duisendvoudig vrugte voort. Dat dit volledig letterlik korrek is, kan julle met die minste moeite in die wêreld duidelik by julle sogenaamde nugtere filosowe sien. Hierdie mense verag die liefde, verklaar haar selfs as dwaasheid en dweep voortdurend met suiwer bosinlike spekulasies, bou die een grondstelling na die ander op, vorm die een hipotese na die ander en verloor dit vanuit hierdie grondstellings en hipoteses in tallose gevolgtrekkings wat ewe onbeduidend is as wat hulle grondstellings en hipoteses self is. Wanneer jy hulle dan aan die einde van hulle betoog die een en ander oor al hulle beginsels, hipoteses en gevolgtrekkings vra, dan sal hulle jou daarop `n antwoord gee, wat hulle ten eerste self gladnie begryp nie en wat julle derhalwe nog minder sal begryp, en die mees wyse gevolgtrekking wat die groot filosowe ten slotte laat hoor is, dat hulle, as die mees verstandiges, niks weet, niks het en niks is nie!
14 Sodat julle dit nog beter kan insien, kan ek julle wel enkele van sodanige filosowe uit die oude doos en nuwe tyd noem. Julle sal seker van Sokrates, Aristoteles en Plato gehoor en gelees het. Hierdie drie wyses, hoewel mens hulle tot die beter tipe moet reken, het met al hulle wysheid nog nie die miljoenste deel verkondig van dit wat `n baie eenvoudige kind wat nouliks kan lees, sê, wanneer hy die Heer vir die eerste keer gelowig "liewe goeie hemelse Vader" gesê het nie.
15 Hulle was op jag na fenomene en ervaringe, maar waarvoor het dit hulle gedien? Hulle kon immers die oorsaak van geen enkele ding begryp nie, wat tog slegs in die liefde tot die Heer lê.
16 Wie sou wel die tallose fenomene regtig wil tel; wie wil in die oneindigheid tot hulle oorsprong deurdring? Want waar hy ook maar glo hy daar een gevind het, sal hy hom weer presies in die bedrieglike middelpunt van die oneindigheid bevind, van waaruit dit weer natuurlikerwys in alle rigtings oneindig verder gaan.
17 Wie egter die liefde het, het die oorsprong van alle dinge en van alle verskyninge in homself, omdat hy die Heer in hom het; daarom kan hy ook oral sonder enige moeite tot die kern kom. Maar die wysheids- of oneindigheidsjagter sal in die oneindigheid sekerlik moeilik een of ander doel vind waarop hy sy vlugtige en nietige wysheidsgeskut sou kon rig.
18 Ek dink dat, met hierdie paar voorbeelde, hierdie aangeleentheid wel taamlik duidelik vir julle geword het, veral as julle bowendien nog `n blik werp op die filosowe van julle tyd wat almal hulle geskut op die Heer rig, en Hom sou wil vang en meet met `n elstok en meetlat. Wat het hulle ten slotte met al hulle geleerdheid bereik? Niks anders nie as dat hulle die Heer verloor het!
19 Die Een wat hulle soek in die oneindige en ontoeganklike, vind hulle nie en hulle was uiteindelik genoodsaak om uit eie nietigheid `n god te skep wat egter dan eers god is, wanneer hulle as oppergode, so `n begrip behoorlik in hulle voorstellingsvermoë opgeneem het. Om hierdie klaarblyklike domheid met één oogopslag te kan insien, het mens myns insiens absoluut nie meer nodig as die verstand van `n kind van hoogstens vyf tot sewe jaar nie. `n Eenvoudige mens vir wie selfs die woord "wysbegeerte" of "filosofie" ewe vreemd is as beide die pole van die aarde, sal by `n sodanige voorstelling van die Godheid oombliklik met die weliswaar hoogs simpele, maar des te treffender antwoord voor die dag kom en sê:
20 Haai vriend, hoe is dit moontlik? As God eers dan God sou wees as julle Hom sou bedink, dan sou ek tog ook graag wil weet wie julle geskape het en as julle al `n god sou kan bedink, wie het julle dan daartoe in staat gestel? Want wat julle oor God sê, is immers nog veel dommer as wanneer iemand in alle erns sou wil beweer dat `n huis vanself ontstaan, sonder boumeester, en dat `n mens eers dan `n boumeester word, wanneer `n huis, wat vanself ontstaan het, hom uiteindelik as sodanig wil aanvaar.
21 Kyk, het hierdie beskeie mens met sy eenvoudige uitspraak nie ontsaglik baie wyser gespreek as die hele hooggeleerde filosofiese kollege bymekaar nie? Ja, van hom kan mens sê: Hy het die spyker op die kop geslaan en het met één slag `n groot houer vol witglansende brommers doodgeslaan, want die brommer is tog onteenseglik die mees treffende beeld en simbool van `n absolute filosoof; wat glans al was hy ook met suiwer goud beklee. As mens hierdie vlieg in die vrye natuur sien, sou mens tog glo dat die diertjie die kostelikste ligetervoeding in hom sou moet opneem, waardeur sy uiterlike so `n pragtige glans verkry. Lê daar egter êrens `n hoop uitwerpsels, hetsy van menslike of dierlike afkoms, dan kom mens baie gou agter, welke geesteskind die diertjie is en met watter kos hy homself voed. Vind hy `n mishoop, dan suig hy net so lank daar rond, totdat hy alles wat smaak daaraan onttrek het. In die restant sorg hy dan vir `n hele spul eiers, waaruit in hierdie nie bepaalde estetiese woonplek, na `n kort tydjie weer nuwe vlieë van dieselfde soort ontstaan.
22 Doen julle filosowe nie presies dieselfde nie? Uiterlik gesien lyk dit asof hulle oorloop van die gedugste goud van die egte wysheid en hulle handelinge noem hulle suiwer geestelik. Vra julle hulle egter ernstig na iets suiwer geesteliks, dan sal julle by hierdie mense dadelik op die allergrofste materialisme stuit. Die gevolg is, dat hulle vir julle onmiddellik sal uiteensit dat daar sonder materie deurgaans niks geestelik gedink kan word nie en dat die geestelike dus eers aan die materiële onttrek moet word en nooit en nêrens selfstandig kan bestaan nie. Om hom te manifesteer het dit oral `n materiële organisme nodig. Val dit weg, dan val ook alle geestelike werking en manifestasie weg. Die menslike denkvermoë is dan niks anders as die werking van die materiële organisme, waarin die kragte hom eers dan in `n chemiese distilleerfles moet ontwikkel om dan solank te werk, as wat die distilleerfles in stand gehou word. Het die distilleerfles deur `n ongelukkige gebeurtenis aan haar einde gekom, dan kom daar ook `n einde aan haar ontwikkelde en werkende chemiese kragte.
23 Kyk, presies so filosofeer ons brommer immers en sê in `n sekere sin deur haar manier van doen: Ek leef net van vuilis en wel solank ek maar êrens vuilis kan vind. Neem julle die vuilis van my weg, dan is dit gedaan met my lewe, want ek suig my lewenskrag slegs uit die vuilis uit en is daarom in al my dele niks behalwe glansend vuil nie. Neem dit weg en ek, glansende brommer, het opgehou om te bestaan! Gelukkig dat ek nog `n reproduserende krag besit, anders gaan met die wegneem van alle vuilis nie net ek nie, maar my hele geslag met één klap volkome ten gronde.
24 Dus, absolute filosowe klamp hulle vas aan die materie, omdat hulle dink dat hulle daarin `n sentrum oftewel `n reële standpunt gevind het.
25 Waarom hou hulle egter vas aan die materie? Omdat hulle hulleself, net soos `n brommer, voortdurend en uitsluitlik in die onhoudbare, lugtige wysheidslig beweeg. Maar omdat hulle niks daar vind nie, moet dit hulle immers goed geval as hulle op een of ander brokkie materie kan gaan sit, om te probeer om met hulle wetenskaplike suigsnuite, die geestelike lewenstof daaruit op te suig. Wanneer dit daar baie spoedig uitgesuig is, bly daar vir hulle uiteindelik niks anders oor nie as om hulle standpunte, oftewel in hulle leerlinge, of in hulle nagelate geskrifte te laat voortlewe. Daardeur word die laaste reste van die ekskremente opgeteer en bly daar uiteindelik niks waardevols meer van hulle oor nie, as net hulle name en die feit dat hulle met al hulle geestelike arbeid volstrek niks geesteliks gevind het nie.
26 Kyk, dit alles leer en toon die rooiagtige lig in wese vir ons. Daarom sal ons onsself ook in die lig dadelik na die tiende verdieping, of na die elfde galery begewe. Hier is die trap; dus gaan ons maar dapper daarop af!