|
Die Geestelike Son - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 61
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128. |
|
|
Deemoed en die kindskap van God
61 Die oudste rig hom nou weer op en, soos julle maklik kan aanvoel, maak hy aanstaltes om weer met my te praat. Dit is so! Ek het hom dit toegestaan; dus gaan hy praat en hy sê dan die volgende:
2 Mees verhewene onder die afgesante van ons groot God! Omdat jy volgens jou getuienis `n tydgenoot was op die aarde waarop dit die groot God behaag het, om net soos sy skepsele mens te word, om daardeur vir al Sy skepsele die poorte na die ewige lewe te open, sê ek jou dat ek baie diep oor jou woorde nagedink het, dit alles korrek bevind het en al my wysheid aangewend het om een of ander teenstrydigheid te vind. Ek was egter nie in staat om ook maar één puntjie te ontdek wat die groot waarheid van jou getuienis ook maar in die minste verdag sou kon maak nie.
3 Ek sien nou duidelik in dat mens volgens jou leer die kindskap van God op elke wêreld kan verkry, as mens daarvolgens handel en trag om sy innerlike lewe in die naam van die Godmens vry te maak. Ek sien ook in dat die plaas van die hand op die vlammende altaar, in `n sekere sin slegs `n uiterlike teken is van dit wat `n menslike skepsel in wese geestelik in homself moet doen.
4 Hieroor bestaan dus nêrens ook maar die minste twyfel nie. Maar iets baie anders staan hier op die agtergrond en wat dit betref, tas ek, ondanks hierdie ligte wêreld, nog behoorlik in die duister. Die duister punt lui as volg:
5 Jy het gesê dat die deemoed die basisvoorwaarde is vir die verkryging van die kindskap van God, omdat die liefde tot die enige God uitsluitlik daaruit voortkom. Maar niemand kan tog ooit ontken dat dit tog sekerlik oneindig meer wil sê om "`n kind van God te wees", as wat die mens hier op hierdie wêreld die allerhoogste en volmaaktste geestelike wese is. Hiermee het ek geen raad nie en dit is vir my nie duidelik of daar by die "onder watter handelingsvoorwaardes dan ook meer wil word", êrens ook maar van `n ware deemoed sprake kan wees nie.
6 Stel jou voor dat ek as kind van God op die allerlaagste en allerlaaste trap sou staan en absoluut geen krag en geen mag sou wil nie, maar slegs die salige vermoë om God, die Almagtige uit alle kragte van my geestelike lewe steeds meer lief te hê, dan sou dit tog sekerlik in die situasie van die kindskap van God die geringste moontlike eis wees.
7 As ek daarenteen bedink dat ek in my teenwoordige situasie nog geen atoom is ten opsigte van die klaarblyklike grootte van so 'n allergeringste kind van God nie, dan wil ek tog kennelik deur die bereik van so 'n mees geringe godskindskap noodsaaklikerwys meer word. By ons noem mens so 'n deemoed, waardeur `n mens op die een of ander manier ietwat meer wil word, `n skandelike kruipery. Hoe moet mens dan so 'n geestelike deemoed voor God sien, waarby dit in die ergste geval tog onvermydelik is dat die mens meer wil word as wat mens vanaf die oerbegin van God se ordening was, of waarby mens in `n gunstiger geval, ten minste baie duidelik meer moet word. As die "meer word" nie voorop sou staan nie, dan sou die weg wat jy my aangegee het, in elke opsig volkome aanvaarbaar wees. Omdat die noodlottige "meer" hom nóg op die een, nóg op die ander manier laat wegdruk, kan ek die deemoed nie as die korrekte deug sien wat nodig is om die kindskap te bereik nie, want hierdie deug, vir die bereik van die "meer word" kan mens ten slotte tog slegs as skynheiligheid, kruipery en huigelary beskou.
8 Met hierdie saak kom egter nog `n ander vraag en wel die volgende: Het `n vrydenkende, selfbewuste en vry handelende skepsel die reg om onder een of ander voorwendsel ontevrede te wees oor die plek wat die allerhoogste goedheid en wysheid van God hom vanaf die oerbegin toebedeel het? Wat is ontevredenheid? Dit is in die eerste plek die ongenoeë oor dit wat gegee is en tewens juis daardeur die ondankbaarheid vir dit wat gegee is.
9 Nou is dit die vraag: As ek deur liefde en deemoed `n kind van God wil word, dus ontsaglik meer as wat ek nou is, hoe is dit dan met my tevredenheid en my dankbaarheid vir dit dat ek deur God se oneindige genade hier is?
10 Met die oog hierop, weeg die deemoed en liefde wel voldoende vir so 'n ondankbaarheid op, veral as nie eens God Self die onuitspreeklike "meer" in die situasie van die kindskap van God, vir my uit die weg kan ruim nie?
11 Ek dink dat jy, hoogverhewe gesant, wel sal begryp wat ek, hoewel ietwat onsamehangend, maar tog vanuit `n helder gedagtegang, daarmee wou gesê het. Ja, as jy sê dat ek as kind van God, beduidend geringer, swakker en onvolmaakter sal word as wat ek hier is, dan is die deemoed die korrekte weg om die kindskap van God te bereik. Maar in die bewussyn, om in elke geval meer te word, is die deemoed kennelik ten minste vir my teenswoordige bevattingsvermoë die mees ongepaste weg.
12 Want kyk, soos jy sekerlik uit die wysheidskrag van die Heer sal weet, is dit by ons `n vaste gewoonte dat die een mens nooit iets vir die ander mag doen, vir watter vergoeding dan ookal nie; daarenteen moet slegs die wedersydse behoefte en die wedersydse broederliefde vir altyd en ewig die enigste beweegredes tot handelinge bly. Wanneer ek egter my broeder liefhet, sodat hy dan vir my `n diens sou wil bewys, of my ten minste ook sal liefhê, wanneer ek dus vir my broederliefde ook maar die minste liefde terugverlang, of vir `n bewese diens ook maar die kleinste woord van dank, dan is dit `n growwe ondeug by ons.
13 Wanneer ek my voor iemand verdeemoedig en hom `n groot eer bewys sodat hy my maar vriendelik mag bejeën, dan is ek al `n eersteklas huigelaar. Om kort te wees, ons ken geen ander motief vir ons handelinge nie, as die wedersydse behoefte. Waar dit nodig is, word gehandel, ongeag of daar nou dank of ondank daarop volg. Sonder noodsaak word geen vinger uitgesteek en geen voet ook maar `n duimbreed versit nie. Daarom bly elke mens voortdurend gelyk in rang en niemand kan op een of ander manier die ander oortref nie, as maar net deur `n diepere wysheid, waardeur hy in staat gestel word om alle moontlike behoeftes in sy broeders te herken en dan so te handel dat dit sy broeders sonder enige teenprestasie ten goede kom. Wanneer die broeders aan wie die weldaad bewys word, hulle weldoener naderhand teëkom en hulle dank en liefde aan hom betuig, dan kan hy dit vanweë die vreugde van sy broeders wel aanneem, maar absoluut nie om daardeur op die een of ander manier vir sy handelinge beloon te word nie. As jy nou `n bietjie oor ons gebruike nadink, dan sal jy, al sou jy nog ietwat hoër staan as nou, sekerlik vind dat dit gladnie sal slaag om die kindskap van God deur deemoed en liefde te verkry nie.
14 Ek wil wel voor jou, sonder om daarvoor iets te kry, onmiddellik al hierdie groot pragtige dinge vernietig en in `n gat, wat ek in die grond sal boor, gaan woon soos `n wurm wat op ons wêreld geskape is om die aardryk tot op `n bepaalde diepte los te woel. Om egter "meer" te word, wil ek juis die teenoorgestelde weg inslaan en ek wil nie vir die skyn afdaal om opwaarts te kom nie, maar ek wil omhoog klim. En voor God moet elke tree wat ek tree, volkome opreg wees, maar dit mag nooit selfs ook maar `n skynsel van huigelary hê nie.
15 Wie na my toe kom en meer wil word, sal ek op die proef stel of hy die kapasiteite vir die "meer" besit. So ja, dan sal ek hom die hoëre plek waarvoor hy met `n opregte hart na my toe gekom het, toeken. Wie egter na my toe kom, onmiddellik op sy aangesig val en sê: Luister na my oudste, ek sal gelukkig wees as jy my buite in die mees afgeleë boomplantasie en slegs as laaste terreinskoonmaker aanstel, vir die sal ek sê: Gaan weg van hier! Jy het `n onderduimse en kruiperige inbors; as laaste wil jy aangestel word om geleidelik aan skelmpies tot in die boonste verdieping deur te dring. Hier kan `n kruiperige gemoed egter geen plek vind nie. Verdeemoedig jou daarom geheel en al en verlaat, sonder die vooruitsig om ooit `n plek hier te kry, onmiddellik my woonoord. Waarom wil jy nie opreg en waarheidsgetrou handel nie? As jy dit gedoen het, dan het ek jou op die proef gestel, maar solank jy `n huigelaar bly, sal die toegang tot my huis jou ontsê word.
16 Ek is van mening dat teen hierdie gedragsreël die mees volmaakte wyse niks kan inbring nie, want die waarheid is die basis van die hele goddelike ordening, waarteen geen vry handelende wese mag sondig nie, solank hy sy God waardig wil bly.
17 Ek wil egter met hierdie, na my mening helder gesigspunte nie voorbarig wees nie, want elke deur God geskape vrydenkende en vry willende wese, het op grond van sy innerlike oortuiging, die reg om sy eie mening aan `n ander kenbaar te maak en te trag om hom met die beste bedoelinge op ander gedagtes te bring. Daarom sal jy my sekerlik nie vir hierdie uitspraak kwalik neem nie en sal jy my daarop, volgens my verwagting, ook sekerlik `n bevredigende antwoord gee.
18 Dit is moontlik dat ek die essensie van die kindskap van God nog te weinig begryp het. Daarom dink ek dat dit wel moeilik sal wees om `n redelike middeweg hier te vind, want daar is immers oral maar één waarheid en dit is die in homself sodanige kern in elke geskape mens. Twee waarhede kan egter ewig nooit langs mekaar bestaan nie, omdat die een die ander sou ophef. Daarom kan ook jy en ek nie tegelykertyd gelyk hê nie. Mag dit egter die geval wees, dan lê slegs my onverstand nog daartussen in, waardeur ek jou waarheid nie dadelik as die van myne kan herken nie. Daarom sal dit vir my noodsaaklik wees dat jy jou duideliker uitdruk en wel vereers oor wat die deemoed in die diepste wese is, ook oor wat ware liefde is en oor die daardeur te verkreë kindskap van God. Maak dit vir my duidelik, dan sal ek, nadat ek die waarheid volkome begryp het, jou woord volgens die letter in my hele huis getrou in ag neem. Dit is wat ek jou vra, vir myself en vir my gehele huis.
|
|
|
|
|