Op weg na Christus
56 Kyk, so het hulle saam aangekom en ons vermeende “tafeldienaar” vra ons woordvoerder hoe die reis hierheen hulle geval het en watter opmerkings hulle gemaak het. Ons woordvoerder sê: Liewe vriend en broer van sekerlik besonder hoë geaardheid, ek sê vir jou, `n ou spreekwoord sê: “Baie geskreeu en weinig wol!” So was dit ook met ons. Ons het onder mekaar oor baie onbeduidende dinge geklets, wat saam maar weinig gewig in die skaal van die waarheid sou gelê het. Daarom sal dit myns insiens nie nodig wees om vir jou ons dwaashede, wat jy al van ons gesigte kan aflees, te herhaal nie. Behalwe `n onderwerp wat weliswaar nie belangrik is nie, omdat ek dit uitgespreek het, maar omdat dit op sigself belangrik kan wees.
2 Die vermeende tafeldienaar vra die woordvoerder: Waaruit sal die betekenisvolle onderwerp dan wel bestaan? Kyk, ons het nog `n redelike ent om tot die paleis te gaan; daarom kan jy dit wel vir my vertel. Ons woordvoerder sê: Beste vriend en broer, as jy my geduldig wil aanhoor, sal ek jou baie graag vertel waaruit, sowel vir my, as vir die hele geselskap, die mees belangrike onderwerp bestaan. Jy het my `n wenk gegee en gesê dat ek kan praat; dus sal ek ook alles, wat ek maar in myself kan vind, openhartig na vore bring. Op aarde het ek ook al baie heimlik wel sulke denkbeelde gehad, maar eintlik was hulle niks anders as vlugtige verbytrekkende fantasieë nie, wat altyd weer, soos dit betaam, plek moes maak vir my katolieke geloof. My fantasieë het ontstaan en bestaan nou, nog meer as destyds, uit die volgende: Nommer een was vir my altyd die so hooggeplaaste, onbegryplike drie-eenheid, tot Wie ek nooit die liefde van my hart geheel en al kon verhef nie, wat ek ook maar gedoen of gewil het. Ek het wel `n erbarmlike vrees gehad, wat saamgehang het met `n ongelooflike heilige ontsag. Dit was dan ook alles wat ek vir die allerheiligste, drievuldige Wese gevoel het. Meer kon ek onmoontlik van my hart gedoen kry nie.
3 As ek daaroor nadink dat mens God moet liefhê bo alles en wel met al sy lewenskrag en my daarby afvra: Is dit wel die geval by jou, of hou jy eintlik nie diep in jou hart duidelik meer van jou vrou, kinders en allerlei vriende, as van die allerheiligste drie-eenheid nie, dan kom die ondubbelsinnige antwoord altyd by my op, dat ek aansienlik meer van my vrou, kinders en menige vriend hou as van die heilige drie-eenheid. Ja, ek moet eerlikheidshalwe nog daaraan toevoeg dat ek eintlik nie kon begryp hoe dit vir `n mens moontlik kan wees om hierdie drie-eenheid lief te hê nie. Hoe meer ek my liefde op die grootse begin te rig, des te meer word ek daarvan bewus dat `n mens nie eens in staat is om vir al die grotes, liefde op te bring nie. Ek het dit ook deur middel van allerlei fantasie-voorbeelde by myself uitprobeer.
4 Eens het ek by myself gedink: sou jy wel `n baie mooi vrou kan liefhê, as sy ongeveer twee keer so groot sou wees as `n kerktoring? In my fantasie het ek so `n vrou dan ook so lewendig moontlik vir my voorgestel en die hemel mag weet hoe dit gebeur het, het my verbeeldingskrag dit gedoen of een of ander gees, hoe dit ook al sy, ek het werklik `n verskyning van so `n immense groot vroulike gestalte gesien. Vir sover ek my kan herinner, kon mens hierdie gestalte werklik mooi noem, maar in plaas van dat daar in my hart iets van liefde ontwaak, het dit slegs `n helse skrik van my meester gemaak. Daardeur het dit vir my duidelik geword dat die menslike hart nie in staat is om al te groot dinge lief te hê nie, maar dat dit deur iets dergeliks ontsteld raak, soos `n skugter kind wat `n gepantserde held vir die eerste keer sien.
5 So het ek my hart ook gevra of ek wel in staat sou wees om `n berg of die hele aarde lief te hê. Ek het ook daarvoor liefde in my hart probeer opwek, maar dit het daarby met my gegaan soos `n nie al te sterk en kragtige mens, wat `n buitengewone swaar lees moes optel. Ek het by hierdie liefdespoging so `n groot held voorgestel en dan by myself gedink: Hy moes die aarde tog vurig liefgehad het, as hy so verwoed geveg het om haar te besit. Maar dan sê my hart vir my: Hierdie helde het nie die aarde liefgehad nie, maar slegs hulleself; hulle wil geen vaders nie, maar slegs meesters en heersers op aarde wees. Toe ek dit ontdek het, vind ek my beginsel nog meer bevestig en ek sien nog duideliker in, dat `n mens nooit, die liefde, wat vir hom al te groot is, kan omvou nie. So wou ek ook eens verlief word op `n ster. Ook dit het nie gegaan nie, want hy was te ver weg en ek het met hierdie liefde soos `n vis op die droë grond gevoel, wat wel voortdurend na water hap, maar desondanks geen druppel in sy keel kry nie. Met soortgelyke vreemde liefdesvoorbeelde het ek my hart dikwels op die proef gestel, maar dit het altyd op niks uitgeloop nie.
6 So het dit dan ook met my liefde vir die allerheiligste drie-eenheid geen haar beter gegaan nie, inteendeel nog veel slegter. Want vir die tot nou toe genoemde liefdesproewe was ek, behalwe vir die reusagtige vroueverskyning, nie bang nie. Vir die drie-eenheid was ek egter altyd onuitspreeklik bang, omdat ek deur my geloof die allerheiligste Wese slegs as `n onverbiddelike, streng regter geken het, wat die mense tydens hulle kort lewe op aarde eintlik maar net genadig is, op grond van `n lewe van voortdurende streng boetedoening. As die mens eenmaal gesterwe het, dan hou hierdie skaars genade vir ewig op en wag daar op die sondaar niks anders as ewige verdoemenis, en in die gunstigste geval die verskriklike vagevuur. Van `n hemel is daar vóór die laaste oordeel, glad geen sprake van nie. Wanneer dit uiteindelik sal plaasvind, daaroor word selfs alle engele deur die wysheid in die steek gelaat. Daar word weliswaar agteraf `n lang saligheid belowe, maar wel een soos wat ons dit onlangs beproef het.
7 As jy dit, beste vriend, alles saamvat en wel ten eerste die heel merkwaardige, geheimsinnige, onbegryplike Wese van God se drie-eenheid, ten tweede die onuitspreeklike en onverbiddelike strengheid van die Wese as regter, ten derde die hel, die vagevuur, die laaste oordeel en daarby ten vierde nog die ewige gaap en eethemel vergesel van `n ewige rus, dan sou ek die hart wil ken wat selfs met die grootste inspanning so `n Godswese met vurige liefde sou kan omvou.
8 Met nommer een is ek klaar; maar beste vriend, nou kom daar `n nie veel beter nommer twee, en dit is die nie minder misterieuse allerheiligste altaarsakrament nie. Ek wil jou by hierdie geleentheid slegs op `n dom gedagte van my attent maak. Kyk, ons leer wys ons dat die hostie* onfeilbaar en onweerlegbaar die volmaakte Godheid is. Nou is daar tog baie kerke en baie hosties in elke kerk. Wanneer verskeie priesters byvoorbeeld tegelykertyd die mis gelees het en hulle nie dadelik byna alles tegelyk toewy nie, vriend, dan kos dit my dikwels `n hele stryd om onder elke hostie die eintlike goddelike Wese voor te stel en wel volmaak en onverdeeld. Maar hoe gaan dit met my by hierdie voorstelling? Waarlik, ek kon die gedagte aan verskeie gode nie van my afsit nie, veral as ek daarby nog bedink en tewens met eie oë die uitgestalde allerheiligste sien, waarin die volmaakte God aanwesig was; dan nog `n netso volmaakte God, wat by die gedaanteverandering deur verskeie priesters getoon word, waarby ek my onvermydelik ook nog `n volle communieciborie (nagmaals-seremonie) met meer as honderd gode moet voorstel. *(Offerbrood wat by die misoffer en die Heilige Kommunie van die Rooms-Katolieke Kerk bedien word; misbrood, oblaat)
9 Stel jou nou net voor hoe dit dan heel dikwels met my te moede was, veral as ek hierdie hostie met my liefde wou omvou. By die aanblik van die baie, kon ek my tog onmoontlik een voorstel; en daarom was ek eintlik genoodsaak om nie een lief te hê nie. Die beste het ek nog altyd gevoel by die monstrans, (oop of `n deursigtige goud of silwer houer waarin die Heer vertoon word) want dit het nog die langste standgehou. Dit is nog die minste domheid van my, maar `n ander gedagte het hom dan altyd van my meester gemaak en dit kon ek onmoontlik verwerk het. Ek versoek jou egter om my nie uit te lag, as ek dit vir jou gaan vertel nie.
10 Kyk, die probleem bestaan uit die volgende: As ek so `n volmaakte godhostie bekyk het, dan kom hierdie vertwyfelde gedagte dikwels by my op, waarin ek myself afvra: As dit die volmaakte, ware God is soos wat die geloof my leer, hoe lyk die eintlike God in die hemel dan? Moet Hy dan altyd heeltemal na benede kom, of bly die Vader in die hemel, terwyl die Seun na benede kom, of vervul die Heilige Gees hierdie diens?
11 Ek het self enkele kere daaroor navraag gedoen, maar kry nooit `n ander antwoord as dat dit `n ondeurgrondelike goddelike misterie is en dit byna een van die grootste sondes is om daaroor na te dink en dat dit baie maklik tot `n sonde teen die Heilige Gees kan lei.
12 Op so `n antwoord moes ek my dom gedagtes dan ook so veel moontlik verdring, want ek sien maar al te goed in dat mens nooit daaroor tot klaarheid sou kom op aarde nie, waarom ek my dan maar altyd met die geestelike wêreld getroos het. Ek het daarby weliswaar oor die woorde van Christus nagedink, wat gesê het dat dit Sy liggaam is, maar nie Sy Godheid nie. Maar ook dit het my weinig gehelp. Die beste gevoel het ek nog gehad as ek daaronder lewende brood uit die hemel voorstel, wat vir die gelowige mens `n spys vir die ewige lewe kan wees en ek het met die geloof geleef so goed as wat dit maar kon, tot aan die einde van my aardse lewe.
13 Dit was nou, beste vriend, my fantasie nommer twee. By nommer drie het ek nog `n ander ding en wel oor die Christus uit die evangelie. Nou moet ek wel opreg aan jou beken, dat ek op hierdie een werklik voortdurend, net soos `n Magdalena, verlief was. As ek oor Hom gedroom het en so menige toneel uit Sy lewensloop voor my sien, dan moet ek jou sê, het my hart steeds in vuur en vlam gestaan. Ek weet ook nie hoe dit gekom het nie en ek kon doen wat ek wou, tog was ek, ondanks die katolieke leer, nie in staat om Hom as `n onverbiddelike regter te beskou nie. Want die toneel met die moordenaar aan die kruis en die manier waarop Hy sterwend aan die kruis die Vader om vergewing vra vir sy beledigers, en verder die verhaal van die verlore seun, van die barmhartige Samaritaan, van die tollenaar en die fariseër in die tempel en die van die egbreekster en nog vele ander, was altyd soos `n sterk muur waarteen my hele katolieke regtersgeloof nie opgewasse was nie. En so het ek die hemel dan ook op my manier voorgestel en wel as volg:
14 As die hemel nou net soos `n baie mooi aardse landskap sou wees, waar mens dan ook die onuitspreeklike geluk sou hê om Christus net te ontmoet, deur Hom onderrig te word en as leerling van Hom ook `n liefdadige en vrugbare liefdeswerk te laat gryp, dan sou dit tog `n hemel wees soos geen sterfling hom mooier, saliger en verhewender sou kan voorstel nie.
15 Ek het ook dikwels by myself gedink: As dit moontlik sou wees om op hierdie manier by Christus te wees, al was dit maar af en toe, dan was die allereenvoudigste hut vir my die hoogste hemel! Ja, ek het ook dikwels gedink: As ek U, allerliefste Christus, maar sou hê, dan sou ek nie meer vra vir `n hemel, nóg `n geluksalige aarde nie! Kyk beste vriend en broer, dit was my fantasieë. Gedagtes is tog vry en daarom kan alles nog wees soos wat God dit wil! Jy kan daaroor dink soos jy wil; vind jy dat ons iets hiervan kan leer, dan is dit goed, so nie, dan geskied soos altyd die wil van die almagtige, drie-enige God!
16 Die vermeende tafeldienaar kyk ons woordvoerder glimlaggend aan en sê vir hom: Luister my liewe vriend, jou fantasieë is beter as wat jy dink; veral jou derde fantasie, dit is onbetwisbaar die beste. Dit is waar, in die Godheid lê weliswaar ewige ondeurgrondelike dinge, verhoudings, weë en raadsbesluite opgesluit wat nooit deur `n geskape wese begryp kan word nie, maar met betrekking tot jou liefde vir Christus, sal daar vir jou spoedig `n helder lig opgaan. Ek kan jou al by voorbaat sê, dat jy en jou hele geselskap hierdie fantasiehemel sekerlik weldra ten deel sal val! Omdat ons nou reeds voor die deur van die paleis staan, gaan ons na binne, alwaar julle nadere besonderhede sal ervaar.