Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 26

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Vervolg van die besoek aan die Stoïsyne

26 Die verstandspresident: “Hoe bekyk julle julleself met betrekking tot die oneindige?” Julle sê: “Nie anders nie as eindig en begrens. Kyk, met dié antwoord gee julle self al die algemene rede aan waarom ek hierdie streek as verblyfplek vir my gekies het. Daarom sê ek vir julle: Slegs hy is werklik wys, wie die grense van sy verstand gevind het en dan met die verstand insien hoeveel daar nodig is vir die versadiging van sy gees. Hierdie omgewing kom volkome ooreen met die grense wat deur my verstand bepaal is en die advies van daardie verstand lui daarom: Wees altyd tevrede met dit wat ooreenkom met julle beperktheid, gaan nooit buite die kring van julle insigte nie, en ken en vind julleself in hierdie kring; dan het julle die geluk van julle lewe in die mees volmaakte en julle mees aansprekende vorm gevind. Kyk, om dié rede is hierdie omgewing, wat julle baie onherbergsaam vind, volkome geskik vir my, omdat hy nie meer bied, as juis soveel soos wat ooreenkom met die grense van my verstand nie. As ek derhalwe iemand êrens van diens kan wees, dan kan ek dit tog maar net binne die horison van my insigte doen; daarbuite sou ek `n lyk wees en nie in staat om iemand ook maar die geringste diens te bewys nie. Hieruit kan julle aflei waarom ek juis hierdie omgewing, en geen ander, gekies het om daar te woon nie. Mog julle egter dink dat ek my deur my wysheid stellig tot ydelheid sou laat verlei om vir ander as `n lig te straal, dan sou julle julle baie in my vergis. Want my onwankelbare grondbeginsel lui as volg: As jy iemand van diens wil wees, ken die hele sfeer waarin jy hom van diens wil wees dan goed. Ken jy nie die sfeer nie, bly dan mooi tuis met jou filantropie, want wie meer wil gee as wat hy het, is of `n dwaas of `n bedrieër.”

2 Die aanvoerder sê: “Baie gewaardeerde vriend, jy het alweer baie wys gespreek en ons kan glad geen besware daarteen inbring nie. Net vir een saak het ons nog `n bietjie opheldering nodig. En omdat jy tot nou toe so vriendelik was om ons te korrigeer en ons vraag volledig op te helder, sal jy ook wel so goed wees om ons in dié geval van goeie raad te voorsien.”

3 Die verstandspresident sê: “Beste vriende, solank julle julle hier op my territorium bevind, kan julle my elke vraag stel en daarvan verseker wees dat ek in staat is, om oor elke kwessie wat my gebied betref, `n volwaardige opheldering te gee. Vertel my dus die kwessie waaroor julle nog twyfel.”

4 Die aanvoerder sê: “Jy het by jou wyse uiteensetting gespreek oor `n bepaalde limiet van die horison van jou kennis en dat dit baie onverstandig sou wees om jou buite hierdie horison te begewe. Die laaste begryp ons, want werklik, niemand kan iets doen wat sy kragte te bowe gaan nie, en wil hy dit tog, dan is hy sekerlik `n dwaas in soverre hy sy grense wil oorskry. Maar kyk, toe jy gebore was, het jou verstand sekerlik nie so `n uitgestrekte horison gehad as wat die geval nou is nie. Jy het dus kennelik die klein horison van jou insigte steeds meer en meer vergroot, sodat jy deur dié vergroting die horison tot die huidige verbasingwekkende omvang gebring het. Dit is dus die vraag of so `n horison as reeds volkome gefikseer beskou moet word, of dat hy nog tot verdere uitbreiding in staat is. Ek is van mening: Ook al brei die begrensde sy horison hoe ver uit, dit sal desondanks nog steeds sy begrensing hou en nooit die gevaar loop om die oneindigheid te vul nie.”

5 Die verstandspresident sê: “Beste vriende, julle het aan die een kant gelyk, aan die ander kant weer ongelyk. As die mens homself sou geskape het, dan kon hy homself ook soveel gee as wat hy maar wou, want hy sou in die oneindigheid geen gebrek gevind het en dus was dit ook aan homself, om die horison van sy insigte volgens wat hy glo, voortdurend te vergroot. Omdat die mens egter nie uit homself ontstaan het nie, maar hom die lewe gegee is, is aan hom ook sy horison gegee. As julle byvoorbeeld na `n appel op aarde kyk, dan sal julle sien dat hy vanaf sy ontstaan direk na die afval van die bloeisel steeds sy horison verder uitbrei. Het hy eenmaal tot volle rypheid gekom, dan kan julle die appel vertel wat julle wil, oor sy toestand sal hy niks anders kan sê nie as: Tot hier en nie verder nie, want my maat is vol! Maar waarom sou die appel julle `n dergelike antwoord gee? Omdat hy ook `n gegewe iets, maar nie `n homself skeppende iets is nie. Sou julle die appel nou nog verder wil laat uitdy, dan is dit tog duidelik dat julle hom sal moet stukkend maak. Kyk, by die mens is die presies so. Hy is `n gegewe iets en nie `n deur homself geskape iets nie; daarom het hy ook sy ontwikkelingsgebied gekry. Wie die gebied bereik en dan vir homself weet dat dit die toebedeelde gebied vir hom is, is heeltemal homself en wel so volmaak moontlik. Bly hy binne die gebied en benut hy dit nie heeltemal nie, dan is hy die lomp slaaf van homself en sal hy nie eens vir homself bekwaam genoeg wees nie. Wie homself egter sodanig wil opblaas dat hy buite sy gebied kom, is `n hoogmoedige dwaas wie homself ten gronde wil rig. Dit sal met hom gaan soos `n hol kegel, wat met kruit gevul, aangesteek word, waardeur die oppervlak van die kegel dan uitmekaar geruk word en die deel daarvan na `n ver horison verplaas word. Maar vra julle net af hoe dit daarna met die totaliteit van die kegel sal staan.”

6 Die aanvoerder sê: “Ons het aan jou uitspraak in feite weer niks in te bring nie, want dit is op sigself volkome waar. Maar jy, beste vriend, gee jou antwoord duidelik altyd opsetlik op so `n wyse manier, dat ons daarin steeds `n nuwe aanknopingspunt vind waaroor ons opnuut raad by jou moet inwin. So het jy by hierdie wyse uiteensetting gesê dat die mens, netsoos al die ander begrensde, `n gegewe en nie `n homself skeppende iets is nie. As dit sekerlik die geval is, rys al gou die vraag, wie dan die gewer is; want by die gegewene word netso seer `n gewer veronderstel as by een of ander verskynsel as die daarmee ooreenstemmende oorsaak. Daarom wil ons graag van jou `n nadere opheldering oor die gewer vra.”

7 Die verstandspresident sê: “Beste vriende, wat die gewer betref, Hy staan bo die horison van ons kennis en ons het alles gedoen as ons onsself herken het as `n gegewe iets. Wil ons egter die gewer bestudeer, dan doen ons niks anders as, wanneer ons met `n passer in die hand, die omtrek van die oneindigheid sou wil opmeet. Dit is sekerlik waar, omdat `n mens bo een bepaalde sirkel, tot in die oneindige grotere sirkels kan dink, waarmee die kleinste sirkel `n gelykenis vertoon. Maar wanneer hierdie kleinste sirkel volkome gelyk sou wil word aan `n groter een, bo homself, dan sou hy eers uitmekaar getrek moet word, sy veel korter omlyning na die ronding van die groter sirkel moet uitstrek om dan daarmee gelyk te loop. Dit is wel te doen, maar die ervaring sal leer dat die lyn van die kleinste sirkel, wat op hierdie manier uitgestrek is, miskien nouliks met die duisendste deel van `n aansienlik groter sirkellyn in aanraking sal kom. En so sal ook slegs die deel gelyk met haar opgaan; alle ander duisendste dele sal egter vir hierdie veel korter lyn tog ewig onbereikbaar bly. Kyk, in dié voorbeeld het slegs twee begrensde sirkels met mekaar te make. Neem nou eens hierdie kleinste sirkel en meet met sy uitgestrekte sirkellyn die oneindige, onbegrensde sirkel en vra julle daarna af, hoe so `n werk of onderneming, verstandelik gesien, beoordeel sou moet word. Ek dink dat daar in die menslike verstand geen groter dwaasheid uitgedink kan word nie; so is dit ook as ons van die oneindige Gewer sou wil deurgrond wie Hy is. Daarom is dit, soos wat ek al eerder gesê het, vir ieder mens voldoende as hy homself as `n bepaalde gegewe erken, en dus ook die afgegrensde gebied van sy insigte. Wat die Gewer betref, dit gaan die gegewene nie in die minste aan nie, aangesien Hy kennelik oneindig verhewe moet wees bo al die gegewene. Wat kan `n appel nog word wanneer hy volledig ryp geword het? Wat `n sirkel, wanneer die lyn wat van `n bepaalde punt uitgegaan het, homself weer bereik het? Laat hom bly wat hy is, dan sal hy volmaak wees soos hy gegee was.”

8 Die aanvoerder sê: “Jy het ons nou oor alles `n goeie antwoord gegee. Maar desondanks het ons nog `n vraag en dit lui as volg: In die streek waar ons vandaan kom, word daar, deur `n so te sê beter groep, voortdurend van die liefde tot God gepredik, maar ons weet nie hoe ons dit, uitgaande van jou wyse insigte, moet verstaan nie. Want ons verstaan onder liefde `n vasgryp en een na hom toe trek. Maar hoe kan `n begrensde wese of `n begrensde krag `n onbegrensde krag vasgryp en na hom toe trek?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205