|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 42
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
Verskil in snelheid van reise in die hiernamaals
42 Julle vra: “Maar beste vriend, sal ons nie eers afskeid neem van die vriendelike bewoners van die huis en hulle bedank vir hulle liefdevolle ontvangs nie?” “Liewe vriende, dit spyt my egter dat julle my nie vooraf daaraan herinner het nie, want nou bevind ons onsself al op die top van een van die berge wat ons voorheen in die verte gesien het, terwyl ons huisie al ver agter ons lê! Dit verbaas julle ietwat en daarom sê julle”: “Maar beste vriend, hoe kan dit tog dat ons hier so vinnig soos `n gedagte wandel, terwyl ons in die noordelike en aandelike omgewing, op enkele seldsame uitsonderings na, duidelik slegs tree vir tree geloop het? Uit vroeëre ervarings weet ons weliswaar dat mens in die gees so vinnig soos `n gedagte vooruit kan gaan. Dit is dus nie so vreemd nie. Maar dat ons juis in dié streek, wat baie arm aan verskynsels was, wat mens tot die mooi en heerlike kan reken, tree vir tree gegaan het, maar daarenteen in hierdie hemelse streek al daardie heerlike byna onopgemerk vinnig verbyskiet, dit is vir ons vreemd.”
2 “Liewe vriende, julle oordeel wel baie korrek volgens julle wysheid, maar nie volgens die geestelike wysheid nie. Wanneer ons onsself in die groot ryk van die geeste in die streke beweeg waar die omstandighede meer natuurlik geaard is, dan is juis daar alles vertraag, en ons langsame vooruitgaan in sulke streke gee dan ook baie wesenlik en aanskoulik die moeisame vooruitgang van die gees weer. Hoe dieper ons in dergelike streke deurgedring het, des te moeisamer en langsamer het ook ons gang geword. Maar hier, waar die gees al sy volle vryheid geniet, is hy van sulke kettings bevry, waardeur sy vooruitgaan veel minder gehinder en dus ook vinniger word.”
3 “Julle sê nou: Beste vriend, dit is alles korrek, goed en waar, maar ons herinner ons dat ons in die begin in die noordelike streek tog eens `n vinnige bergtog gemaak het, toe ons vanuit die hel ook besonder vinnig terug was in die kinderryk en ons reis van die kinderryk hierheen ook slegs `n oomblik geduur het. Hoe moet mens dit nou begryp?” “Beste vriende, dit verbaas my werklik baie dat julle so-iets nog nie begryp nie, terwyl julle presies tog al dikwels op aarde dieselfde ervaar het by die ontwikkeling van julle gees. Ek sal dit vir julle aan die hand van slegs een voorbeeld duidelik maak, dan sal julle hierdie drie, vir julle onverklaarbare verskyningsvorms van snelreise, dadelik grondig deursien en volkome begryp.
4 Wanneer julle byvoorbeeld in die wiskunde of in een of ander wetenskap onderrig word en julle moes julle by daardie onderrig die een of ander moeilike begrip as hoofstelling analities aantoonbaar eie maak, omdat byna die hele kompleks van die wetenskap met die volledige begrip van die stelling saamhang, dan het dit julle sekerlik baie moeite gekos om so `n stelling volkome te begryp. Ja, daarby moes julle van punt tot punt, stappie vir stappie vooruitgaan. Wat gebeur nou daar wanneer julle so `n hoofstelling volkome begryp het? Het julle gees nie juis daardeur `n vinnige vlug geneem en dan met groot snelheid `n insig verwerf, waarmee hy dit, wat hy eers so moeisaam deurvors en ondersoek het, in `n oogopslag oorsien? Maar dit is nie al nie; hy trek uit hierdie stelling, wat nou deur hom begryp word, ook nog ander gevolgtrekkings, wat vir hom eers totaal vreemd was en word dus, as gevolg van so `n vinnige vlug, self `n siener, `n ondersoeker, `n uitvinder en selfs `n skepper van toekomstige waarhede! Begryp julle so `n vinnige vlug nou?”
5 “Kyk, presies so is dit ook met die gees; want wat julle op aarde die werk van die gees of van die gedagtes noem, is hier in die ryk van die gees suiwer werklikheid. Ons het dan ook weer met langsame treë na die aand toe gegaan, leer langs hierdie weg allerlei toestande ken en kom via ons leersame weg selfs in die onderste, vir julle gees bereikbare diepte. Alles moet vir julle tot die uiterste ontleed word. Wat het julle gees daarmee gedoen? Hy het `n tweede belangrike stelling geleer. Deur die leer van hierdie belangrike stelling was dan weer `n tweede vinnige opwaartse vlug moontlik.
6 Ons het by die kinderryk aangekom en wel by die uiterste grens. Daar moes ons nog `n derde belangrike tussenstelling bestudeer, wat met al die voorafgaande `n baie belangrike verbinding vorm en as `n goeie voorbode vir die vervolg in die middag dien. Aangesien julle so `n belangrike tussenstelling vinnig en maklik begryp het, was ook die daaropvolgende vinnige opwaartse vlug van die gees in hierdie ligstreek, netso vanselfsprekend as alle ander.
7 Ons is nou in die omgewing van die hoër lig. Hoe kan dit julle verbaas, dat ons met ons al baie ryper en meer geoefende gees, daar vinniger voortgaan as in die twee vorige streke? Maar ek sê vir julle: Hier maak ons slegs klein, hoewel vinnige treë, maar gaan in hierdie omgewing nie verder as wat die oog van ons gees reik nie.
8 Wanneer ons egter vanuit hierdie omgewing die môre sal nader, sal ons nog oneindig groter en vinniger bewegings maak. En kyk, dit is geestelik weer baie natuurlik. Iets dergeliks is immers ookal duidelik te sien by die meer gewekte geeste op `n hemelliggaam, waar `n geoefende denker `n voorwerp wat mens hom ter beoordeling voorlê, baie vinnig sal deursien en in al sy dele deeglik en grondig sal ontleed. Wel moet hy nog altyd `n voorwerp voor hom hê, want sonder so `n voorwerp hou die aktiwiteit van sy gees op.
9 So kan ons ook die ruimtes wat ons hier sien, baie vinnig deurloop. Maar wanneer die gees in `n nog veel vryer en meer ongebonde toestand beland, hou hy hom nie meer besig met die ontleed van gegewe voorwerpe nie, maar omdat hy al oral in die materie die potensie van die oneindige gevind het, word sy blik oneindig baie dieper en sy snelheid of sy voortgang, baie meer volmaak. Begryp julle dit alles goed? Julle bevestig dit en ek sê: Dit is goed en daarom kan ons ons blik van hierdie mooi hoogtes weer dadelik op die nog veel mooier omgewing wat voor ons lê, rig.
10 Julle verbaas julle daaroor dat ons vanaf die mooi hooggebergte, wat ons vroeër vanuit ons bekende huisie in die verte gesien lê het, nou nie na `n dal kyk nie, maar in plaas daarvan, oor die mooiste, wyd uitgestrekte en vrugbare velde, wat hom vanaf ons standplaas, en op gelyke hoogte daarvan, heeltemal vlak voor ons uitstrek. Maar julle verbaas julle nog meer oor hoe die rivier, wat julle al vroeër gesien het, daar buitengewoon mooi en breed, vry en oop teen die gebergte opstroom.
11 Julle sê: Maar beste vriend, dit is tog kennelik baie onnatuurlik! Julle het gelyk, solank julle so `n fenomeen met wêreldse oë bekyk, maar geestelik gesien is dit baie anders, en tog netso natuurlik as wat dit op `n ander hemelliggaam natuurlik is, dat die water van bo na benede stroom.
12 Julle vra: Hoe dan so? Dit kan ons nie goed begryp nie. Dit dink ek wel, maar tog sou julle al so ver moet wees dat julle ook die verskynsel uit julleself sou kan begryp. Vertel my net: Waarom stroom die water op die hemelliggame dan na benede? Julle sê: Deur sy eie gewig. Wat bepaal dan die gewig van die water? Julle sê: Die aantrekkingskrag van die sentrale swaartepunt van die aarde, of van `n ander hemelliggaam. Goed geantwoord! As die sentrale swaartepunt van die aarde die gewig en dus ook die na benede stroom van die water bewerkstellig, wat ken julle in hierdie geestelike omgewing dan in so `n sentraal, alles na hom toe trekkende, gravitasiepunt? Is dit nie die Heer, wat woon in die allerhoogste hoogte nie?! Kyk, om die rede is die stroom van die water teen die berge op, hier ook netso geestelik natuurlik as wat dit op die hemelliggame natuurlik is dat die water na benede stroom. Dit begryp julle nou; hopelik kan julle dan ook begryp wat die gebergte, en die uitstrekkende land daaragter wat op gelyke hoogte is, beteken.
13 Julle sê weliswaar: Ons het wel `n vae vermoede, maar baie beslis kan ons onsself nog nie daaroor uitspreek nie. Maar ek sê vir julle dat so-iets, juis uit julle mond, baie eienaardig klink, want waarom het julle dan in `n huis met verskeie verdiepings trappe aangebring en waarvoor dien dit? Julle glimlag en sê: Dit spreek tog vanself. Hoe kan mens anders van `n laer na `n hoër verdieping gaan? Mens sou hom met veel moeite met `n tou omhoog moet laat trek. Goed, omdat julle die huise op aarde al so gerieflik inrig, kan julle tog nie dink dat die groot Boumeester dalk minder goeie insigte sal hê as julle nie?
14 Het julle nooit gehoor hoe die ou Jakob eens gedroom het oor `n leer waarlangs engelgeeste op en af gaan, terwyl die Heer Homself bo die leer bevind het? Kyk, hier het ons al `n sport of trap van juis hierdie hemelleer. Omdat elke tree van hierdie hemelleer egter beduidend meer beteken as `n tree van `n trap in julle huise, sien ons op hierdie eerste trap dan ook tallose, wonderbaarlike en heerlike dinge, wat ons egter eers by die volgende geleentheid van naderby sal bekyk, en dus is dit weer genoeg vir vandag.”
|
|
|
|
|