Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 30

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

`n Geestelike filosoof en `n dweper

30 Kyk, as julle iets kan onderskei, kan julle so `n vyftig normale treë van ons vandaan, weer `n ander paar sien. Laat ons reguit daarheen gaan, dan sal ons hulle dadelik bereik. Ook dié paar hoef ons nie te sien nie. Ons vind wel `n plekkie vir ons doel, dus gaan ons maar lewendig daarop af, sodat ons weer iets nuuts te hore kry. Wel, ons is al by hulle en soos julle sien, is daar hierdie keer by dié paar `n verskil in geslag vas te stel. `n Besondere arm vrou, wat uitgeput lyk en `n man, wat byna tot op die laaste druppel bloed uitgeteer is, en nouliks nog genoeg krag blyk te hê om hom moeisaam voort te sleep. Kyk, sy reik hom die hand en verwelkom hom.

2 Luister nou, wat hierdie twee alles met mekaar sal bespreek. Sy sê: “Die liewe hemel mog u groet! Dit verheug my van ganser harte dat die liewe toeval ons eindelik net bymekaar gebring het. Tog moet ek aan u beken, dat ek nooit gedink het om u op so `n plek te ontmoet nie, want ek het altyd gedink dat u, God weet hoe salig, al in die hemel is omdat u, vir sover ek my kan herinner, op aarde tog so `n vroom en opregte man was. U was tog `n baie geleerde professor in die geestelikheid en deur u het daar soveel goeie en waardige geestelikes in die sielesorg gegaan. En nou, liewe hemel, moet ek u hier op hierdie miserabele plek, so ellendig aantref, waarin ek, die liewe God weet waarom, ook twee maande gelede beland het.”

3 En hy sê: “Ja geagte vriendin, dit spyt my egter dat u uself ook hier bevind, maar dit is nou eenmaal so. U is, netsoos ek, as `n uitgedroogde hier. Die hemel (as hy bestaan) weet, hoe ons op aarde goue verwagtings gekoester het oor `n gelukkige lewe in die hiernamaals. Maar hoe gelukkig die lewe is en wat die loon is vir al ons goeie dade op aarde, ervaar ek nou reeds verskeie jare en u, geagte vriendin, volgens wat u sê, ook al twee maande lank.”

4 Sy sê: “Nee, my liewe hemel, as ek daaraan terugdink wat `n streng lewe u gelei het, en hoe u op aarde heeltemal geen besitting gehad het nie. Wanneer u gepreek het, het alle mense in die kerk tog maar gesit en sug en ween en watter mooi lesse en vermanings het u nie in die biegstoel gegee nie. Hoe aandagtig het u nie die heilige misoffer opgedra nie; daarom kan ek werklik nie begryp hoe u hier beland het nie. Vir mense soos ons, is dit wel te begryp, want `n mens het miskien menige sonde in die bieg verswyg, omdat `n mens dit, ondanks alle gewetensondersoek nie meer kon herinner nie. Maar hoe u, wat tog alles goed geken het, en sy lewe met al sy doen en late sekerlik grondig ondersoek het, hier beland het, dit sal, soos gesê, die liewe hemel weet, as daar een mag bestaan. Het u dan glad geen vermoede waarom u hier beland het nie?”

5 Hy sê: “O, geagte vriendin, ek het maar al te veel vermoedens, maar my vermoedens hieroor sal u nie maklik begryp nie.” Sy sê: “O, ek smeek u, vertel my maar vrymoedig iets daaroor; wie weet of dit nie vir my van nut kan wees nie. Hy sê: “Wel, ek sal u die een en ander daaroor vertel, maar dit is nie my skuld as u niks daaraan sal hê nie. Daarom sal ek u openlik sê wat my vermoede is.

6 Ek vermoed dat daar nóg `n God nóg een of ander hemel bestaan en ek vermoed om gegronde redes dat ons mense niks anders as die werk van die natuur is nie. Wanneer die growwe materie soos `n omhulsel van die natuurlike lewenskrag wegval, bly die natuurlike lewenskrag nog `n tyd lank bestaan. Maar ook sy sterf geleidelik aan af; die krag versprei hom in die ruimte soos die krag van die buskruit buite die loop van `n kanon, en dan is dit met die mense, wat soveel hoop en verwag, vir ewig gedaan. As u my goed aankyk en sien hoe ek nou reeds die uiteindelike totale ontbinding en vernietiging nader, sal my vermoede, selfs in hierdie stikdonker nag, nog helderder vir u word as die son, op `n helder middag op aarde.

7 Sy sê: “Og, my liewe hemel, as hy bestaan, soos u sê! Dit is tog verskriklik! Ja, ja, u moet dit tog beter weet as ek. Op aarde het ek ook soms gedink, soos my eens `n egte geleerde en vername heer gesê het, dat daar niks meer is na die dood nie. Nou sien ek eers in dat die heer die waarheid gepraat het; daarom sal dit mettertyd ook met my gaan soos dit nou met u gaan. Op aarde het ek, as dit egter sleg met my gegaan het, tog altyd nog kon sê: My God en my Heer, verlaat my nie! Maar wat kan ek nou doen, as daar geen God bestaan nie? Sou u my, geagte vriend, dan ook nog wil sê hoe dit vervolgens met Christus en Sy moeder, die maagd Maria, wat allersalig sou wees, gaan? Waarom het ons dan op aarde soveel rosekranse tot beide van hulle moes gebid het, en waarom het u so baie misse so aandagtig gelees, as dit alles is soos wat u nou vir my gesê het?”  

8 Hy sê: “Ja liewe vriendin, dit het vir my ook egter eers hier duidelik geword. Die hoë here op aarde het die gewone volk immers nie in toom kon hou as hulle nie een of ander god, en dus een of ander religie vir hulle uitgevind het nie. Met religie egter is dit `n maklike spel by die in bedwang hou van die dom gepeupel. Dit werk dan egter ywerig vir hulle, sodat hulle hulleself, sonder om hulle oor een of ander werk te bekommer, in hulle paleise en kastele op sagte beddens en stoele onbekommerd kan vetmes. Daarom was geestelikes en leraars ook oral aangestel wat self behoorlik dom gehou was om dan, op hulle beurt, ook weer die gewone volk dom te hou. Wanneer sulke geestelikes egter dan tog hulle verstand begin gebruik, word hulle gou bevorder, waardeur hulle dan ook `n goeie lewe kan lei sodat hulle verstand geen gevaar oplewer vir die hoë here nie. Maar om so `n religie, wat op sigself niks beteken nie, `n meer betekenisvolle tintjie te gee, moes hulle met allerlei mistieke, dit wil sê, niksseggende seremonies, opgesier word, anders sou dit nie op die gewone volk die vereiste uitwerking gehad het nie. Sien u, geagte vriendin, so was dit ook in my geval.

9 Op aarde het ek baie goed ingesien dat dit met die lewe in die hiernamaals baie anders gestel moet wees as wat ekself vanaf die kansel gepreek het. Ek het my hieroor, wel te verstane, slegs baie vertroulik teenoor die groot maghebbende here uitgelaat en vir opheldering gevra. Die opheldering het ek egter nooit gekry nie, maar in die plek daarvan gryp ek al spoedig, ek weet self nie hoe en waarom nie, `n belangrike promosie: Ek word `n goedbetaalde professor en ten slotte selfs rektor van `n kweekskool. Ek dink egter dat die here dit ingesien het dat ek te skrander was vir `n laer pos. Daarom het hulle my `n beter een gegee, sodat ek met my skranderheid, uit eie belang slegs nuttig en nie skadelik sou wees nie. Ek het weliswaar altyd as `n doodeerlike man geleef, maar wat dom was van my en waaroor ek nou nog spyt is, is dat ek, om te begin, tog nie heeltemal ingesien het dat ek met so `n promosie bedrieg was nie; en vervolgens, dat ek op my goedbetaalde pos, al was dit maar oënskynlik, dan tog vir my eie welsyn, `n te dwase, geestelike streng lewe gelei het. Ek het wel daarby gedink: So `n lewe van selfverloëning sal my sekerlik binnekort `n biskoplike waardigheid besorg. Maar daarin het ek my liederlik vergis, want die hoë here het presies bereken dat ek vir die pos wat aan my toebedeel was, die regte graad van domheid besit het, sodat ek nie meer gevaarlik vir hulle kon wees nie. Daarom het hulle my ook onbesorg op my plek gelaat. Sien u, geagte vriendin, so staan dit, wat religie betref, met alles in die wêreld. Daarom het ek ook al in die begin gesê dat ons beide bedrieg is.

10 Sy sê: “Nee maar, nou gaan daar vir my vir die eerste keer `n lig op! As ek maar dit op aarde geweet het, hoe plesierig kon ek dan nie gelewe het nie! Want ek was soos mense sê, `n mooi en bowendien welgestelde meisie. Hoeveel keurige jong manne het nie na my guns gewedywer nie, maar uit suiwer godsdienstigheid durf ek nouliks iemand aan te kyk en het terwille van Ons Liewe Heer en die salige maagd Maria, `n oujongnooi gebly en het bowendien al tydens my lewe byna my hele vermoë aan die kerk bemaak.

11 O, hoe dom was ek nie! Het ek maar `n vrolike hoer geword, dan het ek dit nog ietwat geniet! Nou is op my die spreekwoord: “`n Bang hond word selde vet”, van toepassing. Nee, beste vriend, as dit werklik is soos wat u daar gesê het, dan sou ek wel alles wil verwens en vervloek! Maar nee, dit sal ek nie doen nie. As dit met my egter slegter sal gaan, sal ek tog, al is dit maar gewoonte getrou, God en die salige maagd Maria aanroep. Op aarde, dit kan ek my goed herinner, het die aanroep van Christus en ons liewe vrou my tog etlike kere gehelp; daarom dink ek, ook al sou hulle nie bestaan nie, dat ek deur die aanroep miskien niks gewen, maar tog ook niks verloor het nie. Ek hoef my trouens egter geen verwyte te maak dat ek deur my lewenswandel, by wyse van straf, nou hier, in die duistere oord moet wees nie. Die enigste is dat ek my miskien te veel met die geestelikes opgehou het, dit het egter nie my eer en sedelikheid aangetas nie, want op daardie gebied het ek my nooit iets gegun nie. Ek het wel dikwels mense, wat vir my sleg gelyk het, swartgesmeer en het hulle soms, natuurlik maar net by die geestelikes, ook flink deur die slyk getrek. Met hulle het ek ook alle Lutherane, Jode, Turke en heidene in die Naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees vervloek; maar die geestelike here het gesê dat mens dit, as `n reggelowige Christen, sekerlik moet doen. Hulle het dit egter wel dat `n mens daarna ook vir hulle moet bid, sodat hulle kan oorgaan tot die ware religie. Dus het ek dit ook gedoen en het hulle eers, soos dit betaam, vervloek en daarna vir hulle gebid. Dit sal miskien ietwat verkeerd gewees het; verder sou ek werklik niks weet nie. Aan die armes het ek ook gegee; weliswaar nie soveel nie, want ek het eerder my vermoë aan die kerk gegee, omdat ek gedink het dat die geestelikes dit beter kon verdeel as ek. So het ek, hoe meer ek oor myself nadink, egter “volkome onskuldig” hier beland. Maar natuurlik, as dit is soos wat u vroeër gesê het, dan het die een my netso min as die ander geskaad of gebaat.

12 Maar soos gesê, ek bly by die aanroep van God en ons liewe vrou en sal my dan ook op hierdie plek voortsleep solank dit kan. Miskien kom ek mettertyd iemand anders teë wat my iets beter kan vertel as u, my origens baie gewaardeerde vriend. En vaarwel dus, want ek sien goed in dat ek nie gelukkiger word in u geselskap nie. Dit sou ook vir my baie beter gewees het, volgens wat ek nou voel, dat ek u gladnie ontmoet het nie! Want nou sien ek eers duidelik in dat domheid gelukkiger maak as `n verstand wat nog so skerpsinnig is.

13 Ek is maar bly dat ek nie in die dikwels gevreesde “vagevuur” of selfs in die hel beland het nie. Want eintlik gaan dit nog gladnie so sleg met my nie, omdat ek, behalwe honger, geen pyn het nie. Die honger moet ek weliswaar met gras stil, wat hier nog volop voorhande is. As dit maar net nie erger sal word nie, sal ek hierdie kos wel wen. Vaarwel dus!” 

14 Hy sê: “Ja, ja, aan u ook vaarwel en sorg maar dat u van u grasetery goed swaarder word. Ek wens u in ieder geval `n goeie eetlus toe! Origens het ek nog nie die geluk om op `n oorvloedige grasland af te kom nie, maar mos, en wel baie skaars, was tot nou toe my enigste voedsel.

15 Kyk, beide verwyder hulle; hy meer in `n noordelike rigting, sy egter meer in die rigting van die middag.

16 Julle sê: “Waarom hulle hulleself hier in hierdie omgewing bevind, sien ons eintlik nie so goed in nie. Wat hom betref lyk dit, te oordeel aan sy uitlatings, gegronde redes te hê.”

17 “My liewe vriende! Dit sou julle tog op die eerste oogopslag moes gesien het. Hoe is dit dan met die liefde gestel van iemand wat bepaalde dinge doen waarvan hy of sy self dink dat dit goed is, maar dan veral terwille van die loon wat onmiddellik, of in die toekoms, daarop volg? Is dit nie eieliefde nie? Want wie die goeie en die regte doen, uit watter eiebelang dan ookal, hou te veel van homself en doen alles om homself so goed moontlik te versorg. So was dit vir haar ook maar net om die hemel te doen, en waarvoor sy haar hele hawe en goedere weggegee het, soos wat `n ander, een of ander aardse goedere, met sy vermoë koop. Van waaragtige liefde vir Christus, wat altyd hoogs onbaatsugtig moet wees, het hulle egter geen flou idee nie! Daarom moet haar honger hier na beloning ook heeltemal uitgedryf word, en moet sy genoodsaak word om God terwille van Hom Self te soek en na Hom te verlang. Eers dan sal dit vir haar moontlik wees om nader aan die ware liefde en genade van die Heer te kom. So moet ook hy hom eers gevoelsmatig as volkome vernietig beskou, voordat hy in staat sal wees om `n hoër genade te ontvang.

18 Tog moet julle niemand as totaal verlore beskou nie, maar weet wel dat daar vir menigeen volgens julle tydrekening honderd, duisend en nogeens duisend jaar kan verbygaan, voordat hy in staat sal wees om `n hoër genade te ontvang.

19 Sodat julle egter nog van naderby kan ervaar om welke verskillende redes baie mense hier beland, sal ons onsself nog verder voorwaarts begewe. Eers wanneer ons hele geselskappe sal ontmoet, sal `n nog baie groter lig vir julle opgaan en dan sal julle sien, met welke talryke dwaashede, die sogenaamde “beter mensdom”, wat teenswoordig op aarde lewe, in wese behep is en dat hulle hulle goeie dade veral uit eiebelang verrig. En daarby laat ons dit vir vandag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205