Laatreens vir die Dogter van Sion
DANIEL GROBBELAAR

Hoofstuk 108

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129.

Openbaring 108 - Woord op 02/10/19; 10H00

“Skryf vir MY die Woorde van MY LIEFDE in hierdie oggend van die nuwe môre. Skryf en wees gehoorsaam in jou taak op hierdie aarde. MY Volk moet jy waarsku deur die Woord wat EK, JAHWEH van die Leërskare in jou hart openbaar deur die Barmhartigheid van MY. EK het julle lief! Waarsku MY Volk van die Suide! Waarsku hulle in hierdie uur en sê aan hulle dat MY Grimmigheid is vol en MY Toorn reis al hoër as die berge! Waarsku MY Volk aan die einde van hierdie tye. Waarsku hulle dat alle duister gedagtes, woorde en dade aan die lig sal kom en hulle hardnekkigheid hulle sal lei na ondergang en die dood. Sê aan hulle, MY kosbare Volk, dat hulle die Woorde van MY moet in ag neem en oordink. Baie van hulle lees net MY Woorde, maar dit kom nie tot lewe in hulle siele en lewens nie. Waarsku hulle MY kneg! Daar is al soveel skade in hierdie wêreld aangerig deur die dwase handeling van die mens. Hulle is vernietigend en het geen respek vir MY of vir MY Skepping nie. Al wat die mensdom hulle mee besig hou is die gejaag na die rykdom van mammon.

Het EK julle nie gewaarsku deur MY vele profete en boodskappers nie? Het EK julle nie getoon op die komende duister tye van die einde nie? EK het julle laat verstaan oor die tekens wat die groot Dag sal voorafgaan, maar net soos in die tye van Noag het julle geen ag geslaan op MY Woord nie. Daar is wel diegene in MY volk wat ag geslaan het op MY Waarskuwinge en Woorde. Hulle sal die Beloning van die Nuwe Ewige Lewe verkry omdat hulle MY in MY Woord, LEWEND gesien en ervaar het. Aan hulle wat MY Woord met Erns en nederigheid opneem, en daaruit voortvloeiend gaan hulle en DOEN MY Woord, aan hulle sal EK MY Skatte van Geestelike Waarhede en Rykdomme skenk wat ewig lewend is in MY! Aan hulle, wat ag slaan op MY Vermaninge deur MY profete, sal EK MY Gees van Waarheid stuur en Sy sal hulle vertroos en hulle verder inlei in die Diepste dieptes en die Hoogste hoogtes van MY verborge geestelike skatte en rykdomme. MY Rykdomme is Ewig, lewegewend en dra die getuienis van MY, EK IS WAT EK IS! MY Rykdomme voed en verkwik MY kinders en gee aan hulle nuwe krag om MY Gewyde Wil te kan uitvoer. MY Rykdomme skenk EK uit MY VADERHART, vir julle wat MY gehoorsaam en ag slaan op die Erns van hierdie tye en die tye wat kom. Vir hulle wat MY wil volg sal EK MY Barmhartigheidsgawes skenk en hulle Geloof sal in MY en MY alleen wees. Soos EK gesê en julle gewaarsku het: Vertrou en reken nie op die mens nie, vertrou alleenlik NET op MY, die Skepper van die Ewighede der Ewighede en die Wegbereider van die Horisonne der Horisonne! EK wil hê dat julle, MY Volk van Ons Verbond, moet dieper begin kyk in die gees en MY toe laat dat EK julle op hoër hoogtes lei. Wanneer julle byvoorbeeld kyk na ‘n blaar op ‘n boom, die blaar pluk en in julle hande hou, en die blaar besigtig, kyk bietjie nader... Kyk nader, dieper en bekyk hierdie blaar vanuit alle perspektiewe en dieptes. Kyk dan verby die blaar se buite membraan en kyk dieper en binne-in die blaar. Sien die lewens-sappe en voedingstowwe binne die lewens-are van die blaar. Kyk nog verder en dieper en sien die lewende bakterieë en molekules binne-in hierdie sappe en vleis van die blaar. Maar kyk nog dieper binne-in die molekules en gaan nog verder en verder en verder... Sien die verbindings tussen atome en substansies, sien hoe alles met mekaar kommunikeer en in harmonie saamwerk ter oorlewing en groei van die blaar. Kyk nog dieper en julle sal lewende liggees-partikels waarneem wat lewenskrag uitstraal en vervoer. Kyk nog dieper en sien die werking van die klein geestes-werkers wat hierdie prosesse in stand hou en bevorder volgens die siklus van die aardse lewe. Kyk dieper en sien binne-in... MY Lewenskiem... MY Gees, ‘n druppeltjie van MY Oergees van LIEFDE, LIG, LEWE wat nie slaap en sluimer nie, maar die Lewe vanuit MY bevorder volgens MY Wysheidswil. Ontdek dan hoe MY Gees te werk gaan in die geestelike realm en sien die Groot Skeppings wat EK teweegbring, EK en MY Wysheid! Sien hoe baie LEWE daar is en aanskou die Harmonie van Lig, Hitte, Water en Vuur! Kyk en sien hoe hierdie LEWE begin groei en in alle rigtings uitwaarts groei en nog meer Skeppings en Lewe voortbring. Sien hoe in alles wat EK geskape het, dat dit die GETUIENIS VAN MY EWIGE LIEFDE en Plan van Verlossing dra. Gaan terug na die materiële realm en sien weer net die blaar wat jy in jou hand hou. Kyk, en sien... Wat let julle op? Baie van julle sien net die blaar, trap op hom, gooi dit weg of loop net verby sonder om ag te slaan daarop.

 

Netso is dit met MY Woord wat EK aan julle gee deur die Skrif en deur vele van MY profete en boodskappers wat EK uitverkies het om MY Woord aan julle te spreek! Oordink die gelykenis van die blaar wanneer julle enige van MY Woorde lees. Dit is nie MY Wil dat julle net MY Woorde lees en dit dan eenkant los en vergeet nie. Want dit gaan verby en sonder dat julle dit besef, kan hierdie Woorde dan nie in julle LEWE bring nie. MY Woord is vir julle voordelig in die Weg na MY. MY Woord voed julle, waarsku julle, vermaan julle, vertroos julle en lei julle ook tot dieper geestelike Waarhede. Dit is MY LIEFDE vir julle dat MY Woord tot julle neerdaal vanuit MY Vaderhart. Want watter pa op aarde wat die Liefde ken, sal sy kinders alleen los dat hulle die weg alleen moet aandurf? EK SPREEK, WANT EK LEWE!! EK IS LEWE, EK IS WAT EK IS! Oordink MY Gebooie en Woorde. Neem dit in en laat dit in julle siele en harte ontkiem. Laat toe dat MY Lewenskiem in die Aarde, Bome en Plante van julle siele binnedring en NUWE Krag en Lewe tot stand bring in julle lewens. Julle is geskape deur MY, om te LEWE. Dit is nooit MY Wil dat julle verlore sal gaan in die dood nie. Dit is waarom EK aanhoudend tot julle spreek. Bespot nie MY Woorde en neem MY nie ligtelik op nie. Berei julle lewens en siele en harte voor deur MY Woord te gehoorsaam met ERNS, VROLIKHEID en LIEFDE. Deur dit te doen, sal julle nie vasgevang word in die Storms van MY Grimmigheid wat oor MY Suid-Afrika en die hele wêreld sal losbars nie. MY Geloftevolk van die Suide is MY Eiendomsvolk en vanuit haar het EK gespreek en vermaan en gevoed. Maar ook vanuit die ander stamme van MY Huis van Israel het EK gespreek. Vanuit MY Dogter van Sion het MY Nuwe Lewe in die Nuwe Openbaring uitgegaan na julle, MY Geloftevolk en MY Huis van Israel. Neem MY LEWE in ag!

Julle, MY Boerevolk! Julle MY Huis van Judah en Benjamin! Julle is mislei deur die valse herders, leiers en profete. Hierdie valse herders, leiers en profete het hulleself aangestel om in MY Naam te spreek, terwyl EK nie gespreek het nie! Wee die harte wat valsheid en dwaling verkies, want MY Hand is teen julle gerig! Laat MY Kudde gaan vanuit die valse tempels en organisasies wat julle gestig het deur die inspraak van die verleidelike stem van mammon! Wee julle wat spreek asof EK tot julle gespreek het, en EK nie tot julle gespreek het nie, want vol is die Toorn van MY Grimmigheid teen julle! Dit is julle wat MY Naam oneer aandoen en veroorsaak dat soveel siele van MY kinders gevange gehou word in die doderyk van julle besoedelde begeertes en valse leerstellings! EK, JAHWEH van die Skeppingsleërmag! EK IS EWIG, ONVERANDERLIK en MY WOORD staan VAS vir EWIGE TYE tot in die EWIGHEDE! EK VERANDER NIE MY WOORDE NIE! WAT EK SPREEK, DIT SAL GEBEUR! Maar julle, o valse herders, leiers en profete is gewaarsku op soveel maniere dat julle nie eendag kan sê dat julle nie gewaarsku was nie! Laat MY Volk vry en laat hulle gaan! Julle wat net soos Farao van ouds is... Julle wat MY Volk nie toelaat om na MY te kom en bevry te word deur MY Gees nie! Wee julle wat voorgee om deur MY geroep te wees, maar in die skynheiligheid en in geheime vergaderings julle sakke propvol geld maak! EK beskou dit niks anders nie as HOOGVERRAAD teen MY en laster teen MY GEES! Voorwaar sê EK, EK IS, EK IS die ENIGSTE HERDER en LEIER wat julle LEWE en VRYHEID in MY kan gee! Verhoed nie MY Volk om na MY, hulle Skepper, te kom nie! Julle mislei MY Volk en MY Hand is teen julle! Vir julle wat MY Woord van Waarheid hoor en Haar nie aanneem nie, maar die dwaling verkies, sê EK, aan julle sal EK toelaat dat die gees van dwaling oor julle kom en julle sal hierdie gees glo as waarheid. Maar in MY Barmhartigheid sal EK elke nou en dan in die lewe van julle hardnekkigheid, ‘n wyse berei om julle tot ander insigte te probeer bring. Daarom sê EK weer: Almal sal gewaarsku wees! Dit is vir julle, en julle vrye wil om te kies.

MY kneg, wees nie bewoë en bevrees nie. Skryf neer elke Woord van MY en dit moet jy aan MY Volk gee. Baie van julle sien MY as ‘n “Kwaadsugtige God” in hierdie Woorde van MY. Laat EK julle sê, EK haat nie julle as MY eie geskape kroon van MY Skepping nie, EK HAAT JULLE DADE van ongeregtigheid, besoedeling en sondes. Ja, EK weet baie van julle in MY Volk sukkel om van julle sondes ontslae te raak. Dink julle EK sal julle nou wegwys wanneer julle nou kom in opregte berouvolle harte voor MY en MY vra vir vergifnis en bevryding? Dink julle dat EK is so liefdeloos dat EK julle sal verdelg wanneer julle kom en verootmoedig voor MY en julle harte en laste en probleme vir MY kom gee? Waarom het EK dan in JAHSHUA vir julle MY Bloed kom stort ter bevryding en boetedoening vir julle oersondes? EK vergewe en vergeet julle sondes wanneer julle by MY kom pleit vir vergifnis met julle hele hart se doel om julle lewens te omvorm tot MY LIEFDE. EK IS Barmhartig en EK verkwik hulle wat voor MY in MY Lig wandel in Liefde met MY Genade. Vra MY om julle te help en te leer en te lei in hoe julle julle lewens kan omvorm tot oorwinnaars in MY. Vra nie vir aardse voorspoed nie, vra eerder vir MY Geestelike Rykdomme en Waarhede. Soek eers MY en MY Koninkryk en al die res sal EK vir julle voorsien en mee seën, beide aards en geestelik. Maar soek MY orals en ter alle tye, want EK IS julle LEWE en Beskerming. EK IS julle toevlug. Maar voorwaar sê EK, dat hulle wat rebelleer teen MY Genade en Barmhartigheid sal as spotters van MY Woord en Gees gereken word. Hulle wat MY Bloed vertrap en MY Waarskuwings verwerp met ‘n hart vol kwaad en eie-eer sal ondergaan in die vloed van hulle eie ongeregtighede en liefdeloosheid. MY Wil is dat julle in die Ark van MY Ligsirkel inkom, waar EK vir julle wag, om julle te lei na die Oewers van MY Nuwe Aarde en MY Nuwe Hemele.

Geseënd is die oë wat MY in die diepere en kleiner dinge van die lewe waarneem en aan MY die lof bring.

Geseënd is die ore wat luister en ag slaan op MY Woord en wat luister na Waarheid vanuit MY.

Geseënd is die hande wat uitreik na hul naaste om MY Liefdeswil uit te voer in nederigheid en Liefde.

Geseënd is die voete wat haas om die armes te hulp te snel en wat trap in die Voetspore van MY Voete.

Geseënd is die mond wat Waarheid in Liefde en opregtheid spreek en die lof en danksegging aan MY bring.

Geseënd is die neus wat die Asem van MY Gees inasem tot in die diepste dieptes van hulle siele.

Geseënd is die verstand wat verstandig en volgens Wysheid handel en wat MY in die hart raadpleeg.

Geseënd is julle, MY Volk, aan die einde van dae! Geseënd is jy, o Dogter van Sion, want jou Majesteit is in jou midde. Voel MY en sien MY. EK sien julle, elkeen van julle. EK sien jou ywer vir MY, MY Dogter! EK sien jou begeertes om MY Volk te dien en EK sien jou opofferings vir MY en julle naaste. Geseënd is jy! MY Stad van Filadelfia, wees oorwinnaars in MY en soek MY LIEFDE en WAARHEID in die tye wanneer die geleenthede daar is om te kan leer van MY Woord, Liefde en Waarheid. Neem elke geleentheid om te kan luister na lering van MY Liefde en begin te begeer om MY te leer ken. Wees nie besorg en bekommerd oor julle aardse tekortkominge en benodighede nie, SOEK MY en EK SORG.

Skrywe tot hier vir MY, MY kneg. Dit is genoeg vir nou. Laat MY Woorde LEWEND word in julle harte en kom terug vanuit Egipte en kom na MY. EK sal julle met oop Arms verwelkom om julle te vergewe en terug te bring na MY Ewige Huis. Maar weereens waarsku EK, EK IS WAT EK IS, EK waarsku die valse herders, leiers en profete: LAAT MY VOLK GAAN! Tot hiertoe MY kneg. EK, JAHWEH, die Ewige Volmaakte WIND van MY GEES, wat EK IS!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205