Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 67

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Intrede in die kinderryk. Praktiese metode tot selfontwikkeling van die kinders

67 Hier voor ons is die poort reeds; laat ons dus maar dapper na binne gaan! Ons is in die tuin. Kyk hoe aardig en mooi geordend alles uitgelê is. Klein boomlanings deurkruis die groot tuin en by elke kruising sien ons `n klein versierde pilaar van bome wat in die middel versier is met `n klein tempeltjie. Die weë is met die mooiste grassoort bedek, waardeur hulle `n buitengewone sagte bewandelbare weg vorm. Tussen die lane ontdek ons vry ruimtes waarop `n oorvloed van die mooiste blommetjies groei, ongeveer soos in `n goeie voorjaar op die weivelde van julle aarde.

2 Julle vra nou hoe dit is dat hierdie blomme nie vakkundig gerangskik is nie, maar eenvoudigweg bont deurmekaar uit die aarde opgroei. Dit is omdat dit hier al `n volmaakte wêreld is en al die gewasse dus op elke plek volkome ooreenstem met die geestelike begripsvermoë wat eie aan die bewoners van so 'n plek is.

3 Hier woon nou juis die siele van die jongste kindertjies wat op aarde, kort na hulle geboorte, liggaamlik gesterwe het. Hierdie kindertjies kan tog onmoontlik al ietwat geordende begrippe en voorstellinge van die Heer en Sy woorde hê; daarom sien julle hier ook alles jonk, klein en bont deurmekaar.

4 Kyk maar net voor julle. Daar in die middel van hierdie groot tuin sal julle `n gebou ontdek wat nagenoeg die vorm het van `n groot broeikas by julle. Wat sou dit wel wees? Wel nou, ons sal daarheen gaan en dadelik sien wat dit is.

5 Kyk, ons is al daar; laat ons deur die deur, wat vir ons geopen is na binne gaan, en dan sal dit dadelik duidelik word wat ons daarbinne sal aantref. Ons is binne en ons sien `n lang, byna onafsienbaar deurlopende ry klein bedjies, wat as`t ware op `n terras ongeveer drie voet bokant die vloer geplaas is. Kyk net verder! Agter die voorste ry is daar, deur `n paadjie geskei, nog `n tweede, vervolgens `n derde, vierde, vyfde, ensovoorts tot `n tiende ry te siene. En kyk, in elke klein bedjie sien ons `n kindjie rus en oor alle paadjies gaan honderde versorgers en versorgsters voortdurend op en af en hulle let sorgvuldig op of die een of ander kindjie iets nodig het.

6 Hoeveel sulke bedjies sal daar wel in hierdie ruimte voorhande wees? Dit kan ons maklik bereken. In één ry is 10 000 sulke bedjies en ons het op hierdie afdeling 10 rye getel; dan sou daar dus 100 000 wees. Hoeveel van sulke afdelings is daar egter wel in die gebou? Daar is tien en dus moet daar in die hele gebou 1 000 000 sulke bedjies voorhande wees. Volgens julle berekening neem die aantal kinders van dag tot dag toe en die kindertjies wat vandag in hierdie afdeling in hierdie wonderbare lewensbedjies volgroei word, sal spoedig na die volgende afdeling gebring word.

7 As die kindertjies op hierdie manier in al die tien afdelings van die gebou tot volle ontwikkeling gekom het, kom hulle weer in `n ander gebou, waar hulle nie meer in sulke bedjies hoef te rus nie, want daar is vir hulle rye spesiale sagte looprekke opgestel, waarin hulle leer om te staan en te loop. Die gebou het ook tien afdelings, waarin die lopery voortdurend ontwikkel word. As die kindertjies die lopery volkome bemeester het, dan is daar weer `n ander gebou met tien afdelings. In die gebou leer die kindertjies om te praat en dit word so verstandig aangepak dat dit beslis die moeite werd is om daarheen te gaan om hierdie onderrig instelling van naderby in oënskou te neem.

8 Bowendien is daar nie meer veel vir ons in die gebou te leer nie, want dit spreek tog vanself dat hierdie kindertjies, wat baie voortydig vanaf die wêreld hierheen oorgebring word, uitsluitlik deur die liefde van die Heer rypgemaak word en dat die oppassers in die gebou engelegeeste is wat ook groot kindervriende op aarde was. En aangesien ons dit nou weet, sal ons onsself na die derde gebou begewe.

9 Kyk, dit staan daar in die rigting van die middag en het `n aansienlike uitgestrekte vorm. Laat ons dus daarheen gaan en dadelik binne tree! Ons is al in `n afdeling, en wel die eerste. Merk julle nie hoe dit daar wemel van klein leerlinge en tussen hulle in, vriendelike en geduldige meesters en juffroue nie? En kyk hoe hierdie kindertjies voorsien is van die mees verskillende speletjies in allerlei soorte en kleure. Waarvoor het hulle dit dan nodig? In die eerste plek om in alle stilte begrippe te versamel in hulle siel, wat eintlik hulle wese is hier. Hier hoor ons nog geen gepraat nie, maar laat ons na `n tweede afdeling gaan.

10 Kyk, hier loop die kindertjies nie meer so wemelend deurmekaar nie, maar sit op lang rye sagte lae bankies. Voor elke tien kindertjies sien ons één leraar, wat `n voorwerp in die hand hou, en dit `n naam gee en die kindjies daardeur so goed as moontlik en vrywillig laat nasê. Die voorwerpe word altyd so gekies dat dit die aandag van die kindjies trek.

11 Bowendien sien julle ook, steeds groepies van tien kinders op die lang rye banke wat onderling deur skeidingswande afgeskerm is. Dit word so gedoen, sodat die aandag van die volgende groep kindertjies nie deur die toon van `n voorwerp versteur word nie. 

12 In hierdie afdeling leer die kindertjies maar net om eenvoudige voorwerpe op te noem. In die volgende afdeling word hulle al na die benoeming van saamgestelde begrippe gelei, waarby die een begrip naamlik as grondslag dien en die bestemming in die ander lê. In die vierde afdeling leer hulle al om die begrippe vanself te verbind en leer hulle ook die woorde ken waardeur handelinge en werksaamhede, net soos toestande, hoedanighede en eienskappe, uitgedruk word.  

13 In die vyfde afdeling begin hulle as`t ware al `n bietjie te babbel. Dit word bewerkstellig deurdat die leraars aanskoulike onderrig gee, deur allerlei voorwerpe op spesiale skoolborde te toon en klein teaterstukkies op te voer, waarna hulle hulle deur die kindertjies laat vertel wat hulle nou net gesien en wat daar gebeur het.

14 In die sesde afdeling word hierdie tak van onderrig al op `n ietwat uitgebreide en meer sinvolle manier voortgesit. Daar word al ietwat groter skeidingsplakkate getoon en toneelstukkies opgevoer wat betrekking het op die Heer. Hier word die kinders nog niks anders daaroor meegedeel nie as slegs die uiterlike beeld en hulle moet dan weer in die daartoe bepaalde leertyd navertel, wat hulle gesien het.

15 In die sewende afdeling, waar die kinders al behoorlik kan praat en hulle bevattingsvermoë `n merkbare hoër graad bereik het, word al beduidend groot, op die Heer betrekkende, geskiedkundige voorstellinge, nie slegs in die vorm van skeidingsplate nie, maar veral dramaties weergegee, en wat gewoonlik op so `n aantreklike manier vir die kinders aangebied word dat hulle daar as`t ware so onder die indruk daarvan raak, dat hulle daardeur die gehoorde en gesiene meer bewustelik in hulleself opneem. 

16 In die agtste afdeling laat die leraars die kinders al self klein stukkies opvoer en laat hulle dan weer vertel wat deur so 'n lewendige voorstelling uitgebeeld word.

17 Daardeur word die kindertjies op die doelmatigste manier tot selfwerksaamheid en selfstandige denke aangespoor.

18 In die negende afdeling moet die kindertjies al begin om self nuwe toneelstukkies te bedink, natuurlik onder leiding van hulle wyse leraars en die resultaat moet hulle dan ook uitbeeld, eers sonder, daarna ook met woorde.

19 In die tiende afdeling sal ons al `n hele klomp toneelspelers en toneelskrywers sien en hulle taalgebruik sal so goed ontwikkel wees, dat julle sal moet sê: Waarlik, so goed kan menigeen nie op aarde spreek nie, ook al het hy `n universiteit deurloop. `n Mens moet inderdaad hier sê:

20 As gees leer mens vinniger as in die materiële liggaam, wat dikwels met groot swakhede en onhandigheid behep is. Dit is sekerlik waar. Sou dieselfde leermetode ook daar op aarde gehandhaaf word, dan sou die lewende en opgroeiende kinders daar ook onvergelykbaar vinniger die doel van hulle geestelike ontwikkeling bereik as op die manier waarby die kind eers met allerlei onsinnige dinge volgestop word, wat later by die meer volwasse vorming eers weer moeisaam afgeleer moet word, voordat die kind in staat sal wees om iets beters op te neem.  

21 Om julle `n voorbeeld ter verduideliking te gee, wil ek julle attent maak op iets wat julle al self dikwels ondervind het. Stel jou `n kind voor wat musikaal begaafd is; hoe kan hy in die vroegste stadium onder die korrekte leiding presteer? As mens egter so 'n kind, in plaas van aan `n deeglike leraar, aan `n egte knoeier toevertrou, wat self in `n sekere sin oral meer verstand het, as van dit waarin hy onderrig gee en hy die leerling bowendien `n slegte instrument gee, wat weinig of glad geen toon het nie en bowendien voortdurend ontstem is, alles onder die voorwendsel dat dit vir die eerste begin goed genoeg is, sal daar dan ooit iets van so 'n begaafde leerling kom? Ons sal net sien.

22 Na drie onnodige verspeelde jare kry ons leerling eindelik `n heelwat beter leraar. Maar hy het minstens drie jaar nodig om alles wat die leerling tot dan toe verkeerd aangeleer het, weer af te leer. Inmiddels het daar ses jaar verstryk en ons leerling kan nog niks speel nie. Mens wil nou die eerste fout goedmaak deur dadelik `n uitstekende meester aan die leerling te gee, om die musikale ontwikkeling van die kind weer so in goeie bane te lei. Hierdie meester het egter geen geduld nie en die leerling het nie veel meer plesier daarin nie. So gaan daar weer drie jaar verby en ons begaafde leerling het hoogstens `n baie middelmatige knoeier geword, terwyl hy met `n korrekte basisopleiding al iets besonders na die eerste drie jare kon gepresteer het.

23 Kyk, so gaan dit met al die onderrig op aarde en daarom verloop die vooruitgang in die ontwikkeling ook so langsaam. Maar hier is als uiters doelmatig gereël, waardeur alle vorming ook met rasse skrede vooruitgaan. Die vervolg sal ons nog pragtiger resultate laat sien.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205