Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 92

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Woekermentaliteit - die mees verderflike vir die Heer

92 Mens sal sê: Hierdie bepaling klink vreemd, want wat kan `n erfgenaam daaraan doen dat hy die vermoë van sy ouers of van ander ryk verwante volgens die staatswet regmatig verkry het? Moet hy by die oordrag vir homself uitreken wat hom natuurregtelik toekom, slegs die gedeelte van die erfenis behou en die ander deel aan wie dan ook skenk? Moet hy die hele vermoë weliswaar aanneem, maar slegs die hom toekomende, natuurregtelike erfdeel daarvan as eiendom beskou en die groot oorskot, ter ondersteuning van arm geworde luiaards, self beheer of dit oordra aan die bestuur van liefdadige instellings?

2 Dit is `n vraag waarop mens gewoonlik geen of hoogstens `n eenlettergrepige antwoord op verskuldig is. Is die goddelike wet en die staatswet of die goddelike wysheid en voorsienigheid en die wêreldse staatspolitiek en die sogenaamde diplomasie dan een en dieselfde? Wat sê die Heer dan? Hy sê: "Alles wat vir die wêreld groot is, is vir God `n gruwel!"

3 Bestaan daar `n groter onreg in hierdie wêreld as `n onregmatige staatsgesag wat, van goddelike kant beskou, nimmer na goddelike raadsbesluite, maar slegs volgens wêreldse staatkundige politiek en diplomasie, volkere onderdruk en uitbuit en hulle krag gebruik vir eie verkwistende, verterende welvaart?

4 As dit al afskuwelik en skandelik is wanneer iemand een, twee of drie van sy broeders bedrieg, dan moet dit voor God nog baie afskuweliker wees wanneer mense weet om hulle met alle geweld te kroon en te salf om as gekroonde en gesalfde hele volkere ten behoewe van eie oordadige weelde, op alle moontlike maniere te bedrieg, hetsy deur middel van sogenaamde staatkundige diplomasie of, as dit nie anders kan nie, deur wrede, openlike geweld!

5 Ek dink dat hieruit duidelik blyk hoeseer die regte van die meeste teenwoordige state lynreg teen die goddelike indruis. Verder dink ek ook dat, wanneer die Heer tot die ryk jongeling sê: "Verkoop alles wat jy besit en verdeel die opbrengs onder die armes, maar jy, volg My, dan sal jy vir jouself `n skat in die hemel berei", hierdie uitspraak hopelik tog voldoende moet wees om daaruit te leer hoe `n ryke op aarde sy rykdom sou moet verdeel as hy die ryk van God wil oes. Doen hy dit nie, dan het hy dit aan homself te wyte as dieselfde oordeel hom sal tref, wat die Heer oor die treurig geworde jongeling uitgespreek het, naamlik dat `n kameel makliker deur die oog van `n naald sou gaan as dat 'n ryke in die ryk van die hemele sal kom! Daarby moet mens wel bedink en rekening daarmee hou dat die Heer hier `n hoogs betreurenswaardige oordeel oor `n jongeling, dus sekerlik oor `n erfgenaam, uitgespreek het.

6 Mens sou gevoeglik kan vra; waarom moes hier nou juis "`n ryk jongeling" en waarom nie een of ander reeds bejaarde spekulant optree, aan wie die Heer Sy ewige misnoeë oor elke aardse rykdom sou laat blyk het? Die antwoord is voor die hand liggend; die jongeling was nog geen deurgewinterde vermoënsbeheerder nie, maar hy was nog in die stadium waarin die jeug meestal nog nie geweet het om die aardse rykdom volgens sy korrekte waarde te skat nie. Juis om die rede kon hy die Heer tenminste vir `n kort tydjie nader om die korrekte riglyne oor die gebruik van sy rykdom van Hom te verneem. Eers by die insig in die goddelike wil, val hy van die Heer af en keer hy na sy rykdomme terug.

7 Die jongeling het dus die voorreg, juis omdat hy as jongeling nog nie toerekeningsvatbaar was nie, om naby die Heer te kom. Maar die al deurgewinterde, ietwat ouer, ryk herbergier, spekulant en woekeraar staan soos kamele agter die oog van die naald, waar hulle eers deurheen sou moet kruip om net soos die jongeling by die Heer te kom. Bygevolg is dit gladnie meer vir so 'n ryke vergun en gegewe om, net soos die jongeling, voor die Heer te verskyn nie. Vir hulle het die Heer helaas egter `n ander, baie opmerklike voorbeeld gegee in die verhaal van die "ryk brasser". Meer hoef ek julle nie te sê nie.

8 Wie van julle ook maar `n bietjie kan nadink, sal uit dit alles met die grootste gemak kan aflei dat vir die Heer van die hemel en alle wêrelde geen menslike kwaad so afskuwelik en veragtelik is as die rykdom wat deur woeker verkry is nie en die gevolge daaraan verbonde. Vir geen ander kwaad sien ons die Heer oor lewe en dood die afgrond van die hel so helder en aanskoulik open as juis vir hierdie ondeug nie.

9 Of dit nou gaan om doodslag, egbreuk, hoerery of wat dies meer ookal, niemand op aarde het meegemaak wat die Heer hom daarvoor na die hel verdoem het; maar hierdie woekersonde het Hy oral, by die priesterklasse sowel as by elke ander privé-toestand, baie nadruklik met woord en daad getugtig!

10 Wie kan van die Heer sê dat Hy by alle ander menslike vergrype, Sy almagtige hand so tugtigend vir `n sondaar sou opgehef het? Maar die wisselaars, duiweverkopers en meer van die soort spekulerende gespuis moes hulle laat welgeval dat hulle deur die almagtige hand van die Heer Self getugtig en met `n sweep uit die tempel geransel word!

11 Weet julle goed wat dit wil sê? Hierdie waaragtige, evangeliese gebeurtenis wil nie meer en nie minder sê nie as dat die Heer van hemel en alle wêrelde `n geswore vyand van dié kwaad is. By elke ander spreek Sy goddelike liefde woorde van geduld, toegewendheid en barmhartigheid, maar oor hierdie ondeug spreek Sy toorn en gramskap!

12 Want hier verskans Hy die toegang tot Hom deur die bekende oog van die naald, open sigbaar die afgrond van die hel en toon daarin werklik `n verdoemde, spreek op `n verskriklike toon teen die heers- en hebsugtige fariseërs, waarby Hy hulle duidelik te kenne gee dat die hoereerders, egbrekers, diewe en nog ander sondaars eerder die ryk van God sal binnegaan as hulle.

13 Ten slotte gryp Hy in die tempel selfs na `n tugtigende wapen en dryf al die soort spekulante ongenadig die tempel uit en bestempel hulle as moordenaars van die goddelike ryk, omdat hulle die tempel, wat juis die goddelike ryk voorstel, tot `n moordenaarshool gemaak het.

14 Ons sou nog meer van sodanige voorbeelde kan aanhaal waaruit mens sou kan aflei dat die Heer werklik `n uitgesproke vyand van dié kwaad is. Vir iemand wat maar ietwat in staat is om na te dink, sal dit voldoende wees. By hierdie geleentheid kan ons nog ewe `n blik werp op ons negende gebod en ons sal sien dat die Heer by geen ander menslike gedrag, by geen ander, selfs verbode aangeleentheid of besigheid, selfs die verlange daarna, soseer dit beperk as juis by hierdie woekersug wat vir Hom baie onwelgevallig is.

15 Oral verbied Hy slegs die handeling uitdruklik, maar hier ook die verlange, omdat die gevaar, wat daaruit teen die gees groei, te groot is. Dit trek die gees volkome van God af en keer hom volledig na die hel. Dit kan julle ook aflei uit die feit dat elke ander sondaar na `n sondige daad berou voel, terwyl die ryk spekulant na `n goedgeslaagde spekulasie blydskap en voldoening voel!

16 Dit is die ware triomf van die hel en daarom probeer die vors van die hel die mense by voorkeur op alle moontlike maniere met liefde vir wêreldse rykdom te vervul, omdat hy baie goed weet dat hulle, vervul van hierdie liefde, die afskuwelikste is vir die Heer en dat Hy Hom daarom ook die minste oor hulle ontferm! - Meer hoef ek nie hieroor vir julle te sê nie.

17 Gelukkig is hy wat hierdie woorde eg ter harte neem, want dit is die ewige, onomstootlike, goddelike waarheid! En julle kan dit bo alles as waar beskou en glo, want nie één lettergreep daarvan is te veel nie; julle kan eerder aanneem dat hier nog veels te min gesê is. Laat elkeen egter goed onthou; die Heer sal by alle ander geleenthede eerder al die moontlike aanwend, voordat Hy iemand ten gronde sal laat gaan, maar ten opsigte van dié kwaad sal Hy niks anders doen, as om die afgrond van die hel oop te hou, soos wat Hy in die evangelie laat sien het. Dit is alles waar en waaragtig en daarmee het ons die ware betekenis van die gebod leer ken. En ek sê nog eens; laat elkeen dit goed ter harte neem wat hier gesê is! En nou verder niks meer nie. Hier is al die tiende saal; laat ons dus na binne gaan!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205