Wat beteken: Om God bo alles lief te hê?
100 Ek sien al iemand wat kom en sê: Alles goed en wel, maar hoe moet mens die een goddelike woord na God Self toe, verwesenlik? Hoe sou mens dan God eintlik moet liefhê en nog wel bo alles? Sou mens miskien so op God verlief moet wees soos `n jong bruidegom op sy mooi, ryk bruid? Of sou mens op God ewe verlief moet wees soos `n matematikus op sy wiskundige berekening, of `n astronoom op sy sterre? Of sou mens so verlief moet wees soos `n spekulant op sy koopware, of soos `n kapitalis op sy geld, of soos `n landheer op sy besittings, of soos `n regerende monarg op sy troon? Dit is die enigste denkbare maatstawwe vir ernstige menslike liefde, want die liefde van kinders vir hulle ouers kan mens gevolglik nie as `n ernstige maatstaf vir liefde hanteer nie, omdat die praktyk ons immers leer dat kinders hulle ouers kan verlaat om `n goeie huwelik te sluit, of baie geld te verdien of `n hoë ereloopbaan aan te neem. By dit alles tree die liefde van die kinders vir hulle ouers meer op die agtergrond en moet hulle noodgedwonge plek maak vir `n sterker liefde. Daarom is hier slegs die kragtigste maatstawwe vir menslike liefde aangereik, waarby dit die vraag is, wat mens nou eintlik vir die liefde tot God moet aanlê.
2 Kom daar egter nou iemand wat sê: Vir hierdie of daardie, dan sê ek daarenteen; vriend, dit is onmoontlik!
3 Dit is waar, dat die deur my aangegewe kragtigste maatstawwe vir die liefde, weliswaar die enigste is waaraan die grootste liefdeskrag van die mens gemeet kan word, maar daar word immers gesê dat mens God bo alles moet liefhê, dit wat soveel wil sê as; meer as alles op hierdie wêreld.
4 Dan is dit die vraag hoe om te begin, hoe om die liefde te verhef tot `n potensie waarvan geen menslike gees hom een of ander meetbare of vergelykbare begrip kan vorm nie. Mens sal miskien sê: `n Mens sou God nog meer moet liefhê as sy eie lewe. Dan sê ek, as teenwerper; die liefde vir die eie lewe is nog minder met die allerhoogste liefde vir God te vergelyk as die liefde van kinders vir hulle ouers. Want daar is al baie voor nodig, as kinders uit liefde vir hulle ouers hulle lewe op die spel plaas; hulle wil juis baie eerder hê dat die ouers vir hulle om lewe en dood veg.
5 Bygevolg blyk die eieliefde van die kinders, ten opsigte van die liefde vir hulle ouers, dikwels verreweg sterker te wees. Andersyds sien ons dat die kinders van die mense vir ander voordele, dikwels hulle lewe, byna met doodsveragting, op die spel plaas. Die een seil in stormagtige nagte oor die oseaan, die ander begewe hom in die vuurlinie van `n vyandelike leër, `n derde daal dikwels af na brokkelige afgronde om kosbare metale uit die aarde te win. En so sien ons dat hierdie uiterlike, ernstige wêreldse maatstawwe van menslike liefde seker sterker is, en in die algemeen swaarder weeg as die liefde van die kinders vir hulle ouers en die liefde vir die eie lewe.
6 Maar waartoe dien al hierdie maatstawwe, as ver daarbo uit die liefde tot God van `n sodanige potensie moet wees, dat alle ander maatstawwe van die liefde, volkome in die niet moet versink vergeleke daarby? Kyk, beste vriende en broeders, ons teenwerper het ons skerp aangeval en ons sal ons baie stewig op die been moet hou om `n oorwig oor hom te kry.
7 Maar ek sien nou net weer `n baie ernstig kykende teenstrewer. Hy tree, baie seker van sy oorwinning, na vore en sê: O, met hierdie teenwerper sal ons gou klaar wees, want die Heer het ons tog Self `n maatstaf gegee waaruit blyk hoe mens God moet liefhê. Ek hoef daarom niks anders te sê as wat die Heer Self gesê het nie, naamlik: "Wie My gebooie onderhou, dit is hy wat My liefhet". Dit is dus die eintlike maatstaf, waarvolgens `n mens God moet liefhê.
8 As die teenwerper genoeg skerp en sterk tande het om daarin te sit, moet hy nog maar net probeer om `n ander, onoortreflike waarneming van die liefde te maak. Goed, sê ek, die teenwerper is nog in die omgewing en maak aanstaltes om hom in hierdie teenwerping vas te byt. Daarom sal ons hom aanhoor en net sien wat hy alles na vore sal bring. Hy sê:
9 Goed, my liewe en vriendelike teenstander, met jou teenwerping het jy my met jou maatstaf vir die hoogste liefde tot God nie veel meer bewys as dat jy `n taamlike goeie geheue het, waardeur jy so menige tekste uit die Heilige Skrif by die hand het. Maar kyk, wie van al hierdie tekste profyt in sy lewe wil hê, moet nie net weet hoe dit lui nie, maar moet dit ook lewendig vir homself kan voorstel wat dit wil sê.
10 Wat sou jy dan sê as ek jou nie slegs één, maar verskeie teenstrydige tekste, uit die mond van die Heer Self gespreek, sou voorlê, waarin Hy aantoon dat die liefde, as vervulling van die wet, nie voldoende is nie? Nou trek jy weliswaar `n gesig asof jy wil sê: Sodanige tekste kan in die Skrif tog slegs dun gesaai wees. Maar dan sê ek: Beste vriend, absoluut nie! Luister maar, as jy wil, sal ek jou dadelik `n halfdosyn aanbied.
11 Is die gesprek van die Heer met die ryk jongeling aan jou bekend? Vra hy nie: "Heer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verwerf?" Wat antwoord die Heer hom daarop? Jy sê triomfantlik dat die Heer gesê het: "Onderhou die gebooie en het God lief, dan sal jy lewe!" Goed, sê ek, maar wat sê die jongeling? Hy sê: "Heer, dit het ek al van jongs af gedoen".
12 Dit is alles korrek. My vraag is; maar waarom het die jongeling hierdie antwoord vir die Heer gegee? Hy wou daarmee vir Hom sê: Ondanks die feit dat ek dit alles van jongs af gedoen het, merk ek tog niks van `n wonderbaarlike ewige lewe in myself nie.
13 Waarom lê die Heer nou nie vir die jongeling uit dat die onderhouding van die gebooie nie voldoende is vir die bereiking van die ewige lewe nie, maar voeg Hy, in plaas daarvan, onmiddellik `n belangrike sin daaraan toe waarin Hy sê: "Verkoop al jou goedere, verdeel die geld onder die armes en volg My na!"
14 Vraag: As die Heer dus Self so `n toevoeging gemaak het, is die onderhouding van die gebooie as hoogste liefde vir God dan voldoende? Kyk, daar lê al `n probleem; maar laat ons verder gaan.
15 Wat het die Heer eens vir Sy apostels en leerlinge gesê wanneer Hy hulle die te vervulde pligte voorgestel en aanbeveel het? Hy het niks anders gesê as slegs hierdie eenvoudige, baie betekenisvolle woorde: "Wanneer julle egter alles gedoen het, erken dan dat julle lui en nuttelose knegte is".
16 Nou vra ek jou: Gee die Heer hier te kenne dat die nalewing van die gebooie voldoende is, hoewel Hy tog kennelik verklaar dat elke mens wat die wet volkome in ag neem, homself dan heeltemal nutteloos moet beskou? Kyk, daar is die tweede, ietwat groter probleem. Maar nou verder!
17 Ken jy die gelykenis van die fariseër en die tollenaar in die tempel? Die fariseër getuig van homself met `n geruste gewete in die heiligdom dat hy, in teenstelling tot baie ander, die wet van Moses in haar volle omvang altyd getrou en baie noukeurig, dus volkome en volgens die letter vervul het. Maar die arme tollenaar agter in `n hoek van die tempel gee met sy ongemene deemoedige houding, aan elkeen wat hom sien, duidelik te kenne dat hy met die nalewe van die Mosaïese wet nie veel gedoen het nie, want, baie bewus van sy sonde, durf hy nie eens na God se heiligdom op te kyk nie, maar beken self sy nutteloosheid voor God en smeek Hom om genade en barmhartigheid.
18 As die wet nou toereikend was, dan sou ek tog wel graag van jou, my beste teksvaste vriend, wil weet waarom die Heer hierdie fariseër, wat die hele wet streng in ag geneem het, dan ongeregverdig en die arme sondige tollenaar as geregverdig uit die tempel laat gaan het?
19 Kyk, as mens dit in die regte lig beskou, dan lyk dit asof die Heer met die “slegs onderhouding van die wet” alweer Self `n derde baie aansienlike probleem geskep het. Jy haal nou weliswaar die skouers op en weet nie meer waar aan jy toe is nie, maar maak geen sorge vir jou nie, daar kom nog ietwat beters! Dus maar weer verder.
20 Wat sou jy dan sê as ek jou uit die Skrif, en wel uit die mond van die Heer Self, `n teks sou aanhaal, waarmee Hy die hele wet indirek ongeldig verklaar en in plek daarvan `n heel ander hulpmiddel insit, dit wat die enigste middel is waarmee die verkryging van die ewige lewe deur Homself gewaarborg word?
21 Jy sê nou: Goeie vriend, hierdie teks sou ek ook wil hoor. Jy kry hom dadelik, beste vriend! Wat het die Heer eens gesê toe Hy `n kind langs die weg gevind, hom opgeneem, teen Sy hart gedruk en geliefkoos het? Hy het gesê: "As julle nie word soos hierdie kind nie, dan sal julle die hemelryk nie binnegaan nie!"
22 Vraag: Het hierdie kind, wat nog nouliks in staat was om enkele woordjies te brabbel, ooit die wette van Moses bestudeer en vervolgens sy lewe streng daarvolgens ingerig? Op die hele wêreld is daar seker geen mens wat so dom is dat hy so iets sou kan beweer nie. Die vraag is dus: Hoe kon die Heer nou, as belangrikste motief vir die verkryging van die ewige lewe, `n kind aanwys wat met die hele wet van Moses nog geen jota te make gehad het nie? Vriend, ek sê verder niks hier nie as; as jy sou wil, probeer dan maar net om iets hierteen in te bring. Jy swyg. Daaruit begryp ek, dat jy jou met jou opstelling, ten opsigte van die vierde probleem, al taamlik ver op die agtergrond teruggetrek het.