|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 5
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
Oor die Ryk van God in die mens
5 “Wanneer julle ooit `n tydlank op `n hoë berg sou bly en dit op `n volkome helder en sonnige dag, wat sou julle dan wel opmerk? Sommiges van julle sou wel vir `n tydlank heel verruk wees, want die grootse, romantiese natuurtafereel sou deur sy veelvoudige afwisselende vorm voldoende stof kan bied vir `n verheffende beskouing. `n Ander sou daarby egter heel anders dink en sou vanuit sy gedagtegang sê: Wel, is dit dan iets so buitengewoon? Mens sien wyd en syd, en wat dan wel? Niks anders nie as die een berg na die ander; die een is hoër, die ander laer. Hier en daar is die hoogste toppe met sneeu bedek. Op enkele ander plekke steek weer enkele plomp rotstoppe omhoog en die berge, wat die verste lê, lyk dan ook die mees aanvaarbaarste, terwyl die naastes niks anders as spore van aanhoudende verwoesting laat sien nie. Dit is die ewigdurende eentonigheid van die beroemde vergesig in die berge. Daar is nog `n derde in die geselskap op die hoë bergtop. Hierdie, soos julle gewoonlik sê, `n held op kouse, betreur al byna huilend, dat hy hom soveel moeite getroos het om die berg te beklim. Ten eerste, sê hy, sien hy hier niks anders as op `n gesonde vlak grond in die laagland nie, ten tweede kry hy bowendien hier, na al sy moeite, koud, en ten derde wil hy van honger in die klippe byt. As hy dan ook nog bedink dat hy die huiweringwekkende weg sal moet teruggaan, raak hy geheel buite sy sinne!
2 Hier het ons dus drie bergklimmers. Waarom vind die eerste soveel verheffend vir sy gemoed, die tweede niks anders as abstrakte, plomp vorms en waarom vererg die derde hom selfs, omdat hy soveel moeite gedoen het vir niks. Die rede daarvoor is vir elkeen van hulle nie ver te soek nie, want dit lê in hulleself. Hoe dan wel? Die eerste het `n meer lewendige en gewekte gees; dit is nie die vorm en die toppe van die hoë berge wat hom salig stem nie, maar hierdie stemming is `n weergawe van die hoër lewe in ooreenstemmende vorm oor sulke hoë berge. Want by ander geleenthede het ons reeds voldoende verneem, welke lewe dit is waarvan die berge getuig. En juis van dié lewe hang tog die geluksalige gevoel af van die besoeker, wat met sy meer gewekte en lewende gees hierdie berge betree. Die gees van die ander is nog in diepe slaap. Daarom merk hy ook niks anders op as wat sy liggaamlike oë sien en sy aardse, droë verstand derhalwe vasstel nie. As julle hom daarvoor betaal en passende matematiese meetapparatuur in sy hande gee, dan sal hy alle bergtoppe vir julle beklim en as geoloog hulle hoogte met groot genoeë opmeet. Sonder hierdie stimulans, sal julle egter nouliks slaag om hom weer op `n bergtop te kry. Wat die gees van die derde betref, laat ons maar daaroor swyg, want by hom leef maar net die dierlike mens, wat al sy saligheid in sy buik vind. As julle hom ooit weer op `n berg wil kry, dan moet julle eers daarvoor sorg dat hy sonder enige moeite bo kom, en ten tweede, dat hy bo iets goeds te ete en te drinke kry. Op dié manier sal ook hy nogeens `n berg beklim; al is dit dan nie met sy eie voete nie, dan tog met die van `n goed afgerigte lasdier. Dan sal hy sê: By so `n geleentheid sal ek wel deel van die partytjie wees, want die berglug is tog, vanweë haar suiwerheid, veel gunstiger vir die spysvertering as die benoude lug in die dale.
3 Kyk, uit die voorbeeld kan ons die groot en belangrike les trek wat presies op ons eenvoudige, geestelike son van toepassing is. En hierdie les stem presies ooreen met die teks uit die evangelie, wat lui: “Wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloedig hê; maar wie nie het nie, ook wat hy het, sal van hom ontneem word” (Matthéus 13:12). In hierdie skriftuur is nog `n ander, wat nog meer met die bogenoemde voorbeeld ooreenstem, en hierdie teks lui as volg: “Die Ryk van God kom nie met uiterlike vertoon nie, want sien, dit is in u!” (Lukas 17:21). Begryp julle nou hoe dit met hierdie voorlopige eenvoud van die geestelike son gesteld is? Julle sê: Ons begryp wel iets, maar nog nie volkome duidelik wat daarmee gesê en aangegee word nie. Maar Ek sê vir julle: Nog `n klein bietjie geduld en alles sal dadelik met weinig woorde so helder na vore kom, soos die son op `n klaarligte dag. Waarom sien julle die geestelike son so eenvoudig? Omdat julle maar net die eintlike buitekant gesien het. Maar Ek sê vir julle: Daar bestaan op die geestelike son `n oneindige, indrukwekkende en wonderbaarlike veelsydigheid, waarvan julle vir julleself tot nou toe nog glad geen voorstelling kan maak nie. Hierdie veelsydigheid lê egter nie op die geestelike son nie, maar dit lê in die innerlike van die geeste. As julle dit dus wil sien, dan moet julle met suiwer geestelike oë in die sfeer van een of ander salige gees kyk en julle sal die andersins so eentonige, geestelike sonwêreld spoedig in tallose wondere sien oorgaan. Want julle moet weet dat wel een en dieselfde ondergrond aan elke gees gegee word, wat louter uit My genade en erbarming bestaan, en dit kom in gelyke mate in die geestelike son tot uiting. Wat dan die inrigting van hierdie gegewe ondergrond, of dan wel die eintlike bewoonbare wêreld vir die gees betref, dit hang enkel en alleen af van die innerlike van `n gees, wat slegs die liefde is tot My en die wysheid wat uit hierdie liefde voortkom. Sodat julle dit nog duideliker mag insien, wil Ek julle nog `n heel aanskoulike voorbeeld daarby gee. Een van julle bevind hom op een of ander uitgestrekte vlakte. Op dié veld tref hy niks anders aan nie as `n boom in die middel, waaronder gras welig in die skadu groei. Op dié gras gaan die wandelaar lê, val rustig aan die slaap en word daardeur versterk. Maar tydens hierdie soete en versterkende rustoestand het `n wonderbare droom oor hom gekom. In hierdie droom bevind die eensame en eenvoudige wandelaar homself in die pragtigste paleise, hou hom suiwer met vorste besig, gaan met hulle om en geniet daardeur `n buitengewone groot saligheid. Nou vra Ek julle: Hoe kom hierdie man op dié eensame, leë veld eintlik aan so `n innerlike geselskap?
4 Kyk, dit alles hoort tot sy gees en is in die gees self voorhande. Dit is `n skepping van sy gees, deur die krag van die liefde, en hierdie is georden volgens die wysheid, wat uit so `n liefde voortvloei. As julle nou dié voorbeeld bietjie verder oordink, sal dit vir julle sekerlik duidelik word hoe elkeen eens in die gees, na gelang van sy liefde en die daaruit voortkomende wysheid, die skepper sal wees van sy eie bewoonbare wêreld; en hierdie wêreld is die eintlike Ryk van God in die mens.
5 Wie dus die liefde van God in hom het, sal ook die wysheid toekom, in dieselfde mate waarin hy die liefde besit. En so word aan hom gegee wie reeds het, naamlik die liefde. Wie dit egter nie het nie, maar slegs sy dorre wêreldverstand, wat hy vir wysheid aansien, van hom word dit dan ook afgeneem en wel op die mees natuurlike manier van die wêreld, wanneer hom die wêreldse of die liggaamlike lewe ontneem word.
6 Kyk, so blyk die sake! Die een bergbeklimmer gaan die berge met liefde op en op die berge is die liefde die skepper van sy saligheid. Wie slegs met sy verstand die berge in trek, sal sekerlik geen saligmakende beloning vind nie, maar hy sal vir sy moeite bitter weinig, of heeltemal niks vind nie, omdat dit geweldig deur sy verstand belemmer was. En die derde, wat heeltemal niks het nie, sal alles op die berge verloor, want `n dooie kan tog geen vreugde in die lewe vind nie, omdat hy ongevoelig is daarvoor. So kos dit ook baie moeite om `n klip op `n berg te bring; maar as hy bo losgelaat word, stort hy met groot snelheid neer in die diepte van die dood. As julle dit nou alles duidelik op die keper beskou, sal die geestelike son vir julle sekerlik nie meer so eenvoudig voorkom as voorheen nie. Wat egter nog alles daarop sal gebeur, sal ons in die volgende duidelik verneem. Daarom genoeg vir vandag.”
|
|
|
|
|