Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die sfeer van die agtste gees. Die wêreldhorlosie en die “laaste tyd”. Die “nuwe Jerusalem” uit die sfeer van Swedenborg

16 “Ons gasvrye vriend is reeds hier; tree dus maar binne-in sy sfeer. Ook hierdie gees sal julle weer in sy sfeer sien, waarin julle deur hom rondgelei sal word. Let weer goed op dit wat hy vir julle sal laat sien en wat hy vir julle sal sê, want daaruit sal baie van wat julle tot nou toe nog nie goed begryp het nie, vir julle duidelik word. Julle bevind julle al in sy sfeer; vertrou dus maar op hom, want hy is `n bekwame gids en in hom is baie wysheid uit My. Onderweg sal julle nog wel te wete kom wie hierdie gees eintlik is. Luister dus nou na hom en volg hom maar!

2 Die gees sê so pas aan julle: Kom, kom geliefde broers, soos die Heer dit wil; ek sal julle rondlei in die Ryk van waarheid en liefde!

3 Kyk daar na die môre toe na daardie buitengewone majestueuse, mooi gebergte. Kyk hoe die goddelike son, waarin die Heer is, al hoog bo die gebergte staan en kyk hoe pragtig haar strale soos die van `n lieflike môrerooi in die dale en ander dieptes van die wêreld val!

4 Kyk by hierdie geleentheid ook net agtertoe, dan sal julle `n groot see sien, waarop baie groot golwe beweeg. Op die golwe sien julle baie skepe; sommiges is groot en ander klein. Julle sien hoe die golwe na die oewer toe dring om hierdie heerlike sonstrale in hulle op te suig. Die skepe op die groot see het ook hulle seile so gerig dat hulle, netsoos die golwe, op die glansende oewer afstuur. Daaraan kan julle die verborge krag van die strale van die god­delike son, waarin die Heer woon, herken.

5 Maar nou begewe ons onsself na daardie gebergte. Daar sal ons dinge van `n heel ander aard aanskou en sien, hoe die goddelike waarheid haarself daar openbaar. Julle vra en sê: Maar liewe geestelike vriend en broer, daardie stralende gebergte lyk asof dit nog baie ver weg lê, hoe kan ons dit so vinnig bereik? O liewe vriende en broers, maak vir julle geen sorge daaroor nie, want ons eie wil sal ons terstond daarheen bring. Julle wil dit netsoos ek, en kyk, ons is al ter plaatse!

6 Julle sê: O liewe geestelike vriend en broer, hier is dit verruklik; hier sou ons wel wil bly, want so-iets pragtig, soos die uitsig vanaf die hoë gebergte, het nog nooit, selfs nie by benadering voor ons geestesoog verskyn nie.

7 Julle sien daar na die middag toe iets eienaardig en julle weet nie wat julle daarvan moet dink nie. Julle sien aan `n, vanaf die hoë uitspansel hangende goue staaf, `n son hang wat hom statig en langsaam heen en weer beweeg soos die slinger van `n uurwerk. Julle sou wel wil weet wat dit is. Ek sê vir julle: Laat ons maar daarheen gaan, dan sal julle weldra daaragter kom.

8 Sien julle daar agter hierdie indrukwekkende sonslinger die buitengewoon groot vierkantige gebou, wat hom trapsgewys en ook piramidvormig met sy punt tot onder die hoë skynbare hemel uitspansel verhef? Ons sal daarheen gaan en die gebou bietjie van naderby bekyk. Die opskrif aan die een kant sal ons die betekenis daarvan vir eers duidelik maak. Julle wil dit, en kyk, ons is ook al ter plaatse! 

9 Kyk net daar na bo. Op die tiende trap sien julle twee groot liggewende piramides staan; lees maar wat daar op elk van die twee geskrywe staan. Julle sê: Die skrif is onbekend vir ons. Wel, dan sal ek dit vir julle voorlees. Op die een piramide aan die linkerkant staan geskrywe: “Dit is die groot tydmeter vir die geskape dinge”. En op die ander piramide staan: “Enigste korrekte beweging van alle dinge en gebeurtenisse volgens die goddelike ordening”. Uit hierdie twee opskrifte kan julle reeds maklik aflei wat hierdie verskyning wil sê.

10 Maar gaan julle nou saam met my omhoog, minstens tot op die halwe hoogte van dié gebou. Daar sal ons die wyserplaat van hierdie groot wêreldhorlosie aanskou, waarop julle baie maklik kan sien hoe laat dit nou is.

11 Kyk, ons is alweer op die plek van ons bestemming. Julle is verbaas dat hierdie wyserplaat maar aan een kant, naamlik die linker-, van syfers voorsien is, en wel netsoos by julle horlosie van een tot twaalf. Die regterkant, wat na die môre (oos) gekeer is, is heeltemal sonder syfers. Dit is, omdat die aandkant (weste) hier net die tydelike aangee, en die môrekant die ewige en dus geestelike.

12 Toe die hele materiële skepping gerealiseer was, het hierdie groot, liggewende wyser na benede op die syfer een gestaan, wat julle nog sterk sien lig.

13 Maar waar staan hierdie wyser nou? Julle sê: Hy wys al reg omhoog en selfs al byna na die einde van die laaste getal. Twee klein puntjies moet hy nog passeer en dan het sy punt die syferlose ligveld binnegegaan. Weet julle wat dit beteken? Kyk, dit beteken “die laaste tyd”!

14 Maar julle vra: Sal alle dinge dan ophou om te bestaan, wanneer die wyser op die vrye wit vlak sal uitkom? Dit sal `n volgende hoër geplaaste wyserplaat aangee. Gaan daarom saam met my `n paar tree hoër.

15 Kyk, daar is al `n ander wyserplaat. Wat sien julle daarop? Julle sê: Daar sien ons juis die teenoorgestelde; die na die aand toegekeerde sy is donker en sonder syfers; die sy na die môre toe is hier egter met nuwe, helder glansende syfers beskryf. Daar staan egter die een bo en die getal twaalf onder. Die groot wyser raak reeds die eerste punt van die een, wat straal soos `n helder môrester. Elke syfer wat vanaf die een die groot kring na benede vorm, straal steeds sterker en die glans van die laaste getal is soos die van die son, wat daar in die môre so buitengewoon heerlik straal. Julle het almal goed opgemerk; maar wat wil dit sê?

16 Dit sal julle dadelik verneem. Kyk, so gaan `n ou, duister tyd in `n nuwe, glansende tyd oor. Daarom sal die dinge ook nie vergaan nie, maar daar word vir hulle “`n nuwe tyd” gegee. Soos wat die eerste tyd `n tyd was van die ondergang, `n tyd van die nag, so sal hierdie komende tyd `n tyd wees van die opkoms en `n tyd van die dag! Nou begryp julle wat dié groot uurwerk beteken. Laat ons ons blikke dus weer daarvan afwend en die dinge wat nog in eindelose, wonderbaarlike oorvloed om ons heen is, van naderby beskou.

17 Julle sien daar, na die middag toe, `n buitengewone groot vierkantige gebou wat na `n besonder groot kubus lyk, en byna twaalf duisend klafter lank is; breedte en hoogte is dus gelyk aan die lengte. Bo-op die vier hoeke sien julle vier reusagtige mense­gestaltes met vier verskillende diere aan hulle voete. Ons sal dadelik daarheen gaan en sien wat dit alles beteken. Julle wil dit, en daarom is ons ook al, soos julle sien, op die glansende oppervlak van hierdie groot kubus. Kyk net, daar in die middel van die glansende vlak staan nog `n kleiner, baie sterk stralende kubus, waarop `n geheel onverseëlde boek lê.

18 Die sewende seël sien julle ook al ontseël en vanuit die seël sien julle allerlei reusagtige vorms opstyg. Baie geeste in wit klere en met groot basuine in hulle hande, vlug na alle kante. Kyk, daar blaas een op die basuin en uit die basuin kom van alles te voorskyn soos: Oorlog, duurte, hongersnood en pes. Kyk, daar blaas `n ander op sy basuin en daaruit kom `n verterende vuur. Waar dit neerkom, verteer dit almal en die hardste klippe laat dit wegsmelt soos waterdruppels op `n gloeiende plaat. Kyk nou weer daar, `n ander blaas op sy basuin en `n groot watervloed, vol allerhande ongediertes, stroom daaruit; en kyk, daar benede in die diepte die ou aarde, hoe sy verdrink in hierdie vloed. En kyk daar, `n vierde blaas op sy basuin en `n groot, vurige draak stort gebind en geboei na benede, daar waar julle in `n eindelose diepte `n onmeetlike, kokende vuursee sien.

19 Maar kyk nou na die vier groot reusagtige gestaltes op die hoeke; ook hulle is voorsien van groot basuine. Sien, die een in die rigting van die middernag blaas kragtig op sy basuin, waaruit `n gees tevoorskyn kom om die aarde met `n groot gesel te tugtig. En sien, die een in die rigting van die aand blaas ook op sy basuin en daaruit kom `n ander gees met `n gloeiende en vurige besem in sy hand om die vuil van die aardryk weg te vee. En sien, daar in die rigting van die middag blaas die groot gees ook op sy basuin waaruit `n hele klomp geeste kom wat voorsien is van allerlei mandjies met sade om `n nuwe vrug in die skoongeveegde aardryk te lê. Maar kyk nou, die gees in die rigting van die môre blaas ook op sy basuin en daaruit kom `n glansende wolk. Daarop sien julle tallose skares. Bo hierdie wolk sien julle `n stralende kruis en op die kruis staan `n mens, so sagmoedig, so sag soos `n lam!

20 Sien, dit is die teken van die Menseseun. Hiermee het ons ook alles op hierdie plek gesien, wat julle hier te siene en te aanskoue gegee kan word; en dit alles is die lig van die waarheid, van waaruit julle hierdie dinge aanskou.

21 Julle rig julle blik so pas na die môre en sien tot julle groot verbasing `n buitengewone pragtige, groot stad, wat straal soos die heerlike son bo haar. Julle sou graag wil weet wat se stad dit is en sou haar ook van naderby wil bekyk. Julle wil dit! En kyk, die stad lê al voor ons.

22 Hoe geval dit julle hier? Julle sê: Onuitspreeklik aangenaam en goed, want hier adem ons tog suiwer liefde en alles wat ons sien, het `n buitengewone sagte, milde en liefde asemende karakter. Verder sê julle: Hoe pragtig glansend is die mure van hierdie stad; hoe buitengewoon verhewe en pragtig is haar poorte en wat `n onbeskryflik heerlike lig straal ons vanuit elke poort tegemoet! Tallose oorgelukkige skares engelgeeste wandel daar in en uit! O, daar moet wel goeie wonings wees!

23 Julle sê dat julle ook graag binne-in die stad sou wou rondkyk. Ook dit kan julle nou doen. Maar ek sê vooraf vir julle: Hierdie stad is so oneindig groot, dat ons haar selfs met die grootste moontlike gedagtesnelheid in geen ewighede volledig sou kan deurkruis nie; want hierdie stad word eers groot, ja steeds eindeloos groter en groter, namate iemand dieper in haar innerlike deurdring. Daarom sal ons ook net na `n poort gaan en deur die poort `n blik in die stad werp.

24 Julle sê nou: In die Naam van die almagtige Heer! Wat `n eindelose prag en wat `n onafsienbare ry huise! Aan hierdie straat wat ons hier sien, lyk wel nooit `n einde te kom nie. Ja, ek sê ook vir julle: Julle sou ewig deur hierdie straat kan wandel, maar nooit sou julle by `n teenoorgestelde einde aankom nie; en sulke strate en pleine is daar so ontelbaar baie in hierdie stad. Wil julle egter weet hoe hierdie stad heet, lees dan maar die opskrif bo hierdie poort. Daar staan: “Die Heilige Stad van God”, of dan wel “Die Nuwe Jerusalem”.

25 Maar ek, wie julle hier nou rondgelei het, is die gees van Swedenborg; en hiermee het julle dan ook alles gesien wat julle deur die Heer vergun was om in my sfeer te sien. Daarom keer ons dan ook weer terug. Kyk, ons is al op die plek vanwaar ons vertrek het. Tree nou uit my sfeer en gaan na Hom, Wie op julle wag en Wie se Naam is: Heilig, heilig, heilig!!! Wel, julle is weer hier; het julle alles goed in julle opgeneem?

26 Julle antwoord bevestigend, maar Ek sê vir julle: Wat julle nog nie daarvan begryp nie, sal vir julle ter gelegener tyd en wel in die sfeer van die volgende gees duideliker word. En dus genoeg vir vandag.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205