Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 13

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Jesus, die Naam van alle name en sy uitwerking. Die geheim van die menswording van God in Christus

13 Julle vra; hoe kan ons vuur aan ons hart ontlok, sodat ons die hout daarmee kan aansteek? O broeders en vriende, wat `n vraag! Is één enkele gedagte aan die Heer dan nie voldoende om die hart vir Hom in vuur en vlam te sit nie? O broeders en vriende, as julle sou kan begryp wat hierdie Naam van alle name beteken, wat hy is en watter uitwerking hy het, dan sou julle oombliklik tot so 'n magtige liefde vir die Heer moet ontbrand dat haar vuur toereikend sou wees om `n baie groot leër van sonne aan te steek, sodat dit daardeur nog duisendmaal helderder in hulle oneindige ruimte sou skyn as wat nou die geval is.

2 Ek sê vir julle; Die Heer is so iets enorm groots, wat, wanneer hierdie Naam uitgespreek word, die hele oneindigheid bewe van oorgrote eerbied. Sê julle; God, dan bedoel julle weliswaar ook die allerhoogste Wese, maar dan in Sy oneindigheid soos Hy die heelal vul en daar met Sy oneindige krag van ewigheid tot ewigheid werksaam is. Maar met die naam Jesus dui julle die volmaakte, magtige, wesenlike sentrum van God aan, of nog duideliker gesê:

3 Jesus is die waaragtige, mees eintlike, wesenlike God as Mens. Soos wat strale voortkom uit die son, so kom die hele Godheid uit Hom voort, wat as gees van die oneindige mag, krag en gesag die oneindigheid geheel en al vul. Jesus is bygevolg die alomvattende wese van die totale Godheid oftewel; in Jesus woon die Godheid waaragtig, liggaamlik, wesenlik in Haar oneindige totaliteit. Daarom kry die hele goddelike oneindigheid dan ook telkens `n impuls wanneer hierdie oneindig heilige en verhewe Naam uitgespreek word.

4 Tewens is dit ook `n oneindige genade van die Heer dat Hy behae daarin geskep het om die liggaamlike menslike aan te neem. Maar waarom het Hy dit gedoen? Luister, ek sal julle nou `n klein geheim onthul! 

5 Voordat die Heer self as mens op aarde gekom het, kon geen mens ooit met die eintlike Godwese spreek nie. Niemand kon dit ooit aanskou sonder om sy lewe daarby heeltemal te verloor nie, soos wat daar ook by Moses geskrywe staan: "Niemand kan God sien en tegelykertyd lewe nie." In die oerkerk, net soos in die kerk van Melgisédek, waartoe ook Abraham behoort het, het die Heer hom weliswaar dikwels persoonlik laat sien en het Hy ook gespreek met sy heiliges en sy kinders Self onderrig, maar hierdie persoonlike Heer was eintlik tog nie regstreeks die Heer self nie, maar altyd slegs `n engelegees wat vir die doel met God se gees vervul is.  

6 Vanuit so `n engelegees het die Gees van die Heer dan gespreek asof die Heer Self regstreeks spreek. Maar in so `n engelegees was die gehele volheid van God se Gees tog nooit aanwesig nie, maar slegs in soverre as wat dit vir die beoogde doel noodsaaklik was.  

7 Julle kan dit glo: In die tyd kon die allersuiwerste engelegeeste ook nie eens die Godheid ooit anders gesien het as wat julle die son aan die hemel sien nie. En geeneen van die engelegeeste sou dit ooit gewaag het om die Godheid in een of ander vorm vir homself voor te stel nie, wat die Israelitiese volk ook in die tyd van Moses ten strengste verbied was. Hulle mag van God geen gesnede beeld, dus absoluut geen visuele voorstelling, gemaak het nie.

8 Maar luister nou; dit het die oneindige Godswese eenmaal behaag, en wel in `n tyd wat die mense die minste daaraan gedink het, om Hom in Sy hele oneindige volheid te sentraliseer en `n volkome menslike natuur in hierdie sentralisasie aan te neem!

9 Stel jou nou net voor: God, wat nooit deur `n geskape oog aanskou was nie, kom as die, van oneindige Liefde en Wysheid vervulde Jesus na ons aarde toe!

10 Hy, die Oneindige, die Ewige, vir wie se asemtog ewighede verstuiwe soos los kaf, het op ons aarde gewandel en Sy skepsele, Sy kinders onderrig, nie soos `n vader nie, maar soos `n broeder!

11 Maar, asof dit alles nog nie genoeg was nie, laat Hy, die Almagtige, hom selfs vervolg, gevange neem en sy liggaam deur sy nietige skepsele doodmaak! Sê net, kan julle julleself `n groter liefde en `n groter minsaamheid indink as hierdie, wat julle van Jesus ken?!

12 Deur hierdie onbegryplike daad het Hy alle dinge van die hemel anders ingerig. Ook al woon Hy in Sy genadeson, van waaruit die lig onuitputlik na alle hemele stroom, tog is Hy heeltemal dieselfde waaragtige Jesus wat in al Sy goddelike volheid op aarde gewan­del het en soos `n waaragtige vader en broeder en as volmaakte mens by Sy kinders aanwesig was. Hy gee aan al Sy kinders al Sy genade, liefde en mag en lei hulle Self in eie persoon om hulle eindeloos magtig te laat werk in Sy ordening.

13 Eertyds het daar tussen God en die geskape mense `n oneindige kloof bestaan, maar met Jesus is hierdie kloof byna volledig opgehef, want Hyself het ons dit, soos julle weet, tog duidelik laat sien. Ten eerste deur Sy koms as mens op ons aarde, ten tweede deurdat Hy ons nie eenmaal nie, maar herhaaldelik broeders noem, ten derde omdat Hy saam met ons eet en drink en al ons kwale met ons dra, ten vierde omdat Hy as Heer van die oneindigheid selfs aan die wêreldse owerheid gehoorsaam was, ten vyfde omdat Hy hom deur wêreldse maghebbers selfs laat gevange neem het, ten sesde omdat Hy hom selfs deur wêreldse, magtige intriges laat kruisig en laat doodmaak het en ten slotte, ten sewende, omdat Hyself deur sy almag die voorhangsel in die tempel, wat die allerheiligste geskei het van die volk, in twee geskeur het! 

14 Daarom is Hy ook die enigste weg, die lewe, die lig en die waarheid. Hy is die deur waardeur ons tot God kan kom, wat wil sê deur hierdie deur oorskry ons die oneindige kloof tussen God en ons en vind daar vir Jesus, ons ewige, oneindig heilige broeder!

15 Hy, wat gewil het dat hierdie kloof opgehef sou word, Hom kan ons nou tog sekerlik bo alles liefhê!

16 Daarom is, soos wat ek al dadelik by die begin gesê het, vir die opwekking van ons liefde vir Jesus één enkele gedagte tog sekerlik voldoende. Slegs Sy Naam in ons hart uitgespreek, sou vir ewig voldoende moet wees om in alle liefde vir Hom te ontbrand! Spreek ook julle daarom hierdie Naam in julle harte waardig uit en julle sal self sien in welke oorvloed die vuur van die liefde in julle harte tevoorskyn sal kom om die hout van die lewe aan te steek, waardeur die heidene by die nuwe offeraltaar sal genees. 

17 Heidene, soos wat my broeder Paulus hom eens bekeer het, is daar in ons tyd nog baie; ja, daar is heidene wat hulleself "Christene" noem, maar daarby in hulle hart erger is as diegene wat eens vir Molog en Baäl aanbid het. 

18 Wanneer die hout op die altaar sal gaan brand, dan eers sal julle in hierdie uit julleself opgeroepe wêreld baie dinge te sien kry wat julle nog nie tot nou toe gesien het nie. Want ek sê vir julle; in die wêreld van die geeste bestaan ondeurgrondelike dieptes. Geen geskape gees sou dit ooit kan peil nie; maar ons is in die gees van die Heer. Sy gees leef, heers en werk in ons en in hierdie gees is geen diepte ondeurgrondelik vir ons nie, want niemand kan weet wat daar in die gees is nie, as net die gees self. So kan niemand ook weet wat daar in God is, as slegs God se gees self. Jesus, wat alle volheid van God in Homself verenig het, het ons egter met Sy Gees vervul. En daarmee, met Sy Gees in ons, kan ons ook tot Sy goddelike dieptes deurdring. - Dink dus nou aan die Naam van alle name, aan die Heiligste van alle heiligheid, aan die Liefde van alle liefde, die Vuur van alle vure, en die hout op die altaar sal brand. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205