Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 89

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die lewendige gebed van die prior en die uitwerking daarvan

89 Kyk, ons prior begewe hom alweer na die sieleslapers. Hierdie keer moet ook ek my aan my belofte aan die sieleslapers hou en na hulle toe gaan. Daarom gaan ons die prior agterna, sodat julle kan sien wat daar sal gebeur. Kyk, ons is al saam met die prior ter plaatse. Nou stel ons onsself ietwat bedek hier op, sodat ons kan sien wat ons prior alles met ons sieleslapers sal doen. Hy is naby die kloof en begin so pas te praat.

2 Let dus op want die prior sê: Geliefde broers, julle weet wat ons in ons klooster steeds geskei hou; dit was niks anders nie as `n verskil van mening oor die toestand van die siel na die dood van die liggaam. Julle beweer dat die siel tot by die dag van die laaste oordeel, in een of ander passiewe, nouliks bewustelike slaap­toestand moet vertoef, en julle het julle op verskillende kerklerare beroep vir hierdie mening. Maar ons, wat daar buite staan, het `n opvatting daaroor wat lynreg teenoor die van julle staan. Ons het julle voorgehou dat, as dit so is dat die siel haarself na die dood van die liggaam in een of ander passiewe, nouliks bewustelike slaaptoestand sou bevind, al ons kerklike funksies, wat gerig is op die heil van die siel, dan eintlik ydel en leë bedrog is, omdat daar by so `n toestand van die siel na die dood, nóg `n vagevuur, nóg een of ander graad van die hel denkbaar is.

3 Ondanks ons teenbewys, het julle tog julle mening met groot heftigheid verdedig. So was daar tussen julle en ons voortdurend `n heimlike, vurige kloof, waaruit by elke poging om `n brug na julle te bou, voortdurend verwoestende vlamme omhoog geskiet het. Wat hom op aarde tussen ons slegs geopenbaar het as `n menings­verskil, dit het hom hier openbaar as `n sigbare realiteit.

4 Maar nou wil ek julle iets anders meedeel. Julle weet net so goed soos ek van die magtige bode wat na ons toe gekom het om ons almal van ons ou waanidees te bevry. Hierdie bode het my baie duidelik aangetoon hoe verkeerd en dwaas ons met alles besig was, en hy het my `n nuwe weg gewys om in te slaan. Hierdie weg is niks anders as slegs die liefde tot die Heer, Jesus Christus, wat die enige God is van alle hemele en alle wêrelde en wat in Sy woord van Homself gesê het, dat Hy en die Vader één is en dat wie Hom sien, ook die Vader sien. Verder het Hy nog gesê: Wie Sy woord hoor en daarvolgens leef, het die ewige lewe in hom, en wie glo dat Hy die eniggebore Seun uit God is, die sal ewig nooit meer `n dood smaak nie!

5 Dit is dus die weg, ja `n geheel nuwe weg, wat die bode ons aangegee het. As ons hierdie weg volg, hierdie weg bewandel en ons op hierdie weg, dus in die enigste Heer Jesus Christus as ware broers verenig, dan sal hierdie nietige kloof tussen julle en ons spoedig `n goeie brug kry, waaroor ons almal saam behoue in die Ryk van die goddelike genade van die enigste Heer Jesus Christus kan aankom.

6 Ondersoek daarom julleself. Werp julle ou, bedrieglike slaapgewaad af en wend julle saam met my tot ons enige Heer Jesus Christus. Dan sal Hy, vir wie geen situasie in die hele oneindigheid en ewigheid onbekend is nie, Hom volgens Sy oneindige liefde oor julle ontferm en dadelik oor hierdie kloof `n brug van duursame kwaliteit bou, waaroor julle dan behoue kan wandel! Die vlamme in die diepte sal dan sekerlik ook uitdoof, sodra julle met my en dus ook met al ons broers, een word in die geloof en in die liefde vir ons enige Heer Jesus Christus.

7 Nou is die prior uitgespreek en van die oorkant van die kloof antwoord iemand hom: Beste vriend en broer, jou woorde is weliswaar prysenswaardig en vol goeie bedoelinge, maar wat het ons daaraan? Jy moet tog weet dat `n mens na die dood van sy liggaam niks verdienstelik meer kan doen vir die ewige lewe nie en dat daardeur alle geloof en alle liefde hier so goed as vergeefse gedagtes van die gees is. Daarom kan ons jou al by voorbaat verseker dat jou, op sigself sekerlik goeie bedoelinge, ons almal hier baie weinig meer sal baat.

8 Nou sê die prior weer: O geliefde vriende en broers, julle sogenaamde verdienste vir die ewige lewe vorm nou juis die kardinale probleem vir ons almal se heil! Het die Heer nie, soos wat die bode dit duidelik vir my aangetoon het, aan Sy apostels en leerlinge gesê nie: “As julle alles gedoen het, sê dan: Ons was onverdienstelike knegte gewees”!

9 Maar afgesien van hierdie teks, sê my net, liewe vriende en broers, wat kan `n magtelose skepsel wel as verdienstelik vir die almagtige God verrig? Wie van julle wat hom verdienstelik wil maak, het ooit `n grashalm of ook maar `n bladluis met sy krag geskape? Wie van julle was by die skepping van alle wêrelde en hemele aanwesig om die Heer ook maar die geringste diens te bewys? Wat het ons aan die groot werk van die verlossing bygedra sodat ons sou kan sê: Ons het iets verdienstelik gedoen om God, die Almagtige, te help? Wat het ons dan vooraf daartoe bygedra, toe ons ons eerste lewe van die Heer ontvang het? Welke dienste kan `n swak kind sy ouers bewys, sodat hy aan hulle kan sê: Gee my my verdiende deel?

10 Kyk, ons was nie net altyd volkome onverdienstelike knegte voor die Heer nie, maar het ons, as werklik dwase luilakke verbeel, om ook nog iets verdienstelik vir Hom te gedoen het. O vriende, o mense, o broers, en sedeprekers, hoe ver het ons ons met sulke waanidees van die doel van die ewige waarheid verwyder! Het ons maar liewer op aarde geglo en aangeneem wat ons hier aangeneem het; dan sou dit nou beter met ons gegaan het, as wat die geval huidig is.

11 Maar omdat ons onsself nie meer in die tydelike kan terugplaas nie, is dit nou in ons geestelike situasie dan ook werklik die allerheiligste tyd, wat ewigheid heet, om hierdie groot waanidees te herken en in ons binneste voor die Heer, hierdie allergrootste skuld heel berouvol te beken, as gevolg waarvan ons so lank in die waan geleef het om ooit iets verdienstelik vir God en tot ons eie sieleheil te gedoen het.

12 Broeders, laat ons ons voor die kop slaan en net spontaan sê: O Heer, dit alles is net ons grootste skuld, waardeur ons, o heilige Liefde, ewig U skuldenaars sal bly! Broeders, ek is daarvan oortuig dat, wanneer julle dit lewendig in julleself sal ervaar, soos wat ek dit nou duidelik ervaar, julle sekerlik in `n ander situasie sal beland en wel via `n brug waarvan ons almal tot nou toe geen vermoede gehad het nie.

13 Sê nou ook in julle harte, saam met my, en sê dit luid: O, almagtige, heilige Liefde, allerbarmhartigste Heer en Vader in Jesus Christus, ons beken nou voor U ons ou, groot skuld. Ons sê nou dat ons voor U, altyd nie net onverdienstelike, maar die aller­slegste knegte was en ons beken dat alle veronderstelde verdienste van ons kant vir U, o heilige Vader, `n gruwel moes gewees het. Tog vra ons U hier in ons uiterste en grootste nood, wil U ons genadig en barmhartig wees! Laat ons hier ware broers word wat mekaar deur U genade en ontferming altyd sal liefhê en U in alle omstandighede eer, loof en prys. Ons smeek U ook uit die grond van ons hart, dat U, o heilige Vader, ons, allergrootste sondaars voor U, slegs die allerheiligste genade sal verleen om U, o ewige Liefde, tog met al ons kragte te mag liefhê!

14 O broers, sê dit opreg in julleself en sê nog ten slotte: O Vader, wat ons gevra het, het ons uit eie wil gevra, daarom smeek ons U om U met U erbarming veral nie na ons wil te rig nie, want slegs U wil is heilig en daarom geskied ook maar net U allerheiligste wil!

15 Kyk, hierdie woorde van die prior het ons sieleslapers heeltemal tot ander gedagtes gebring; daarom trek hulle ook hulle klere uit en staan nou naak voor ons. Maar kyk nou ook na die deur van die refter (eetsaal); daar kom `n baie eenvoudige man so pas na binne. Weet julle wie hierdie man is? Julle kan dit wel weet; Hy is Die Een tot wie die prior hom gewend het. Nou sal die algemene hoofskouspel hom ook eers begin afspeel. Daarom kan julle hier werklik nog buitengewone groot dinge verwag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205