Hoe moet mens God soek?
74 Kyk, daar is reeds enkeles wat hulle nou net tot hulle leraar gerig het met die opmerking dat hulle nou eintlik genoodsaak is om te glo dat daar, buiten die leraars, wat wonderbaarlike dinge vir hulle verrig het, geen God bestaan nie. God het immers, ondanks die vurige liefde waarmee hulle Hom in hulle hart ingesluit het, Homself ook maar nie ietwat waarneembaar aan één van hulle vertoon nie.
2 Hoe reageer die leraars nou op die uitlating van hulle leerlinge? Luister maar na die leraar, wat so 'n verhaal aangehoor het. Hy sê vir sy leerlinge:
3 Geliefde kinders, dit kan wees dat God hom nog nie by julle aangemeld het nie, maar dit is ook moontlik dat Hy hom wel aangemeld het, maar dat julle te onoplettend was en dit nie waargeneem het nie.
4 Sê my daarom: Waar was julle toe julle God in julle harte gesoek het? Was julle buite onder die bome in die tuin, of op die galery van die saal, of was julle op die groot solder van die skoolgebou, of in een of andere kamer, of was julle in julle woonvertrekke, wat ryklik buite hierdie groot leerskool gebou is? En vertel my ook, wat julle so hier en daar gesien, opgemerk en gevoel het.
5 Die kinders sê: Ons was buite onder die bome en het daar die heerlikhede van die skeppinge van God bekyk, in wie ons moet glo, en ons het Hom geprys omdat Hy sulke pragtige dinge gemaak het. Ons het Hom as `n egte liewe Vader vir ons voorgestel, wat graag na Sy kinders toe kom, en daardeur het ons ook die sterk verlange in ons hart gekry om Hom te sien, en Hom dan met al ons kinderlike liefde tegemoet te hardloop, Hom te omarm en met alle krag wat in ons is, te liefkoos.
6 Maar van geen enkele kant kom daar een of ander vader na ons toe nie. Ook het ons mekaar sorgvuldig gevra of die een of die ander nog niks van die Vader opgemerk het nie. Maar elkeen van ons beken openhartig dat hy selfs in die verste verte nie die allerminste opgemerk het nie.
7 Daarna het ons die plek verlaat, die solders van die skoolgebou opgaan en dieselfde daar gedoen, maar die resultaat was net soos onder die bome. Van daar het ons na ons woonvertrekke gegaan, in die veronderstelling dat die Vader ons eerder hier sou besoek, omdat ons baie gebede daar gebid het en Hom innig gesmeek het of Hy Homself nie aan ons sou wou laat sien nie. Maar dit was alles tevergeefs! Aangesien ons dus jou raad opgevolg het, maar sonder resultaat, is ons nou genoodsaak om met jou leer in te stem en te dink dat daar eerder geen God is nie, as dat daar wel een bestaan. En sodoende het ons die volgende besluit onder mekaar geneem: As daar dan een of ander god bestaan, dan bestaan daar tog geen hele een nie, maar `n gedeelde een in alle lewende en vrye werkende wesens, soos wat julle en ons is. God is dus slegs `n versamelbegrip van die lewende krag, wat egter eers in wesens soos wat julle is, homself en ander uit vrye wil herken en daardeur ook magtig werkend optree.
8 Siedaar die klein filosowe, maar herken ook tegelykertyd die oorsaak, of die verkeerde saadkorrel waarvan al hierdie wankelende, verstandelike spekulasies die vrug is!
9 Wat sê ons leraar van die wysgerige betoog van sy leerlinge? Luister, sy woorde lui as volg: My liewe kindertjies, nou het ek regtig duidelik in julle die rede gesien waarom geen God Homself aan julle getoon het nie, nóg onder die bome, nóg op solder, nóg in julle kamers (dit wil sê nóg deur bevindinge, verkry deur die ondersoek en ontleding van die natuur, nóg langs die weg van hoëre bespiegelinge van die verstand of intellek, nóg in julle gemoed wat nie bokant die alledaagse verhewe is nie), omdat julle op soek gegaan het met al julle vertwyfeling.
10 Julle het God nie met sekerheid nie, maar hoogstens moontlikerwys verwag. Maar God, as Hy bestaan, moet tog in Homself die hoogste, absolute sekerheid wees. Toe julle egter met die onsekerheid van julle denke, geloof en wil die hoogste goddelike sekerheid soek, hoe sou Hy hom dan wel aan julle kon geopenbaar het? Onthou dus goed, wat ek julle nou sal sê:
11 Wanneer julle God wil soek en Hom ook sigbaar wil vind, dan moet julle met die grootste sekerheid daarop afgaan en Hom ook so soek. Julle moet sonder die allerminste twyfel bly glo dat Hy bestaan, ook al sou julle Hom ook nog vir solank nie êrens te siene kry nie. En met dieselfde sekerheid waarmee julle aan Hom glo, moet julle Hom dan ook met julle liefde omvou. Eers dan sal dit blyk of julle in julle denke, geloof, wil en liefhê, die grootste moontlike sekerheid verkry het.
12 Het julle dit verkry, dan sal God Homself ook sekerlik laat sien, as Hy bestaan. Het julle egter nie hierdie sekerheid verkry nie, dan sal julle ook onverrigter sake weer na my toe terugkom soos wat dit hierdie keer die geval was.
13 Kyk, die kinders dink goed oor die les van die leraar na en één kind, oënskynlik die swakste onder hulle, gaan na die leraar toe en sê: Luister na my, liewe wyse leraar! Wanneer ek heel alleen in my kamertjie sou gaan en daar vir God die Heer as die mees liefdevolle Vader, slegs met my egte liefde oortuigend sou omvou, terwyl ek bowendien nog nooit regtig daaraan kon twyfel of Hy sou bestaan al dan nie, maar ondanks alle teenbewyse, voortdurend in myself aan die geloof in één God vasgehou het, - dink jy dan nie dat Hy Hom aan my sal toon as ek Hom maar net sou wil liefhê nie? Want die baie nadink oor die geloof lyk tog `n bietjie moeilik vir my.
14 Die leraar sê vir die kind: Gaan maar, my liewe kind, en doen wat jy goeddink; wie weet nie of jy geen gelyk het nie? Ek kan nou nóg ja, nóg nee sê vir jou, maar sê slegs; gaan maar en ondervind wat die liefde alles kan vermag!
15 Kyk nou, die kindjie loop die saal uit na sy kamer en die ander kinders vra die leraar of hy die voornemens van die kind, wat homself nou net na sy kamer begewe het, beter vind as dit wat hulle nou, sy raad opvolgend, dink om te gaan doen, naamlik om met alle sekerheid daarop uit te gaan om na God te soek.
16 Maar die leraar sê: Julle het gehoor wat ek vir die medeleerling van julle gesê het, naamlik nóg ja, nóg nee; presies dieselfde sê ek ook vir julle. Gaan daarop uit en doen wat vir julle die beste lyk en die ervaring sal julle leer watter weg die beter en korter een is, of die een verkeerd en die ander korrek is, of dat beide verkeerd of beide korrek is.
17 Kyk nou, `n deel van die kinders kies vir sekerheid, `n ander deel egter slegs vir die liefde. Hulle wat vir die sekerheid kies, gaan diep nadenkend, vasberade en met `n sterk geloof die tuin in; die ander egter begewe hulle na hulle kamers om God te soek.
18 Maar kyk net, daar kom die kind wat as eerste vol liefde vir God weggehaas het, begelei deur `n eenvoudige man, terug in die saal en gaan regstreeks op die leraar af. Wat sal hy wel te vertel hê?
19 Luister, die kind sê: Liewe, wyse leraar, kyk nou tog net! Toe ek in my kamertjie die liewe groot Hemelvader soek en begin lief te hê, kom hierdie eenvoudige man na my toe en vra my of ek die Vader in die hemel werklik wel so liefhet. Ek sê vir Hom; Og, liewe man, dit kan jy tog wel van my gesig af lees. Daarna vra die man my hoe ek die groot Hemelvader vir my in my gemoed voorstel. En ek sê vir hom: Ek stel Hom vir my voor as `n mens; maar Hy moet wel baie groot en sterk wees en ook sekerlik `n groot glans om hom heen hê, omdat hierdie wêreld en die son wat op haar skyn, al so buitengewoon heerlik en stralend is.
20 Daarop tel die eenvoudige man my op, druk my aan sy hart, gee my een kus en spreek toe tot my: Bring my maar na jou leraar in die leersaal; daar sal ons alles verder baie grondig bespreek om daaruit te kan aflei hoe die Hemelvader, as Hy bestaan, daar uitsien en hoe Hy alles uit Homself skep, lei en regeer. En kyk, liewe wyse leraar, daar is ek nou met die eenvoudige man. Wat dink jy, wie mag hierdie man wel wees, want hy gaan immers so lief met my om?
21 Die leraar sê met sigbare allerhoogste liefde en agting: O oorgelukkig kind, jy het al die korrekte gevind. Kyk, dit is God, ons mees liefdevolle Vader! En die Heer buig Hom nou vooroor, neem die kind in Sy arms en vra hom: Is Ek wel Die Een wat jou leraar vir jou aangekondig het? En die kind sê baie opgewonde: O ja, U is dit, dit sien ek immers aan U oneindige goedheid, want wie anders is so goed as U, dat Hy my op sy arm sou neem en my so sou omarm en liefkoos soos U? Maar nou hou ek ook so onbegryplik baie van U, dat ek ewig nooit meer van U kan skei nie. Laat my daarom nie meer hier agter nie, liewe Heilige Vader, want nooit het ek so 'n goedheid en liefde gevoel as nou op U arm nie! En die Heer sê: Wees maar nie bang nie, my kindjie; wie My eenmaal gevind het soos jy, verloor My ewig nie meer nie. Maar nou moet jy niks meer oor My sê nie, want daar kom die ander kindertjies wat My ook soek, maar nog nie gevind het nie. Hulle sal ons `n bietjie op die proef stel, sodat hulle My ook sal vind. Wees daarom nou rustig, totdat Ek jou `n wenk sal gee!