Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 88

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die prior voor die kloof in die moeilikheid. Oor die ware brug van die verlossing. Van die dood na die lewe

88 En kyk nou, daar kom ons prior so pas met `n baie wanhopige gesig weer onverrigter sake uit die klooster terug en kom in groot angs en wanhoop na ons toe. Hy sal sy hart dadelik by ons lug. Let dus goed op, want daarmee sal julle weer `n flinke stap verder in die goddelike leiding ingewy word.

2 Die prior is al daar en begin te vertel. Luister, hy sê: O vriend en broer, wat, om te begin, die bedoeling van jou opdrag aan my was, sal die Heer wel die beste weet, maar ek begryp in ieder geval niks daarvan nie! Want kyk, ek het in jou opdrag na ons broers wat in `n sieleslaap verkeer, gegaan en wou hulle dan ook, soos wat die opdrag gelui het, hierheen bring. Maar wat ek daar gesien het, was ronduit verskriklik.

3 Kyk, tussen my en hulle wat gehuil en geweeklaag het, was `n breë kloof, waaruit helder vlamme omhoog geslaan het. Agter hierdie vlamme het my broers voortdurend probeer om êrens daar­oorheen te kom, maar dit was tevergeefs. Ek het probeer om allerlei voorwerpe oor die kloof te plaas, om so `n noodbrug vir hulle te bou; maar wat ek ookal oor die kloof gelê het, was onmiddellik deur die vlamme gegryp en verteer. 

4 Aangesien ek dus met al my inspanning en met die beste wil nie in staat was om jou opdrag uit te voer nie, het ek by myself gedink dat, wanneer selfs God, tog van niemand die onmoontlike kan verlang nie, `n deur Hom gestuurde bode dit nog veel minder kan doen. Want om `n brug oor hierdie kloof te bou, wat bestand sal wees teen hierdie huiweringwekkende element, was vir my absoluut onmoontlik.

5 Daarom keer ek dus weer noodgedwonge onverrigter sake terug en dink by myself: Of ek het die opdrag nie goed begryp nie, of jy wou daarmee `n tasbare bewys gee, waardeur ek moet insien hoe volkome onbruikbaar en ongeskik ek is vir die Ryk van God. Hoe dit ookal mag wees, dink ek verder, `n nadere verklaring van jou sou dan nog hier baie op sy plek wees. Daarom is ek weer hier en het jou meegedeel hoe die sake staan. Doen maar wat jy wil. Ek sien duidelik in dat ons almal nie in staat is om jou te weerstaan nie. Ook al was jy geen bode van bo nie, dan moet ons geringe krag hom nog aan die van joune onderwerp, omdat dit nie in staat is om ook maar die geringste daarteenoor te stel nie.

6 Verder moet ek nog aan jou beken, dat ek by die aanblik van die groot ellende van my broers, byna aan jou goddelike sending begin twyfel het, maar dan het ek weer gedink dat mens eers die eindresultaat moet afwag en dan eers moet oordeel. Daarom wag ek nou ook hier af, wat die oplossing is wat deur jou beloof is, waardeur dit vir my duidelik sal word, in wie se hande ek my bevind. 

7 Nou sê ek: Dit kom vir my, van jou kant gesien, werklik ietwat vreemd voor dat jy geen brug oor die brandende kloof kon gebou het nie, terwyl die opperhoof van die kerk homself tog die heel indrukwekkende titel van “Pontifex maximus” gegee het, waarna vervolgens ook alle onder sy bewind staande priesters ‘pontifices minores’ is. En jy, as so `n ‘pontifex minor’, het tydens jou aardse lewe tog soveel sielemisse gelees, waarvan julle dink om daardeur vir die siele van die oorledenes `n brug te bou van die vagevuur na die paradys; maar nou is jy nie in staat om `n klein bruggie oor hierdie smal kloof te bou nie?

8 Die prior sê: Liewe vriend en broer, daar gaan vir my al `n liggie op! As ek my nie vergis nie, het jy my met hierdie opdrag `n bietjie laat aanmoedig, sodat ek sou insien hoe dit met ons “sielemisse” en met die andersins altyd te betaalde oorlye seremonies gestel is.

9 Nou sê ek: Ja, my liewe vriend en broer, hierdie keer het jy die spyker op die kop geslaan. Weet jy wat die enigste verlossings­middel en dus ook die enigste brug van die dood na die lewe is? Jy gee my te verstaan dat jy dit nie duidelik sien nie, maar ek sê vir jou, kyk na die Heer! Wat het Hom daartoe beweeg om die gevalle aardse mensegeslag te verlos, deur vir elke bewoner van die aarde `n ewige standhoudende brug van die dood na die lewe te bou? Was dit nie Sy ewe goddelike, barmhartige Vaderliefde nie? Jy gee my `n bevestigende antwoord; goed, maar ek sê nog iets vir jou.

10 Gestel dat `n koning op aarde gevangenes het, en iemand sou hierdie gevangenes wil help. Maar die gevangenes sit opgesluit in `n sterk vesting, waarvan niemand behalwe die koning, die sleutel het nie. Die persoon wat hom besorg maak oor die gevangenes, het ondervind dat die koning slegs toeganklik is wanneer mens hom met diepe deemoed en die grootste moontlik liefde benader.

11 Noudat ons dit weet, vra ek jou: Hoe moet hierdie persoon dit aanpak om die gevangenes uit hulle gevangeskap te bevry? Wel, ek sal dit vir jou sê. Hy sal eers uit liefde vir die gevangenes die vurige wens koester om hulle vry te kry. Dit is die eerste brughoof. Het hy dit gebou, dan sal hy tot die besef moet kom dat `n koning, wat slegs deur deemoed en liefde toeganklik is, `n buitengewone edel, goeie en regverdige vors moet wees. Het hy dit oorweeg, dan sal hy ook al sy deemoed en liefde op `n punt konsentreer en dit vir die koning as offer aanbied. Met hierdie daad het hy die tweede brughoof voltooi.

12 Aangesien die baie edel, goeie en regverdige koning so `n offer dan sekerlik baie welwillend sal aanneem en ons brugbouer met `n nog veel groter liefde tegemoet sal kom, dan sal dit tog duidelik wees dat die liefde van die koning hom met die liefde van die brugmaker op `n doel sal rig, en die brug oor die vestingkanaal sal gebou wees. Die koning self sal kom, die geslote vestingpoort open, alle gevangenes vrylaat en hulle uit hierdie groot skande weglei na die land van heerlikheid!

13 Wel, noudat ons nog by die voorbeeld toegevoeg het, sal dit vir jou tog wel duidelik wees, uit welke materiaal en op welke manier `n brug gebou moet word wat nie deur die vuur van eiebelang, eieliefde, selfsug, nyd en tweedrag vernietig kan word nie. Jy sê nou: Ja, ek begryp dit, dit is die liefde vir die naaste en die liefde vir God wat tot `n geheel verenig is

14 Goed, sê ek vir jou, gaan dus en bou `n brug met hierdie materiaal, dan kan jy daarvan verseker wees dat hierdie brug `n waaragtige, onverwoesbare rots sal word, wat elke helse mag sal trotseer. Ook sal dit die ware sleutel wees, waarmee jy en elkeen van julle, alle gevangenisse en die ware poort van die hemel kan open.

15 Jy het op aarde weliswaar baie misse gelees en ander kerklike funksies vir die sieleheil van oorledenes verrig, maar jy het oral op sand gebou. Jou boumateriaal self het slegs bestaan uit sand, omdat by al hierdie funksies, nie die liefde nie, maar slegs die wins vir die kerk, die basis was. 

16 Jy het jou so pas self daarvan kan oortuig, welke vrugte jou broers daarvan gepluk het, want jou poging om `n materiële brug te bou, kom ooreen met jou kerklike funksies. Gaan dus. Dan sal jy sekerlik `n ander resultaat sien as die eerste keer.

17 Glo maar, dat nie jy nie, maar slegs die koning, die gevangenes kan bevry; dan sal daar ook gebeur wat jy lewendig vanuit jou liefde glo. Gaan dus weer in die Naam van die Heer. Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205