Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 66

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Uitleg oor die inrigting van die Augustynse klooster

66 Julle sê nou en vra my: Beste vriend en broer, kyk, die klooster is aan alle kante afgeslote; sal ons deur geslote deure gaan of laat ons die deure vir ons oopmaak?

2 Liewe vriende en broers, ons sal, nóg die een, nóg die ander hier doen. Die klooster lyk maar net vanaf `n afstand geslote en toon daarmee aan dat haar bewoners moeilik te benader is. Daarom maak die geslote klooster juis die verstarde grondbeginsels van sulke geeste na buite toe sigbaar.

3 Wanneer ons nader aan die klooster sal kom, in sy sfeer tree en dus ook as`t ware die belewingswêreld van sy bewoners binne­gaan, sal ons weldra sien dat dit oop is. Laat ons dus nader gaan, sodat julle julleself van alles kan oortuig. Kyk nou, ons bevind ons al in die sfeer van die klooster en sy poorte is voor ons geopen.

4 Julle sê: Beste vriend en broer, ons kan nog nie goed begryp hoe so-iets werk nie. Gebeur dit deur die wil van die inwonende geeste, gebeur dit deur jou wil of is daar vir die doel een of ander spook­agtige masjien opgestel, waarmee alle deure skielik deur `n eenvoudige knopdruk oopgaan?  

5 Beste vriende en broers, dit is geensins die geval hier nie, maar om dit vir julle begryplik te maak, sal ek julle aan die hand van `n eenvoudige voorbeeld insig verskaf. In `n geselskap is `n soge­naamde “wêreldse wysgeer”, wat `n filosoof genoem word deur julle. Hierdie man is nie baie spraaksaam nie of hy praat gladnie. Waarom? Omdat hy ten eerste nie sy pêrels voor die varke wil werp nie en ten tweede omdat hyself baie van sy idees nogal gewaag vind en daarom nie daarmee voor die dag durf te kom nie. Enersyds om niks van sy roem as geleerde ligsinnig te verspeel nie, andersyds egter ook uit vrees vir een of ander onbekende meeluisterende oor van gesaghebbende politieke instansies, waar­deur hy hom maklik aan heelwat narigheid sou kon blootstel. Sodat ons man nóg deur die een, nóg deur die ander in die moeilikheid sal kom, sluit hy hom af, begewe hom as`t ware in sy sieleslaap, of in sy geestelike wysheidsparadys, of in sy Stoïsynse hemel, maar luister in hierdie toestand baie sorgvuldig of hy in die geselskap miskien hoor van een siel wat aan hom verwant is. As hy so iemand gevind het, dan word hy spoedig vertroulik en begin die een na die ander poort van sy klooster te open. Vind hy egter een of meer siele wat volledig in sy idees ingewy is en dit ook hulle eie gemaak het, dan word alle poorte van sy klooster dadelik en tegelyk oopgemaak en ons man sal nie nalaat om van die gees­verwante en geselskap wat vir sy idees verhit is, in ontvangs te neem nie. Ons is dit hier weliswaar nie werklik met die idees en verkeerde grondbeginsels van die klooster eens nie, maar nietemin word ons tog, as gevolg van ons toenadering, wel deur die kloostergemeenskap as geesverwante beskou.

6 Julle vra of hierdie kloostergeeste ons wel kan sien. Ek sê vir julle: In wese sou dit nie nodig gewees het nie, omdat dit hier uitsluitlik gaan, om aan julle ietwat insig oor die verhoudings hier te verskaf, en vir die doel kan ons oral, waar ons maar wil, ongehinderd binnegaan, sodat ons daar al die moontlike heimlik kan beluister. Maar omdat dit hier vir julle om `n ietwat meer bewuste insig gaan, is dit ook noodsaaklik dat ons onsself vir die bewoners van die klooster sigbaar maak. Om die rede het die klooster ons dan ook sien aankom. Die poorte staan vir ons oop en ons kan dus ongehinderd binnegaan. Ons sal eers die kerk binnegaan en net kyk wat daar alles te siene is. Kyk, ons is al in die kerk. Wat sien julle? 

7 Julle sê: Merkwaardig, dit is inderdaad `n buitengewone pragtige kerk. Die skitterende boustyl, die hoogte en die meesterlike wandskilderye is werklik verbasingwekkend. Die hoogaltaar is `n volmaakte meesterstuk van beeldhoukuns. Ook die groot skildery van die drie-eenheid, wat besonder opval deur sy verhewe, sag­moedige karakter, is meesterlik uitgebeeld. Werklik, hierdie trouens op misverstande berustende drie-eenheid, het ons nog nooit so meesterlik geskilder gesien as hier nie. Hierdie visuele voorstelling is so merkwaardig, omdat die Vader en die Seun hulle hoofde byna heeltemal teenmekaar hou, waardeur die hoofde hulle dan ook, in die lig gehou, in `n driehoek bevind. Bokant beide hoofde in die boonste hoek is die duifgestalte van die Heilige Gees so aan­gebring, dat die duif in hierdie driehoek lyk asof hy sit, waarby hy sy koppie tussen die twee hoofde na benede buig.

8 Verder is nog opmerklik dat onder die drie-eenheid, skares en nog eens skares op wolke gekniel en biddend afgebeeld is. Ons sien onder hierdie saliges maar net die ou profete, die apostels van die Heer, vlak onder die drie-eenheid vir Maria en Josef, dan baie martelare wat aan ons welbekend is, daarna egter net pouse, kardinale, biskoppe en prelate, enkele beroemde monnike, keisers, konings, vorste, grawe en ridders en nog adellike vroulike geluksaliges; maar daar is nie `n salige, eenvoudige boer onder hulle te ontdek nie. 

9 Julle sien dit goed, maar tog het julle nog nie alles gesien nie. Kyk maar net heeltemal na benede, na die onderste gedeelte van die tableau, daar sien julle die aardbodem afgebeeld, waarop `n hele klomp armsalige landliede hulle hande smekend om hulp na hierdie saliges omhoog hou. Nog ietwat laer is selfs die vagevuur te sien, waarin tallose arme siele die arms bo die lekkende vlamme uit omhoog strek en die heiliges in die hemel om hulp smeek. Daar, aan die linkerkant van die afbeelding is vlak bo die aarde `n taamlike donker gehoue wolk geskilder en vanaf die aarde is daar `n leer teenaan geplaas. Aan die einde van hierdie leer sien julle `n poort met twee deure, volgens die vorm van die kliptafels van Moses; agter die poort staan Petrus en die aartsengel Migael en op die leer sien julle ook enkeles wat besig is om na bo te klim, maar ook enkeles wat bo aan die leer vanaf die wolk vooroor na benede val. Op die agtergrond van hierdie donkergehoue wolk sien julle ook nog enkele knielende saliges; dit is die sogenaamde allerheiliges.  

10 Kyk, net die hel ontbreek dus aan ons afbeelding. Omdat dit egter nie in die gedagtewêreld van die geselskap voorkom nie, kan dit ook geen deel uitmaak van hierdie afbeelding nie. Ons het nou die afbeelding op die hoogaltaar noukeurig van bo tot onder bekyk. Wat val julle nog verder op? Julle sê: Die mooi tabernakel, wat uitgebeeld word deur `n groepie kunssinnige saamgevoegde sera­fynkoppies. Dan die tabernakelportaaltjie, wat die verrese Christus voorstel en as ons goed kyk, is hierdie Christus ietwat deursigtig en sien mens aan die kant van die hart, in plaas van Sy hart, `n pragtige monstrans (deursigtige houer van silwer of goud waarin die Heer getoon word) met die allerheiligste deurskemering. Ja, so is dit ook, sowel visueel as daadwerklik. Die liefde van Christus word hier uitgebeeld deur die liefde vir goud, silwer en edelstene en die brood van die lewe wat hom met hierdie vernaamste aardse rykdomme omklee.

11 As jy, beste vriend en broer, dit nou vir ons alles ietwat duideliker sou wil uitlê, dan sal dit ons sekerlik nie skaad nie.

12 O ja, dit sal ek wel doen. Vra julle net af waardeur `n mens hier sou moet heengaan om by die brood van die lewe te kom? Vereers deur die edelsteen Christus. Dit stel egter niks anders voor nie as die dooie kerkgebou. Wie nie in hierdie kerk gedoop en gevorm is nie, kan nie by die kerklike, lewende genadeskatte kom nie, maar wie hom eenmaal in die gevestigde kerk bevind, mag dan verseker nie die goud en silwer vergeet nie, want van silwer en goud is die sleutels van Petrus gemaak. Bring iemand silwer en goud saam, dan word hy ook tot die brood van die lewe toegelaat. 

13 Julle moet nou nie dink dat mens vir die kommunie* moet betaal nie, want elkeen wat ter ‘kommunie’ gaan, kry hierdie klein hostie,(gewyde wafer) so dikwels as wat hy maar wil bieg, gratis. Wil iemand egter ook die volle werking van die groot hostie vir homself verkry, dan moet hy betaal en bowendien nog `n mis laat lees. Bowendien moet hy, as daar na sy dood nog reëlmatig misse gelees moet word, `n behoorlike groot skenking maak. Wil hy aan die te lese misse nog meer krag laat bysit, dan moet dit bowendien nog voor geprivilegeerde altare gelees word. Ek dink dat julle uit hierdie min gegewens sonder veel moeite kan aflei hoe mens slegs deur silwer, goud en edelstene by die deur van ons aanskoue allerheiligste kan kom. Op aarde beteken goud, silwer en edelstene weliswaar `n verering van God en heet: Omnia ad majorem Dei gloriam!** Maar hieronder word daar iets anders verstaan en word dit vertaal as: Alles tot groter aansien van onsself, tot ons verheerliking en tot ons steeds groeiende priesterlike rykdom, of nog duideliker gesê: ‘Laat ons meesters wees op aarde, dan sal elke keiser sy hoof tot op die grond voor ons buig’.

*(kommunie, Deel v.d. mis in die Rooms-Katolieke godsdiens wanneer die priester die gekonsekreerde hostie nuttig.)

**(Alles tot meerdere eer van God)

14 Mens sou hom hier tog werklik moet afvra waar, onder die goud, silwer en edelstene, die ware Christelike deemoed en veragting dan eintlik vir die wêreld te vinde is, en waar die naasteliefde, die selfverloëning en die “neem u kruis op en volg my”. Want onder die aspek van goud, silwer en edelstene sou die Heer tog dit moet sê, “neem julle goud, silwer en edelstene en volg My na My pragtig belaaide Ryk”. Ook Petrus moet nie sê: “Goud en silwer het ek nie.” Ook het die Heer nie so suinig aan die Ryk jongeling hoef te gespreek het en ten slotte gladnie hoef te gesê het dat `n kameel makliker deur die oog van `n naald sal gaan as dat `n ryke in die hemel kom nie. So is alles dus verdraai en vernietig en die kerk, wat hom die alleensaligmakende noem, het nouliks nog iets met die Christendom te doen.

15 Wie hom in `n getuigskrif of in `n ander dokument slegs as “katoliek” opgee, hoef die woord “Christelik” nie daarby te sit nie, maar skryf iemand slegs “Christen”, dan word hy vir `n soort ketter aangesien en kan hy hom selfs klein onaangenaamhede op die hals haal. Nietemin laat ons dit nou alles met rus, want die gevolg van sulke groot dwalings staan julle nou immers duidelik voor oë. Omdat julle die ware hemel ken, sal dit nou sekerlik nie moeilik vir julle wees om die groot afstand tussen hier en daar met die eerste oogopslag te herken nie.

16 Julle vra nou waarom die Heer dan nie vinnig en afdoende `n einde maak aan sulke dwalings nie en waarom Hy so-iets van die begin af aan toegelaat het. Ek sê egter vir julle dat die weë van die Heer altyd ondeurgrondelik is en Sy raadsbesluite ewig onna­speurlik. Dit mag vir julle genoeg wees om te weet, hoe oneindig goed, geduldig en barmhartig die Heer is, en hoe Hy as allerheiligste Liefde en Wysheid baie goed en onfeilbaar in staat is om alle gewasse tot rypheid te bring. As hulle ryp geword het, dan weet Hy hoe om hulle vir Sy ewige liefdevolle en wyse doeleindes die allerbekwaamste en opperbeste te gebruik.

17 Julle sou netso goed kan vra waarom die Heer soveel onkruid en wilde en giftige diere op aarde geplaas het, hoewel julle nêrens die nut daarvan insien nie. Ek sê vir julle, wat dit betref gaan die Heer altyd op Sy ondeurgrondelike weë volgens Sy eie raads­besluite. Vir ons is dit voldoende om heilig daarvan oortuig te wees dat Hy `n oneindige goeie Vader is. As ons die oortuiging het, weet ons ook dat Hy niks vir `n slegte doel geskape het nie, maar dat Hy alles onteenseglik na die beste doel lei en ook ewig sal lei! Julle vra of ons nou ook die orige deel van die kerk sal besoek en besigtig. Dit is nie nodig nie; daarom begewe ons onsself nou na die eintlike klooster en sal ons waarnemings daar doen. Kyk, daar kom `n vriendelike Augustyn so pas uit die sogenaamde ‘sakristie’ (tipe konsistorie). Hy groet ons en wink ons om na hom toe te kom. Dus gee ons ook gevolg aan sy wenk.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205