Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 99

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Nog `n swaar beproewing

99 Ons bevind ons reeds hoog in die gebergte wat ons voorheen op `n groot afstand stralend voor ons gesien lê het. Sien nou die ietwat laer geleë onbeskryflike mooi landskap, wat hom vanaf die gebergte, pragtig en wonderbaarlik gevarieërd as`t ware eindeloos ver uitstrek. Heerlike breë dale, afgewissel deur heuwelrûe, deurkruis mekaar in alle rigtings en die mooiste stroompies deur­sny die dale. Die water in hierdie stroompies is soos deursigtige, suiwer goud, en beweeg hulle, ten opsigte van mekaar, in `n goed geordende lewendigheid. Waar die een stroompie in die ander stroom, vorm daar, soos julle sien, altyd `n ronde meertjie, wat `n pragtige stralespel op sy klein golwende oppervlak te siene gee. Aan die oewer van so `n meer sien julle pragtige paleise met rooiagtige blinkende dakke, wat nie bedoel is om beskutting teen reën te bied nie, maar slegs om as gevolg van hulle deursigtigheid die lig in die mees verskillende kleure na binne te laat val. 

2 Bekyk net verder die bou van hierdie paleise, elkeen word afsonderlik versier deur `n verhewe mooi argitektuur en uit elkeen van die baie vensters stroom `n ander kleur lig uit. Rondom die paleise sien julle wondermooi aangelegde tuine, waarin lieflike boompies met die heerlikste vrugte in keurige rye te bewonder is. Dan weer stralende blomme van `n niksvermoedende prag. Daar­tussen allerlei tuin paviljoene, wat deels lyk soos klein hangende tuine, deels as torings met pragtige koepels, deels as tempels met allerlei stralende pilare, wat nou met ronde, dan weer met piramidevormige dakke versier is. Kyk verder nog na die pragtige omheinings van die tuine, wat uit die mooiste arkades en pergolas bestaan, waar `n mens oral deurheen kan wandel.

3 Kyk nog net verder na die netjiese vaartuie, waarin verskeie salige geeste uit hierdie streek op die oppervlak van die pragtige water heen en weer skommel en van die een oewer na die ander vaar. Luister egter ook na die wonderbaarlike gesange wat vanuit die verte tot ons deurdring. Kyk, oral op die heuwels staan een soort kerk, wat elk voorsien is van `n baie hoë toring. Elkeen van die torings het `n pragtige klokkespel. So kan julle julleself ook daarvan oortuig hoe die klokke klink, want vanweë ons aan­wesigheid hier, word alle klokke so pas gelui.

4 Hierdie klokke klink nie soos aardse klokke nie, maar hulle klanke klink soos die sagte toon van julle sogenaamde windlier, dit is slegs onsegbaar suiwerder en ondanks hulle lieflikheid, dra die klank tog tot oor `n groot afstand. Julle kan die suiwer harmoniese ver­houdings van die laagste toon met die hoër en omgedraai baie laer tone, goed onderskei.

5 Kyk nou net na die regte weg voor ons, wat nie bepaald lyk soos `n straat op julle aarde nie, maar eerder soos `n verskeie meters breë, pragtige fluweelband wat met goud en gladde edelstene deurweef is, waarlangs bome aan beide kante staan, wat steeds vol geurige bloeisels sit, maar ook tegelykertyd ryp, heerlik smakende vrugte dra. Op hierdie weg sal julle sien hoe `n prosessie, weliswaar sonder kruis of vlag, maar wel met stralende palmtakke in die hand, ons tegemoet kom. Die vroulike wesens dra mandjies wat gevul is met allerlei hemelse vrugte om die komende gaste dadelik liefdevol en gasvry te onthaal.

6 Kyk, die prosessie kom steeds nader en die vroulike engelgeeste haas hulle met hulle mandjies na vore om des te vinniger by ons te wees. Twee is al daar. Kyk net na die onbeskryflike teerheid en die wondermooie vorm, wat heeltemal uit stralende, lig eteriese rondinge bestaan. Van hulle gesigte straal `n waaragtige, hemelse saligheid en opgewekte vriendelikheid, en hulle buitengewone fyn kleding getuig van die groot onskuld van hierdie wesens. Maar kyk, daar kom steeds meer en hulle gestaltes word nog mooier en mooier.

7 Hoor ook hulle hemelse, vriendelike en welluidende manier van spraak waarmee hulle ons geselskap begroet; hulle sê: O kom, kom tog heerlike vriende van ons allerheiligste en liefdevolste Vader en verkwik julle aan ons vrugte, wat ons vir julle met `n van liefde kloppende hart saamgebring het. O, hoe gelukkig is ons nou dat ons weer eens die onbeskryflike, allersaligste geluk ten deel geval het, om ons allerbeste en liefdevolste Heer, God en Vader as julle Leidsman te aanskou.

8 Maar kyk nou ook na ons geselskap; wie se oë groot begin te rek en die prior wend hom so pas tot die Heer en sê: o Heer, algoeie, allerbarmhartigste Skepper en Vader van alle skepsele in die hemel en op aarde, in hemelsnaam, wat is dit nou?! Is dit ook engel­geeste wat eens op aarde geleef het, of is dit die suiwerste engele uit die allerheiligste hemel? Dat daar so-iets wonderbaarlik moois bestaan, het ek nie eers diep in my hart kon vermoed nie. Op aarde was ek `n standvastige selibater, maar as daar vir my as sodanig ook maar iets, wat in die verte so gelyk het, onder oë sou gekom het, werklik, dan sou ek my selfs in die skandelikste Moham­medanisme verplaas het. Heer en Vader, hier is letterlik van toepassing: Staan ons by, anders is ons verlore; vooropgestel dat mens ook nog hier kan verlore gaan.

9 Die Heer sê: Wel, My liewe vriend en broer, het ons nou die regte plekkie gevind? Soos Ek merk, lyk jy gladnie afkerig daarvan te wees, om vir jou hier `n woonplekkie en `n liewe hemelse bruid uit te soek nie, want van verlore gaan is hier werklik geen sprake meer nie; jy en al jou broers kan hier in My aanwesigheid na hartelus kies. As julle dus hier tevrede is, dan kan julle vir julleself dadelik `n hemelse bruid en daarby ook nog so `n paleisie hier uitsoek. Dan sal Ek vir jou en die ander seën en sal jou, en ook elkeen van julle bowendien nog met sy hemelse amp bekend maak. Kyk, dit is in kort My aanbod, maar onder die voorwaarde dat julle vry kies. 

10 Die prior en sy broers kyk nou eers na die omgewing, dan weer na die Heer en dan weer, en byna die meeste na die mooi hemelse bruide. Die prior is daarom ook nie so vinnig gereed met sy antwoord nie, en pleeg as volg oorleg by homself: Hier sou dit goed wees aan die sy van so `n hemelse bruid en in so `n pragtige eiendom, waar die gebraaide voëls, bowendien as`t ware, in die mond vlieg! Werklik, dit is tog vir `n onsterflike gees ewig volkome onmoontlik om hom die hemel nog meer hemels voor te stel. Voorwaar, en nog eens driemaal voorwaar, as egte goeie raad hier nie duur is nie, dan is hy dit in ewigheid nie. As ek daaraan dink, hoe dit vir iemand sou wees om so `n hemelse bruid te omarm en aan sy onsterflike hart vol hemelse, vurige liefde te druk, dan begin dit my te duisel en sou ek baie graag, ja, ek sou selfs oneindig graag vir die Heer my kragtigste “ja” uitspreek, vooropgestel dat hierdie eindelose heerlikheid in alle opsigte ook duidelik `n stewige basis het. 

11 As hierdie hele gebeurtenis egter miskien net `n beproewing sou wees, en mens sou in hierdie appel byt soos Adam en Eva gedoen het in die paradys, waarna hierdie wonderbaarlike streek dan na die byt stellig onmiddellik in `n ander iets sou verander, waarteen God ons in alle ewigheid mag behoed, dan sou so `n hemelse towerhap iemand tog beduidend duurder te staan kom, as die allerbeste raad uit die geskiedenis! Ja, as ek maar verseker geweet het dat dit werklik ewig sou bly bestaan, dan sou ek, ek durf dit nouliks te dink, tog so heel skamerig op die hemelse voorstel van ons allerheiligste, liefdevolste Vader, my “ja” uitspreek.

12 Maar nou kom die ander, ons reeds bekende monnik na die prior toe en sê: Luister net broer, hoe lank wil jy ons allerliefde­volste heilige Vader nog op `n antwoord laat wag? As ek sou moet antwoord, dan was ek, en verskeie ander saam met my, al lankal daarmee klaar. Ek sê jou net wat my innerlike gevoel vir my sê en dit lui as volg: O Heer en Vader, in al U oneindige liefde en ontferming, met U en by U is dit oral, dus ook hier in hierdie wondermooie, hemelse heerlikheid buitengewoon goed om te vertoef. Bly U hier, dan sal ek hier die allersaligste voel. Maar bly U, as die allerheiligste Oerbron van al hierdie heerlikhede, nie hier nie en is hier nog geen blywende woonplek vir U nie, dan wil ek ook nie hier bly nie, maar as dit U heilige wil is, saam met U verder trek tot by die plek waar U sal sê: Hier is Ek tuis! Wat dink jy broer, sou dit nie `n goeie antwoord wees nie?

13 Die prior sê: Ja broer, jy het my uit die droom gehelp; jy het gelyk. So klink dit ook diep in my hart en so sal ek spreek aan die Heer, want Hy is meer as al hierdie hemelse heerlikhede!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205