|
Die Geestelike Son - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 73
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128. |
|
|
Skoolgebou van die twaalf goddelike gebooie. Eerste saal - uitleg oor die eerste gebod
73 Ons hoef gladnie `n groot of ver reis van hier af te maak nie, die volgende tuin sal dadelik voor ons oë lê. Kyk daar, nie ver hiervandaan nie, begroet `n lang ry bome ons reeds, waaragter ons `n buitengewone groot en pragtige mooi gevormde paleis sien. Daar is die tuin, waarheen ons wil gaan en hier sal julle ook selfs die kinders aantref, wat die Heer julle op aarde ontneem het.
2 Of julle hulle ook dadelik sal herken, is trouens `n ander vraag, want in die gees lyk die kinders nie meer soseer soos hulle aardse ouers nie, maar meer soos die Heer, namate hulle in staat raak om die liefdesgoedheid en geloofswaarheid uit die Heer op te neem. Desondanks kan hulle, by bepaalde geleenthede, ook hulle aardse gelykenis, wat met hulle siel verbonde bly, aanneem, waardeur hulle hulleself uiterlik kenbaar kan maak vir diegene wat hier van die aarde af aankom en nog nie soveel van die geestelike toestande af weet nie.
3 Ons sal vereers nie te lank daaroor praat nie, maar ons liewer dadelik na die tuin begewe, om onsself met ons eie geestelike oë daarvan te oortuig van alles wat ons andersins slegs met woorde sou moet afhandel.
4 Ons is al by die ry bome of lane, waarin julle die mooiste blomryke weë vind, waarop kinders hier en daar vrolik wandel. Laat ons nog maar ietwat verder gaan, dan sal ons onsself weldra by die vroeër ontdekte paleis bevind.
5 Kyk, daar staan dit reeds voor ons, en dit in `n byna onafsienbare ver uitgestrekte lengte. Duisendmaal duisend vensters loop in `n ry aaneen. Elk venster is ongeveer sewe klafter hoog. Bokant die vensters vind ons nog `n ry kleiner vensters, wat egter oral presies bokant die onderste groot vensters geplaas is.
6 Julle vra nou: Maar in hemelsnaam, bestaan die hele gebou, die onafsienbaar lang paleis, slegs uit één enkele saal? Ek sê vir julle: Nee, volstrek nie, dit bestaan uit twaalf afdelings. Maar boin, waar julle die tweede ry kleiner vensters sien, loop `n pragtige breë galery ononderbroke rondom die hele saal, van waar `n mens, sonder om die leerlinge op die begane grond, op die een of andere manier te steur, al twaalf afdelings na mekaar kan oorsien en homself daarvan oortuig, wat alles daar plaasvind. Laat ons nou maar na binne gaan, sodat alles vir julle kan duidelik word.
7 Kyk, ons is reeds by die ingang. Ons hoef egter nie die galery op te gaan nie, omdat ons grotendeels vir hierdie klein kindergeeste nog onsigbaar moet bly. Ons sal slegs deur die leraars opgemerk word; maar hulle is reeds op hoogte gebring van die rede waarom ons hier is.
8 Wel, nou is ons al in die eerste saal. Sien julle wat daar geskrywe staan op `n wit bord, wat in die middel van hierdie groot saal op `n regopstaande pilaar aangebring is? Julle sê: Boaan het ons die welbekende syfer 1, wat seker die nommer van hierdie saal sal wees en daaronder: "Weg na die vryheid van die gees!" Ek sê vir julle dat die syfer 1 nie die nommer van die saal is nie, maar dat dit die eerste gebod van God deur Moses aangee.
9 Julle vra: Maar wat moet die baie kinders, wat ons hier al taamlik volwasse sien, maak met die aardse wet van Moses, wat wel vir sterflike, aardse ongelowige mense geld, maar tog sekerlik nie vir kinders, wat hier as suiwer geeste, al lankal van die bestaan van die één God oortuig is? Dit was tog reeds by die eerste elementêre onderrig, soos ons dit gesien het, by elke geleentheid meer as voldoende en lewenseg aanskoulik vir hulle getoon.
10 My liewe vriende en broeders, dit is alles baie anders as wat julle dink. Iets soortgelyks vind julle egter ook op aarde, waar julle die kinders kan vra en oplet waar jy maar wil en oral sal julle by hulle `n egte lewendige geloof in God aantref. Daar is niemand gelowiger as die kind nie en daar is tog nie maklik een of ander kwaadwillige ouerpaar te vind wat hulle kinders, sekerlik aan die begin van hulle lewe, sou wil belet om God te leer ken nie, omdat elke religie dit immers voorskryf en die ouers, ten minste om politiek-morele redes, verplig is om dit vir hulle kinders te leer en te laat insien.
11 Sou mens dan dalk ook moet glo dat sulke kinders wat oor God onderrig is, na verloop van tyd geen verdere onderrig oor God meer nodig het nie? Julle moet self toegee en sê: Ja, sulke onderrig het iedereen tot aan die einde van sy lewe nodig, want maar al te maklik word die eerste indrukke uit die kinderjare uitgewis en dan staan die mense wat hulle kinderskoene ontgroei het, daar asof hulle nog nooit iets oor God sou gehoor het nie. Ek sê vir julle: Die uitwissing is hier weliswaar nie lig moontlik nie, maar julle moet wel daarvan uitgaan dat hierdie kinders, as gevolg van hulle vroegtydige oorgang na hier, geen geleentheid op aarde gehad het om die vryheidsproef vir hulle gees, wat die eintlike lewensproef is, deur te maak nie. Daarom moet hierdie uiters belangrike aktiwiteit vir die lewe van die gees, hier volledig in werking gestel word. Tot nou toe was hierdie kindergeeste in `n sekere sin slegs geestelike, lewende masjiene. Hier is dit egter die saak dat hulle uit hulself tot lewe kom en daarom moet hulle ook alle gebooie leer ken, dit dan daadwerklik self uitprobeer, en ondervind hoe hulle selfstandige lewende geestelike wese hom onder `n bepaalde wet gedra.
12 So is die eerste gebod dan ook hier gegee en dit lui: "Jy sal in één God glo en nooit dink dat daar geen God sou bestaan, of dat daar twee, drie of verskeie gode sou bestaan nie."
13 Nou is dit trouens weer die vraag; hoe kan mens iemand gebied om in God te glo, wat tog al lewendig in God glo en geen vertwyfeling daaroor het nie? Dit is werklik `n goeie opmerking; daarom word die kinders hier, nou juis deur allerlei leerstellinge en dade deur hulle leraars, in `n situasie geplaas, waarin hulle met allerlei vertwyfeling oor die bestaan van God belas word. Hierdie manier van onderrig noem mens hier die leegmaak van die eie gees.
14 Om dit egter by hierdie kinders te bewerkstellig, laat die leraars dikwels die merkwaardigste dinge as per toeval voor die oë van hulle leerlinge ontstaan; hulle laat dit deur hulle bekyk en vra hulle dan of God, wat hulle tog nie daarmee aan die werk gesien het nie, daarvoor nodig was. Sê die kinders dan: God kan dit slegs met Sy wil tot stand bring, sonder om werklik noodsaaklik aanwesig te wees daarby, dan laat die leraars hulle leerlinge self verskillende dinge uitdink en dit wat deur die kinders gedink word, staan dan al kant en klaar voor hulle. Dan vra die leraars weer aan die kinders, wie dit gemaak het.
15 Daardeur word reeds verskeie leerlinge aan die twyfel gebring. Enkeles sê dat hulle dit self gedoen het, ander dink weer dat die leraars, nadat hulle insig in die gedagtes van die leerlinge gekry het, dit gedoen het. Enkeles sê egter dat hulle dit wel gedink het, maar die een almagtige God moes toegelaat het dat dit, as `n voltooide werk deur hulle gedagte, voor hulle verskyn.
16 Wanneer die leerlinge dan nog steeds taamlik sterk aan hulle geloof in God vashou, dan vra die leraars hulle hoe hulle dan weet dat daar een God bestaan. Dan antwoord die leerlinge hulle gewoonlik: Dit het die eerste wyse leraars ons geleer. Nou vra hierdie leraars egter verder en sê: Wat sou julle dan sê as ons, wat kennelik die wyser leraars is, sê en leer dat daar geen God bestaan nie en dat alles wat julle sien deur ons gemaak en tot stand gebring is? En wat sou julle daarvan sê as ons beweer dat ons self die eintlike gode is?
17 Kyk, nou staan die kinders totaal ontsteld en vra die leraars wat hulle dan nou in die geval moet doen.
18 Hierdie leraars sê dan vir hulle: Soek in julleself, wat julle moet doen; bestaan daar `n God, dan moet julle Hom in julleself vind, bestaan daar geeneen nie, dan sal julle ook ewig geeneen daar vind nie.
19 Wanneer die kinders vra hoe hulle die soeke in hulleself moet aanpak, dan sê die leraars: Probeer om vir God, waarvan julle dink dat Hy bestaan, in julle harte so lief te hê asof Hy regtig bestaan. Laat hierdie liefde groei en as God bestaan, dan sal Hy julle liefde beantwoord; bestaan Hy egter nie, dan sal julle geen antwoord in julle hart kry nie.
20 Kyk, nou begin die leerling hom in homself te keer en begin God, waarin hy vroeër slegs kinderlik geglo het, werklik lief te hê. Maar dan kan dit gebeur dat God, die Heer hom nie dadelik aanmeld nie, waardeur ons kinders sterk aan die twyfel raak. - Hoe hulle egter leer om hierdie twyfel te oorwin, sal die vervolg ons laat sien.
|
|
|
|
|