Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 97

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die innerlike, eintlike betekenis van die tiende gebod

97 Die wet lui dus, soos ons reeds uit die hoof weet: "Jy mag nie die vrou van jou naaste begeer nie" oftewel; jy sal geen verlange hê na die vrou van jou naaste, wat een en dieselfde is. Wie is dan "die vrou" en wie is die "naaste"?

2 Die vrou is die liefde van elke mens en die naaste is elke mens waarmee ek, waar dan ook, in aanraking kom of wat, waar dan ook, moontlikerwys en noodsaaklikerwys my hulp nodig het. As ons dit weet, dan weet ons eintlik reeds alles.

3 Wat wil die gebod dus sê? Niks anders nie as: Elke mens moet nie selfsugtig, uit eiebelang die liefde van sy naaste opeis nie, want die eieliefde is op sigself niks anders nie as die na homself toe trek van andermansliefde vir eie genot, sonder om weer self ook maar `n vonkie liefde terug te gee.

4 So lui hierdie wet dus in haar oorspronklike, geestelike betekenis. `n Mens sê egter:

5 Hier is dit kennelik weergegee volgens die letterlike betekenis wat mens in die begin ewegoed soos nou kon uitgespreek het, waardeur baie dwalinge voorkom sou gewees het. Daarop sê ek: Dit is inderdaad korrek. Wanneer mens `n boom middeldeur splyt, kom die kern ook na buite en dan kan mens dit ewe maklik bekyk soos voorheen die bas.

6 Maar die Heer het willens en wetens die innerlike betekenis baie wys in `n uiterlike, natuurlike beeld verskans, sodat die heilige, innerlike, lewendige betekenis nie, deur watter boosaardige mense dan ook, aangetas en vernietig sou kan word nie, waardeur dan aan alle hemele en wêrelde die grootste skade toegebring sou kon word. Om die rede het die Heer ook gesê: "Vir die groot en magtige geleerdes van die wêreld sal dit verborge bly en slegs aan die kleinste, swakkes en onmondiges geopenbaar word".

7 Dit lê immers al so beslote in die dinge van die natuur. Stel jou net voor dat die Heer die bome so sou geskape het, dat hulle kern en hulle vernaamste lewensorgane heeltemal aan die buitekant van die stam sou gelê het - sê nou self, aan hoeveel gevare sou so 'n boom nie elke oomblik blootgestel wees nie?

8 Julle weet dat, wanneer mens die inwendige kern van `n boom ondeurdag of opsetlik deurboor, dit met die boom gedaan is. Wanneer een of ander skadelike wurm die hoofwortel, wat in die nouste verbinding met die kern van die boom staan, deurknaag, dan sterf die boom af. Wie ken nie die kwaadaardige sogenaamde "baskewer" nie? Wat doen hy met die boom? Hy knaag eers aan die hout en vreet hom hier en daar tot in die hooforgane van die boom, en die boom sterf af. As die boom op hierdie goedversorgde manier reeds aan soveel lewensgevare bloot staan, aan hoeveel gevare sou hy dan wel blootgestel gewees het as sy vernaamste lewensorgane aan die buitekant van die stam sou gelê het?

9 Kyk, presies so en nog onuitspreeklik veel hagliker is dit met die woord van die Heer gesteld. As die innerlike betekenis daarby dadelik aan die begin na buite toe weergegee was, dan sou daar reeds lankal geen religie meer onder die mense bestaan het nie. Hulle sou die innerlike, heilige betekenis van haar lewenskern ewegoed stukkend geknaag en bekras het soos wat hulle dit met die bas aan die buitekant van die boom van die lewe gedoen het. Reeds lankal sou die innerlike, heilige stad van God op dieselfde manier vernietig gewees het, sodat daar geen klip op die ander sou gebly het nie, soos hulle dit met die ou Jerusalem gedoen het en soos hulle dit gedoen het met die uiterlike, slegs letterlike betekenis van die woord.

10 Want die woord van God in sy uiterlike, letterlike betekenis soos julle dit in die Heilige Skrif van julle het, verskil soseer van die oerteks soos die teenwoordige hoogs erbarmlike stadjie Jerusalem van die ou wêreldstad Jerusalem.

11 Hierdie hele omsetting en verbrokkeling, netsoos die beknopte uitdrukkingswyse van die slegs uiterlike, letterlike betekenis is egter tog nie nadelig vir die innerlike betekenis nie, omdat die Heer deur Sy wyse voorsienigheid al van die ewigheid af Sy ordening so beskik het dat een en dieselfde geestelike waarheid onder die mees verskillende uiterlike beelde onbeskadig behou en deurgegee kon word.

12 Geheel anders sou dit gewees het as die Heer dadelik die naakte, innerlike geestelike waarheid, sonder die beskermende uiterlike omhulling sou gegee het. Mens sou hierdie heilige, lewende waarheid volgens eie goeddunke stukkend geknaag en vernietig het en juis daardeur sou dit dan met al die lewe gedaan gewees het.

13 Maar omdat die innerlike betekenis so verskuil is dat die wêreld haar onmoontlik ooit kan agterhaal, is die lewe beveilig, ook wanneer haar uiterlike bekleding in duisend stukke geskeur word. En so klink die innerlike betekenis van die woord dan weliswaar as dit geopenbaar word asof dit gelyk sou wees aan die uiterlike betekenis van die woord en kan dit ook in geartikuleerde klanke of woorde uitgedruk word; maar dit sorg nie in die minste vir verwarring nie. Daarom bly dit tog `n innerlike, lewende, geestelike betekenis en is as sodanig herkenbaar, deurdat dit die hele goddelike ordening omvat, terwyl die uiterlike beeld daarvan slegs `n spesiale aspek uitdruk wat, soos ons gesien het, nooit `n algemeen geldende betekenis kan hê nie.

14 Waarom die gebod wat nou net behandel is, egter van buite af bekyk slegs `n uiterlike omhulsel is en waarom die bekendgemaakte innerlike betekenis `n waaragtige innerlike, geestelike en lewende is, sal ons nou deur middel van `n klein nabeskouing in `n helder lig plaas.

15 Die uiterlike, visuele gebod is bekend, innerlik wil dit sê: Het geen verlange na die liefde van jou broeder of jou suster nie!

16 Waarom word die gebod, die inhoud en nalewing wat so swaar is, in die beeld van die vrou wat nie begeer mag word nie, gehul?

17 Ek maak julle by hierdie geleentheid slegs attent op `n uitspraak van die Heer Self, waarin Hy Hom oor die liefde van die man vir die vrou as volg uitgelaat het: Hy het gesê: "So sal `n seun sy vader en moeder verlaat en sy vrou aanhang".

18 Wat wou die Heer daarmee aangetoon het? Niks anders nie as; die magtigste liefde van die mens op aarde is die vir sy vrou. Want wat het die mens in sy ordening op aarde meer lief as sy liewe, pragtige, goeie vrou? In die vrou lê dus die hele liefde van die man, soos omgekeerd die vrou in haar ordening sekerlik niks sterker liefhet as die man na haar hart nie.

19 So word dan ook in die gebod, deur die beeld van die vrou, die hele liefde van die man, of van die mens in die algemeen, weergegee, omdat die vrou in wese niks anders is as `n uiterlike, teer omhulsel van die liefde van die man nie.

20 By wie kan dit nou ontgaan dat hierdie uitleg met die beeld: "Jy sal nie die vrou van jou naaste begeer nie" eweveel gesê word as: Jy sal nie tot eie voordeel die liefde van jou naaste begeer nie, en hier word die hele liefde bedoel, omdat die vrou op aarde ook die hele liefde van die man omvat.

21 Wanneer julle dit ook maar ietwat noukeurig beskou, dan is dit selfs voor die hand liggend dat alle uiterlike, aan ons bekende onsekerhede van die uiterlike beeld van die wet niks anders is nie as suiwer innerlike, algemene sekerhede. Hoe, dit sal ons dadelik sien.

22 Kyk, die "jy" is onseker. Waarom? Omdat volgens die innerlike betekenis iedereen daarmee bedoel word, dit is om`t ewe of dit oor die manlike of vroulike geslag gaan. Eweneens is die vrou onseker, want daar word nie gesê of daar sprake is van `n ou of `n jong vrou, één of meer, `n meisie of `n weduwee nie. Waarom is dit onseker? Omdat die liefde van die mens iets heeltemal eie is, en dus geen ou of jong vrou, geen weduwee en geen meisie genoem kan word nie, want in elke mens is die liefde uniek. Hierna moet die naaste geen verlange hê nie, omdat dit die mees eie in elke menselewe is. Elkeen wat na hierdie liefde `n hebsugtige, afgunstige of hunkerende verlange het, belaag in `n sekere sin sy naaste soos `n moordlustige, omdat hy sy liefde of lewe ten behoewe van sy eie voordeel sou wil bemagtig. Derhalwe is ook die naaste onseker. Waarom? Omdat daarmee in die geestelike sin elke mens, sonder onderskeid van geslag, bedoel word.

23 Ek dink dat dit vir julle nou taamlik duidelik sal wees dat die innerlike betekenis wat deur my aan julle meegedeel is, die enigste korrekte is, omdat dit alles omvat.

24 Nou sal menigeen miskien vanuit sy beperkte insig die volgende gevolgtrekking maak en sê: As die sake so staan, dan is dit immers geen sonde as iemand by die vrou of dogters van sy naaste slaap of daarna verlang nie. Dan sê ek; ho ho, my beste vriend, met hierdie opmerking het jy die plank flink misgeslaan. Word onder "jy sal die liefde van u naaste nie begeer nie, en wel sy hele liefde", nie alles verstaan wat hy aan dierbaar in sy hart dra nie? Kyk, so is dit in wese volgens die gebod nie slegs verbode om na die vrou en dogters van jou naaste te verlang nie, maar die gebod geld vir alles wat die liefde van jou broeder omvat.

25 Om hierdie rede was die twee laaste gebooie ook oorspronklik as één gebod saam gegee. Hulle is slegs verskillend deurdat in die negende gebod nog eens in die besonder aangegee word dat die liefde van die naaste gerespekteer moet word, terwyl in die tiende gebod presies dieselfde, maar dan volgens die mees innerlike betekenis saamgevat, weer gegee word, om in die algemeen die geheel respekvol in ag te neem.

26 Dat bygevolg ook die verlange na die vrou en dogters van die naaste verbode is, is tog sekerlik vir iedereen voor die hand liggend. Dit is presies so, soos wanneer mens iemand `n hele os gee, mens gee daarmee ook die ekstremiteite, soos stert, horings, ore en pote ensovoorts saam. Of wanneer die Heer iemand `n wêreld sou skenk, Hy tog alles wat hom op die wêreld bevind sou saamgee en nie sê: Slegs die inwendige van die wêreld is joune, maar die oppervlak behoort aan My.

27 Ek is van mening dat die saak vir die begrip van die mense nie duideliker uitgelê kan word nie. Ons het nou die innerlike, waaragtige betekenis van die gebod, soos dit in alle hemele ewig van krag is en waarvan die geluksaligheid van alle engele afhang, volkome leer ken en het alle moontlike teenwerpinge weerlê. Dus is ons daarmee ook klaar en daarom sal ons onsself ook dadelik na die elfde, skitterende saal voor ons begewe. Daar sal ons dan alles wat daar tot nou toe gesê is, in die helderste lig vind, soos op één punt saamgevat en bevestig. Laat ons dus binnetree!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205