Laatreens vir die Dogter van Sion
DANIEL GROBBELAAR

Hoofstuk 115

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129.

Openbaring 115 - Woord 1 ontvang op 24/10/19;

“MY kinders, MY Volk. Julle kan dus nou sien dat die voedsel wat julle in die tye van vandag by die winkels kry, nie meer van die oergehalte en kwaliteit voedings-substans bestaan nie. Die Aarde se grond is nie meer ryk aan krag en minerale nie, omdat MY Insettinge vir grondwerke nie gevolg word nie. Dit is belangrik dat grond ook moet rus om sodoende deur MY Gees bekragtig en vernuwe te kan word. Die voedsel soos groente en vrugte wat vandag gegroei word, word nie volgens MY Natuurwet gedoen nie. Die voedsel wat julle eet is deurtrek met gifstowwe vir peste en insekte en ook word die saad daarvan gemanipuleer deur die genetika te vermeng, te verander en nuwe brûe en bande wat gebou word tussen die konneksies van DNA stringe. EK het MY Skepping volgens MY Orde geskape, maar julle, geleerdes en dwases, julle verbaster en vermeng MY Skepping! Die voedsel verloor hulle voedingskrag en het nie meer al die minerale en nutriënte wat nodig is om ‘n gesonde toestand te handhaaf nie. Die hele voedsel produksie sisteem van die huidige wêreld handel nie volgens MY Verordeninge nie, daarom dat daar groot siektes, gesondheids­probleme en dood uitbreek onder die mensdom. Julle kan nie besef hoe belangrik dit is om nie te peuter met MY Skepping nie! Ook die vleis wat julle eet is deurtrek met hormoon aanvullers en medikasie, wat nadelig is vir julle liggame en siele. Die wêreldorde het dus ‘n middele bewerk waar sogenaamde vitamines en minerale in die vorm van pille of kapsules vir die mensdom opgedis word. Maar voor MY Aangesig is hulle dade ‘n groot afvalligheid voor MY! Deur bedrog en leuentaal, met ‘n gejaag na geld, word die mensdom deur hulle betrek met beloftes van ‘n gesonde lewe en genesing. Dit terwyl dit NET EK IS wat weet HOE OM VOLKOME TE GENEES! Wanneer julle siek is in die liggaam, dan is daar die een of ander siekte of tekortkoming in die sfeer van die siel. EK weet, dat julle EERSTENS in die siel moet genees, dan sal die liggaam genees. Die Gees en die siel moet verenig en die siel moet altyd introspeksie doen en MY om hulp vra om haar te suiwer van onsuiwerhede wat haar van MY af weghou. Daarom dat EK gesê het dat julle sal wit word soos sneeu en EK sal julle skoonwas en met nuwe kleding beklee. Julle sien hoe die diere gedood word regoor MY Land, Suid-Afrika, deur ‘n erge droogte wat EK oor julle land gestuur het. Julle sien hoe die manipulasie gedoen word om julle voedsel en water te vergiftig met bose sieledele en substansies. Dit is alles om julle so te affekteer dat julle geestelike blind word en verslaaf word aan hierdie bose substansies.

Hoor julle nie die roepende stemme van die donderweer en die uitnodigende koel druppels wat somtyds val op julle grond nie? Dit is EK wat julle uitnooi na MY Lewende Waters en Reëns wat EK vir julle voorberei het. Slaan ag daarop, neem dit ter harte en kom na MY, sodat EK julle kan omvorm tot meesterskeppings van LIEFDE en LEWE. Gee julle harte aan MY en sien hoe EK julle aarde seën! As die Reëns nog nie gekom het nie, doen verdere introspeksie en bid nog meer tot MY om julle te rig na die Verlossende LIEFDE, wat EK IS! Kan julle nie sien en voel hoe die winde waai tesame met die wolke wat rondbeweeg nie? Dit is MY Gees wat julle probeer ontwaak en opwek om gehoor te gee aan wat die Gees aan julle te sê het! Begin te kyk en sien my kinders; en begin te hoor en te luister!

Die voedsel van vandag word deur groot kostes aan die mensdom verkoop, en bevat nie eens die lewenskrag wat voedsel byvoorbeeld 7 sewehonderd jaar terug bevat het nie. Die voedsel raak ook op en gaan ten gronde, net soos die reëns en waters wat wyk soos EK hulle beveel het in hierdie tyd. Kan julle die geestelike realm van hierdie Woorde van MY insien? Kyk, die voedsel wat agteruitgaan, skaars word en hulle krag verloor, dit is so omdat julle, die hartstogtelikes en hoogmoediges in MY Volk, nie MY Hemelse Voedsel van MY Gees wil hê nie. En sommige proe daaraan en spoeg dit uit, julle wil nie MY Manna hê nie. Daarom het julle geestelike armes geword en julle siele sterwe van honger terwyl julle nie na die uitroep van julle siele luister nie. MY Gees van Waarheid roep ook in julle harte, maar vir Haar het julle nie ‘n oop deur te vinde nie. Die reëns en die waters wat opdroog is omdat julle nie MY Geestelike Lewende Ewige Waters en Reëns wou hê nie. EK herinner julle aan Esegiël wat gesien het hoe die dorre lewelose beendere oor die warm droë oppervlakte van die woestyn oraloor gelê het. Dit is niks anders as die lewelose harte van MY Volk se hardkoppiges en weerstandiges nie! Waar daar nie LIEFDE en LIG is nie, daar is nie LEWE nie! Die LIEFDE is die OERBRON van alle KRAG en LEWE, dit is die SAAD van LEWE. Waarom wil julle nie die LIEFDE hê nie? Julle hoor en sien nie MY kinders! Daar gaan ‘n tyd kom waar julle liggame en siele gevoed sal word, slegs deur MY Geestelike Voeding en Woord, vir diegene wat dit wil hê. Dit is ewige Voeding van Liefdesverborgenhede, Wysheidsleringe en Kragtige Dade in MY Naam, volgens die Salige uitvoering van MY Wil. Om MY te dien, VOED julle siele!

Draai die aangesigte van julle harte na MY, soek MY Voedsel en soek MY Waters, en EK sal julle aarde seën met Kragtige LIGGEES bevattende reëns wat julle grond sal verkwik en vernuwe. Lewe sal EK bring, maar netso kan EK die lewe terugneem!

Vir die boere wat voedsel plant oor die landgrond van hulle geleende aarde, julle moet die grond en inhoud daarvan aan MY oorgee en MY alle eer en dank toebring soos dit hoort. Wanneer julle die grond bewerk en voed, laat MY toe in gebed, dat EK deur MY Gees oor die grond sal sweef en die Saad van MY Krag en Liefde kan plant voordat julle die voedsel se saad plant. Wanneer julle die grond klaar bewerk het, bid tot MY en dank MY hiervoor. Spreek MY Seënwoord oor die bewerkte grond uit en laat MY Gees die grond bekragtig tot MY eer en tot die beswil van MY Verlossingsplan. Neem elke saadkorreltjie ter harte en wanneer julle die saadjies in julle hande hou, hou hulle in julle linkerhande vas en dank MY vir MY Seëninge aan julle en dank MY dat EK altyd in julle behoeftes voorsien. Alles wat EK vir julle gee of leen; alles in tog vanuit MY. Julle moet heers en skep volgens MY Gees se Leiding. Wanneer julle die saad plant, vra MY vir MY Geestelike Saad en Voedsel vir die aarde van julle siele. Wanneer julle dan die water oor die saailande laat gaan, vra MY vir MY Lewende Waters en Reëns oor die grond van julle siele ter lewebringende Skeppings van MY Alwyse Wysheid. Hierdeur wil EK sê: Soek EERS MY en MY Koninkryk en al die ander sal EK voor sorg. Net soos in die Hemele, net so ook op die Aarde. Wanneer julle hartshemele deurtrek is met allerkleurige Goddelike Eienskappe vanuit MY en die Arende vlieg omhoog ter verkondiging van Waarheid, dan sal julle grond en aarde ook geseën word met MY Skeppende Hande van Barmhartigheid. Julle lande sal groot oeste oplewer en menige voeding sal daar wees vir MY Volkskinders. Die belangrike stap is om eerstens alles aan MY oor te gee en vir MY op te staan, en nie vir aardse dinge nie. Wanneer julle aan MY Bloed dink wat EK vir julle gestort het, dan sal julle besef dat elke deeltjie in MY Bloed nog steeds LEWE en getuig van MY Verlos­singswerke. Daarom moet julle die Verlossingbringende Seënwoord van MY oor julle grond uitspreek: “Wees geseënd in die Aarde deur MY Bloed gekoop!”. Besef die Krag en Erns hiervan MY Volk, en los die aardse mentaliteit van julle verstande! Kom na die Ewiglewende EK, EK IS WAT EK IS! EK IS SHUA!

Skrywe tot hier MY kneg. Laat dit na MY volk gaan en MY Gees gaan vooruit om julle aardes te seën en te omvorm tot die Nuwe Aarde... vir julle wat MY wil verwelkom in julle aardes.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205