Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 100

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die hemelse bestemming

100 Nou wend die prior hom tot die Heer en sê: O almagtige, liefdevolle heilige Vader, hoor my genadig aan. Hoewel U presies sien en weet hoe dit met my gesteld is, wil ek tog voor U spreek, omdat U dit so wens. Wat U liefdevolle en heilige voorstel van netnou betref, twyfel ek nou absoluut nie meer daaraan, of U vir my en my broers dit alles sou wou gegee het, as ons U voorstel aangeneem het nie, want U is tog oral die ewige Liefde, Trou, Waarheid en Wysheid! Dit is waar, wanneer ek hierdie suiwer hemelse engelagtige wesens aanskou, waarvan die een nog mooier is as die ander, en elkeen op haar manier onoortref­baar is, en ek daarna my hart vra of sy tevrede sou wees met so `n onbeskryflike genade van U, dan moet ek ewenwel met die hand op die hart sê: O Heer, die uitsonderlike genade is ek gladnie werd nie, want so `n loon sou te hemels en oorheerlik wees vir `n armsalige, uitgedroogde selibater, en `n aardse leegloper. Werklik, in die, deur U geseënde, besit van `n soortgelyke suiwer hemelse wederhelf of ewige lewensgesellin moet aardjare, as dit hier nog sou tel, tog verbyvlieg soos vrolike sprinkane op `n hittige somersdag. En van verveling sou in sulke byna bo-hemelse omstandighede in alle ewighede sekerlik geen sprake wees nie.

2 Maar, o Heer en Vader, daar is `n groot maar! Kyk, dit is moeilik om ten opsigte van U te spreek, veral wanneer mens dink om deur U dubbel in die noute gedryf te wees. Want hulle wat hulle teenoor U ontevrede betoon met so `n loon, en daarvan wil afsien vir die verkryging van `n uiteindelike hoër saligheid, kom vir my, op sy minste, voor asof mens behoorlik grof teen U oneindige goedheid sou sondig. Om die loon baie begerig en bereidwillig aan te neem sou eweveel beteken as om hom so-iets waardig te ag, dit wat by geeneen van ons tog ooit die geval kan wees nie. Daarnaas dring hom, tenminste by my, dan ook nog heimlik `n vraag op, wat as volg lui:

3 Kyk, twee waardes lê hier voor jou, `n hemels heerlike, naamlik hierdie hemel, en `n oneindige, naamlik U self, o Heer! Wanneer dit vir jou, arme sondaar (so klink dit in my) vry staan om tussen hierdie twee waardes te kies, dan moet ek, of dit nou eiebelang is of wat dan ook, eerlik beken: Heer, ek bly by U en laat uit liefde vir U, hierdie buitengewone heerlike hemel en ook uiteindelik nog baie mooier maagde, vaar; vooropgestel dat vir U, o Heer, so `n keuse van my, as arme sondaar aangenaam is. Ek wil naamlik daarmee voor U, o Heer en Vader, nie die indruk wek dat ek nie met so `n hemel tevrede sou wees nie. O, verseker nie, want ek, as die aller onwaardigste vir so `n oneindige genade, sou U met al my kragte ewig daarvoor loof, liefhê en prys!

4 Maar Heer, hier is alweer `n maar. Ek wil daarmee maar net sê: As U, o liefdevolste Vader, dalk nie hier, soos wat U nou hier is, vir altyd sou wil bly nie; as `n mens U hier miskien hoogs selde te siene sou kry, dan sou ek tog oneindig veel eerder vir ewig in die mees afgeleë uithoek van die hele eindelose hemel met U wil deurbring, as om hier ook maar `n uur sonder U te moet wees, o heilige, liefdevolste Vader!

5 Nou sê die Heer: Wel, Ek het uit jou diepste wese verneem en gesien, dat jou liefde na My uitgaan en dat jy, net soos jou broers, hierdie groot hemelse heerlikheid vir My as aangename offer opgedra het en daarom sê Ek vir julle, dat julle jul juis deur hierdie offer, hierdie pragtige hemel vir julle waardig gemaak het. Vir jou en jou broers lê hier, die deur My bepaalde bestemming, en daarom kan julle nou ook onbekommerd kies; vry en na hartelus. Elkeen van julle sal so `n pragtige paleis kry en een hemelvrou wat vir hom volkome welgevallig is. As heer oor so `n besit het hy dan geen ander hoër verpligting as om in die eerste plek vir My ewig as Heer en Vader te erken en lief te hê nie, maar ook die arm mense wat dikwels nuut hier aankom, gasvry op te neem, van voedsel en kleding te voorsien en deur liefdevolle onderrig nader tot My, die Vader, te bring.

6 Vra nie of Ek hier voortdurend sigbaar soos nou, of onsigbaar aanwesig sal wees nie, want sigbaar of onsigbaar, Ek is tog altyd volkome aanwesig. En wanneer jy na hierdie son sal kyk, dink dan, daarin woon jou Vader. En hierdie son, wat hierdie streek so sag verwarm en alles so heerlik verlig, gaan hier nooit onder nie; jy sal haar altyd sien en die oog van jou liefde nooit van haar afwend nie.

7 So dikwels as wat julle My ook maar in hoogste liefde vir My, daadwerklik sal omvou, sal Ek ook weldra, soos nou by jou en net soos by jou broers persoonlik, wesenlik, sigbaar aanwesig wees.

8 In jou nuwe huis in hierdie hemel sal jy egter `n wit bord aantref. Bekyk dit van tyd tot tyd, na gelang jou liefde jou daartoe aansit, dan sal jy My wil daarop geskrywe sien. 

9 Wees vir die vrou wat Ek jou hier sal gee, egter lief soos jouself. Wees een met haar, sodat jy `n volkome mens met haar vorm, wat hom in volmaakte hemelse waarheid en weldadige liefde bevind. In hierdie vrou sal jy die mag van jou liefde vir My voel en die vrou sal in jou die mag van My wysheid voel; en so sal julle een wees in My ewige Liefde en Wysheid. Die hoogste graad van julle geluksalig­heid sal dan steeds wees wanneer julle volkome een is in die liefde vir My.

10 Julle hoef julle hier geen sorg te maak oor voeding nie, nóg oor enige ander behoeftes, want vir dit alles is deur My al vir alle ewighede gesorg. Want dit is die Ryk wat Ek vanaf die begin berei het vir hulle wat My liefhet; dit is die groot, heilige erfdeel vir al My kinders, wat Ek vir hulle aan die kruis berei het! Neem dit daarom aan van My, die enigste Gewer van alle goeie gawes en geniet voortaan ewig van hierdie oorgrote heerlikhede en skatte.

11 In dié Ryk sal julle nie ouer word nie, maar steeds saliger, kragtiger, jeugdiger en mooier! Dit alles is julle goed afgeweegde, salige lot. Gaan julle daarom maar en kies julle ewige lewensgesellin uit, sodat Ek julle kan seën vir die ewige, eindelose saligheid!

12 Sien, ons prior word byna duiselig van hierdie verruklike saligheid. Van suiwer skugterheid durf hy, net soos sy broers, nou­liks `n voet te versit om die wagtende hemelse maagde tegemoet te gaan. Maar die Heer gee die maagde `n wenk, waarop elkeen van hulle hul na die, vir haar bestemde man, spoed om hom `n stralende palmtak aan te reik. Maar by die aanneem van die palmtak verander ook nog die ietwat gewone kleding van die monnike in passende hemelse kleding; die Heer seën hulle nou en hulle val almal op hulle aangesig en loof en prys Hom vir so `n onmeetlike genade.

13 Maar kyk, daar agteraan by die monnike en lekebroeders, wat hier heeltemal gelyk is aan die monnike, staan nog `n lekebroeder sonder vrou en palmtak wat verdrietig toekyk, hoe vir al sy broers gesorg is. Vir hom is daar geen maagd nie; ook sy klere het nog nie verander nie; daarom is hy nog steeds in sy monnikpak geklee. Wat sal daar nou met hom gebeur? Ons sal dit afwag, want die Heer sal hom sekerlik nie vergeet nie.

14 Maar kyk, die Heer sê aan die hemelse gehudes: My liewe broers, laat julle nou deur julle hemelse eggenotes na jul huise bring, sodat elkeen daar ter plaatse, die deur My vir hom gereedgemaakte, ewige eiendom geheel in gebruik kan neem!

15 Ons hemelse eggenotes kom in beweging en die prior sien nou met leedwese dat ons arme lekebroeder by hierdie gang van sake met leë hande agtergebly het. Daarom wend hy hom dadelik tot die Heer en sê: O Heer, allerliefdevolste, goeie Vader, ek kan U nie genoeg loof en prys vir die genade wat U ons almal bewys het nie, maar kyk, daar agter staan `n arme broer nog sonder vrou en sonder kleding; ek het egter medelye met hom. O Heer, as U dit goedvind, sou ek liewer my gewaad en my vrou aan hom afstaan as om hom hier so verlate te moet sien. Ek weet weliswaar dat U oneindige vaderlike goedheid al uitstekend vir hom gesorg het, maar omdat ek van U ook `n liefhebbende en medelydende hart gekry het, moet ek openlik aan U beken, dat solank ek weet dat hierdie arme broer nie so salig is soos ek nie, ek in U allerheiligste Naam liewer self enkele duisende jare van al hierdie salighede sou wil afsien as om hom ook maar enkele dae minder salig te sien as Myself.

16 Die Heer sê: Sou jy werklik jou vrou, gewaad en hemelse besit aan hierdie broer wil afstaan?

17 Die prior sê: Ja Heer, op die daad, ook al moet ek self alleen teruggaan na my vroeëre blinde klooster.

18 Die Heer roep die arme lekebroeder na Hom toe en sê aan hom: Kyk, broer van die geselskap, jy het by hierdie geleentheid ietwat tekort gekom, maar hierdie broer het jou eensaam gesien agterbly en het hom so oor jou ontferm dat hy aan jou, uit liefde vir My en jou, sy deel afgestaan het. Is jy tevrede daarmee?

19 Die arme lekebroeder sê: O Heer, wat my betref, ek is al buitengewoon salig en tevrede as ek hier op hierdie plek maar ewig mag bly en, U lowend en prysend, hierdie hemelse heerlikhede mag aanskou. Ek is al oorgelukkig en tevrede wanneer U, o Heer, my sou wil toestaan om so behoeftig soos wat ek is, die allergeringste dienaar te mag wees in die huis van een van my eenvoudigste broers wat U, o Heer en Vader, vir ewig tot U hemelburgers geseën het. Op aarde was ek immers in die klooster ook maar die allerlaaste, en was vir die klooster maar van weinig nut. Alles wat ek daar gedoen het, was daarenteen slegs `n aalmoes van die kant van U hoër dienare van die klooster, sodat dit darem nie heeltemal gelyk het dat asof hulle my as die allergrootste luilak in hulle klooster moes klee en voed nie. Sodoende het ek absoluut nooit iets verdienstelik, selfs nie vir die geringste loon, gedoen nie. Hoe sou ek dan nou dieselfde loon as die van my veel beter broers kan verwag?

20 Die Heer sê aan die prior: Wel, My liewe vriend en broer, wat nou gedaan? Kyk, jou broer neem jou aanbod in geen geval aan nie. Wat wil jy nou doen?

21 Die prior sê: O, Heer en Vader, laat my aan hom my eerste broederlike plig in die hemel vervul. Ek wil hom opneem in die deur U aan my geskenkte huis en hom as my gelyke, as heer aanstel oor alle goedere wat my deur U liefde, genade en ontferming geskenk is.

22 Die Heer sê: Dan het Ek weer `n heel ander plan. Omdat julle, jy en hierdie broer, julle deur die liefde vir My, wedersyds geheel en al laat gevange neem het, neem Ek julle ook heeltemal in My liefde gevange. Die broers hier, wat hulle al met hulle hemelse eggenotes na hulle wonings begin te begewe, seën ons. Jy, jou vrou en hierdie broer egter, gaan saam met My na die plek waar Ek ewig in die allerheiligste hemel gewoonlik saam met My kinders woon.

23 Sien, die prior, sy vrou en die broer val van te groot verrukking voor die Heer neer. Maar die Heer versterk hulle, help hulle orent en sê: Wel My kinders, volg My na My huis. Kyk, hulle trek onop­gemerk deur die ander broers, die ewige, heilige môre tegemoet. Eindelose lang rye salige broers begroet hierdie klein stoet van alle kante en prys die Heer vir Sy oneindige goedheid, liefde en ontferming. Laat ons hulle ook volg, sodat ons kan sien, hoe hierdie drie nuwe hemelbewoners hulle daar gaan inburger.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205