Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 101

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Waaruit bestaan die liefde tot God?

101 Jy kon uit hierdie vier voorbeelde gesien het dat die Heer, enersyds die maar net nalewing van die wet vir die verkryging van die eintlike ewige lewe, nie voldoende vind nie en dit lyk wel of Hy selfs die wet in die vierde voorbeeld ophef.

2 Wat sou jy egter sê as ek jou `n paar voorbeelde sou aanhaal waarin die Heer Hom oor die onderhouding van die wet selfs berispend uitlaat? Jy sê nou; dit sal tog nie waar wees nie! Tog kan ek jou dadelik, nie net één nie, maar as jy wil, verskeie voorbeelde daarvan gee. Luister dus!

3 Iedereen wat die Mosaïese wet ook maar ietwat in haar geheel deurgeblaai het, moet weet hoe baie Moses die gasvryheid vir die Israelitiese volk aanbeveel het. Wie teen die gasvryheid sondig, word voor God en voor die mense strafbaar verklaar. Die wet betreffende die gasvryheid, was vir die Israelitiese volk, wat sterk tot hebsug geneig was, ten seerste op die hart gedruk om hulle daardeur teen eieliefde en hebsug te behoed en die naasteliefde by te bring.

4 Dit was dus `n wet om `n vreemde gas, veral wanneer hy aan die Israelitiese volk behoort het, met alle voorkomendheid te ontvang en te dien; en hierdie wet het van God gekom, want God en nie Moses nie, was die wetgewer.

5 Wanneer dieselfde Heer, wat eens via Moses die wette gegee het, egter in Bethanië in die huis van Lasarus kom, dan is dit Martha wat die mees wetsgetroue is en al haar kragte aanwend om hierdie hooggeëerde gas so goed as moontlik te bedien. Maria, haar suster, vergeet die wet van suiwer vreugde oor die verhewe gas, gaan in alle rus aan Sy voete sit en luister vol aandag na die verhale en gelykenisse van die Heer. Martha, wat haar vererg vir haar suster, omdat sy glad niks doen nie en by hierdie geleentheid die wet geheel en al vergeet, wend haar in haar ywer tot die Heer en sê: "Heer, ek het soveel te doen, sê tog vir my suster dat sy my `n bietjie kom help!" Of nog duideliker gesê: “Heer, grondlegger van die Mosaïese wet, herinner my suster tog aan die onderhouding daarvan.”

6 Maar wat sê die Heer nou? "Martha, Martha!" sê Hy, "jy maak jou baie druk oor wêreldse dinge! Maria het egter die beste deel gekies en dit sal haar ewig nooit ontneem word nie".

7 Sê jy my nou net, beste vriend, of dit nie `n duidelike berisping van die Heer was oor die so ywerig en nougesette nalewing van die wet en daarenteen `n buitengewone lofuiting aan die persoon wat haar, in `n sekere sin, nie oor die hele wet bekommer het nie, maar slegs deur haar handelswyse laat blyk het: 

8 Heer, as ek U maar het, dan is die hele wêreld geen sent meer vir my werd nie! - Toon die Heer nie weer hier aan dat slegs die onderhouding van die wet niemand die beter, ja die beste deel gee, wat hom ewig nooit ontneem sal word nie? Kyk, dit is dus `n vyfde probleem. Maar nou verder.

9 Wat sê die Heer Self aan Moses en wel by die derde gebod: "Jy moet die sabbat heilig!"? Die vraag is: Wat doen die Heer egter Self, ten aanskoue van die letterlike vervulling van Sy wet? Kyk, Hy gaan na hulle toe en ontheilig kennelik Self, volgens die letterlike betekenis van die wet, die sabbat deur selfs Sy leerlinge op `n sabbat toestemming te gee om are te pluk en hulle met die korrels te voed. Hoe geval dit jou onderhouding van die wet van Moses, waarby die Heer Self nie net vir Hom nie, maar tot groot ergernis van hulle wat die wet volgens die letter vervul, die hele sabbat so te sê oorboord gegooi het? Jy sal sê: Dit kon die Heer baie goed gedoen het, want Hy is ook Heer van die sabbat.

10 Goed, maar ek vra: Het die fariseërs, wat hulle daaraan vererg het, geweet dat die seun van die timmerman ook Heer van die sabbat was? Jy is van mening dat hulle dit aan Sy wonderwerke moes gesien het. Maar dan sê ek: Vir die volk was wonderwerke nie toereikend om die volkome goddelikheid in Christus te erken nie, want profete het te alle tye wonderwerke verrig; die egte werke en ook af en toe die valse. Mens kan dus nie vooropstel dat die wondere van Christus die fariseërs van Sy goddelikheid en heerlikheid moes oortuig het nie.

11 Alle profete behalwe Hy, het die sabbat egter geheilig; slegs Hy werp hom oorboord. Moes dit geen ergernis gewees het vir die letterknegte (skrifgeleerdes) nie? Seer seker en tog dwing die Heer dit nie af nie.

12 Maar wat volg hieruit? Niks anders nie as dat die Heer hierdie nalewing van die gebod op sigself, heeltemal onderaan geplaas het. Waarom? `n Klein gelykenis uit jou eie sfeer en uit die sfeer van elke mens wat ooit op aarde geleef het, sal jou die antwoord gee.

13 `n Vader het twee kinders. Hy het aan sy twee kinders sy wil as`t ware wetlik bekendgemaak. Hy wys hulle `n akker en `n wingerd aan en spreek: Julle het sterk manne geword en daarom verlang ek nou van julle dat julle hierdie wingerd en hierdie akker vlytig vir my sal bewerk. Uit julle ywer sal ek aflei wie van julle beide my die meeste liefhet. Wel nou, dit is die natuurlike wet, waarvolgens die seun, wat sy vader die meeste liefhet, die heerlik­heid van sy vader ten deel sal val.

14 Maar wat doen beide die seuns? Die een neem die vurk, spit die aarde die hele dag vlytig om en bewerk die akker en die wingerd. Die ander neem daarby die werk so gesê op sy gemak aan. Waarom? Hy sê: As ek op die land of in die wingerd is, moet ek steeds my liewe vader mis; bowendien is ek nie so hebsugtig soos my broer nie. As ek maar my liewe vader het en by hom kan wees wat my tog die naaste aan die hart lê, het ek weinig behoefte aan een of ander toedeling van `n heerlikheid.

15 Die vader sê dan ook so af en toe vir hierdie tweede seun: Kyk tog net hoe vlytig werk jou broer en probeer so om my liefde te wen. Maar die seun sê: O liewe vader, as ek op die veld is, dan is ek ver weg van u en my hart laat my geen rus nie, maar sê steeds hardop vir my; die liefde woon nie in die hand nie, maar in die hart en daarom wil sy ook nie met die hand nie, maar met die hart gewen word! Gee u, vader, my broer wat so vlytig werk, die akker en die wingerd; ek het genoeg daaraan as u my maar sal toestaan dat ek u altyd na hartelus mag liefhê soos wat ek u wil en moet liefhê, omdat u my vader, my alles is.

16 Wat sal die vader nou sê en wel uit die diepste van sy hart? Sekerlik niks anders nie as:

17 Ja, my geliefde seun, jou hart het myne vir jou geopen; die wet was slegs `n proef. Want, my seun, die liefde bevind haar nie in die wet nie, omdat hy wat slegs die wet onderhou, dit doen uit eieliefde om my liefde en my heerlikheid so met sy daadkrag te verdien. Wie die wet so onderhou, is nog ver van my liefde verwyder, want sy liefde gaan nie na my uit nie, maar na die beloning. 

18 Jy het jou binneste na buite gekeer, jy het die wet weliswaar nie verag nie, omdat jou vader haar opgelê het, maar jy het jou bokant die wet verhef en jou liefde het jou daarbo oorheen gevoer, terug na jou vader. Daarom sal jou broeder ook dan die akker en die wingerd kry en van my heerlikheid besit neem. Maar jy, my mees geliefde seun, sal kry wat jy gesoek het, naamlik die vader self en al sy liefde!

19 Ek dink, my beste vriend, dat uit hierdie gelykenis tog kristal­helder sal blyk wat waardevoller is, die slegs droogweg nalewing van die wet, of die oorheersing daarvan en maar net die omhelsing van die liefde.

20 As dit vir jou nog nie heeltemal duidelik is nie, dan vra ek jou die volgende: As jy die geleentheid sou hê om `n bruid uit twee jong dogters te kies en jy weliswaar daarvan oortuig is dat hulle albei van jou hou, maar tog nog nie heeltemal seker weet watter een die meeste van jou hou nie, sou jy dan nie graag wil weet wie jou die meeste liefhet om vervolgens daardie een te kies nie? Jy sê: Dit is wel duidelik, maar hoe moet jy dit aanvoer om dit agter te kom? Dit sal ons dadelik sien.

21 Kyk, eers gaan jy na die een. Sy is ywerig besig en sy weet geen raad met al die werk wat sy uit suiwer liefde vir jou verrig nie, want sy maak hemde, kouse, naghemde en nog meer van sodanige kledingstukke vir jou. Sy is so druk daarmee besig, dat sy daardeur dikwels nie, of maar skaars, merk dat jy na haar toe kom. Kyk, dit is die eerste. Die tweede werk baie traag. Sy werk ook wel vir jou, maar haar hart is soseer met jou besig, dat sy haar aandag moeilik by die werk kan hou. As jy haar besoek en sy jou van ver af sien aankom, is daar van werk geen sprake meer nie, want dan is daar vir haar niks wat waardevoller en belangriker is nie as slegs jy! Jy is slegs alles vir haar, vir jou gee sy die hele wêreld op! Sê my net, wie van hierdie twee sou jy kies?

22 Jy sê: Beste vriend, ek is duisendmaal liewer vir die tweede, want wat interesseer die paar hemde en kouse my? Dit is duidelik dat die eerste my maar net probeer wen, deur die waardering vir haar verdienste van my te wil afdwing. Maar die ander probeer my liefde te wen. Dit staan bo alle verdienstelikheid en ken niks hoër as my en my liefde nie. Haar sou ek dan ook tot vrou neem.

23 Goed, sê ek jou, my liewe vriend, sien jy nou nie duidelik die karakter van Martha en Maria hier nie? Sien jy wat die Heer gesê het vir Martha, wat druk volgens die wet besig was en vir Maria, wat niks gedoen het nie?

24 Daaruit kan jy dan ook begryp, wat die Heer, bo die wet uit, van elke mens verlang en hoe Hy tewens, duidelik te kenne gee waaruit die liefde van die mens vir God bestaan. Juis om die rede vervloek die Heer selfs, innerlik geïrriteerd, die letterknegte van die wet (fariseërs en skrifgeleerdes), prys die sondige tollenaar en maak vir diewe, hoereerders en egbrekers die hemelryk eerder toeganklik as vir droë letterknegte.

25 Daarom vra ek, as teenwerper, met die volste reg nou nog eens; volgens watter maatstaf moet mens God bo alles liefhê? Het ek die maatstaf, dan het ek alles, maar het ek nie die maatstaf nie, dan het ek lief soos iemand wat nie weet wat liefde is nie. Daarom nog eenmaal die vraag:

26 Hoe moet mens God bo alles liefhê? En ek, Johannes, sê: Om God bo alles lief te hê wil sê:

27 Om God bo alle wette uit lief te hê! Hoe, dit sal die vervolg aantoon.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205