Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 69

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die Augustynse monnik in beraad

69 Kyk, hy gaan `n aansienlike groot saal binne en soos julle kan sien, kom `n menigte medebroeders hom ookal tegemoet. Verskeie van hulle sien ons en vra hom wie ons is en wat ons wil hê. En hy (die monnik) antwoord hulle baie heimlik: Vra niks, want dit is verskriklike wesens, wat met besondere toestem­ming ons salige rus geweldig wil versteur. Of die middelste Lucifer self is, of sy belangrikste handlanger, dit weet ek nie, maar een ding is wel seker: Hy spot met al my kerklike eksorsistiese middels en dreig my bowendien nog in bedekte terme met die hel, as ek nie in staat sou wees om hom, aan die hand van die Heilige Skrif, letterlik te bewys dat Petrus die kerk van Rome gestig het nie.

2 Ja, ek sê vir julle, ek het al my wysheid bymekaar geskraap en hom die sterkste bewys daarvoor aangereik; ek was net so min teen sy slimheid steekhoudend en werksaam, soos `n druppel water by die blus van `n brandende huis. Wat kan jy dan nog sê as iemand jou vanuit die Skrif byna haarfyn bewys dat, wanneer die kerk van Rome in haar bestaande orde deur die Heilige Gees gelei en behoue was, Christus dan, oftewel `n leuenaar was, oftewel `n dermate onvolkome wese, weliswaar afstammend van die God­heid, dat die Godheid dit nou noodsaaklik geag het om nog groot regstellings deur die Heilige Gees aan te bring, in die leer wat deur Christus gevestig is? 

3 Om kortliks te wees, hy bewys haarfyn dat die leer van Christus van volmaakte goddelike oorsprong is, en dat ons kerk, met die bestaande kerklike struktuur naas die leer, niks anders is as `n eie­magtige, duister heidendom nie; maar dat as ons kerk goed is, dan is Christus soveel as niks en as Christus niks is dan het die niks ook sy weerslag op ons kerk. Dit is nou hierdie vreeslike saak! 

4 Het ons maar die heilige inkwisisie hier in die Ryk gehad, dan kon ons sulke ketterse geeste folter soos liggaamlike mense op aarde. Ons sou hulle vir hulle kettery die vuur wel so na aan die skene gelê het, dat die diepste hel hom daarby sou moes skaam! Maar wat kan mens hier doen, noudat `n mens geen meer mag het nie? Mens moet so `n ontsettende kruis hier letterlik op sy skouers neem en Christus baie geduldig volg. 

5 Kyk, hy kom al die saal binne met sy handlangers. Ek kan julle geen ander raad gee nie as om by alles wat hy gaan sê, heimlik `n kruisteken te maak, niks te sê en hom veral op geen enkele vraag `n antwoord te gee nie. Laat ons onsself daarom agter die kruis hier in die refter (eetsaal) verskuil en ons daar baie rustig hou. Laat een van ons agter die kruis gaan staan en sorg dat daar bloeddruppels uit die wonde van die gekruisigde drup, dan sal hierdie gas uit die hel ons sekerlik niks kan doen nie.

6 Kyk, die hele kollege, so `n vyfhonderd man sterk, trek hulle agter die kruisbeeld terug en so pas begin die bloed ook formeel uit die wonde van die beeld van die gekruisigde Christus te vloei. Die monnike hou hul slapende en ons opper oordeelveller bevind hom die verste op die agtergrond. 

7 Julle sê nou: Vriend, dit lyk vir ons asof alle moeite en arbeid hier tevergeefs is; ja, ons is baie sterk van mening dat selfs die be­moste sandgrond in die gebied van die uiterste, stikdonker aand hierdie mense nie op die goeie pad sal bring nie. Dit is ronduit vreeslik hoe hierdie wesens die mees betekenisvolle woorde van die Heer as woorde van die Satan beskou. Ja, al sou die Heer persoonlik verskyn en hulle onsin aan die kaak stel, dan nog sal hulle Hom as niemand anders beskou as vir wie hulle jou beskou nie. Selfs as Hy deur wonderwerke van Sy ware wese sou getuig, sal hulle net soos die Fariseërs sê: Hy doen dit alles met behulp van die opperste duiwel.

8 Ja, liewe vriende, julle opmerking is volkome korrek en dit is met hierdie wesens werklik so gestel soos wat julle gesê het. Maar dit is ook waar dat daar vir die Heer oneindig baie moontlik is, waar ons nooit met al ons wysheid, kan bykom nie. Daarom sal ons ook enkele eksperimente hier uitvoer, en dan sal dit wel duidelik word welke uitwerking dit op hierdie wesens sal hê. Dit bedrieglike kruisbeeld is die vernaamste steun en beskerming vir hulle onsin. Dit sal ons die eerste aanpak, dit afbreek en voor ons voete vernietig.

9 Ons gaan nou daarop af. Kyk, toe ons nader kom, wyk die bloedmasjinis al terug en ek sê: Jy drogbeeld, wat ontstaan het uit die reeds lank voortdurende verkeerde denkbeelde van hierdie wesens, hou op om te bestaan! Want in die oë van die Heer bestaan daar geen groter gruwel as `n drogbeeld wat op Hom betrekking het en waardeur duisende en nog eens duisende menseharte vervul word van die allerduisterste wanidees en van die afskuwelike vuil van die dood nie.

10 Kyk, die kruisbeeld lê al totaal vernietig soos vuil kaf op die grond, en die met stomheid geslaene monnike begin die een na die ander orent te kom. Uit elkeen se gelaat vonk woede en toorn ons tegemoet, maar tog waag niemand dit ook maar om `n hand na ons uit te steek nie. Ook wil niemand `n woord sê nie. Daarom sal ek `n woordjie sê aan ons reeds bekende monnik, wat hom op die agtergrond bevind. Ek sê aan hom:

11 Luister, jou duister gees daar op die agtergrond! Kom na vore en gee my antwoord op die vraag wat ek in die tempel aan jou gestel het! Die monnik kom bewend van angs na vore en wil my, vanweë die vernielde kruisbeeld, met `n vloek in plaas van met `n antwoord tegemoet kom. Kyk nou net, vlak voor hom ontstaan daar in die bodem `n meterbreë kloof en in die diepte sien hy die hel! Ek sê aan hom: Kyk, duister gees, dit is jou Christendom; jou hart is vervul van dit wat jy hier sien.

12 In plaas van die bowenal sagte liefde van Christus, wat nog bloeiend aan die kruis, vir die daders van die boosheid die Vader in Homself om vergewing gevra het, dra julle niks anders nie as haat, sekteywer, verdoemenis, oordeel en vuur in julle nie, en daarom gaan julle as verstokte antichristene lynreg teen die grondbeginsels van Christus in. Julle ontneem al julle volgelinge die laaste lewensdruppels en in plaas daarvan vul julle hulle harte met die dood.

13 In plaas van die lewende brood, wat die waaragtige lewende woord van God is, gee julle hulle gloeiende klippe om te verteer sodat hulle almal, net soos julle, vervul word van wraak, toorn, woede, oordeel en verdoeming teenoor al diegene wat die Vader self wil opvoed en onderrig. Ja, julle maak geen gewetensaak daarvan om julle heers- en gewinsugtige onderdrukking van die volk te versterk, die woord van God soveel moontlik uit die gemeente te weer en `n uiteindelike besitter daarvan, selfs as ketter te vervloek en te verdoem. In plaas van met die woord van God, voed julle die volk met julle egoïsme en heerssug, en julle devies (leuse) is om elke sprankie beter lig ver van die volk te hou, terwyl Christus, die Heer, tog uitdruklik gesê het: “Wees volmaak soos wat julle Vader in die hemel volmaak is!”

14 Wat moet ek met julle maak? Julle, wat die kudde van die Heer moet laat wei, wat julle, teen die wolf waarskuwend, agter `n sewevoudige muur verskuil en word ten slotte, in plaas van troue herders, self tot wolwe. En buite staan baie duisende en miljoene, wat die skerpte van julle wolfstande geproe het en julle luid roepend aankla voor die regterstoel van Christus!

15 Wat moet ek met julle doen? Julle wat God se woord altyd met julle voete vertrap het, omdat dit nie deug vir julle onversadigbare heers- en gewinsug nie. Wat moet ek met julle doen, - julle, wat vermetel genoeg teenoor die volk durf te beweer: Die aarde lê aan ons voete en God dra ons in Sy hande?! Ek sê vir julle: `n Nadeliger en tewens treffender getuienis as juis dit het julle nooit kon oordink nie. Waarlik, julle het, waar dit maar moontlik was, die volkere met hulle gesalfde keisers en konings nog altyd met julle heers- en gewinsugtige voete vertrap en met God in julle hande, dryf julle handel soos met slegte koopware. Daardeur was daar niks goddelik in julle harte nie, maar in plaas daarvan was dit steeds vervul van dit wat jy, duistere gees, nou in die gapende kloof aan jou voete sien.

16 Wat sal ek nou met julle doen? Vra my wie ek is, en ek sal julle antwoord: Ek is `n egte apostel van die Heer en is hierheen gestuur om julle in Sy Naam op te wek. Hoe sal ek julle egter kan opwek as julle vervul is van die ewige oordeel? Sodoende vra ek julle nog `n keer: Wat wil julle doen? Spreek, of hierdie afgrond mag julle verslind.

17 Luister nou wat ons monnik sê: In die naam van al my medebroeders vra ek jou, wie jy ookal mag wees, om ons hierdie harde beproewing te bespaar. As ons volgens die leer van Christus ons Heer waaragtige bedrieërs geword het, dan was ons dit tog nie uit eie beweging nie, maar omdat ons moes wees soos wat ons is, en omdat niemand van ons anders mag gespreek en gehandel het as wat hom deur die kerk toegestaan was nie. Was ons wolwe, dan moes ons dit gewees het; en as jy werklik `n hoër afgesant mag wees, sal jy ook goed weet hoe dit met ons gestel was en nog is. Ons is hier nog presies net so gevange soos op aarde. Daarom, as dit vir jou moontlik is, maak ons dan vry, dan sal ons ook die suiwer woord van Christus aanneem! Maar bedek tog hierdie verskriklike afgrond hier voor ons.

18 Ek sê aan hom: Wil julle oor hierdie kloof heen, dan moet julle in gees en waarheid alles in julleself verstik wat julle daar in die afgrond voor julle sien, want dit is `n verskyningsvorm van dit wat in julle eie harte aanwesig is. Daarom, ondersoek julleself en doen julle almal wat hier aanwesig is, dieselfde. Word wakker uit julle doodslaap sodat ek, wanneer ek terugkom, julle gesuiwer en lewend mag vind, sodat ek julle kan weglei uit julle gevangenis van die dood! In die klooster is daar egter nog meer wat ek nog eers moet vermaan. As julle tot besinning gekom het, dan eers sal ek terugkom en julle in die Naam van die Heer `n nuwe weg laat sien. Kyk hoe hulle nou begin te huil en te kerm. Ons sal dit egter nie aanhoor nie, maar ons dadelik na die “paradysmonnike” begewe.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205