Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 8

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die sfeer van die derde gees. `n Beeld van die oneindigheid

8 “Kyk, die derde gees is ook al hier en ons sal daarom dadelik van sy gasvryheid gebruik maak. Tree dus binne in sy sfeer, dan sal ons ervaar wat alles daarin te siene is. Aangesien julle julleself reeds in sy sfeer bevind, laat my dan nou ook net uit julle mond weet wat hom alles aan julle geestesoog ter aanskouing voordoen. Julle is alweer verbaas en kyk baie verward om julle heen. Wat is dit dan, wat julle blik so sterk in beslag neem? Ek sien My alweer genoodsaak om vir julle as tolk op te tree, want julle het tog geen tyd en geen rus om woorde te vind wat sou kan weergee wat julle sien nie.

2 Julle staan op `n stralende wolk. Met verbaasde oë sien julle `n enorme aantal boaardse wêrelde in eindelose groot sirkels verby­trek. Julle sien julle oral omgewe deur die grootste wonderwerke, wat ontelbaar op elkeen van die wêrelde is. Elkeen van hierdie wêrelde blyk eindeloos groot te wees en tog kan julle hulle met `n blik van pool tot pool aanskou. Tallose skares gelukkige wesens sien julle op hierdie verbytrekkende wêrelde ronddwaal, af en toe jubelend. Elke nuwe wêreld wat julle nader, is weer met ander onbeskryflike wondere besaai. Maar julle sê: As hulle maar net nie so vinnig sou verbytrek nie, hierdie groot allerpragtigste woon­plekke vir tallose skares van salige geeste! O wag maar, ook dit kan ons dadelik verhelp. Kyk, daar gaan juis `n buitengewone groot stralende, op `n hoofmiddelsentraalson lykende wêreld. Ons sal haar teëhou sodat julle haar van naderby kan bekyk. Daar is julle al.

3 Die sterk glans verblind julle oë weliswaar en julle kan, vanweë die te sterk lig, nouliks haar wonderbaarlike rykdom aanskou, maar ook dit sal ons verhelp. Kyk, die sterk lig het reeds sagter geword en julle sien dat hierdie groot wêreld lyk soos `n eindelose groot, onbeskryflike mooi tuin. In die tuin sien julle baie egte sierlike wonings en rondom die wonings wandel geluksalige geeste, wie vreugdevol geniet van die buitengewone smaaklike vrugte uit hierdie groot tuin.

4 Daar anderkant sien julle lofsingende geeste wat hulle in die glansende eter verhef. Elders sien julle weer geliefdes, wat saam baie vriendskaplik en gelukkig arm in arm wandel. Daar anderkant sien julle weer `n geselskap van wyses, wat met stralende gesigte My groot liefde, genade en ontferming besing. Op die takke van die veelsoortige heerlikste vrugtebome sien julle `n glinstering soos van glansende sterre.

5 Julle vra: Wat is dit? En Ek sê vir julle: Bekyk dit maar net van naderby, dan sal julle weldra merk wat daar agter hierdie sterre skuil. Maar julle verbaas julle alweer, want nou sê julle: Groot, heilige Vader, wat is dit tog? Toe ons so `n ster noukeuriger bekyk, dy sy saam met die boom uit tot `n eindelose grootte. Die vorige groot wêreld, netsoos die omvang van die enkele boom, kan ons vanweë die al te onafsienbare groot omvang, nie meer sien nie, maar dié sterretjie het tot `n nuwe, groot wêreld uitgegroei en ons sien hierdie wêreld weer vol nuwe wondere. O Vader, sê julle verder, waar is tog die einde van U onafsienbare groot wonderbaarlike skeppings?!

6 Maar Ek sê vir julle: Julle het gelyk dat julle so vra. Ek sê vir julle: Die eindelose rykdom en grootsheid van My skeppings het nóg begin, nóg einde, want oral waar julle daar een sien, glo My, daarin lê iets oneindig verborge! Dus het niks van dit wat julle nou geestelik sien, iets eindig in homself nie, maar alles is oneindig. As dit nie so sou gewees het nie, dan sou dit nie uit My voortgekom het nie, nie geestelik wees en die ewige lewe sou julle reinste leuen wees. As die deling van natuurlike deling reeds vir julle aantoon dat hulle deling tot in die oneindige deurgaan en in `n saadkorrel oneindig baie saadkorrels verborge lê, waarom sou die geestelike dan êrens aan `n begrensing onderworpe wees?

7 Oortuig julle aan die hand van hierdie nuwe wêreld. Kyk, daar wandel `n gees in ons nabyheid; tree sy sfeer binne en julle kan julle dadelik daarvan oortuig welke eindelose oorvloed aan nuwe, wonderbaarlike rykdom hy besit, en glo My, dit gaan deur tot in die oneindige. Julle kan dit deur middel van `n natuurlik voorbeeld begryp. Ek het daar weliswaar al voorheen een aangegee; maar julle kan dit nou weer in julle herinnering terugroep.

8 Die voorbeeld bestaan hieruit: Plaas twee buitengewone goed geslypte spieëls teenoor mekaar en sê My wanneer die wedersydse weerspieëling `n einde neem.

9 Kyk, so is dit ook hier. Elke gees het iets oneindig in homself en dit in eindelose veelvuldigheid. Die een gees is egter vir die ander soos `n spieël, deur sy innerlike liefde vir My, en vanuit dit tot sy broer. Sodoende is daar ook `n eindelose en ewige heen-en-weer straling. En juis die heen-en-weer straling is die groot, heilige, almagtige band van My liefde, waardeur al hierdie wesens allersalig met My en met mekaar verbind is.

10 Maar nou vra julle weer: Is die geeste, wat ons gesien het en nog sien vanuit die sfeer van ons gasvrye diensbare gees, ook werklik selfstandige geeste, of is dit slegs verskyningsvorms wat in daardie heen-en-weer straling van die werklike geeste hulle oorsprong vind? Ek sê vir julle: Hulle is dit beide tegelyk. Julle verwonder julle oor dié antwoord, maar in die Ryk van die geeste is dit nou eenmaal nie anders nie, omdat alles daarin lewenseg bepaal is.

11 Wanneer julle omhoog in My oneindige sfeer sou kan tree, dan sou julle die hele oneindige Ryk van die hemele slegs sien soos `n geesmens. Maar as julle dan in sy sfeer sou tree, dan sou hierdie een mens hom spoedig oplos in tallose geesteswêrelde, wat dan daar sou lyk soos tallose afsonderlike sterre, uitgestrooi in die hele oneindigheid.

12 Sou julle nader aan so `n ster kom, dan sou sy spoedig lyk soos `n afsonderlike, volmaakte mens. Wanneer julle dan weer in die sfeer van hierdie mens sou tree, dan sou julle in sy plek dadelik weer na alle kante toe `n nuwe, met ontelbare sterre besaaide hemel sien. En as julle weer so `n ster sou nader, dan sou sy daar, vanaf `n sekere afstand, weliswaar weer lyk soos `n mens, maar as julle hierdie mens steeds meer sou nader, dan sou julle dit byna uitskreeu van verbasing, netsoos eens, toe die seevaarder Christoffel Columbus die vasteland van Amerika genader het! Want dan sal julle ook `n groot hemelse prag en wonderwêreld te siene kry. As julle julleself egter heeltemal op hierdie wêreld sou begewe, dan sou julle stomverbaas wees, om dit deur tallose skares van geeste bewoon te vind. En sou julle julleself dan in die sfeer van die een of ander gees wat daar woon, begewe, dan sou julle weer nuwe heerlikhede ontdek. Tewens sou julle ook, maar dan met `n meer gelouterde blik, die oorspronklike wêreld as eintlike woonplek van hierdie geeste aanskou.

13 So gaan dit steeds maar deur en elke afsonderlike gees is bygevolg weer `n volmaakte hemel in die kleine.

14 Julle moet dit eintlik so begryp, dat die hele hemel `n hemel vol hemele is. En soos die hele hemel op sigself oneindig is, so is ook elke afsonderlike engelgeeshemel as sodanig oneindig. Daaruit word afgelei, soos wat daar in die Skrif staan: Die Ryk van God kom nie met uiterlike vertoon nie, maar dit is in u!

15 Op grond hiervan sal ook elke gees daardie Ryk bewoon, sien en benut, wat hy in homself verwerf het deur sy liefde vir My.

16 So staan daar ook geskryf: Die Ryk van die hemele is gelyk aan `n mosterdsaadjie. Dit is een van die kleinste onder die sade. As dit egter in die aardryk, dit wil sê, in `n hart wat van liefde vervul is, gesaai word, dan groei dit uit tot `n boom waarin die voëls van die hemel hulle neste sal bou.

17 Sien julle nou daardie mosterdsaadjie? Elke afsonderlike gees wat `n salige is, is so `n mosterdsaadjie, wat soveel beteken as: Hy is `n skepping van My liefde en van hierdie liefde dus `n lewende woord. As die woord in die aardryk van die liefde, wat uit My uit vry na buite gebring word, opbloei, dan word dit `n deur en deur lewende boom vol liefde en lewe uit My.

18 As julle in die sfeer van so `n boom tree, sal dit julle sekerlik verbaas dat julle `n eindelose wonderbaarlike rykdom van die hemele daarin aanskou, wat netsoos My liefde, genade en ontfer­ming in elke afsonderlike gees oneindig is.

19 Dit moet julle ook vir julleself eie maak, heeltemal volgens My ordening, dan eers sal julle werklik innerlike voordeel daarvan hê, en sal julle ten slotte in die helder lig in julleself ervaar dat My geskrewe woord op sigself gelyk is aan My, en tewens die lewende oneindige Ryk van die hemele by julle, te midde van julle, en, as julle dit werksaam in julle harte wil opneem, lewend in julle is.

20 Wat hieruit nog alles as nuut en wonderbaarlik geopenbaar sal word, sal ons voldoende in die sfere van ander gasvrye geeste te siene kry. Tree julle daarom weer uit die sfeer van hierdie derde gees, wat ook aan julle verwant is. Ons sal onsself dadelik, by `n volgende geleentheid, in die sfeer van `n vierde gees begewe. Vir vandag sal ons dit weer hierby laat.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205