Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Salige geeste het elkeen hulle eie sfeer. Rede: Dis onontbeerlik vir mekaar

9 Nou vra Ek, julle Hoofgids, julle weer; hoe het dit julle hier in die sfeer van My broeder geval? Ek sien in julle die antwoord met baie letters geskrywe staan en die antwoord lui: O Heer, aller­liefdevolste, heiligste Vader, in die sfeer van hierdie gees het ons tog dinge aanskou wat so buitengewoon en belangrik was, dat ons nie in staat is om dit in woorde te stel nie. Ook al het ons nie heeltemal gesien hoe dit oral met U weë gesteld is nie, tog het ons so 'n belangrike algemene oorsig gekry oor die manier waarop U oneindige liefde en wysheid die verdwaalde skape soek en vind, dat ons daardeur gevolglik kan beweer: Ons is in die sfeer van hierdie gees na `n hoofpunt van algemene oorsig gelei van waaruit ons die hele geesteswêreld vanaf die mees onvolmaakte tot by die allervolmaaktste sfeer leer ken het, waarvoor ons U nooit genoeg kan dank nie. Ja, dit kom nou vir ons voor, dat die mens die wese van die geestelike ryk onmoontlik in die kort tydjie van die alomvattende aanblik en ervaring, doeltreffender sou kan deurloop as wat ons dit in die sfeer van hierdie broedergees vanuit U aanskou het nie. 

2 Ja, My liewe kinders, dit is verseker, korrek en waar; julle het die hele gang van sake in die volle lig van die waarheid aanskou, maar desondanks maak ek julle attent op die diorama (kykspel) wat Ek julle reeds laat sien het, voordat julle die geestelike sfere binnege­gaan het. Daarom sê Ek vir julle: In die geesteswêreld ontwikkel die dinge in die sfeer van elke afsonderlike salige gees weer baie anders, maar dit is dan in die ander vormgewing weer ewegoed en waar as in die sfeer van `n vorige gees. So moet dit ook in die allervolmaaktste ryk van die engele plaasvind; anders sou die een gees die ander nie nodig hê nie en niemand sou vir die ander `n nuwe groter saligheid kon berei nie. Omdat elke gees egter iets besonders het en Ek dit toelaat dat elkeen vir hom syne op sy eie manier vorm kan gee, kom daar dan ook ewig nooit `n einde aan die salige vreugde van `n engel oor die saligheid van `n ander engel nie! Sodat julle dit eg en goed mag insien en begryp, sal Ek julle dit eers nog deur enkele duidelike voorbeelde aanskoulik maak, voordat julle julle in die sfeer van `n tiende gees sal begewe.

3 Gestel dat daar in `n groot saal honderd werklik baie goed geleerde manne is. Aan hierdie manne word `n baie interessante onderwerp, byvoorbeeld oor die straleberekening van die lig ter oordenking gegee. Hierdie honderd geleerdes het egter nie almal dieselfde vak nie; die een is `n beroemde rekenkundige, die ander is `n filosoof, natuurondersoeker, astronoom, botanikus, soöloog of mineraloog; en `n ander is weer `n bergkundige, `n knap oogkun­dige of geograaf. Ander is weer geskiedkundige, argeoloog, filoloog, psigoloog, antropoloog, arts; `n ander weer fisioloog, mistikus, teosoof en so verder uit die hele diversiteit van menslike geleerdheid. Hierdie honderd geleerdes het seker almal genoeg skrywerstalent om hulle gedagtes oor die opgegewe tema baie gedetailleerd op papier te plaas.

4 Wanneer hierdie honderd geleerdes almal klaar is met hulle werk, en julle neem dan elke werk ter hand om die neergeskrewe gedagtes oor die behandelde tema te lees, dan kan julle daarvan verseker wees dat daar geen twee te vinde sal wees wat die tema op dieselfde manier behandel het nie. Die wiskundige, die mistikus of wie van die ander dan ook, sal hom, soos gesê, baie verskillend uitdruk en as julle die werkstukke baie aandagtig deurlees dan sal in elkeen daarvan die stokperdjie van elkeen maklik te herken wees.

5 Wanneer julle dan sou moet beoordeel wie van hierdie honderd geleerdes by die bewerking van die tema die waarheid die naaste benader het, dan kan julle niks anders sê nie as: Ons vind dat elkeen vir homself die spyker op die kop geslaan het. Daar is teen niemand van hulle iets in te bring nie; elkeen is op sy manier korrek. Op die belangrikste punt kom alle bevindinge met mekaar ooreen, slegs die manier van beskrywing is, afhanklik van die liefde van die skrywer, verskillend.

6 Goed, sê Ek vir julle. Soos wat die gedagtes van baie mense oor een en dieselfde onderwerp verskillend is, so verskil ook die sfere van engelegeeste. Maar in die diepste wese kom hulle tog almal op een en dieselfde waarheid neer. Om hierdie saak egter nog aanskouliker te maak, neem ons nog `n ander voorbeeld. 

7 Gestel dat daar `n Psalm van Dawid op musiek geset moet word. Die koning van `n land stel `n hoë prys vir die beste musikale bewerking van hierdie Psalm ter beskikking en weldra gaan bekwame musici oral aan die werk. Na afloop van die gestelde termyn word die komposisies ingestuur; daar kom veertig eksem­plare in. Die koning, wat `n groot liefhebber van sodanige klassieke musiek is, laat dae agtereen die een komposisie na die ander uitvoer. Gaan nou net na hierdie uitvoerings en beluister hulle. As julle al hierdie komposisies, wat deur baie suiwer bekwame musici gekomponeer is, beluister het, hoe sal julle oordeel dan wees?

8 Julle sal sekerlik sê: Werklik, hier is die een werk in sy soort ewe knap en wondermooi soos die ander; in elke werk herken mens die groot meester. Maar hoe verskillend is die interpretasie, hoe verskillend die aangebringde musikale ritme, hoe verskillend die toonsoorte, hoe verskillend die instrumentasie en die indeling van die gesange, hoe verskillend die melodieë, hoe verskillend die begeleiding daarvan! In elke stuk is baie ander fraseringe en baie ander modulasies!

9 Goed, sê Ek vir julle; maar sê My nou ook, watter komposisie - natuurlik so goed moontlik uitgevoer - het julle die beste geval. Dan kan julle tog waarlik niks anders sê nie as: Elke komposisie op sigself het ons buitengewoon goed geval; tog was daar enkeles by, wat ons op `n bepaalde manier meer vertroud in die ore geklink het as sommige ander.

10 Weer goed, sê Ek vir julle! Wat die 'meer vertroud' betref, dit lê by die verwantskap wat daar bestaan tussen die sfeer van die komponis met die van julle. Op sigself is elke komposisie egter vol lewe, gees en waarheid.

11 Watter een sal dan die eerste prys behaal? Ek sê vir julle; as die geesryke koning regverdig wil wees soos Ek, dan sal hy tog veel dieper in sy buidel moet tas en aan elkeen die toegesegde premie uitreik.

12 Hieruit kan julle nou egter baie goed aflei dat die sfere van engelegeeste hulle presies so, maar natuurlik slegs in helder aanskoulike verskyningsvorme moet ontwikkel as wat die tweede voorbeeld ons duidelik aangetoon het. Oral is waarheid; maar omdat, volgens die verskillende grade van liefde, ook die vormgewende lig verskillend is, is ook die vorme anders; maar tog steeds so opgebou, dat hulle volledig met een en dieselfde fundamentele waarheid ooreenkom.

13 Sodat julle nie dink dat so iets slegs by hierdie twee gegewe voorbeelde te sien sou wees nie, sal Ek op grond van My groot vindingrykheid nog enkeles gee. Laat ons die volgende aanneem; tien bekwame skilders kry die opdrag om `n oggend­landskap te skilder. Die skilderye is voltooi en afgelewer. Gaan bekyk hulle maar net; die een is egter nog mooier as die ander. Elke skildery gee duidelik `n oggendlandskap weer, maar nie een kom ook maar op slegs een enkele punt ooreen met een van die ander nie.

14 Kyk, dit is omdat elke gees sy eie, `wonderbaarlike opgeboude sfeer vanuit My besit, waardeur hy vir homself en vir al sy broeders die grootste vreugde en saligheid kan berei. Bowendien is die sfeer van elke gees nog oneindig en in sy soort ewig onuitputlik in die mees uiteenlopende wonderbaarlike vormgewinge. Maar hoe eindeloos wonderbaar uiteenlopend die vormgewinge in die sfere van `n engelegees ook is en julle by die beskouing daarvan kennelik moet sê: Buite hierdie oneindige wondervolle veelheid van vorme kan mens hom verder niks meer voorstel nie, sê Ek vir julle; gaan maar vinnig oor na die sfeer van iemand anders en dan sal julle oordeel spoedig baie anders lui en sal julle sê: Ja, wat is dit nou weer? Ongelooflik, daar is alweer ander vorme! En Ek sê vir julle daaroor: So is dit gesteld met die geestelike diorama (kykspel). Die uiterlike raampie is dieselfde; maar kyk jy na binne, dan vind jy oral `n ander wêreld!

15 Ek het egter nog een voorbeeld byderhand. Wanneer julle in die Skrif die profete, asook die evangelies, asook die briewe van Paulus, die van ander apostels en leerlinge en ten slotte nog die Openbaring van Johannes deurneem, dan moet julle tog sê: Hier skryf elkeen tog `n ander taal, bedien hom van ander beelde en werk aan `n baie ander stof. Selfs die vier evangeliste stem, selfs by historiese gebeurtenisse, nie met mekaar ooreen nie. Paulus predik in sy briewe nóg die een, nóg die ander evangelie, en die Openbaring van Johannes is op sigself al in sulke wonderlike beelde gehul, dat mens nooit heeltemal wys daaruit kan word nie.

16 Nou vra Ek egter, omdat elkeen in `n sekere opsig anders geskrywe het; wie het nou goed geskrywe? Die antwoord daarop kan onmoontlik anders lui as; elkeen van hulle skryf een en dieselfde waarheid; elkeen verkondig My; elkeen dwing liefde, deemoed, sagmoedigheid en geduld af. Elkeen het oor presies dieselfde gebeurtenisse vertel; wie dit in die korrekte geestelike lig sien, sal die wonderbaarlikste ooreenkoms daarin ontdek. Wanneer julle die verskillende verse uit alle profete en evangeliste saamvoeg, dan sal hulle, in die ware lig gesien, as vrugte van een en dieselfde boom wees. 

17 Wel nou, presies so is dit ook gesteld met die sfere van die volmaakte geeste. Ek sou julle nog baie voorbeelde kan gee, maar voorlopig is dit genoeg.

18 Hier aan My sy staan ook reeds die gees in wie se sfeer julle dit alles werklik sal sien om dan ten slotte te sê: Voorwaar, in die sfeer van hierdie gees was die dinge weer baie anders gevorm, maar in diepste wese kom dit tog op dieselfde neer en toon dat die Heer alles in alles en dus oral die ewige, oneindige liefde en wysheid Self is.

19 Omdat julle dit nou alles vooraf weet, kan julle julle nou ook in die sfeer van hierdie tiende gees begewe, en let wederom baie goed daarop. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205