Waar bevind die heidene hulle aan die anderkant?
40 Dat daar in die welbekende aandelike naggebied nog baie, ja talloos baie situasies bestaan soos wat ons dit tot nou toe leer ken het, hoef nouliks nog vermeld te word.
2 As iemand vra: “Waar is die heidene dan wat nuut hier aangekom het? Dan sê ek ook vir julle dat hulle meestal in hierdie omgewing beland, maar dat sulke plekke van aankoms desondanks hier streng van mekaar geskei is, sodat `n heiden onder hierdie omstandighede nie in die omgewing kan kom van plekke waar gelowige Christene van welke sekte dan ook, beland nie.
3 Daardie onderskeid word selfs in die hel gemaak en nêrens word, soos julle miskien dink, alles sonder enige orde deurmekaar gewerp nie. So `n onderskeid is absoluut noodsaaklik, want sou sulke geeste bymekaar gelaat word, dan sou hulle mekaar, as gevolg van hulle innerlike kwaadaardigheid, dermate ten gronde rig dat hulle langs geen enkele weg, behalwe langs die van totale vernietiging, meer te bereik sou wees nie.
4 Julle moet dit as volg vir julle voorstel: Soos daar op aarde verskillende elemente bestaan wat mekaar voortdurend vyandig bejeën en vernietig, so bestaan daar in die geestelike sfere ook sulke basiselemente wat nie met mekaar in aanraking mag kom nie. Sou hulle wel met mekaar in aanraking kom, dan sou daar in die geestelike sfere soortgelyke effekte te voorskyn kom as wat `n mens op aarde sou kry wanneer mens vuur en droë strooi of vuur en buskruit bymekaar sou bring, of wanneer mens water oor `n uit leem opgeboude gebou sou laat stroom. Daarom is in die geesteswêreld, waar vir geen gees enige terughoudendheid meer moontlik is nie, so `n onderskeid streng noodsaaklik.
5 Wanneer iemand sou vra: Hoe lyk dit dan eintlik op die aankomsplek van heidense geeste? Dan sal aan hom gesê word dat dit vir `n Christelike gees nie veilig is om met, watter gees dan ook, sulke plekke te besoek nie.
6 Slegs die Heer Self sou iemand moet bring en begelei, anders sou dit vir elkeen eerder gevaarlik as nuttig wees om sulke plekke te besoek.
7 Maar voor ons onsself na die omgewing van die middag begewe, sal ons eers nogeens kyk wat ons geredde man doen, en in welke omstandighede hy nou verkeer. Kyk, ons rotswand staan alweer oop, daarom sal ons terstond van hierdie geleentheid gebruik maak en ons deur die spleet na die uiterste grens van die kinderryk begewe. Kyk, ons is al daar. Die wand het hom weer agter ons gesluit en ons sal ons nou in die baie nou dal, wat langs die wand na die middag loop, begewe. Kom dus vinnig saam met my!
8 Kyk, daar ver op die agtergrond is `n moerasagtige, vogtige hoek te sien en daar heeltemal agterin staan `n eenvoudige houthut waaromheen dit taamlik donker is, omdat hierdie hoek deur hoë rotse ingesluit word. Daarheen sal ons gaan, want ons man is nou daar geplaas.
9 Julle vra: “Waarom dan in so `n eensame woesteny en bowendien nog in so `n moerasagtige, vogtige uithoek? Beste vriende, met sulke geeste wat moeisaam uit die hel gered is, kan mens in die begin onmoontlik anders handel, omdat sulke mense tog altyd iets van die hel in hulle opgeneem het, wat ooreenkom met die vuur uit die hel, omdat hy steeds min of meer deur `n noodgedwonge selfsugtige begerigheid, want dit is soos bekend, eie aan elke noodsituasie, dat hulle die selfsug in sekere mate as permanente begeleidster het. Wie hom in gevaar bevind, vergeet gewoonlik alles en is slegs op eie redding bedag. Die arme bedel slegs vir homself en die sieke soek slegs vir homself `n geneesmiddel. Wie in die water val, probeer hom te red en wie die vlamme reeds bo sy hoof sien uitkom, dink gewoonlik net aan homself en probeer aan die verwoestende element te ontkom. Eers wanneer hyself in veiligheid is, dink hy aan die ander wat dieselfde lot met hom deel.
10 Daarom is hierdie plek baie doelmatig vir ons man. Die vogtige bodem is geskik om sy selfsugtige vuur te doof en die taamlike groot duisternis sal ook baie heilsaam wees vir sy oë wat aan die digte duisternis gewoond was. `n Skielike sterk lig sou netso fataal vir hom wees as die felle sonstrale vir die oë van `n pasgebore kind. Bowendien kom sy hele houding hier ook presies ooreen met die renteberekening van die kapitaal, wat hy as Christen uit geloof en liefde vir die Heer aan die egte armes gegee het. Daaronder moet julle nie verstaan, die bekende bemakings wat hy vóór sy oorgang van die aarde na die geestesryk opgestel het nie, maar slegs die skenkings wat hy as gelowige Christen heeltemal in die geheim vanuit sy eie gevoel van medelye aan die armes verstrek het. Daardie kapitaal kan egter alles bymekaar, nouliks iets meer as so `n tweehonderd gulde in silwermunte bedra het. Wanneer julle die kapitaal, wat hy eintlik uit liefde tot die Heer aan die armes gegee het, vergelyk met die groot kapitaal wat hy vir syne nagelaat het, dan sal julle ook die matematies korrekte vergelyking vind tussen sy eieliefde en sy liefde vir die Heer.
11 Ook so `n oordrewe sorg vir die kinders is eieliefde, want wie die Heer meer sou liefhê as homself in sy kinders, sou ook na verhouding meer vir die Heer gegee het as vir homself in sy kinders. Julle vra: “Waarom dan? Omdat die Heer hom daardeur die insig sou verleen het waardeur hy sonhelder sou ingesien het dat die Heer oneindig veel beter vir sy kinders kan sorg en hulle ook beter sou versorg as wat hy homself en sy kinders uit eieliefde versorg het. Die Heer het nie gesê: “Wat julle vir julle eie kinders sal doen, dit het julle vir My gedoen, maar Hy het slegs aan die armes, naaktes, hongeriges, dorstiges en gevangenes gedink en toe gesê: “Wat julle vir hulle gedoen het, dit het julle vir My gedoen.”
12 Hy het ook nie gesê: “As julle in My Naam julle eie kinders opneem, dan het julle My opgeneem nie, maar Hy het by `n geleentheid, waarby baie armes hulle nog armer kinders na Hom toe gebring het, slegs gesê: “Waarlik, wie so `n arm kind opgeneem het in My Naam, die het My opgeneem”.
13 En verder sê die Heer nog: “Wie sy vader, sy moeder, sy vrou, sy broer en sy kinders meer liefhet as vir My, is My nie waardig nie.”
14 Hier sou menigeen wil sê: “Dit alles het tog net `n diep geestelike betekenis. O ja, sê ek, die allerdiepste, omdat dit `n allersuiwer en regstreekse woord is van God. Maar daarop vra ek: Waarom soek julle die goud nie op die oppervlakte van die aarde nie, maar grawe julle diep skagte en uitgestrekte myngange? Julle vra: Hoe moet ons dit begryp? Ek sê vir julle: Niks is makliker as dit nie; wie by die goud wil kom, moet ook aandag bestee aan die bolaag van die aarde, want dit moet hy deurbreek om uiteindelik deur die buitenste aardkors heen by die inwendig geleë goudlae te kom. So moet ook die letterlike betekenis van God se woord eers geheel in ag geneem word, vóór mens die geestelike kan begryp, weliswaar in sy korrekte en doelmatige betekenis.
15 Wanneer julle ons man nou bekyk, dan sal julle ontdek dat hy meer as `n miljoen eieliefde en slegs iets meer as tweehonderd gulde liefde vir die Heer saamgebring het. Dit is wel `n baie treurige situasie. Sy behuising is egter, soos julle sien, presies aangepas volgens die rente van die kapitaal. Dit kom dus nou daarop neer, hoe hy die kapitaal sal gebruik. Dit sal nie uitbly dat daar van die teenoorgestelde kant baie armsalige wesens hom sal besoek, wat om hulp sal smeek nie. Gaan hy al sy kragte insit om sulke arme broers, soveel as wat maar moontlik is, met die allernoodsaaklikste te versorg, dan sal sy klein kapitaal baie gou vertienvoudig, ja verhonderdvoudig word, waardeur hy dan in beter oorde geplaas sal word. Hy sal egter nie langs die aangegewe weg tot die Heer kom nie, voordat sy verworwe kapitaal hier nie tienmaal groter geword het as dit wat hy vir sy kinders, of sy eieliefde nagelaat het nie. Tog is uitsonderlike gevalle ook hier moontlik, maar dit moet van dusdanige aard wees soos wat julle heel in die begin as voorbeeld gesien het; dit wil sê, as iemand alles wat hy het, weggee en bowendien nog sy broers met al sy kragte ondersteun, is by so `n geleentheid ook `n baie spoedige en volkome verlossing uit hierdie plek moontlik. In daardie geval lyk so `n mensegees dan soos die vrou wat in die tempel geoffer het, terwyl ander ook geoffer het. Die vrou het weliswaar, vergeleke met die ander, die kleinste offer gehad, maar toe die Heer gevra het, wie van almal die meeste geoffer het, sê die mense: Kyk hierdie, en daardie! Maar Hy antwoord: “Hierdie vrou het die grootste offer gebring, want sy het alles gegee wat sy besit het.
16 Soos julle sien, is dit hier dus `n volkome regverdige, louteringskool vir die ewige lewe, wat op die groot liefde en ontferming van die Heer gegrond is.
17 Aangesien ons nou al hierdie dinge, wat goed deur elkeen in ag geneem moet word, leer ken het, kan ons hierdie streek gevolglik verlaat en ons na die middag begewe. Julle vra weliswaar na die weg, maar ek sê vir julle: Maak vir julle geen sorge daaroor nie, ons sal by hierdie oorgang nie soveel tyd nodig hê as op die weg hierheen nie. Maar ons sal ons waaragtig geestelik op pad begewe en dan ook dadelik daar wees, waar ons wil wees. Op die weg daarheen moet daar weliswaar nog met baie tussenstadia rekening gehou word, maar omdat dit volkome lyk soos wat ons reeds agter ons het, hoef julle maar net alles, wat julle tot nou toe gesien het, egter goed onthou, dan sal julle al hierdie oorgange wat van hierdie streek na die middag lei, maklik vir julle kan voorstel.
18 Die uitgestrekte water vorm die vernaamste skeidingslyn, wat mens nie langs die gebruiklike weg kan oorskry nie, want die groot water dui op die hoë graad van wysheid wat nodig is om in die middag te kom. Daarom moet hulle in die oorgaan na die middag baie sterk word in die vuur van die liefde, sodat hulle `n ooreenkomende graad van wysheid kan verkry soos dit deur die uitgestrekte water aangegee word. Aangesien ons dit nou ook weet, sal ons onsself die volgende keer, soos gesê, sonder om verder te kyk, dadelik na die stralende middag begewe. Dus genoeg vir vandag.”