Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 44

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Agste verdieping. Oor die binnegaan in die lewe van die gees

44 Ons is bo; kyk baie goed om julle heen en let veral op die ornament van die versierde pilaar. Soos wat julle tot nou toe reeds ervaar het, leer ons hieruit van verdieping tot verdieping die wysheid ken van die mense wat hier woon en tewens die algemene mens- en wêreldorde van `n hele songebied, veral van die van die sentrale son waarop ons onsself nou bevind.

2 Wat die res van hierdie galery betref, is daar nie veel belangrik vir ons oë om te ontdek nie, want al die boumateriaal, op die vlak binnemuur na, is al volkome helder en deursigtig, sodat mens slegs uit die glansende vlakke kan aflei wat die materiaal is; maar verder is alles, soos gesê, so volkome deursigtig soos die lug. Die vlak binnemuur is egter stralend wit en die poorte wat toegang gee tot die vertrekke is ligblou. Nou is ons dan ook met die kleure, vir sover dit die boustyl van die galery betref, al klaar. Daarom begewe ons onsself dadelik in `n versierde pilaar, om iets merkwaardigs daarin te aanskou, wat ons eintlik `n hele geestelike galery hoër sal bring.

3 Ons is in die versierde pilaar en julle sê: Liewe vriend en broeder, hier moet mens die pilare van die versierde pilaar eerder vasgryp en dan bekyk. Hulle glans wel buitengewoon as mens reg voor hulle spieëlvlak gaan staan, maar wanneer mens vlugtig kyk, werklik, dan sou jy baie goed daarteen kan bots, sonder om eers te sien, watter steen des aanstoots jou te wagte staan.

4 Jy het voorheen gesê dat ons die ornament van die versierde pilaar besonder skerp in die oog moes hou, omdat iets groots daaragter sou skuil. Ons kyk nou al van links na regs en van bo af na benede en kan met moeite slegs die pilare sien en daarbinne `n baie besondere skoon, yl en baie deursigtige wenteltrap, wat aan beide kante van gelyksoortige leunings voorsien is, maar, al kyk ons hoe goed, van `n ornament is daar in die versierde pilaar nie die minste spoor te ontdek nie. Wanneer ons egter iets nuttigs vir ons innerlike verlange, volgens kennis en wysheid, daaruit wil haal, moet ons tog wel iets sigbaars voor oë hê, want uit die niks sal tog seker onmoontlik iets meer as weer niks kan kom nie.

5 Ja kyk, geliefde vriende en broeders, die gesigsvermoë van die mens is deurgaans so ingerig dat dit, wanneer daar skielik `n wisseling van die twee ekstreme plaasvind, dit `n tydlank onbruikbaar is. Het iemand lank in die fel lig gestaan en kom daarna in `n donker vertrek, dan sal hy selfs, met die beste gesigs­vermoë, nie die voorwerpe daarin kan onderskei nie. Presies so is dit ook omgekeerd. Was iemand vir `n lang tyd in `n donker vertrek gewees en kom daarna skielik in die felste lig, dan sal hy ook, in die eerste oomblikke van suiwer lig, niks meer sien nie, net soos by die nagvoëls, wat oordag niks sien nie. Eers na enkele sekondes sal die beelde vir die oë steeds duideliker sigbaar word.

6 So gaan dit ook hier, want die verskil in lig van galery tot galery en van verdieping tot verdieping is baie groot, dit word veroorsaak deur die gebruik van steeds helderder, deursigtige boumateriaal. Daarom moet ons hier in hierdie ligsterkte `n rukkie bly sodat ons oë hulle daarop kan instel. En dan sal daar nog wel dinge tevoor­skyn kom wat ons nou nog nie op hierdie oomblik kan onderskei nie.

7 Julle vra: Hoe moet ons dit nou eintlik aanpak? Ek sê vir julle: Kyk maar net na die wit muur: Julle oë sal spoedig aan die sterk wit glans gewoond raak en dan sal julle baie vinnig die omtrek van ons ornament onderskei. Julle sê nou: Beste vriend en broeder, dit lyk vir ons dat dit eintlik nie die korrekte manier is nie, want as die geestelike oog net so werk soos die liggaamlike, sal dit deur langer in hierdie ligsterkte te kyk, slegs verblind word, maar sekerlik nie versterk en verlewendig word nie. Daarom is ons van mening dat dit beter sou wees om met die oë in die donker te gaan, sodat hulle sterk genoeg word om die lig op te neem.

8 Ja, my liewe vriende en broeders, oënskynlik lyk dit wel so, maar hierdie veronderstelling gaan nie hier ter plaatse af nie. Wil julle egter die rede daarvan beter begryp, dan sal ek dit vir julle aan die hand van `n duidelike voorbeeld verklaar.

9 Wat vind julle so op die eerste oogopslag van die oggend- of die aandson? Julle sê: Beste vriend en broeder, ons vind dat sy onverdraaglik fel skyn en ons kan die ronde vorm van haar liggaam nie onderskei nie, want haar gestalte lyk soos `n vormlose vuurbal. Goed, vriende en broeders, maar wat gebeur daar wanneer julle julleself oorwin het en onafgebroke na hierdie vuurbal begin kyk? Julle sê: Die glans verdwyn geleidelik en voor ons oë staan slegs `n sneeuwit skyf wat aan haar rand voortdurend blyk te vibreer en wanneer ons baie lank toekyk, kan ons selfs die grootste vlekke op haar oppervlak soos baie klein swart puntjies waarneem.

10 Weer goed, vriende en broeders, maar waarom kan julle dit nou doen? Het julle oë miskien sterker geword deur die aanblik van die voortdurende fel sonlig? Nee, julle oë het daardeur eintlik verswak, dit wat julle baie goed kan merk wanneer julle die oë nou van die son afkeer en op `n ander voorwerp rig. Hoe sal julle nou so 'n ander voorwerp sien? Wel, soos in `n droom of in `n reeds aan­merklike nagtelike duister. 

11 Wanneer ons dit nou uit ervaring weet, dan sal ons ook maklik begryp waarom dit goed is om ietwat langer na die wit, vlak muur van die gebou te kyk, naamlik, om dieselfde rede dat dit goed was om langer na die son te kyk. Julle het toe, deur langer te kyk, die volledige sonskyf en selfs haar vlekke gesien en ons sal hier in hierdie see van lig geleidelik aan die ornament van die versierde pilaar begin te onderskei.

12 Julle vra nou nog eens; maar beste vriend en broeder, het die bewoners van die geboue ook soveel tyd nodig soos ons om die ornamente, waarmee hulle hulle versierde pilare versier het, te ontwar? O nee, my vriende en broeders, hulle oë sien dit alles met dieselfde gemak as julle die verskillende voorwerpe op julle aarde, maar julle oë moet `n bietjie oefen om die dinge hier te onderskei.

13 Julle sê nou, liewe vriend en broeder, jou oefening vir die aanpassing van ons oë vind ons nie erg reëel nie, want ons bevind ons tog op ons aarde en kan met die beste wil van die wêreld so goed as niks sien van dit wat jy ons deur die genade van die Heer meedeel nie. Ons skrywe alles wel op, maar sien daarby maar net wat om ons heen is; maar vir al hierdie heerlikhede is nie ons oë die waarnemers nie, maar dit is tot nou toe nog altyd slegs ons ore.

14 Liewe vriende en broeders, dit is vanaf `n baie sterk natuurlike kant gesien volkome duidelik en korrek, maar van `n ietwat meer geestelike kant al volkome onwaar. As julle `n beroep doen op julle uiterlike, growwe sintuie, dan sal die aanskouing van hierdie pragtige dinge inderdaad wel ietwat moeilik word. Ek spreek hier egter oor die aanwend om die geestelike sintuie te gebruik; en die oog van die gees is julle voorstellingsvermoë, julle gevoel en die met beide lewendige verbonde fantasie.

15 Die oog moet julle oopmaak en dit op die wit lig van die gees konsentreer en dan moet julle die konsentrasie `n tydlank in alle rus vashou. Dan sal julle, dit wat hier bespreek word, net so goed met julle geestelike oog begin te sien as wanneer julle dit met julle natuurlike oë sou sien. 

16 Daarom is dit ook noodsaaklik dat elkeen, wat die lewe van sy gees wil binnegaan, hom daagliks `n tydjie in die volkome rus van sy gees begewe. Tydens hierdie rus moet hy hom nie met allerlei gedagtes besig hou nie, maar slegs één gedagte vashou en dit onafgebroke as `n bepaalde objek beskou.

17 Die beste gedagte is hier vanselfsprekend die Heer. Wanneer iemand dit, vol ywer en met alle moontlike selfverloëning en volharding sal doen, sal daardeur, sowel die gesigsvermoë as die gehoor van sy gees, steeds meer aan innerlike skerpte toeneem, en na `n nie al te lang tyd, sal beide hierdie sintuie van die gees so sterk ontwikkel word, dat hy geestelike vorme van die wonder­baarlikste soort met die grootste gemak sal waarneem, waar hy voorheen gemeen het om niks anders as `n vormlose leegte te sien nie. So sal hy ook met dieselfde gemak klanke en woorde verneem, waar `n ewige stilte voorheen vir hom blyk te gewees het. Ek dink dat julle sal begryp wat ek daarmee vir julle wil sê, en hoop dat julle ook sal insien dat julle argument, wat die aanskouing betref, beduidend minder te beteken het as my advies oor die manier waarop julle julle gesigsvermoë moet versterk om hierdie heerlikhede voortaan te kan aanskou.

18 Neem daarom slegs my raad in ag en beskou die wit-glansende wand, oftewel in jouself die kant van jou gemoed wat vry is van ydele wêreldse gedagtes; dan sal julle die baie eenvoudige, maar veelseggende ornament van die versierde pilaar baie spoedig en maklik ontwar.

19 Kyk maar net; aan `n deursigtige wit koord hang `n baie eenvoudige, glashelder, deursigtige bal met `n deursnee van ongeveer een klafter. Vanaf die vloer van die versierde pilaar reik `n volkome ronde, baie smal kegelpiramide, wat ewe deursigtig is as die bal self, met sy punt omhoog tot aan die bal. Sien julle dit? Julle sê: Ons neem dit al waar as `n baie swak beeld in onsself. Goed, sê ek vir julle, maar dink nou net self daaroor na en kyk net of julle die betekenis van die ornament nie by benadering kan vind nie. - By `n volgende geleentheid sal ek julle vonds dan na behore toelig.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205