Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 7

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die sfeer van die tweede gees. Die grondslag van die lewe is die liefde van die Vader

7 Kyk, daar nader al `n ander gees ons. Ook hy moet hier aanwesig wees, sodat julle sy sfeer kan binnegaan. Kyk maar, hy wag al op julle en weet deur `n innerlike wenk wat julle wil. Gaan dus na hom toe en tree binne-in sy sfeer. Nou bevind julle julleself reeds daarin. Vertel My; wat sien julle daar? Ek sien alweer, dat julle deur die grootsheid van dit wat julle sien, nie in staat is om `n woord te uiter nie. Daarom sal Ek weer vir julle tolk speel. Julle staan van suiwer verwondering en verbasing heeltemal verstar in die sfeer van hierdie gees.

2 Ja, by so `n aanblik raak julle wel ietwat buite julle sinne, want julle sien die een wonderbaarlike omgewing na die ander; wêreldwyd uitgestrekte heerlike rye velde lê voor julle oë uitgesprei. Oral sien julle liefdevolle mense wat pragtige vredige huise bewoon. Hulle onuitspreeklike mooi en beminlike gestaltes hou julle blikke gevange, sodat dit nouliks vir julle moontlik is om `n wese, waarop julle oog geval het, los te laat en na `n ander te kyk.

3 Julle is so deur `n allerlieflikste gesig geboei dat julle julleself daarin verloor, en duisende en nogeens duisende trek by julle verby, en julle merk hulle nouliks op nie, vanweë die een!

4 Op die sagte, liggroen heuwels sien julle buitengewoon sterk glansende tempels; in hierdie tempels sien julle salig lewende geeste, wat daar `n besoek bring en daar ronddwaal. Nou rig julle julle blik omhoog na die uitspansel en julle sien weer heel ander sterregroepe wat nog veel pragtiger is. Ja, julle sien sterk glansende skares van salige geeste wat hulle met groot gemak en hoë snelheid deur die suiwer lug voortbeweeg; hulle swewe ten dele vry, en trek ten dele rond soos glansende wolke. Julle kyk na die horison waar `n groot son hoog bo staan. Haar lig is soos `n pragtige môrerooi en alles wat julle sien, straal in die lig van hierdie son.

5 Nie ver van julle af nie sien julle `n taamlik hoë, maar mooi afgeronde berg, waarop `n skitterende tempel staan. Die pilare glans soos diamante in die son en, in plaas van die dak, sien julle `n glansende wolkedek waarbo weer salige geeste swewe.

6 Nou sê julle: Eindeloos wonderbaarlik en onbeskryflik pragtig is alles wat ons sien, dit is net alles nog veraf vir ons en ons durf in die pragtige wêreld wat ons nou sien, geen stap voorwaarts neem nie; want as ons dit doen, dan tree ons kennelik buite die sfeer van ons gees en dan is dit gedaan met ons besigtiging! Ek sê vir julle: Volstrek nie; laat ons hierdie berg maar opgaan en die dinge daar van naderby bekyk. Kyk, ons is al op die berg; wat sien julle hier?

7 Julle is alweer met stomheid geslaan en weet van louter verbasing geen raad nie, want julle was van mening dat julle in die tempel net so sou kon rondwandel, as byvoorbeeld in `n groot gebou op julle aarde. Maar toe julle die tempel binne gegaan het, het die inwendige daarvan hom omvorm tot `n nuwe, nog veel mooier, onafsienbare hemelwêreld, sodat julle nou nie weet waaraan julle toe is nie. Tog maak dit voorlopig niks aan die saak nie. Die regte lig sal alles duidelik maak. Julle vra My nou of julle ook in die sfere van die geeste van hierdie tweede soort, ander dinge te siene sou kry.

8 O ja, sê Ek vir julle, die verandering van hierdie tempel in `n nuwe wonderlike hemelwêreld is nou juis die gevolg van die feit dat julle in die sfere van die geeste, wat hulle in hierdie tempel bevind, getree het. Maar, julle sê en vra: Waarom sien ons hierdie geeste, in wie se sfeer ons onsself bevind, dan nou nie? Omdat julle deur My tussenkoms vanuit hulle sentrum kyk. Laat ons `n bietjie teruggaan, en kyk nou, daar staan ons vorige tempel alweer en ons sien hom bevolk met salige geeste, wat met mekaar praat oor allerlei dinge wat op My betrekking het.

9 Nou het julle julleself daarvan oortuig dat `n mens ook in `n dergelike geestesfeerwêreld netsoos op aarde, na behore vry kan ronddwaal. En so kan ons onsself dan weer na ons vroeëre standplaas terugtrek. Kyk, ons is al daar.

10 Laat ons onsself weer uit die sfeer van ons gasvrye gees terugtrek en ons sal ons weer op ons heel eenvoudige geestelike son bevind. Omdat julle nou buite die sfeer is en ons goeie gees hom ook nog in ons geselskap bevind, kan julle selfs met hom gedagtes wissel. Hy ken julle baie goed, omdat hy ook van julle aarde afstam en selfs bloedverwantskap met julle het. Voorlopig wil Ek hom trouens nog nie nader aan julle bekendmaak nie, want daar sal nog beter geleenthede kom waarby ons alle geeste, wat ons by hierdie geleentheid dien, van naderby sal leer ken.

11 Luister maar wat die gees aan julle te sê het: (die gees wat praat) “O vriende, julle, wie nog in julle liggaam op die harde aarde wandel, begryp, ja begryp tog die lewe in sy diepste wese! Dit is oneindig en sy rykdom is onmeetlik! Die grondslag van die lewe is die liefde van die Vader in Christus in ons! Verstaan dit diep in julle harte, dan sal julle in julleself dieselfde vind as wat julle in my sfeer gevind het. Wat julle gesien het, was maar eenvoudig. Maar in die kern van die lewe lê oneindig baie meer.

12 Dit is nouliks vyftig aardjare gelede dat ek, netsoos julle, as burger van die harde lewe op aarde rondgewandel het. Eers het die gedagte aan die toekomstige dood van my liggaam, my diep aangegryp. Maar, glo my, my angs was ydel en ongegrond, want toe die dood oor my liggaam kom en ek gedink het om vir ewig ten gronde te gaan en vernietig te word, toe eers ontwaak ek asof uit `n diep droom en het ek dadelik in die ware en volmaakte lewe oorgegaan.

13 Al het ek tot nou toe nog lank nie die eintlike lewensvoleinding bereik nie, kom ek tog nader aan die steeds duideliker wordende lewensvervolmaking. Hoe groot en heerlik dit moet wees, kan ek julle nog nie laat sien nie. Ek kan slegs uit die rykdom van my innerlike beskouing goed aflei dat die vervolmaking van die lewe in die Vader deur die suiwer liefde tot Hom iets moet wees, waarvan geen gees in my sfeer, ook maar die geringste kan begryp nie.

14 Gelukkig, ja oneindig gelukkig is diegene wie op aarde die liefde tot die Heer, sy enigste behoefte gemaak het, want hy het die kortste weg ter vervolmaking van die lewe ingeslaan! Want, glo my, liewe aardse broers en susters, wie op aarde die liefde tot die Heer in hom dra, die dra ook die voltooiing van die lewe in hom; hy het daardie allerheiligste en allergrootste volmaakte doel, waarna ek nog `n lang, ver weg te gaan het, in hom en by hom.

15 My lewensomstandighede is weliswaar reeds vervul met `n onuitspreeklike geluksgevoel, maar alles wat julle in my sfeer gesien het, en nog eindeloos veel meer, wat julle nie gesien het nie, maar wat ek voortdurend geluksalig in steeds vernude wonderbaarlike rykdom kan aanskou, is niks vergeleke met slegs een enkele blik wat gerig is op die Vader nie. Kyk daarom in julle aardse lewe, vóór alles ononderbroke na Hom, dan sal julle te gelegener tyd sekerlik heel maklik en binne `n kort tyd daarheen gebring word, waar die Vader woon, te midde van hulle wat Hom liefhet!”

16 Hoe vind julle die taal van hierdie gees? Waarlik, sê Ek vir julle, as dit hierdie gees gegee sou gewees het om My nou as julle gids hier te sien, dan sou hy deur `n al te sterk geluksgevoel as te ware vernietig word. Daarom, begryp en bedink tog in welke saligheid julle julleself onbewustelik bevind, deurdat Ek My dag in dag uit by julle bevind, julle opvoed en onderrig en julle met My eie vinger die mees korrekte en kortste weg na My toe toon.

17 Laat julle daarom tog nie bekoor deur die wêreld nie, want dit is vol dood, slyk en helse vuur! Hoe dit egter na die aflê van die liggaam ontwikkel, sal ons by menige gees van ons geestelike son, nog kortstondig as `n goeie toegif te siene kry. Ek sê vir julle: Wee die wêreld vanweë haar boosheid, want haar loon sal heet: Verskriklik en buitengewoon ellendig is dit om homself in die toorn van God te bevind! Maar nou verder niks meer hieroor nie. Daar kom reeds `n ander geestelik gasvrye vriend na ons toe vir `n volgende geleentheid, en ons wil tydens sy aanwesigheid weer iets nuuts uit sy lewensfeer put.

18 Die twee vorige geeste sal ons voorlopig egter in ons geselskap hou, want H. W. Anselm sal die nabyheid van sy grootvader tog wel kan verdra! En bygevolg sal ons dit weer vir vandag hierby laat.”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205