Oord van duisternis. Daar is `n geween en tandegekners
31 Kyk, daar taamlik ver van ons vandaan, waar `n baie sagte rooiagtige grys lig te siene is, is reeds `n geselskap van so dertig mense van albei geslagte. Laat ons met vars moed daarop afgaan, dan sal ons hulle spoedig inhaal. Wel, kan julle al iets onderskei? Julle sê: “O ja, dit lyk asof dit `n bont gewirwar is; dit kom vir ons voor asof die geselskap handgemeen met mekaar is. Ek sê vir julle: “Dit het julle nie verkeerd gesien nie, maar so-iets is slegs `n skynwerklikheid. Op enige afstand lyk `n geestelike dispuut asof hulle handgemeen met mekaar is. Laat ons daarom nog bietjie nader gaan, dan sal die situasie daar al dadelik baie anders lyk. Kyk maar, hoe nader ons aan die geselskap kom, des te rustiger word hulle hande; maar in die plek daarvan hoor ons van alle kante `n soort geknars, soos van `n koringmeule by julle. Af en toe hoor julle ook `n stem wat iets weg het van `n gehuil.
2 Julle sê: “Dit lyk byna asof hier bewaarheid word wat die Heer aan die kinders van die lig gesê het oor diegene wat in die uiterste duisternis uitgestoot sal word: Daar sal “`n geween en tandegekners” hulle lot wees! Ja, ja, beste vriende, dit word ook daarmee bedoel en dit het heeltemal dieselfde betekenis. Wat egter geestelik gesien, onder die gehuil en tandegekners en die uitgestoot word in die buitenste duisternis, verstaan moet word, sal julle dadelik met julle eie ore en oë ervaar. Nog enkele tree en kyk, ons is al waar ons wil wees.
3 “Wat sien julle hier?” Julle sê: “Die aanblik is nog nie so sleg nie; afgesien van die baie uitgeteerde gesigte waaraan ons reeds gewoond is hier, lyk die geselskap baie draaglik. Hulle staan rondom `n spreker wat juis aanstaltes maak om `n voordrag te hou.
4 “Liewe vriende, julle het gelyk. Juis vir hierdie redevoering het ek julle hierheen gelei. Julle sê egter: Aangesien die hele ryk van die nag slegs `n eindelose vlak sandbodem blyk te wees en ons hier nêrens `n verhoging gevind het nie, sou ons net graag wil weet hoe dit vir hierdie spreker moontlik is om hom `n klein entjie bo sy toehoorders te plaas. Dit is goed dat julle dit vra, want hier het die mees onbeduidende `n groot betekenis. Hierdie spreker het `n heuweltjie van sand opgewerp en vasgestamp, maar soos die samestelling van sy sprekerspodium is, so sal sy toespraak ook wees. So lank die spreker rustig op sy sandpodium bly, sal dit hom goed dra. As hy egter `n bietjie meer houvas daarop wil soek, sal die sandheuwel inmekaarsak en sal hy vanaf sy hoogte omlaag kom tot op dieselfde bodem waarop sy toehoorders is. Nou het hy `n teken gegee dat hy sal praat; dus sal ons ook in die verborgene baie goed na hom luister.
5 Kyk, hy begin; luister dus maar. “Geagte vriende en vriendinne, ek het van julle almal persoonlik verneem hoe julle op aarde alles en elkeen afsonderlik, die een op die een, die ander op `n ander gebied, as volkome opregte en eerlike burgers geleef en gehandel het. (Instemming van alle kante.) As “goeie Christene” was julle ook in die regte mate weldoeners vir die noodlydende mensdom. By alle ongelukkige gebeurtenisse het julle name by die grootste skenkings, met groot letters in alle koerante gestaan. Dit was ook nie meer as billik nie, want selfs `n blinde en dowe moet kan insien, dat daar, met betrekking tot ondersteuning, niks bestaan wat meer lof- en prysenswaardiger is, as die bekendmaak van die name van die mense, wat altyd liefdadigheid beoefen het nie. Ten eerste weet die arme mensdom, deur so `n openbare bekendmaking, tot wie hulle hulle in tye van nood moet wend, en ten tweede word daardeur duidelik tog nog ander aangemoedig om toe te tree tot die aangename, mensliewende kringe van die bekende groot weldoeners van die mensdom. (Luide byval van alle kante.)
6 Ja, julle was altyd daarby as dit gegaan het oor die stigting van liefdadige instellings en ek kan met diepe ontroering in my hart sê, dat julle in die ware sin van die woord ware, edele en eerbiedwaardige burgers van die aarde was. (Buitengewone byval van alle kante en mens hoor die toehoorders met groot ontroering sê: Heerlike, goddelike spreker, goddelike man!)
7 Julle het die kunste en wetenskappe altyd gesteun, julle het die staat trou as voorbeeldige burgers gedien, ja, mens kan van julle sê dat julle volkome volgens die sin van die evangelie geleef het, want julle het, soos wat elkeen weet, altyd aan God gegee wat van God is en die keiser wat van die keisers is. Nooit was eer en roemsug die beweegredes van julle edele dade nie, maar altyd was die absolute noodsaaklikheid die dryfveer vir al die groot en pragtige wat julle tot stand gebring het. (Weer besonder baie byval vermeng met trane, gesug en geween!) Sodoende was julle lewe onberispelik, soos die son aan die mees heldere hemel, dit wil sê geagte toehoorders, soos dit was op die aarde waar ons geleef het; want hier is geen spoor van `n son te sien nie. Maar, geagte toehoorders, staan my nou toe om `n groot en belangrike vraag te stel:
8 Wat is nou julle beloning vir sulke voortreflike en eervolle handelings? Waar is die hooggeprese hemel wat belowe was aan diegene wat hulle steeds as suiwer en voorbeeldige Christene waargemaak het? (Baie groot instemming van alle kante en verskeie stemme sê nog klaend na: Ja, waar is die bedrieglike hemel waarvoor ons, om dit te verwerf, soveel offers gebring het?)
9 Geagte toehoorders, hierdie sandgrond hier, hierdie meer as “Egiptiese duisternis” en ons karige “moskos” is die beloning en die hemel wat die priesters ons so buitengewoon pragtig voorgeskilder het! (Weer besondere byval.)
10 Waar is die regverdige God vir wie julle so baie edele dade verrig het? Want daar staan immers in die evangelie: “Wat julle vir die armes sal doen, dit het julle vir My gedoen, en julle sal daarvoor in die hemel `n groot skat ontvang.” Verder staan daar: “Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle in oorvloed gemeet word.” Wel geëerde toehoorders, dit het julle alles gedoen; julle het duisend armes ondersteun en was altyd besonder regverdig volgens maat en gewig.
11 Maar waar is die skat in die hemel nou en waar die ryklik teruggegewe maat van alle weldade wat julle as waaragtige Christene gedoen het? (Daar klink nog na: Ja, waar is dit alles?)
12 Hier het ons dit: Die hemelse skat is hierdie duisternis en die hooggeprese beloning wat in die hemele oorvloedig oor ons uitgestort sou word, bestaan uit die skaars mos wat op aarde gebukkend deur die eland gevreet word, maar waarmee ons onsself nou moet versadig as `n hooggeprese hemelse loon.
13 Hoe dikwels het ons op aarde by verskillende besondere geleenthede die “Te Deum laudamus”* ingesit en het die priesters ons van alle kansels toegeskreeu: Daar in die glansende ryk van die hemele sal julle eers die groot en ewige “Te Deum laudamus” insit. Geëerde toehoorders, veroorloof my om hier `n vraag te stel en dit lui as volg: *(Te Deum laudamus - `n vrolike komposisie deur Marc–Antoine Charpenter (1690) gepaardgaande met feestelike trompette)
14 Hoe is dit nou hier in die pragtige hemelryk met die so hooggeprese “Te Deum laudamus?” Julle haal julle skouers op; werklik, ek sou nie net met my skouers wil protesteer nie, maar met my hele liggaam, as ek nie daardeur moet vrees dat my baie wankelrige sprekerspodium my van my hoë standplaas sou laat val nie. Ek dink, sonder om verby te wil gaan teen iemand se moontlike goeie mening, dat ons kele deur hierdie buitengewone vet kos vir hierdie verhewe lied nouliks `n klankvolle stem sal kry; nou doen, in hierdie helder glansende hemel, `n baie gewigtige vraag hom tog nog voor, naamlik:
15 Bestaan daar eintlik wel een of ander God? En die “met Abraham en Isak plaasneem aan `n met hemelse spyse welvoorsiene tafel” lyk hier ook nie vanselfsprekend te wees nie! As ek nou op aarde sou wees, kon ek my daarop beroem om een van die mees steekhoudende uitleggings oor dergelike veelbelowende skriftekste te kan saamstel. So sou ek “Abraham en Isak” as duisternis en sand voorstel en die welvoorsiene tafel as die mooi Yslandse mos, `n werklik waardige kos vir rendiere en elande! En aan diegene wat aan ons kan sê dat ons beter daaraan toe is as hierdie armsalige diere van die ysbedekte noorde, sal ek my wankelrige podium oombliklik afstaan. Ek dink egter dat ons, om dit in te sien, slegs aan ons buik hoef te voel om te verneem, hoe hierdie swaar verteerbare kos nog soos dor strooi daarin rondbruis. As ons bowendien nog `n blik op hierdie goed glansende grond werp, dan is die bewys vir ons eland en rendierskap meer as duidelik gelewer.
16 Die goeie wêreldverlosser, Christus, het waarskynlik ook nie goed geweet hoe die hemelryk, waaroor Hy gepreek het, lyk nie, want as Hy dit geweet het, dan sou Hy Hom verseker nie aan die kruis laat slaan het nie. As Sy geprese God Vader Hom dit, na die kruisiging, netsoos ons, laat sien het, dan sal hierdie in wese werklik eerbiedwaardige Man baie verbaas gestaan en kyk het, toe Hy uiteindelik die deur Hom ingestelde heilige avondmaal verander gesien het in hierdie mooi mosvlakte. Om dit te sien, moet ons sekerlik nie minder moeite doen as die pêrelvissers om die pêrels te sien op die bodem van die see nie. Dat dit alles werklik so is, hoef verder gladnie meer bewys te word nie. Maar nou, geëerde toehoorders, stel ek julle `n ander belangrike vraag en dit lui as volg:
17 Ons is nou eenmaal hier, dit staan soos `n paal bo water; maar hoe lank moet ons in die sober ryk bly woon? Sal dit met ons bestaan ooit nogeens goed afloop? Of sal ons die allersaligste genoeë hê om miskien vir ewig rond te moet dool in hierdie, met seëninge oorspoelde landerye? Kyk, dit is `n buitengewone belangrike vraag; maar juis hierdie belangrike vraag roep om iemand wie haar sou wil beantwoord. Geëerde toehoorders, wat dit betref, kan julle daarvan verseker wees dat julle eerder van `n klip `n antwoord sal kry as van my. Ek wil niemand by voorbaat uitsluit nie, want soveel hoofde, soveel sinne. Ek dink egter dat by hierdie buitengewone verligting van ons groot toneel, iemand hieroor amper iets sinvol aan die “daglig” kan bring, want om iets in `n helder lig te stel, moet daar ook lig voorhande wees en vir daglig is son nodig.
18 Om hier egter iets duidelik aan die lig te bring, beteken met ander woorde niks anders nie as om homself en al die ander as gek te verklaar. Ook is dit waar dat die groot geleerdes van die aarde baie tyd om na te dink, hier sal kry. Gelukkig is hulle, as hulle baie materiaal saambring, want met hierdie drie elemente: Duisternis, sand en mos, sal hulle baie gou klaar wees. Mikroskope en ander kykinstrumente kan hulle gevolglik op aarde agterlaat, want hulle kan bly wees as hulle met die ontblote oog op die sanderige bodem `n skraal mosveld ontdek. En ook vir astronome is hier belaglik sleg gesorg. Geleerdes en baie belese bibliotekarisse sal hulle ook ontsettend verveel, want op daardie gebied sal hulle hier niks vind nie. Ook vir groot artieste en virtuose is dit hier sleg sake doen, want hulle sal alles letterlik nie in die gras nie, maar in die mos moet byt! Hier begryp ek die gesegde: “In die gras byt” ook eers volkome en sien in dat dit sekerlik van veel ouer oorsprong moet wees, as wat menige outeur en geskiedskrywer kon gedroom het. Die spreekwoord moet afkomstig wees van die oeroue Egiptiese wyses, wat sekerlik wel iets geweet het van die heerlike lot wat hier op die sterflinge wag.
19 Baie geëerde toehoorders, as vir al die mense wat op aarde lewe, `n lot wag soos ons nou het, wat ek bepaald nie wil betwyfel nie, dan is ek van mening dat die eerlike Moses en die doodeerlike Christus in die opsig met hulle wetgewing `n baie wankelrige en sinlose weg ingeslaan het. Sou hulle, en baie in die besonder Moses met sy wonderstaf, in plaas daarvan op die aarde geslaan en daarby gesê het: Son verduister, ons het vir ons domheid genoeg aan sterlig, en jy aarde, mog jy tot `n sandwoestyn word waarop niks anders as hier en daar egte Yslandse mos sal groei nie, dan kon die hele streng wetgewing van donder en bliksem mooi agterweë bly. Want onder die omstandighede moet die sondes tog vanself `n groter seldsaamheid geword het as diamante in Groenland, Spitsbergen of Nova Zembla. Ek sou net wou sien wie hier sou kan roof of steel en wie hier met hierdie vet kos en ons bekoorlike skeletagtige uiterlike nog wellustig kan wees. Ook `n leuenaar sou ek hier, as ek dit net gehad het, met goud wou betaal; en wat sou iemand hier tot moord kan aanspoor? Om daaragter te kom, sou vir ons, met al ons skatte en rykdomme, sekerlik nog veel moeiliker wees as die ontdek van planete van ander sonne vir astronome met hulle optiese instrumente. Om kortliks te wees, ons kan doen en praat wat ons wil, tog is ek daarvan oortuig dat ons ons lot geen stuk sal verbeter nie! Ek het reeds reise hier onderneem, verder as die van Christoffel Columbus, en hierdie see van sand en duisternis in alle rigtings deurkruis, maar vir my het die geluk nie ten deel geval om: Land, land! te kan uitroep nie, maar slegs: Nag, mos en sand! Daarom sluit ek my redevoering met die volgende mening af:
20 Onder alle mense wat die aarde ooit betree het, beskou ek vir Christus vir die allereerlikste. Hy het die uitvoerige wet van Moses, wat `n sterk tirannieke karakter het, in sekere sin opgehef en in die plek daarvan die enigste wet van die naasteliefde gepredik. Omdat onder hierdie wet, `n mens kan hom bekyk soos wat `n mens wil, intelligente wesens onder welke omstandighede dan ook, tog die gelukkigste kan lewe, is ek daarvoor dat ook ons hier, terwille van die goeie, trou bly aan hierdie wet, Christus as `n waaragtige, agtenswaardige Man in gedagtenis hou en dan onder hierdie omstandighede met ons inderdaad swaar lot, so tevrede moontlik wees. Ek dink dat ons lot daardeur, hoe lank dit ookal mag duur, so draaglik moontlik sal wees.
21 Tog vra ek julle, geagte toehoorders, om my wens nie sondermeer as `n vaste wet te beskou nie, want soos ek al gesê het, moet my slotwoorde slegs as `n welgemeende wens opgevat word. As ons onsself egter steeds meer sosiaal gaan gedra, dink ek dat ons juis daardeur met verenigde kragte ons lot veel makliker sal dra as wanneer elkeen dit maar net vir homself sal doen. Ek, van my kant af sal altyd bereid wees, soveel dit maar in my vermoë lê, om julle intensief met my woorde ter syde te staan. Met hierdie wens en hierdie versekering sluit ek my toespraak af.” (Algemene luide byval van alle kante.)
22 Soos julle sien, kom die spreker baie behoedsaam van sy wankelende sprekerspodium af en word baie vriendelik deur die hele geselskap onthaal. Baie druk sy hand en sê: “In die geselskap van `n man wat sy hart op die regte plek het, is dit oral goed om te vertoef. Daarom is ons baie bly, om vir jou, liewe en dierbare vriend, te gevind het en sal ons jou baie graag in alles volg, wat daar ookal gebeur.
23 Kyk nou, hoe dit bo die geselskap ietwat ligter word, hoe die spreker en die hele geselskap hulle daaroor begin te verbaas en hoe die spreker hom nog eenmaal laat hoor en sê: “Ja, ja, soos ek al gedink het, as die doodeerlike Christus met Sy mensliewende leer, geen lig vir ons sal bring nie, dan sal ons ewige gaste van die nag bly!
24 Kyk nou, dit word alweer opmerklik ligter en kyk net agtertoe, hoe vanuit die môrekant, twee bodes wat deur die Heer gestuur is, hulle haas om nog veel meer lig onder die geselskap te bring. Ons sal daarom nog `n bietjie wag en kyk wat verder hier sal gebeur.