Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 84

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Oor die sonde teen die Heilige Gees

84 Kyk, ons prior het al sy ondersoek gedoen en begin hom teen ons uit te spreek daaroor. Luister dus, hy sê: Beste vriend, ek het jou voorbeelde en jou vraag in die diepste van my innerlike goed oorweeg en kan jou daaroor niks anders sê nie as dat jy volkome gelyk het. Want vir die eerste keer in my twee­voudige lewe sien ek nou in, dat die bieg die allergrootste misslag is, sowel aan die goddelike, as die onderlinge, broederlike reg.

2 Soos wat ek nou insien, kan `n mens hom werklik niks dwaser voorstel, as wanneer twee wedersydse skuldenaars hulle daarmee tevrede moet stel en oor en weer vry van skulde sou wees, wanneer `n derde, wat nóg met die skuld van die een, nóg met die van die ander iets te make het, en aan die een of die ander sy skuld kwytskeld. Of wanneer selfs `n derde as gevolg van die aanneem van `n geringe bedrag, natuurlik volkome onregmatig, die skuldenaar oortuigend verseker dat hy die aansienlike groter skuld aan sy skuldeiser heeltemal daarmee afgehandel het. O vriend, dit is vir my nou so helder soos hierdie buitengewone deursigtige lug hier. Maar nou kom daar `n ander vraag.

3 Wanneer dit ongetwyfeld so is, welke lot staan al die dwase biegvaders en biegelinge dan uiteindelik te wagte? As ek bedink dat dit in my kerk juis die hoofsaaklike “conditio sine qua non”* is, dan breek daar koue sweet op my uit. *(absolute voorwaarde)

4 Hoe was dit tog in godsnaam moontlik dat hierdie verskriklike onsin so diep en onuitroeibaar wortel kon skiet? O vriend, ek sal graag vir my dwaasheid in die hel boet, maar laat my eers net `n jaar of drie met `n onsterflike liggaam na die aarde gaan. Ek sal daar vir die kerk `n lig ontsteek wat vir haar dwaasheid heelwat gevaarliker sal wees, as `n stuk witgloeiende yster vir `n druppel water. Want ek weet maar al te goed, hoe ontsettend hardnekkig die hoëpriesterskap van hierdie kerk met die aller onsinnigste bedrog deurgaan en ek sien ook in, dat sy hierdie dwaasheid nooit langs `n gewone natuurlike weg sal laat vaar nie. Daarom sou ek, soos gesê, graag met `n onsterflike en onverwoesbare liggaam na benede wil gaan om aan hierdie en nog heelwat ander, nie minder belangrike dwaashede van hierdie kerk, `n einde te maak.

5 Nou sê ek: Beste vriend en broer, dit het die Heer nie nodig nie. Begryp die sondevergewing hier egter vanuit die ware gesigspunt, dan sal die geleentheid onbeperk aan jou gebied word om dit hier onuitspreeklik beter en nuttiger in praktyk te bring as wanneer dit aan jou toegestaan sou word om op aarde vir `n duisend jaar lank met allerlei wondermiddele daarteen in te gaan.

6 Die aarde is geen oord van reiniging nie, maar slegs `n oord van beproewing van die vrye wil; daarom is almal dan ook vry. Goeie bedoelinge en dwaasheid, Satan en engel kan naas mekaar bestaan.

7 Sodat wat die wil van die gees hom in alle vryheid kan oefen, moet allerlei verlokkinge ook op `n hemelliggaam voorhande wees, wat onophoudelik daarop aanstuur om die mens van die waarheid af te hou en na die verkeerde te lei. Daardeur moet elke mens dan, net soos hele geselskappe, voortdurend stryd voer, waardeur die lewenskrag geoefen word en die vryheid van die wil een of ander bepaalde rigting moet kies.

8 Sou jy dus op `n hemelliggaam, by name in `n kerkgemeenskap, jou voorneme helder en duidelik in praktyk wil bring, dan sou jy, om te begin, alle verlokkinge van die vlees, soos die seksuele behoef­te, as `n lewende gevoel en ook alle ander liggaamlike behoeftes heeltemal moet ophef. Maar as jy dit sou doen of sou kan doen, wat sou die mens dan nog op `n hemelliggaam wees? 

9 Kyk, uit hierdie lewende prikkels kom die mensegeslag tog juis voort en dus ook alle menslike dade drange. As dit vir jou nou heeltemal duidelik is, dat die uitroei van die verkeerde en die daaruit voortkomende boosheid by die mense, op die hemel­liggame op geen ander manier moontlik is as deur die uitroei van die mensegeslag self nie, dan sal jy tog ook insien dat die driejarige verblyf op `n hemelliggaam, waar jy dink om wondere te verrig, sowel vir die hede as vir die toekoms, nog baie minder vrugte sal afwerp vir die volledige ten goeie draai van al die verkeerde en bose, as wat die aardse lewe van die Heer en dié van Sy gees vervulde apostels en leerlinge gedoen het.

10 Ek sal jou egter sê, waarom jy eintlik na die aarde wil gaan. Kyk, daar is twee redes. Die hoofrede heet wraak, en die ander is dat jy met `n trouens verkeerde en sleg gekose middel, die Heer vir jou dwaasheid met `n nog groter dwaasheid genoegdoening wil gee! Sien daarom maar heel vinnig van jou voorneme af en laat, in plaas van wraak, die ware naaste- en broederliefde in jou hart ontkiem, en dan sal jy spoedig duidelik insien dat mens hier in die oord van die egte purgatorium (reiniging), volgens die hoogs wyse liefdesplan van die Heer, baie doelmatiger teen die dwaashede van die wêreld kan optree.

11 Omdat jy, soos wat ek kan sien, dit net soos jou hele geselskap begryp en insien, moet ek jou nou daarop attent maak dat jy my die eintlike antwoord, met betrekking tot die tekste in die Skrif oor die sondevergewing, nog skuldig is. Ons kan geen stap verder kom voordat hierdie kwessie uitvoerig en volledig uitgepraat is nie. Begin dus nou met die beantwoording en begin met die in die Skrif voorkomende stelling oor ontbind en binding, by Mattheüs 18:18 en gelykluidend by Johannes 20:23. As jy daarmee klaar is, gaan ons eers oor na Jakobus. Dus, praat nou maar!

12 Die prior sê: O liewe, hoog verhewe vriend, dit sal vir my ontsaglik moeilik wees en daarom vra ek jou baie deemoedig om my nie kwalik te neem as ek jou beslis geen bevredigende antwoord hieroor kan gee nie, want waar niks is nie, kan selfs die dood niks gaan haal nie.

13 Nou sê ek: Sien jy, ek weet goed dat dit hierop sou uitdraai. Jy wil na die aarde toe gaan om jou kerk op die goeie pad te bring. Sê net, hoe jy dit wil aanpak as dit jou aan die allernoodaaklikste en mees wesenlike vir so `n onderneming ontbreek?

14 Die prior sê: O verhewe vriend, werklik, my dwaasheid groei soos woekerende onkruid op bemeste grond. Na wat jy nou gesê het, sien ek in dat ek nie eens deug as `n varkopasser nie, laat staan as wonderdadige kerkhervormer. O, sê my tog, hoeveel van die soort onsin sit daar nog in my?

15 Ek antwoord: Ek sê vir jou, dit is nog `n groot porsie, maar die beantwoording van my vraag sal wondere in jou verrig. Let daarom op, hoe ek haar nou vir jou sal beantwoord. Luister dus!

16 Ek sal vir jou die teks uit Johannes uitlê, omdat hy die verligting deur die Heilige Gees vooropstel. “Ontvang die Heilige Gees; as julle die sondes van die mense sal vergewe, dit sal dan ook in die hemel vergewe wees; maar as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou, dit sal hulle ook in die hemel aangereken bly”. So lui die teks; maar wat is sy betekenis?

17 “Ontvang die Heilige Gees” wil soveel sê as: Word verlig met My Waarheid! En die diepere betekenis is nog: Volg My in alles na! En die allerdiepste betekenis is: Het mekaar lief soos wat Ek julle liefgehad het! Want daaraan sal mens herken dat julle waaragtig My leerlinge is, as julle mekaar liefhet.

18 Kyk, dit beteken: “Ontvang die Heilige Gees”, want die Heer het geen ander gebod gegee as die van die liefde nie. Daarom kan Hy ook onmoontlik `n ander gees as die van die liefde aanbied en gee. Begryp jy hierdie teks? Jy bevestig dit vir my in jou hart. Goed, dan gaan ons verder.

19 “Aan wie julle die sondes sal vergewe, dit sal hulle ook in die hemel vergewe wees”, wil sê dat: wanneer, wie van julle dan ook, volgens My gees van Liefde en Wysheid sy broer die skuld wat hy teen jou het, sal kwytskeld, sal Ek nie alleen ook die skuld wat sy broer by hom kwytskeld nie, maar Ek sal ook hom, wat die skuld kwytskeld, alle skuld teen My vergewe. Wanneer iemand daarenteen, wat die tweede deel van die teks sê, sy broer se skuld nie sal kwytskeld nie, dan sal Ek ook die skuldeiser sy skuld laat behou. Wanneer die skuldeiser hom egter wil versoen met dit wat aan hom gesondig is, maar die skuldige wil die versoening nie aanneem nie, dan sal Ek ook vir die skuldige solank onversoenlik bly tot hy hom met sy teenstander sal versoen het.

20 Kyk, dit is nou die enigste in die hemel geldende verklaring van hierdie teks. Die sondes wat `n mens egter teen God, en derhalwe aan sy eie gees begaan, kan tog niemand anders vergewe nie, as slegs Hy, teen wie se heilige orde dit begaan word. En die sonde aan die eie gees kan tog sekerlik ook niemand anders vergewe of kwytskeld as die eie gees self, dit wil sê met `n volkome opregte wil uit liefde vir die Heer en homself verloën en sulke sondes in die vervolg nooit meer wil begaan nie.

21 Wat egter die sonde teen die goddelike Gees betref, wat op sigself die uitstralende liefde van die Heer is, sal dit tog sekerlik duidelik wees, dat wanneer iemand eiemagtig teen die allerheilig­ste en kragtigste genademiddel ingaan, mens hom tog ernstig moet afvra deur welke middel so iemand, wat boosaardig veg teen die allerheiligste, nog gered kan word.

22 Sien jy, dit is dan die volledige, betekenisvolle uitleg van die tekste oor die sondevergewing. Hierdie tekste word gelykluidend en helder, baie kortliks uitgelê in die mees verhewe gebed van die Heer, waarin onherroeplik geskrywe staan: “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenare vergewe.” Daar staan nie so-iets as: Vergeef ons ons skulde na die mate van ons boetewerking, soos die bieg, die penitensie,(straf) die kommunie (sielsgemeenskap) en soos wat die biegvader ons van ons sondes vrygespreek het. Ook op `n ander plek word van `n algemene vergewing van sondes gespreek, waar staan: “Wees barmhartig en u sal barmhartigheid ondervind”, wat weer nie beteken: Bieg, dan sal julle sondes kwytgeskeld word nie.

23 En in die gelykenis van die verlore seun verwys die Heer tog na die belangrikste middel om vergewing van sondes te verkry, naamlik `n ware liefdadige, deemoedige en liefdevolle ommekeer tot God, die allerbeste en allerliefdevolste Vader van alle mense! Begryp jy dit? Jy bevestig dit; dan sal ons nou na Jakobus toe gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205