Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 96

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Alles moet voor die regterstoel van Christus geopenbaar word. Die salige word herken deur die prior

96 Kyk nou, ons prior en sy vreemde, eenvoudige man bereik so pas die taamlik digte, uit vyeboompies bestaande prieel, waaragter hulle hulleself opstel.

2 Let nou goed op. Die bekende monnik kom weer baie beskeie na my toe en vra ook dadelik: Liewe vriend en broer, ons almal sien jou sonder twyfel as verhewe bode van die Heer, maar begryp nog steeds nie wie die vreemde, eenvoudige man is nie. Sê ons daarom wie hierdie man is, want ek het hom baie goed bestudeer en ek moet eerlik aan jou beken, dat dit my daarby steeds warmer om die hart word en baie van my broers beken aan my om dieselfde ervaring te hê. Daarom dink ek dat daar agter hierdie man beslis geen geringe persoonlikheid skuil nie. Hy is Petrus of Paulus, of miskien selfs wel die lieflingsleerling van die Heer! As ek dit nie te ver mis het nie, laat my dan op `n broederlike vriendelike manier weet. Ek weet weliswaar nog nie wat daar verder met ons sal gebeur nie; beland ons in die hel of ten minste in die vagevuur? Maar dit is verseker dat ek hierdie vreemde, eenvoudige man sal liefhê, waar ek my ookal in alle ewigheid mag bevind, en wel omdat hy so beskeie, eenvoudig en liefdevol is. Ek het dit duidelik gemerk toe ek hom gade geslaan en gesien het hoe minsaam, broederlik en liefdevol hy omgegaan het met ons prior en so inskiklik was en saamgegaan het in sy swakheid, dat hy hom ten slotte selfs vir die op hande synde verskriklike aankoms van die Heer, in beskerming geneem het.

3 Ja, dit noem ek nou `n ware mensevriend. Om iemand op aarde by te staan, is maklik genoeg, omdat elke mens daar volkome vry is, maar hier in die huiweringwekkende, onverbiddelike geesteryk, wat byna heeltemal verstok is van alle liefde, genade en ontferming, is dit heelwat anders om so `n edele vriend te vind, waaragter mens by so `n naderende, ontsettende gevaar besker­ming kan soek. Daarom vra ek jou nog eens, in die naam van al hierdie broers, om my te sê wie hierdie man is. Miskien sal hy ook so genadig en barmhartig teenoor ons wees en ons beskerm wanneer die Heer met `n skrikaanjaende toornige gelaat as Regter sal verskyn!

4 O vriend en broer, jy kan beslis nie besef en begryp wat dit vir `n arme sondaar beteken om voor die onverbiddelike regterstoel van Christus te verskyn nie! Ek sou my nog liewer vir ewig so diep moontlik in hierdie grond wil laat begrawe, as om slegs `n oomblik na die aangesig van die ewige onverbiddelike, streng maar regverdige Regter te moet kyk. Bewys ons, as ons dit ook maar enigsins werd is, daarom hierdie laaste liefdediens, dan sal ons onsself ook vir ewig met die uitgesproke goddelike oordeel tevrede stel; maar behoed ons teen die aanblik van die onverbiddelike Regter!

5 Nou sê ek: Liewe vriend en broer, jy verlang merkwaardige dinge van my en bedink nie, dat ek nie die Heer nie, maar slegs `n dienaar van Hom is en as sodanig nie kan doen wat ek wil nie, maar slegs dit wat die Heer wil! Hierdie vreemde, eenvoudige man is nóg Petrus nóg Paulus, nóg die lieflingsleerling van die Heer, maar hy is iemand wat nie ver afstaan van hulle wat jy genoem het nie en wat ook nie ver is van my en van jou nie. Laat dit voorlopig genoeg wees vir jou!

6 Dat jy jou egter met jou broers voor die aangesig van die Heer wil verberg, is vergeefse moeite. As jy dink dat die oog van die Heer jou nie oral waar jy ook is, sal vind nie, dan vergis jy jou deeglik! As jy egter van mening is dat jy jou agter die rug van hierdie een­voudige man kan verberg, sodat jy die aangesig van die Heer nie hoef te sien nie, gaan dan maar, saam met al jou broers, die prior agterna, dan sal dit wel ter plaatse duidelik word of julle veilig voor die aangesig van die Heer is.

7 Dink jy dan dat die Heer na hierdie verlate plek sal kom? Dit sal Hy nie doen nie. Hy sal hom regstreeks daarheen begewe waar julle is, of julle selfs agter die struikgewas afwag.

8 Nou sê ons monnik: O verhewe vriend en broer, nou het jy my vreeslike dinge in my oor gefluister. As dit so is, wil ek tog liewer nie na die prieel nie, maar my eerder alleen, of hoogstens saam met nog `n broer, in een of ander allersmerigste hoek verberg, waar die Heer vanweë die vieslikheid nie te vinnig na sal kyk nie.

9 Nou sê ek weer: Liewe vriend en broer, ook dit sal jou weinig baat, want die Heer sal julle vind, al was julle ook in die diepste diepte begrawe. Daarom is ek van mening dat jy eerder hier by jou broers kan bly en jou skik na die wil van die Heer. Jy sal dan in jou gehoorsaamheid, sekerlik genadiger deur die Heer aangesien word, as wanneer jy jou eiemagtig en dwaas sal verberg vir Hom, vir wie niemand hom tog ewiglik kan verberg nie.

10 Ons monnik sê: As dit so is, dan geskied, in die almagtige Naam van die Heer, Sy heilige wil, want ons is nou, na jou woorde, op alles voorberei! Ek sê: Nou ja, as dit by jou die geval is, laat ons onsself dan na die plek begewe waarheen ook die prior, saam met die vreemde, eenvoudige man gegaan het. Daar, op die mees geskikte plek van hierdie tuin, sal ons op die Heer wag.

11 Kyk, die monnike, net soos die lekebroeders, begewe hulle en volg ons heel deemoedig, maar ook met vrees in die hart na ons welbekende struikgewas. Nou is ons daar. Ons laat die geselskap ietwat voor die struikgewas wag, maar gaan self daaragter kyk om te sien hoe dit met ons prior gaan.

12 Kyk, hy vra al met `n verleë stem teen sy beskermvriend: Wat beteken dit in vredesnaam dat al die ander broers, wat vir my so dierbaar is, nou na ons skuilhoekie gekom het? Dit is vir my iets verskriklik! Ten slotte sal nog gebeur wat jy, liewe vriend, al vroeër gesê het, naamlik dat die Heer juis daar waar ek my verberg, die allereerste sal verskyn. Liewe vriend en broer, is dit dan nie beter dat ons hierdie plek vir `n ander verruil nie?

13 Die eenvoudige man sê: Wat sou dit jou dan baat? Weet jy nie wat die apostel Paulus aangegee het nie, toe hy gesê het: “Want ons moet almal geopenbaar word voor die regterstoel van Christus!”? Die prior sê: O liewe vriend en broer, hierdie angsaanjaende woorde ken ek maar al te goed! Wat kan ek egter desondanks daaraan doen, dat ek my ontsettende angs vir die Heer nie van my kan wegsit nie?

14 Nou sê die eenvoudige man: Luister my vriend en broer, ek sal jou goeie raad gee. Jy het voorheen gesê dat jy die Heer bo alles sou kan liefhê en vir ewig tevrede sou wees, as jy Hom slegs eenmaal van veraf sou kan sien. Maar jy weet ook dat die Heer `n groot vriend is van diegene wat Hom liefhet en dat Hy hulle, sonder om hom bekend te maak, byna altyd meer as halfpad tegemoet kom. Wat sou jy daarvan dink as jy in plaas van jou groot vrees, jou liefde vir die Heer werklik sou aangryp, en die Heer jou dan ook tegemoet sou kom? Ek dink dat dit heelwat beter sou wees as om so `n dwase angs te hê vir Hom, wat mens tog bo alles moet liefhê.

15 Die prior sê: Ja, liewe vriend en broer, soos altyd het jy ook nou weer volkome gelyk. O, as ek die Heer maar mag liefhê; as ek met my liefde vir Hom, maar nie te sleg is nie, dan sal ek Hom bo alles met al my kragte liefhê, want ek voel baie lewendig in my, sodat ek nou tot niks anders meer in staat is, as om die Heer net onbeskryflik en onuitspreeklike lief te hê nie!

16 Nou sê die eenvoudige man: Kyk, my vriend en broer, hierdie taal geval my heelwat beter as die vroeëre, daarom sal ek jou nou ook `n klein geheim onthul. Wel, Die Een wat jy so baie vrees en nog steeds vrees, is naby jou. Sê my net, sou jy die Heer ook so vrees, as Hy net soos Ek, heel gewoon, eenvoudig en liefdevol voor jou sou verskyn?

17 Die prior antwoord: O liefste vriend en broer, in hierdie gedaante sou ek sekerlik nie bang wees vir Hom nie, maar wat die liefde betref, dink ek dat dit my byna sou kan dood as die Heer in jou eenvoud voor my sou staan.

18 Die eenvoudige man sê: Kyk, jou vrees kom voort uit `n fundamenteel verkeerde aardse voorstelling van die Heer, terwyl die Heer nie in die minste met jou voorstelling ooreenkom nie. Jou voorstelling was dan ook die oorsaak daarvan dat jy nooit egte liefde vir die Heer kon voel nie. Omdat daar ten slotte tog `n einde aan alle dwalings moet kom, kyk daarom hierheen! Kyk eers na My voete, waaraan die littekens van die spykers nog te sien is; kyk dan na My hande en plaas, net soos Thomas, jou hand in My deur­boorde sy en jy sal dan weldra insien dat mens hom selfs agter die digste struikgewas nie goed vir die Heer kan verberg nie!

19 Kyk, nou herken die prior in sy eenvoudige man die Heer en deur `n oorweldigende liefde oorval, val hy aan Sy voete, kan niks meer sê nie, maar ween en snik net. Maar die Heer buig Hom neer, help hom orent en sê aan hom: Wel, sê My net, nog altyd My vriend en broer, is Ek wel so huiweringwekkend en verskriklik soos wat jy My vir jou voorgestel het?

20 Die prior sê: O my innig geliefde Heer Jesus! Wie van ons het ooit durf dink, dat U ook in die Ryk van die geeste, so oneindig en onuitspreeklike goed is? O Heer, laat my nou gaan en uit alle krag roep, sodat dit tot in alle uithoeke van U oneindige skepping te hoor is, dat U die aller oneindig beste, liefdevolste en heiligste Vader is!

21 O Heer, hoe eindeloos salig is ek, noudat ek U nou so leer ken het! Ja, U is die hemel van aller hemele en die hoogste saligheid van alle salighede! As ek slegs U en U alleen, ewig steeds meer mag liefhê, dan vra ek nóg na `n hemel, nóg na `n ander saligheid. Laat my hier `n hut bou wat groot genoeg is om my, my broers en U, o Heer, te herberg, dan sal ek dit met geen ander saligheid meer verruil nie! Maar U, o allerliefdevolste, heilige Jesus, mag ons beslis nie meer verlaat nie, want sonder U, sal ek vir ewig die mees ongelukkige wese wees.

22 Die Heer sê: My vriend en broer, Ek ken jou hart; sê maar niks meer oor jou begeertes nie, gaan maar liewer na jou broers toe en kondig My aan, soos Ek My aan jou bekend gemaak het. Ek sal jou dan ook spoedig volg om ook al jou broers te verlos, soos ek jou verlos het. Daarna sal Ek julle na julle ware ewige bestemming lei! Gaan dan nou en handel volgens My liefde. Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205