Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die drie wyses uit die môreland: Hulle wese. Die groot betekenis vir en van ons aarde

15 Julle sê: Dit sou weliswaar goed wees as mens maar dadelik sou weet aan welke deel van ons liefde of aan watter hemelse streke daarvan mens hierdie wêreld nou juis moet toedig, maar ek sê vir julle, my liewe vriende en broeders: Omdat julle al, deur my duwweltjie, driekwart van die belangrikste by julleself gevind het, sal dit sekerlik nie so moeilik wees om, deur hoogstens nog `n paar duwweltjies, ook die vierde kwart te vind nie. Ek sal julle daarom dadelik nog `n vraag stel, waarop julle die antwoord al vooraf weet. Die vraag is: Het julle nooit gehoor van die sogenaamde ou astrologie nie? Julle sê: Ja seker, daar is tot vandag toe nog boeke daaroor. Maar mens mag tog nie te veel waarde daaraan heg nie. Ek sê vir julle: Op die manier waarop julle dit gewoonlik doen, sekerlik nie, want dit sou `n absurde bygeloof wees en dus sondig. Maar elke saak het twee kante, naamlik `n lig- en `n skadukant. Ons sal ons daarom nie van die skadukant nie, maar onsself van die ligkant van die ou misterie bedien.

2 Wat wil dit sê? Die naam lui: Kennis van die ooreenstemminge. Langs die weg van die ooreenstemminge het elke voorwerp, elke vorm en elke onderlinge verhouding van die vorme en voorwerpe `n ooreenstemmende geestelike betekenis. So `n betekenis het alle sterre en hulle sterrebeelde nog steeds. Wie derhalwe hierdie beelde van hulle ligkant kan lees en begryp, is ook `n astroloog; maar dan geen astroloog wat gebruik maak van die hulp van duistere magte nie, maar `n astroloog uit die ryk van die liggeeste, dit wil sê dat hy `n waaragtige wyse is, soos die drie sterrekundiges uit die môreland. Hulle het die ster van die Heer herken, het hulle deur haar laat lei en het deur haar die Heer van die heerlikheid gevind.

3 Ek sien in julle nou wel `n vraag betreffende die nou net genoemde drie wyse sterrekundiges uit die môreland. Ek weet, dat julle ook al opheldering daaroor gekry het. Maar julle weet nie, dat vanuit die hemel nou eenmaal geen boodskap volkome ontsluier tot die mense op aarde kan kom nie, maar dat elke boodskap nog altyd deur `n omhulsel omsluit is. Want sonder so 'n hulsagtige omsluiting, kan geen boodskap, wat suiwer geestelik is, uit die hemele tot die mense kom nie, net so min as dat iemand van julle in staat sou wees om die eteriese voedingstowwe, wat vir die liggaam geskik is, sonder toevoeging van growwer materie in homself op te neem.

4 Die brood wat julle eet, bestaan uit suiwer klein hulsies, wat die draers van die eintlike voedingsstof is.

5 Wanneer dientengevolge, die deur julle reeds ontvange berig oor die drie wyses uit die môreland, egter ook nog ietwat versluier is, dan kan ons dit hier ook wel ietwat onthul. Daar kan uit hierdie onthulling miskien ook wel so 'n klein duwweltjie tevoorskyn kom, waardeur ons ligkant van die astrologie, wat ons nou juis nodig het, vir ons steeds aanskouliker word.

6 Julle het oor hierdie drie wyses verneem dat Adam, Kain en Abraham in hulle aanwesig was. Dit is korrek; maar sou julle dit heeltemal letterlik opneem, dan sou julle julleself ewegoed vergis as wanneer julle sou glo in die onheilspellende sterrebeeld, waaronder julle, volgens die berekening van die kalender, gebore is. Julle sê: Dit kan wel wees, maar hoe moet mens hierdie saak, waaroor op meer plekke met groot stelligheid gespreek word, dan opneem? Ek sê vir julle: Dadelik sal dit duidelik word hoe mens sulke dinge moet opvat.

7 Julle het tog ook allerlei voorwerpe, soos minerale, plante, diere en mense om julle heen. Sê net, wanneer julle hierdie voorwerpe wil neem en begryp soos wat hulle tasbaar voor julle staan, kan julle dit as `n werklikheid deurgrond? Julle kan byvoorbeeld wel sê: Kyk, dit is `n hoë berg met `n baie romantiese vorm; sy gesteentes bestaan uit oerkalk; vanaf sy hoogste top moet mens `n pragtige uitsig hê en binne-in is daar miskien baie metale. Wanneer julle dit oor die berg gesê het, is julle ook al uitgepraat.

8 Met plante en diere sal dit met julle geen haar beter gaan nie, want julle kan slegs beoordeel, en bowendien nog baie oppervlakkig, wat julle sintuie raak of wat vir julle tasbaar is. Maar wat die innerlike, hoëre geestelike ordening betref, sê net, met watter maatstaf wil julle dit meet? 

9 So staan Adam, Kain en Abraham hier onder die beeld van die "drie wyses" uit die môreland duidelik voor julle as gevolg van die boodskap wat julle uit die hemele ontvang het.

10 Maar soos wat julle nog absoluut nie die ryk van minerale, plante en diere kan deurgrond nie, is dit ook die geval met die drie wyses uit die môreland.

11 Ja, Adam, Kain en Abraham was aanwesig. Dit is aan julle meegedeel as antwoord op die vraag oor die betekenis van die drie wyses uit die môreland. Hoe was hulle egter aanwesig? Kyk, dit is `n ander vraag! Dit het julle nie gestel nie; daarom bly hierdie vraag ook soos `n omhulsel om julle meegedeelde boodskap. Maar nou is dit tyd om hierdie omhulsel te breek, omdat ons die suiwer waarheid vir ons doel nodig het. Weet dus: 

12 Hierdie drie wyses was drie baie gewone priesters van die beter soort uit die streke van Assirië. Julle weet dat ten tye van Salomo, het die welbekende groot koningin van die Assiriese ryk, wat aan julle bekend is, na Jerusalem gekom om Salomo se wysheid te hoor. So word daar dus al in hierdie tyd ook aan die heidense volk deur die beter deel van sy priesters die profesie gegee dat sy seuns eens `n ster sou ontdek wat vir alle volkere van die aarde sou opgaan. Sedert hierdie profesie bly `n deel van die priester­skap van die volk dan ook steeds daaraan vashou en bestudeer die sterrehemel voortdurend. Met dié doel reis hierdie priesters dan ook na alle lande, waar daar in hierdie tyd ook maar groot wyses hulle ophou, om van hulle so menige diepere wysheid, veral betreffende die leer van die ooreenstemminge, te leer. 

13 Ten tye van die geboorte van Christus het die kollege van hierdie priesters taamlik groot geword, maar op drie na laat hulle hulleself almal deur winsbejag saamsleep en dien aldus so die Mammon. Slegs drie hou hulle aan die suiwer wysheid, versmaad die wêreld met haar skatte en soek die loon vir hulle geestelike arbeid slegs in die gees en in die waarheid.

14 Wat het daar dan ten tye van die geboorte van ons hooggeprese en bowe alles geliefde Heer gebeur?

15 Hulle ontdek `n ongewone skitterende, opkomende ster, bestu­deer haar baan en die sterrebeelde waaronder sy opkom en hoe sy verbygaan. Terwyl hulle so met die diepere betekenis van hierdie ster besig was en die ster teen middernag presies bokant die hoogste punt te staan kom, verskyn drie in wit geklede manne aan hulle, wat vir hulle sê: Ken julle hierdie ster? En die wyses sê: Ons ken haar nie. Die manne wat egter verskyn het, sê vir die wyses: Staan ons toe dat ons julle voorhoof en bors aanraak, dan sal julle onmiddellik die groot betekenis van hierdie ster leer ken. Maar die wyses sê: Is julle miskien towenaars uit Indië, dat julle dit met ons wil doen?

16 Maar die drie in wit geklede manne antwoord: Volstrek nie: Ons wil nie die mag van die hel openbaar aan julle nie, maar ons wil God se krag aan julle toon en julle daarheen lei waar die ewige Heer van hemel en aarde in Sy goddelike volheid neergedaal het. `n Maagd het die eindelose genade ten deel geval; sy het ontvang van die Heer en het `n Kind van alle kinders, `n Mens van alle mense en `n God van alle gode gebaar! Sien, dit wil ons julle laat sien en laat daarom toe dat ons julle aanraak. En die wyses sê: Dit is dan soos julle wil, maar sê ons eers wie julle is. 

17 En een van die drie wat verskyn het, sê: Het julle nooit gehoor hoe dit was by die begin van die wêreld nie? Sien, aan my was `n liggaam deur God gegee; dit het ek negehonderd-en-dertig jaar gedra en was so geskape as eerste mens van hierdie aarde: My naam was Adam, die eersteling van God op hierdie aarde. Na hierdie woorde laat die oudste hom deur die gees van Adam aanraak en toe die gees die oudste aanraak, word hy terstond onsigbaar; maar die oudste was vervul van die gees van Adam.

18 En op dieselfde wyse gaan dit met die twee ander en die ouer een word vervul deur die gees van Kain en die jongere met die gees van Abraham, sonder om egter daardeur ook maar iets van hulle eie indiwidualiteit te verloor. Maar op die oomblik van hierdie handeling sien hulle die groot betekenis van hierdie ster en van die woorde van die profesie wat, soos gesê, geskied het ten tye van die groot koningin van hierdie land.

19 Daarom begewe hulle hulleself dan ook onmiddellik vanaf hulle uitkykpos op die weg, rus hulle kamele uit en dra aan hulle knegte op om mirre, goud en wierook te koop. Dit was naamlik in dié land die gebruiklike geskenk vir `n nuutgebore koning; mirre vir die kind, goud vir die koning, wat by hulle, mens van die mense heet, soos so 'n koninklike kind van die kinders genoem word. Wierook skenk mens ook vir die koning, omdat die koning vir die gesalfde magsdraer van die Godheid op aarde aangesien word. Toe dit alles aangedra was, begin die reis ook dadelik. Die ster was die weg­wyser en die drie geeste was die innerlike gidse van ons bekende drie wyses uit die môreland.

20 Kyk, met hierdie beskrywing is julle boodskap onthul en tewens ook die innerlike waarheid wat juis in hierdie drie wyses Adam, Kain en Abraham aanwesig was. Abraham, wat hom in sy gees reeds baie lank verheug het op die dag wat hy Hom mag sien, soos die Heer hom self voorgesê het, het hom ook werklik gesien; liggaamlik deur die wyses, geestelik in homself en hemels in die aanskoue Kind van die kinders, Mens van die mense en God van die gode!

21 Uit hierdie beskrywing kan julle ook voldoende aflei hoe dit met die ware astrologie gesteld sou moet wees. Ons het in ons of aan die uitspansel van ons gees ook `n ster van `n baie besondere soort gesien. Is ons interne astroloë, dan sal ons ook sekerlik sonder enige moeite ons laaste kwart vind en sal ons baie goed insien waarop dit eintlik met ons ster uitdraai.

22 Dit is waar, daar lê nog miljarde en miljarde sterre en wêrelde in julle, maar uit hierdie miljarde het daar slegs één vrygekom. Dit staan voor ons en lê onder ons voete soos `n heerlike hemelse vaderland. Maar ons vra: Waar staan jy, heerlike wêreld, in jou groot werklikheid? Vanuit watter omgewing uit die wye hemele tref jou magtige straal jou ewebeeld in ons en plaas dit soos `n pragtige weerskyn na buite? Maar ons weet nie waar jou straal vandaan kom nie!

23 O vriende en broeders, so `n vraag klink vreemd as mens die werk aan sy voete sien lê. Het julle nooit iets gelees oor `n groot kasteel van die geeste en oor `n kasteel van die siele nie? Kyk, daarin lê klein toespelinge op `n groot, verborge waarheid, wat egter tot nou toe nog nie ontdek is nie. Maar ek sê vir julle: Wie na die Heer wil gaan, moet ook die weg na die Heer gaan. Daarby sê Ek vir julle nog iets belangriks: Wees bomatig verheug, want die Heer het uit miljarde stof, die aarde, uitverkies; uit alle eindelose gebiede van die skepping het sy die geboorteplek geword van die geeste wat na die Heer wil gaan!

24 Nou hoef ons nie meer ver te gaan nie. Kyk na hierdie wêreld wat nou aan julle voete lê; `n ou vaderhuis van julle gees! Groot prag tref julle hier aan en die liefde vir prag het julle saamgeneem na die aarde. Maar die Heer hou nie van prag nie, en daarom het Hy die aarde verdeemoedig. Weet julle nou nog nie waarop dit met hierdie wêreld uitdraai nie? Ja, ek sien dit al, julle kan die astrologie nog nie goed verteer nie. Ek sal julle nou egter op iets attent maak.

25 Dit was te alle tye en by alle volkere gebruiklik om te sê en hier en daar ook stellig daarin te glo, dat hierdie of daardie ster "hulle ster" was. Letterlik geneem sou daar weinig rede voor wees, maar geestelik geneem soveel te meer, want waar `n gees vandaan kom, daar kry hy ook sy liefde vandaan. Nou is al die miljarde sterre egter oftewel voormalige, of latere woonplekke van geeste. As dit die geval is, dan is dit tog ook duidelik dat die gees van elke mens op aarde `n ster as vorige woonoord gehad het en hierdie ster is die eerste wat by `n innerlike beskouing ook sekerlik die eerste na bo kom.

26 Nou moet julle die sterrehemel net noukeurig bekyk en die ster wat julle die beste geval en wat julle die behaaglikste toestraal, vashou. Kyk, dit sal die ooreenstemmende ster wees, waardeur dit hier opgewek word.

27 Daarin lê dan ook die verskil tussen kinders van die wêreld, wat van benede kom, en kinders van die aarde is, en tussen die kinders van die lig, wat van bo kom, en kinders van die son, of kinders van die lig is. Hulle is derhalwe geroepe om die Heer op die een of ander wyse as knegte te dien en die kinders van die wêreld te verlig, sodat ook hulle gewen mag word tot kinders van die lig en as waaragtige erfgename van die ewige lewe, wat die Heer van ewighede berei het vir al Sy geskape geeste. Ten einde het Hy vir hulle in die oneindige skeppingsgebied tallose skole geskep vir die verkryging van die lewensvryheid. Hy het hulle selfs op hierdie aarde deur Sy kruis `n heilige doel gestel, sodat hulle almal waaragtige kinders van Sy liefde en allersaligste erfgename van Sy erbarming en genade mag word!

28 Ek dink en ek hoop dat ons die vierde kwart nou ken, maar wanneer ons ietwat op hierdie wêreld rondgekyk het, dan sal menige geheim, waarvan julle en die hele wêreld tot nou toe nog nooit van gedroom het nie, dan vanself vir ons nog duidelik word.

29 Die Heer het egter na Sy opstanding nog baie met ons, Sy uitverkorenes, bespreek wat nie opgeteken is nie; en al sou dit ook opgeteken wees, dan sal die wêreld die boeke, vanweë die hoeveelheid en vanweë die grootte en diepte van die inhoud, nie kon bevat nie. Maar nou word julle baie daarvan meegedeel. Daarom moet julle in die gees wel goed oplet om die groot geheim van die lewe en die innerlike groot wysheid van die Gees in julleself te begryp.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205