|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 70
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
By die paradyslike Augustyne
70 Kyk daar, aan die oorkant van die binneplaas van die klooster gee `n oopstaande deur toegang tot `n taamlike groot tuin. Daarheen sal ons gaan en kyk wat ons alles in die tuin aantref. Wel, die tuin lê reeds uitgestrek voor ons oë. Hoe geval dit julle? Julle sê: Vriend, werklik, `n mens moet `n vyand wees van elke hoër gevoel vir skoonheid, as mens geen genoeë sou hê aan hierdie tuin nie. Hierdie pragtige boë langs die hoë tuinmure, hierdie fonteine, die pragtige pilaartempels en dan die baie mooi blomme en ook nog die vrugtebome in die mooiste orde gerangskik, mens moet werklik sê: Hier is kuns en voortreflike smaak verenig. Die natuur is oral baie mooi en harmonies afgestem op die kunste. Daar, bo die tuinmuur uit, verhef `n mooi paleis hom wat, wat sy prag betref, werklik niks te wense oorlaat nie. Ons is van mening dat as die geeste wat hier êrens in hierdie tuin woon, maar ietwat ooreenstem met hierdie pragtige aanleg, op sigself beskou, dan tog geen totaal bedorwe mentaliteit kan hê nie. Ja, geliefde vriende en broers, ek sê vir julle, dit lyk wel so, maar julle moet die volgende reëls daarby nie vergeet nie:
2 Waar baie prag onder mense is, daar is ook baie verkwisting; waar baie verkwisting is, daar is ook baie heerssug aanwesig; waar baie heerssug is, daar is baie eieliefde; waar baie eieliefde is, daar is ook baie eiebelang. Vandaar dat uiterlike prag nooit `n gunstige teken is vir diegene wat `n liefhebber daarvan is nie. Kyk maar net terug na julle aarde. Wie woon daar in groot pragvolle paleise? Byna uitsluitlik die rykes en magtiges. Vir wie dien hierdie prag? Vir niemand anders nie as slegs vir die eienaar self. Hoe dien dit hom? Dit dien hom op verskeie maniere. Om te begin is dit `n uithangbord van sy welgesteldheid, of van sy staatkundige gesag, en stem die verbytrekkende mense tot respek en maak hulle skugter, sodat hulle dit nie ligtelik sal waag om, met watter aangeleentheid ookal, na so `n uitstaande pragwoning toe te gaan nie. Ten tweede hou so `n prag die arme mense voortdurend daarvan af om die eienaar te benader om hom `n milde gawe te vra. Ten derde is so `n prag `n onuitputlike bron vir die bestendige voeding van die hoogmoed en daardeur ook van die voortdurende veragting van die armer volk. Ook is `n dergelike prag die beste middel om armer mense aanhoudend behoorlik dom te hou.
3 Julle vra, waarom? Omdat die eenvoudige man van die volk, die eienare van so `n groot prag as wesens van `n ander soort beskou. By die sien van so `n oordrewe prag, kan hy die gevoel nie van hom af sit nie. Ja, ek moet julle sê: Was die Sint Pieter en die pouslike Vatikaan nie van `n prag en grootte wat die meeste menslike begrippe te bowe gaan nie, dan sou menigeen dit nie so `n groot guns gevind het om allergenadig toegelaat te word tot die kussing van die pantoffel van die pous nie. Die waardelose aflate sou, indien uitgereik vanuit `n boerehuisie, nooit so `n winsgewende uitwerking gehad het, as die vanuit die oorvloedige aardse prag van die Vatikaan nie. Maar julle het altyd nog gesien dat welke godsdiens ookal, as dit in die uiterlike, materiële oorgaan, sy toevlug begin te neem tot uiterlike pragvertoon, om nog `n tydlank van die onwetendheid van die mense te kan voordeel trek. Maar daarby is die vraag of die imponering van mense ooit enige nut het? Selfs die tempel van Salomo was in wese niks anders as `n stille voorbode, wat deur sy aanwesigheid vanaf die tyd van Salomo, die hele volk van Israel aangetoon het, hoe dit van die geestelike in die materiële oorgegaan het en hoe daar in die hele tempel uiteindelik niks goeds of waar meer te vinde was nie. Die Heer getuig Self teenoor die Jode oor die tempel, dat hulle die huis van gebed tot `n moordenaarsnes gemaak het Ja, in hierdie tempel het gruwels sonder naam plaasgevind. En die mense was so deur die tempel mislei, dat hulle die Heer van die heerlikheid nie herken het en selfs in die tempel besluit het om Hom te kruisig. Ook Judas is in die tempel met geld uitbetaal en werp die bloedgeld ten slotte self weer terug in die tempel, as `n sterk getuienis dat die tempel reeds van oudsher `n moordkuil van God se Gees was.
5 Wanneer julle ietwat nadink oor wat hier gesê is, dan sal hierdie prag julle in `n nie al te gunstige daglig skyn nie. En hoe dit daarmee gesteld is, sal ons dadelik beproef wanneer ons by die eerste tuintempel kom.
6 Kyk net daar, twee in wit geklede monnike kom ons reeds tegemoet. Julle vra: Is dit dalk Dominikane of Cisterciamsers*? O nee, geliefde vriende, broers, dit is slegs paradyslike Augustyne, want in die paradys trek hulle hulle swart togas uit en trek wit in die plek daarvan aan. Wat kyk julle nou so oplettend na die paleis daar? Ek weet al wat julle opval; die rondspringende engele daar met die aan hulle skouers aangebringde vlerke, gemaak van wit vere. Julle vra wel of hulle ook kan vlieg. O nee, dit kan hulle gladnie doen nie, want die vlerke het nie aan hulle gegroei nie, maar is slegs, soos julle gewoond is om te sê, kunsmatig aangebring, soos berei vir die teater. Die gespringery moet die lewendigheid van hierdie engele voorstel en hoe hulle bereid is om hierdie paradysbewoners op hulle wenke te bedien. Kyk, so `n halfdosyn kom die twee op ons afkomende paradysbewoners al agterna gehardloop en julle sal spoedig sien dat hierdie engele selfs van knuppels en sabels voorsien is, om ongevraagde gaste op `n nie erg paradyslike manier uit die paradys te verdrywe. *(Monk) of order founded 1098 at Cisterciam or Cíteaux, stricter offshoot of Benedictines, also called Bernardine as patronized by St. Bernard of Clairvaux.)
7 Julle vra wat sulke engele eintlik op aarde was. Het julle nog nooit gehoor van sogenaamde lekebroeders, of beter gesê, kloosterknegte nie? Ook hier is hulle dienswillige geeste van die klooster. Maar met die bedoeling dat hulle diens hulle beter sal geval, word hulle soos engele geklee. Dit gebeur alles deur die verkeerde denkbeelde wat sulke mense gehad het, toe hulle die tydelike vir die ewige verruil het. Die groot liefde en ontferming van die Heer het hierdie wesens egter in hulle denkbeelde gelaat, totdat hulle so saggies aan moet bewus word dat daar iets in sulke situasies moet skeel. In die eerste plek, omdat hy hom nooit volkome met al hierdie mooi vrugte kan versadig nie. Die ete en drinke kom vir hulle byna voor, asof hulle droom dat hulle eet en drink. Ten tweede sien hy hier bo hom wel voortdurend wit wolke verbytrek, maar waar hierdie wolke hulle lig vandaan kry, kan hy nie sien nie. En ten derde val dit mettertyd vir hom op dat hy, wel wetend in die geestelike wêreld te wees, nêrens `n heilige te sien kry nie, ook nie die Moeder van God, Maria, dus ook geen Petrus en geen aartsengel Migael nie. `n Vierde baie groot probleem vir hulle is dat, wanneer hulle oor die tuinmuur kyk waar hulle gewoonlik met lere opklim, is niks anders as onvrugbare grasvlaktes te sien nie en maar net hulle eie tuin baie vrugte voortbring. Ten vyfde werk ook die omstandigheid dat hulle kloosterkerk, afgesien van hulleself, deur niemand anders besoek word nie, en daarmee moet hulle geleidelik wakker geskud word. En so is daar nog meer sulke duwweltjies, waardeur die gees daarop gewys word, dat daar met sy paradys iets verkeerd moet wees.
8 Hierdie paradysbewoners het wel nog die kloosterhemel voor oë wat ons eers later sal leer ken, maar oor die hemel het hulle nog aansienlike bedenkinge. Daarom moet hierdie hemelbewoners ook baie polities wees en die bedenklike kante van hulle hemel so goed as moontlik geheim hou, want anders sou die paradys, wat ook vir die hemel moet sorg, gou baie beklaenswaardig lyk en ons vreugdevolle engele sou nie meer die aansienlike groot tuin bewerk nie. Want julle moet weet dat die Heer om goeie redes toelaat dat hierdie mensegeeste hier, netso goed as op aarde, deur die vlyt van hulle hande en in die sweet van hulle aanskyn hulle brood moet verdien. Dus moet hulle werk, as hulle te ete wil kry.
9 Maar kyk, ons paradysbewoners kom na ons toe. Laat ons daarom stil wees en let julle op die ontvangs! Kyk, daar wink `n paradysman twee met knuppels voorsiene engele om langs hom te kom loop, sodat hy ons onder veilige begeleiding kan nader. Die ander paradysman vorm met vier engele wat van sabels voorsien is, die agter opkomende beskerming vir die voorhoede, as hulle te swak teen die vyand sou wees.
10 Wel, die eerste paradysman maak sy mond al oop en vra ons: Waar kom julle vandaan, van bo of van benede? Ek sê: Van bo. Hy vra ons: Waar is bo? Ek wys met my hand na my bors en sê: Hier in my hart, uitsluitlik in die liefde tot die Heer, is van bo! Hy sê: Wat se onsin klets jy? Weet jy nie waar die hemel is nie, en weet jy nie dat jy jou hier in die paradys van God bevind nie? Ek sê aan hom: Ek weet waar die hemel is en ken die paradys baie goed. Maar die paradys hier en jou hemel herken ek nie as `n paradys of as `n hemel nie. Maar ek herken so-iets slegs volgens waarheid. En hierdie hemel en die paradys is in waarheid niks anders as `n wanproduk van jou en julle aller wêreldse dwaasheid nie. Hy sê: Wat se taal is dit? So praat jy wat van bo kom? Nee, wag net so `n bietjie, ons sal jou heel tasbaar laat sien waar benede is. Kom hier, julle engele van God, en stel hierdie drie helse galgebrokke dadelik in versekerde bewaring en bring hulle daarheen, julle weet wel welke plek ek bedoel, naamlik in die skool waar hulle bo en onder leer onderskei.
11 Kyk, die “engele” sluit ons in en ons sal ons hierdie keer nie verweer nie, maar ons deur hulle laat gryp. Eers wanneer hulle `n baie mensliewende oordeel oor ons gevel het, sal ons ons ietwat begin roer, want dit alles hoort by die saak. Sonder hierdie ervaring sou julle geen volkome insig hê in hierdie geestelike situasie nie, en langs `n ander weg sou ons hierdie geeste nie gou benader nie om hulle dan, vir hulle eie beswil, van hulle waanidees te oortuig. Daarom laat ons onsself, soos gesê, intussen baie goedmoedig gryp, sodat julle ook daaruit kan insien hoe die Heer weet om op ontelbaar baie maniere, Sy dienare aanhoudend vrugbaar liefdeswerk te verskaf.
|
|
|
|
|