Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 62

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die ware deemoed, die ware liefde en die ware kindskap van God

62 Nou spreek ek en sê: Luister, agtenswaardige oudste van hierdie plek en opperste leier van die hele groot distrik! Wat jy deemoed noem en soos jy dit beskrywe het, dit is ook by ons allesbehalwe deemoed, maar slegs bedrog waarby die sogenaamde deemoedige homself bedrieg, omdat hy deur middel van `n onbehoorlike lewenshouding in `n hoër vlak van die lewe opgeneem wil word.

2 Omdat jy egter meen dat mens by die verkryging van die kindskap van God die "meer word" selfs met die beste wil onmoont­lik kan vermy, sê ek jou weer dat jy jou in die vergelyk die meeste vergis het. Hoe waar my uitspraak is, sal ek jou met behulp van die mees onfeilbare woord wat die Heer, God en Skepper van hemele en aarde, Self tot ons gespreek het, baie helder belig.

3 Die woord lui as volg: "Laat die kinders na My toe kom en hou hulle nie teë nie, want aan hulle behoort die hemelryk!" Verder het die Heer gespreek: "As julle nie word soos die kindertjies nie, sal julle die ryk van God nie binnegaan nie!" - en verder het Hy nog gesê: "Wie van julle die eerste en grootste wil wees, laat hy die geringste en die kneg van almal wees!"

4 Kyk, daarin lê die wese van die kindskap van God. As jy dink dat jy in die kindskap van die Heer meer sal wees, meer krag sal hê en ryker sal wees aan allerlei prag en mag, dan sê ek vir jou: Bly wat jy is, want van "meer word" is in elke opsig ewiglik geen sprake nie. Hier is jy, liggaamlik sowel as geestelik, `n volmaakte meester. Solank jy in jou liggaam leef, moet alle materie van die oppervlak van jou wêreld hulle gehoorsaam voeg volgens die mag van jou wysheid. Leef jy egter in die gees, dan moet hierdie, jou wêreld by jou, net soos aan alle geeste wat aan jou gelyk is, vanuit haar sentrum onderdanig wees, omdat julle as bewoners van hierdie wêreld, geestelik gesien, gelyk van wysheid en gelyk van wil is, dit wat al met die eerste oogopslag aan julle morele en staatkundige inrigting te sien is. 

5 Omdat die bestaan van tallose ander wêrelde egter afhang van hierdie wêreld wat jy bewoon, sou jy moet bedink oor welke geestelike, gebiedende mag jy beskik, want van die leiding van jou wêreld, wat volledig in die gees aan jou toevertrou is, hang die orde en die behoud van tallose ander hemelliggame inklusief van hulle bewoners af. 

6 Beskou ons daarenteen `n kind van God, wat het hy dan as mag en wat se gebied om oor te heers? Kyk, ek kan jou met die grootste sekerheid sê: `n Kind van God mag, solank hy in die liggaam leef, nog nie eens `n stoffie op aarde vir hom toe-eien nie, nie eens sy liggaam en ook nie sy lewe nie, maar hy moet bereid wees om van alles afstand te doen en altyd in volle waarheid te sê en te beken: Ek het niks, ek is niks; selfs die lewe wat ek het, is uitsluitlik van die Heer. Dit is dus die wêreldse situasie. Is die geestelike miskien glansryker? O volstrek nie! In die geestelike moet die armoede eers waarlik sentraal staan.

7 Op die wêreld mag mens ten minste tog self `n stuk brood neem en mens mag ook gaan en staan waar mens wil, maar in die gees hou ook hierdie vryheid op. Mens is daar `n ewige "gas van die Vader" en die kinders mag slegs die brood eet wat hulle regstreeks uit die hand van die Vader ontvang. Hulle mag slegs daarheen gaan, waar die Vader hulle wil laat heengaan. Hulle mag nie in pragtige geboue woon nie, maar in hoogs eenvoudige hutjies.

8 Die kinders mag nooit "stilsit" nie, maar moet so dikwels as wat die Vader dit wil, vlytig Sy velde bewerk en die oes getrou en naarstig binnebring in Sy skure. En al het hulle hulle werk ook hoe vlot en trou verrig, tog moet hulle na gedane arbeid, na die Vader toe gaan en in plaas van `n eervolle beloning, voor Hom aller deemoedig beken die hulle volkome nuttelose en lui knegte was.

9 Jy mag, soos gesê, met glansryke mag en krag in jou gees soos jy maar wil deur wêreldgebiede en eindelose ruimtes reis tot jou allersaligste genoegdoening. Ons kinders van God daarenteen, mag buite om Sy wil, nie eers `n voet oor die drumpel sit nie. Jy mag sê wat jy wil, ons kinders mag slegs dit wat ons in die mond geplaas word.

10 Kyk, hierin en in nog ander dinge lê so ongeveer die verskil tussen julle, as verhewe en magtige, geeste wat almal God se skepping bestuur en ons, die kinders van God.

11 Julle kan vanuit julleself alles doen wat julle maar wil: Ons kan egter niks uit onsself doen nie, maar slegs as die Heer dit wil en selfs ook dan nie `n klein bietjie meer as dit wat die Heer wil nie!

12 Ons staan weliswaar ten opsigte van die Heer in dieselfde verhouding as die liggaamsdele tot `n liggaam, en hierdie dele vorm wel één wese met die inwendige lewe van die liggaam, maar nie één deel van die hele liggaam kan selfstandig doen wat hy wil nie, want elke handeling en elke daadkrag gaan nie uit van die liggaamsdeel nie, maar enkel en alleen van die in die liggaam heersende grondkrag. So kan die liggaamsdele hulle ook nie self voed nie, ook al werk hulle hoe vlytig, maar hulle moet hulle opbrengs eers by die hoof depot van die innerlike lewe aflewer; eers dan deel die lewende krag die passende voeding uit aan die liggaamsdele wat gewerk het.

13 Heel anders is die verhoudinge egter by die onafhanklike vry mense wat nie as dele in `n liggaam verbonde is nie, maar wat as volkome vry wesens op hulself staan. Vir hulle kan ek ook wel sê: Wees so goed en verrig hierdie arbeid vir my, en die vriendelik gesinde mense sal die werk ook uitvoer; maar as die werk gedoen is, is hulle volkome onafhanklik van my wil en kan hulle doen wat hulle self wil. 

14 Maar ek vra jou: Is dit ook so gesteld met die dele van my eie liggaam? O, volstrek nie! Dit hang in al sy onderdele voortdurend van my innerlike wilskrag af en kan hom nie daarteen verset nie. Hy moete tog immers volkome eensgesind wees met die innerlike lewenskrag, anders sou die hele menslike wese sekerlik ten gronde gaan.  

15 Kyk, as jy nou ietwat oor my woorde nadink, dan sal dit vir jou verseker volkome duidelik word hoe dit met die deur jou skerp gestelde "meer word" van die godskinders gesteld is.

16 As jy dus die kindskap van God wil verkry, moet jy die gedagte om iets daarby te wen, heeltemal laat vaar. Jy moet jou dan nie as `n kind van God sien in `n oneindige volmaakte situasie nie, maar jy moet die saak juis omkeer. En as jy dit gedoen het, dan sal wel vanself daaruit blyk of die ware deemoed en liefde vir God, `n volkome korrekte of `n bedrieglike weg was vir die verkryging van die kindskap van God.   

17 Jy kan jou tog sekerlik goed voorstel dat God, wat die oneindige, allerhoogste waarheid self is, nie `n doel deur `n gegewe middel bereik sal wil hê, wat baie anders geaard is as die gegewe middel self nie.

18 Sou hy, wat hom steeds geringer en kleiner in sy deemoedige hart maak, wel daarop kan reken dat die Heer hom in teenstelling daarmee eg groter sal maak? Ja, Hy sal hom wel groter maak, maar nie in die deur jou veronderstelde "meer word" nie, maar slegs in `n groter deemoed en in `n groter liefde. Dit is dus die egte groot word in die gees, omdat `n mens as kind van God, dit waarna `n mens streef, dus geringheid, in hoogste mate verkry.

19 So is ook die liefde van `n Godskind vir God volstrek geen vleiery waardeur hy in staat sou wees om God se almagtige guns te verwerwe nie, want die ware liefde is `n innerlike drang om God bo alles as die enige, mees volkome Heer te erken, maar homself ten opsigte van Hom as `n absolute niks te beskou. Mens moet die hoogste geluksaligheid soek in die feit die mens God die Vader bo alles moet liefhê, omdat Hy God en Vader is. En vir so `n liefde mag mens ewig geen ander beloning verwag as slegs die genade, om God die Vader so te mag liefhê nie.

20 Sien, my geagte oudste, so staan sake. Dink maar net daaroor na en sê my dan hoe jy die deur my voorheen aangegewe weg om die kindskap van God te bereik, nou vind. Daarby moet jy egter steeds voor oë hou dat jou "meer word" as godskind ewiglik niks met die realiteit te maak het nie. Begryp dit goed en vertel my dan wat jy hieroor dink.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205