Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 67

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Het Petrus die Roomse Kerk gestig?

67 Wat sal die Augustyn ons dan wel vertel en wat sal hy ons alles laat sien? Niks anders as dit wat vir ons noodsaaklik is. Ons is by hom; luister dus na wat hy aan ons gaan sê en hoe hy ons ontvang. Sy woorde lui as volg:

2 Wees my duisendmaal welkom, liewe vriende en broers, in die naam van die misterieuse drie-eenheid, in die naam van die salige maagd Maria, van die heilige Josef en van die patroon (beskermheer) van ons kerk, die heilige Augustinus, wat `n ware apostel en navolger van ons Heer Jesus Christus was! Mag ek, as julle onderdanige dienaar, julle die vraag stel welke vrome bedoeling julle na hierdie God alleen welgevallige tempel gelei het? Het julle miskien ook uit my orde as nuwelinge hier aangekom, of het julle dalk as vroom geestelike boetelinge hierheen gekom vir die kwytskelding van die daaglikse sondes, om die vagevuur daardeur mis te loop? Soek julle miskien die ewige rus en die ewige lig of die waaragtige geestelike lewende brood van die engele hier? Of begeer julle om uiteindelik selfs in die hoër misteries van die drie-eenheid ingewy te word? Kortliks, as dit die een of die ander is wat julle hierheen gebring het, dan kan julle hier, vir die een, sowel as vir die ander, meer as voldoende bevre­diging vind. Want julle sal sekerlik goed weet dat daar buite hierdie kerk nêrens heil en saligheid te vinde is nie.  

3 Toe Christus die Heer sy kerk gestig het, het Hy die sleutels vir die hemelryk slegs aan Petrus oorhandig. Ons kerk is op die rots van Petrus gebou, dus deur Petrus gestig en deur hom is aan haar, vir alle tye van die tye die mag verleen, om salig te maak of te verdoem. Dat deur Christus ook die reg tot verdoem aan die kerk verleen is, blyk duidelik uit die tekste waar nou eenmaal staan: “Julle sal op regterstoele gesetel wees en saam met My die twaalf stamme van Israel oordeel”, en verder staan daar: “Wat julle op aarde sal ontbind, sal ook in die hemel ontbonde wees, en wat julle op aarde sal bind, sal ook in die hemel gebind wees”. En weer verder staan daar: “Ontvang die Heilige Gees, want vir wie julle die sondes sal vergewe, aan hulle sal dit ook vergewe wees in die hemel en aan wie julle die sondes nie sal vergewe nie, aan hulle sal dit ook in die hemel nie vergewe wees nie”. So staan daar nog `n paar sulke tekste waarin die Heer aan Petrus op aarde alle mag oor die menslike geslag gegee het. Daar kan dus nie die minste twyfel daaroor bestaan dat slegs die Rooms-Katolieke kerk, deur Petrus self gestig, volgens die onveranderlike raadsbesluite van God, die alleensaligmakende kerk is.

4 Wanneer julle sonder enige twyfel ook tot hierdie kerk behoort, kan julle ook enkel en alleen hier die poort van die hemel vind. Behoort julle egter nie tot hierdie kerk nie, dan sal julle daaruit maklik kan aflei welke lot julle hier te wagte sal staan, want daar staan ook in die Skrif: “Wie nie in hierdie kerk glo en in haar gedoop word nie, sal verdoem word!”

5 Nou sê ek aan hom: Luister beste vriend, jy het ons nou van alles gevra en aan ons die belangrikste op julle kerk betrekkende tekste uit die Skrif meegedeel. Nietemin moet ek jou vooraf al duidelik maak dat ons ten eerste met geen enkele bedoelinge wat op jou vrae betrekking het, hiernatoe gekom het en ten tweede, dat die tekste wat deur jou aangehaal is, ons nie in die minste aangaan nie.

6 Jy sit nou wel `n ietwat oorblufde gesig op en dink by jouself, wat kom hulle dan eintlik hier doen as hulle sonder die bedoelinge wat deur my aangegee was, hiernatoe gekom het en selfs van plan is om die tekste wat ek uitgespreek het en dit duidelik aangegee het dat die kerk van Rome die alleensaligmakende is, te negeer. Maar kyk, dit is nou eenmaal so en nie anders nie.

7 Wat dink jy daarvan, as ons slegs uit suiwer wetenskaplike oogpunt hiernatoe gekom het om die een en ander by julle te ervaar en te sien? Sou ons ook nie met die doel by jou welkom gewees het nie?

8 Die monnik sê: Baie gewaardeerde vriende, het julle dan nooit op aarde gehoor dat die wetenskap geen vrugte meer in die geestelike wêreld afwerp nie, maar dat slegs die Rooms-Katolieke geloof dit doen, wanneer dit lewend was deur goeie werke? Ek sê: O ja, dit het ons dikwels gehoor, maar ons het ook gehoor dat mens in die geestelike wêreld oor alle aardse vertwyfeling lig kry. So `n lig kan mens dan tog ook wel `n geestelike wetenskap noem, wat `n helder bewuswording van die goddelike misteries is. As daar verder in die geestelike wêreld, net soos vroeër in die natuurlike, gemesselde kloosters en kerke, wat met allerlei kunsvoorwerpe versier is, waarom sou daar dan in die geestelike wêreld geen wetenskap bestaan wat op sigself tog al op aarde duidelik geesteliker was as die messelwerk van `n klooster en van `n kerk, met al haar beelde en houtsneewerk?

9 Die monnik sê: Hoor net, jy! Soos ek uit jou woorde aflei, blyk jy vervul te wees van ketterse en verwerplike idees. Want wie alles wat tot die allerheiligste diens van God behoort, nie suiwer geestelik nie, maar materieel beskou, gee openlik te kenne dat hy in woord en daad vir altyd `n ketter is wat tot in die diepste hel verdoem is. Wanneer jy dit wat jy hier gesê het, ernstig meen, is ons genoodsaak om jou vir ewig uit hierdie suiwerste tempel van God in die ewige verdoemenis te werp. Want daar staan geskrywe: “`n Ketterse mens moet jy vermy” en verder staan daar: “So `n ketter moet julle uit die gemeente verwyder en hom, soos Paulus sê, aan die duiwel oorlewer”. Weet julle dan nie dat die wat aanmerkings maak op die gebruike van die alleensaligmakende kerk, die allergrootste sonde teen die Heilige Gees begaan, -`n sonde wat vir ewig nooit vergewe kan word nie? Verklaar jou daarom van naderby op hierdie heilige plek, sodat die ewige verdoemenis jou nie mag tref nie. Want werklik, ons, suiwer dienare van God, sal eerder wil hê dat die hele wêreld verdoem word, as dat die heiligheid van die hemel ook maar deur die kleinste sondaar besmet sou word. Hier hou alle barmhartigheid en genade op. Wie nie in die ware sin van die kerk suiwer soos die son aan die hemel is nie, sal ook nooit as te nimmer in die Ryk van God binnegelaat word nie. 

10 Nou sê ek aan hom: Vriend, jy het die woord van God sekerlik nie op die mees sagte manier opgeneem nie, maar wel op die mees strengste, oordelende manier. Nou sal ek egter `n vraag wil stel aan jou en kan jy my dan `n antwoord daarop gee, jy moet my slegs vooraf verseker dat jy my nie die antwoord sal skuldig bly nie.  Die monnik sê: As dit nie van suiwer duiwelse aard is nie, sal ek jou wel die antwoord gee, maar jy weet goed dat mens die duiwel geen antwoord verskuldig is nie. Ek sê aan hom: Nou wel, ek sal `n vraag aan jou voorlê. Kan jy aan my bewys dat dit van die duiwel kom, dan hoef jy nie met jou antwoord vorendag te kom nie, maar kan jy dit nie duidelik bewys nie, dan kom jy nie weg van hierdie plek vóór jy my `n antwoord gegee het nie. Behoed jou egter vir elke leuen, want dit sal jou duur te staan kom. My vraag lui as volg:

11 Hoe kan jy my aan die hand van die Heilige Skrif bewys dat die Rooms-Katolieke kerk werklik deur die apostel Petrus gestig is? Volgens my wete word in die hedendaagse Heilige Skrif nie die minste gewag daarvan gemaak nie. Dat Paulus in Rome die evangelie van die Heer onderrig en gepredik het, is algemeen bekend, maar dat Petrus werklik die pousdom in Rome sou gestig het, daarvan kan ek my uit die hele Heilige Skrif, geen woord herinner nie. Wil jy met my twis oor jou kerklike reg van verdoem­enis, dan moet jy my eers bewys dat die kerk van Rome regtig deur Petrus gestig is en dat die Heer so `n reg aan hom verleen het. As jy dit, en wel vanuit die Heilige Skrif, nie kan bewys nie, dan sal jy `n gedugte teenstander in my hê. 

12 Kyk, ons monnik stel `n heel deerniswekkende gesig op en pieker hom suf om een of ander deugdelike antwoord te vind. Daarom dink hy nou aan `n slim uitvlug, maar dit sal hom weinig baat. Hy gebaar ons om na hom te luister, en dit sal ons dan ook doen. Hy (die monnik) sê: O, julle afskuwelike duiwels, dit is tog die mees helse vraag en dit is so ontsettend ketters en so teen die Heilige Gees gerig, dat vir so `n ketter duisend van die mees afskuwelike, diepste helle met duisendvoudige, ewige verdoemenis nog veels te goed sou wees! Moet ek so `n vraag antwoord, sodat alle duiwels my dan tegelyk kan kom haal? Dit sal ek wel mooi agterweë laat.

13 Die Roomse Kerk sou nie deur Petrus gestig gewees het nie? Hy het tog self drie volle jare in Rome onderrig en sy stoel daar gestig, en het daar die martelaarsdood aan `n onderstebo kruis gesterf! Bowendien is sy onverganklike liggaam, tot op hede, nog in die heilige graftombe van sy kerk in Rome en sy stoel is hede ten dage nog die magtige troon van die pous! En jy, helse duiwel, het so `n vraag aan my gestel en waag dit om my, slegs `n dienaar van God, `n gesalfde priester, so brutaal tegemoet te tree? Ek gebied jou in die naam van die drie-enige God, die salige maagd Maria, die heilige Josef, en in die naam van alle heilige apostels, leerlinge, martelare, in die naam van alle ander heiliges en in die naam van die hele Rooms-Katolieke alleensaligmakende kerk, dat jy, afskuwelike duiwel, met jou helse, verdoemde geselskap hierdie heilige plek vliegvinnig sal verlaat! Anders roep ek al my medebroeders, wat hier in die paradys rus en wat in die hemel is, se hulp, sodat hulle jou en jou doemwaardige geselle met drie baie spesiaal gewyde kruisbeelde en met ander spesiaal gewyde kerklike kentekens opjaag en terg totdat hierdie plek vir jou `n groter kwelling sal word as die allerlaagste hel self. O, jou verdoemde duiwel, jou afskuwelike duiwel, jou onchristelike duiwel, jou bedrieër van alle mense, jou uitvaagsel van die sewende skeppingsdag, jou ewige verdoemde kreatuur van God, weg, weg, gaan weg van hier!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205