Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 36

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die egpaar en `n leuengees

36 Julle moet julle niks daarvan aantrek as julle oë hierdie keer bietjie meer op die proef gestel gaan word nie, want ons pad loop meer na die noorde en daar word dit steeds donkerder. Desondanks sal ons nog altyd soveel lig vir onsself hê, dat niks ons by hierdie geleentheid sal ontgaan nie.

2 Hoor julle nog niks vanuit die verte nie? Julle sê: Ons hoor wel iets, maar dit is baie anders as `n menslike stem; dit klink eerder asof mens van taamlik veraf die geratel van baie waens hoor. Ook klink dit af en toe soos die donderende geraas van `n groot, veraf geleë waterval. Julle vra wat dit beteken. Laat ons maar ons paar agterna gaan, dan sal ons spoedig daaragter kom.

3 Kan julle nog nie daar gunter iets vaag rooierig onderskei, `n skynsel soos van `n stuk sag gloeiende yster nie? Kyk in die rigting, want daar wag vir ons `n belangrike vertoning.

4 Luister, dit kom steeds nader, en die eienaardige, lawaaierige geratel verander steeds meer in natuurlike rou menslike stemme. Maar nou bly ons staan, want die massa begewe hulle regstreeks hiernatoe en soos julle sien, het ook hulle, die voorhoede wat mekaar baie liefhet, eers gaan staan.

5 Kyk net hoe bang hy is vir dit wat daar kom en uit groot angs en vrees deins hy agteruit. Sy gryp hom egter aan die arm en smeek hom by alles wat vir haar dierbaar is om slegs vir hierdie een keer na haar te luister en te bly, omdat dit nou juis die geluk is wat sy hom voorspel het en wat hy moet leer ken om hom daarvan te oortuig in hoeverre sy gelyk of ongelyk het.

6 Hy vra haar wat dit is wat hulle nader en vir hom so huiweringwekkend voorkom, wel mag wees. En sy sê aan hom: Wat dit is, wat dit is?! Suiwer diep nadenkende mense is dit, wat jy spoedig duidelik met jou eie oë sal sien en duidelik met eie ore sal hoor.

7 En kyk nou, hy stel hom daarmee tevrede en wag op die naderende diep nadenkende groep. Kyk, die taamlik groot geselskap is byna daar. Ons paar gaan hulle beleefdheidshalwe tegemoet. Ook ons moet, al is dit nie uit beleefdheid nie, maar met `n ander doel, dieselfde doen.

8 Kyk, nou kom hulle bymekaar en begroet mekaar met die grootste moontlike hoflikheid. Daarom gaan ons ook nog bietjie nader sodat niks ons ontgaan nie.

9 Soos julle sien, kom daar uit die middel van die geselskap `n knopperige en uitgeteerde manlike gestalte, wat hom na ons paar begewe. Die vrou ontvang hom besonder liefdevol en welwillend. Ook die man van die vrou maak `n diep buiging voor hierdie manlike gestalte.

10 Die manlike gestalte sê: Baie geagte dame, dit doen my buitengewoon baie genoeë aan dat die besondere geluk my ten deel geval het om u weer een van ons te mag noem, want met u verstand en u verdere buitengewone innemende gedrag, bewys u ons geselskap `n groot eer en gee u ons werklik die mooiste sieraad. Wel my liewe dame, as u iets op u tedere hart mag hê, dan sou dit vir my die grootste saligheid wees as u my so `n soete hartewens sou wil toevertrou.

11 Sy sê: My hooggewaardeerde en bowenal baie geëerde vriend, sien u, hierdie man hier aan my sy, is my teer geliefde aardse eggenoot. Hy het hom op aarde by al sy handelswyse buitengewoon regverdig, goed en voortreflik gedra, sodat ek in alle erns moet beken dat ons huwelik baie gelukkig was. Want wat kan `n vrou haar vir `n gelukkiger huwelik wens, as wanneer sy `n man het wat alle verlangens van die vroulike hart tegemoet kom? Wat dit betref sou ek, op enkele onbeduidende kleinighede na, niks teen te merk hê nie.

12 Maar nou kom daar `n belangrike kwessie waaroor ons dit nooit eens kon word nie, en waardeur daar dan ook reëlmatig ietwat ergernis tussen ons twee was. Ek sal u die rede van hierdie ergernis so goed as wat dit vir `n vrou maar moontlik is, uitlê en u, my baie geëerde vriend, sal dan sekerlik so goed wees om my man `n paar woordjies daaroor toe te fluister wat hom beslis volkome sal genees.

13 Die gestalte sê: Ek smeek u, my baie geagte dame, u is veels te goed! Ek gee u die versekering dat dit vir my `n groot eer en `n baie besondere geluksaligheid sal wees as ek aan myself sal kan sê dat ek `n so lieftallige dame met my persoontjie kon bedien het. Daarom vra ek u om die kwessie wat u op u hart het, aan my toe te vertrou. Sy sê: Ag, my baie gewaardeerde vriend, u is veels te goed en te beskeie en juis hierdie groot goedheid en beskeiden­heid boesem my soveel vertroue in, dat ek niks vir u sal agterhou nie; wees dus so goed om na my te luister.

14 Sien u, wat hierdie fatale kwessie betref kan ek ronduit sê, dat my origens brawe, goeie en beminlike man `n Bybel en dus ook `n Christus fanatikus is. Die rede waarom hy hom egter in die arms van hierdie belaglike sekte gewerp het, is dat hy van arm afkoms is. Daarom was, soos dit in die algemeen by die arm klasse die geval is, hierdie ou bedelfilosofie reeds vanaf die wieg by hom ingeprent. Maar hoe moeilik dit naderhand word om so `n, met die moedermelk ingesoogde, en dus tot eie vlees geworde onsin, daaruit te kry, weet u, baie geëerde vriend, sekerlik beter as ek. Met hierdie bedelfilosofie het my trouens baie gewaardeerde man nou ook hier beland in die ryk waar die oerkragte van die natuur heers, soos u ons al dikwels allervriendeliks uitgelê het. Maar dit wil nie by hom ingaan nie! Hy is nog verknog aan sy Christus en wil hom selfs van my losmaak om hierdie, sekerlik nêrens aanwesige Christus op te soek. Nou het ek u, my geleerde en baie geëerde vriend, baie kortliks my probleem voorgelê, en daarom vra ek u of u uself oor my, in dié opsig arme man, sou wil ontferm.

15 Die gestalte sê: O, as dit anders niks is nie, sal ons dit hier in die ryk van die naakte waarheid wel vinnig en maklik vir mekaar kry. Nou wend die gestalte hom tot die man, reik hom vriendelik die hand en sê: Beste vriend, is dit waaroor u beminlike eggenote so pas by my bekla het, u werklike erns?

16 Die man sê: Geagte vriend, ek moet eerlik aan u beken dat ek beslis nie glo dat ons, hoe besonder lief en dierbaar my eggenote ookal vir my is, oor hierdie kwessie ooit eens sal word nie. Want hoe dit ookal mag gaan, ek is vas oortuig om vir ewig aan my geloof in Christus vas te hou! En ek is ook vas daarvan oortuig dat hierdie Naam my steeds baie troos gegee het en ook steeds my onfeilbare, gelukkige en leidende ster was. As ek ooit op `n dwaalweg geraak het, dan sekerlik net deurdat ek my nie standvastig aan Christus gehou het nie. As ek my dan egter weer tot Christus gewend het, was ek dikwels weer, soos met `n towerslag, gehelp!

17 U as denkende en wyse man sal dus self insien dat dit van my kant af baie onbillik sou wees, om my ver van so `n weldoener te verwyder, veral noudat ek Hom, wat dit vir my voorkom, die nodigste het. Daarom geagte vriend, doen u vir my in die opsig veral geen moeite nie, want ek gee u openhartig die versekering dat u niks by my sal bereik nie. Ek was lank genoeg `n dwase slaaf van die sjarme van my vrou. Ek het na haar oorlye in Christus, my Heer geleer om dit te kan ontbeer en ek hoop dat dit my nie meer hier sal beïnvloed nie, veral omdat, deur die dood van my liggaam, die huweliksband met my vroeëre vrou opgehou het om te bestaan. Wil sy my egter volg, dan sal sy ook altyd vir my waardevol en dierbaar wees. Maar my Christus opgee vir haar, sal ek nooit doen nie, al trek hulle my ook met alle geweld na die middelpunt van een of ander hel! Is sy daarmee tevrede dat ek tenminste ongehinderd met my Christus by haar kan wees, dan sal ek nie my ou liefdesbande met haar verbreek nie, maar is dit nie, dan het ek hierby my laaste woord in haar aanwesigheid gespreek.

18 Die gestalte sê aan die man: Beste vriend, ek het u van begin tot einde geduldig aangehoor en kan oor u uitlatings maar net in alle erns sê dat ek dit ten seerste betreur. Sodat u ewenwel weet met wie u te doen het (nou neem die gestalte sy toevlug tot `n leuen) sê ek u dat ek die groot leraar Melanchton is, oor wie u op aarde sekerlik wel iets gehoor het. Die man sê: O ja, maar wat wil u daarmee sê? Die gestalte sê: Geagte vriend, niks anders nie as dat ek sekerlik beter weet wat Christus is, as u, want ek het tot by die laaste uur van my aardse bestaan met uitsonderlike ywer in die sogenaamde Christelike wingerd gewerk en ek sou voorwaar selfs, indien nodig, vir Christus die dood ingegaan het. Ek het nie alleen die roomse nie, maar ook die meer suiwer leer van Luther van alle oorbodige vraggoed gesuiwer; ek het letterlik volgens die sin van hierdie leer geleef en wat was die gevolg? Dit hoef ek u, geagte vriend, nie met veel woorde uit te lê nie, want `n blik van u op my hele wese sal u die resultaat van my lewe, volgens die sogenaamde suiwerste beknopte inhoud van die Christendom laat sien. Meer hoef ek u nie te sê nie. Laat dit dus maar op die ou “experyetia docet”* neerkom, dan is ek daarvan oortuig dat ons mekaar, as alles goed gaan, na verloop van honderd jaar presies soos ons nou teenoor mekaar staan, weer sal ontmoet. U, my vriend, is nog `n volslae nuweling hier en weet nie hoe mens leef in die ryk van die sentrale oerkragte nie. Wanneer u egter enkele tientalle jare deur hierdie ewige nag opgejaag en daardeur danig uitgehonger sal wees, sal ook meer soliede en praktiese insigte verseker in u, van alle wêreldse dwaashede bevryde kop, `n ruimer plek vind as nou. *(Al doenende leer `n mens)

19 Die man sê aan die gestalte: Baie geagte vriend, as u op dié gebied so `n goedgefundeerde kennis besit, laat my dit dan net hoor. Ek is egter nie afkerig daarvan om na u te luister nie, maar sal desondanks by my mening bly, as die uwe my nie volkome oortuig het nie.

20 Die gestalte sê: Goed my vriend, ek wil u eers net opmerksaam daarop maak, watter vrugte die Christendom op aarde afgewerp het. Die Romeine was `n groot volk solank hulle by hulle goddelike verstandsleer gebly het. Al hulle werk was groots en vol wyse betekenis. Hulle regsbeginsels is tot nou toe nog die basis vir alle staats- en volksregtelike wette. Maar toe die Christendom binne­gesluip het, sluip ook die dood die groot Romeinse volk binne. Nou bly op die plek waar eens die grootste en heldhaftigste volk gewoon het, lui, niksdoenende priesters, `n hoeveelheid ellendige gepeupel, en `n groot aantal diewe en rowers lê met die rosekranse in die hand langs die weë op die loer, waardeur geen voetreisiger meer seker is van sy lewe nie. Sien u, dit is `n vrug uit die tuin van die Christendom! Reis net deur die pragtige Spanje, bekyk hierdie nasie uit ou tye en gaan daarna na die Christelike Middeleeue; dan sal dit nie aan u blikke ontgaan hoe deur suiwer Christelike seën duisende en nogeens duisende gebloei, en duisende en nogeens duisende bo vlammende brandstapels tot as verbrand, vertwyfeld hulle laaste asem uitgeblaas het! Kyk net na die aandoenlike invoering van die Christendom onder Karel die Grote, hoe hy met hierdie seën duisende en nogeens duisende oor die kling (die sny­kant van die swaard) laat jaag het! Reis vandaar na Amerika; slaan die geskiedenis daar na en hulle sal u tallose, mees beklaens­waardige en jammerlike voorbeelde toon van die Christelike seëninge wat daar plaasgevind het! Gaan vandaar na my tyd en bekyk die seënbringende gruwels van die dertigjarige godsdiens­oorlog. U kan die oergeskiedenis van alle volkere krities bekyk, en mag u in staat wees om my daarin gelyksoortige gruweltonele aan te toon, dan verplig ek my om u ewig in my arms rond te dra.

21 Ek wil u verder nie opmerksaam maak op die veelvuldige seëninge van die Christendom wat elders en op ander tye plaasgevind het nie, maar laat u, in plaas daarvan, slegs die toestand sien van die teenswoordige volkere wat die Christendom nog nie ken nie, soos die byna ewig vreedsame Sjinese en nog ander aansienlike volkere in Asië en die op die nog nie ontdekte eilande. U moet wel volslae blind wees as u nou nie met `n oogopslag die verskil sien tussen die Christendom en die ware wysheid van nog ouer, meer ervare en vreedsame volkere nie. Tog sê ek vir u, dat al hierdie groot, skadelike gebreke van die Christendom, of veeleer van die nuwe Jodedom, nog goed te praat sou wees as iemand sou sê: Hierdie historiese feite is wel alles waar, maar Christus het hulle nooit geleer nie, en Hy kan dus onmoontlik die skuld dra van al die onheil wat die verbreiding van Sy leer met hom saamgebring het, want Sy leer was immers suiwer en besonder mensliewend. Beste vriend, dit klink alles baie mooi en daarom was ekself ook tydens my hele lewe op aarde `n vurige verdediger van die Christendom. Eers hier, in hierdie leer het ek die eintlike gif vir die volkere ingesien en dit is die duidelike verwysing na luiheid en niksdoen. Die mens, wat tog `n aangebore neiging tot luiheid het, vind in hierdie leer die beste verdediger van hierdie neiging, omdat kennelik aan hom gesê is om niks anders te doen nie as om `n seker geestelike ryk te soek, waardeur die gebraaide voëls dan sonder meer in sy mond sal vlieg. Sien u, verskeie wyse manne het nie baie tyd nodig gehad om hulle daarvan te oortuig dat dit met hierdie gebraaide voëls op niks sou uitloop nie. Daarom gryp hulle na ander middels, naamlik die ou vertroude swaard, laat die eenmaal gekerstende volk by sy blindheid, en verskaf hom dan die gebraaide voëls met die swaard in die hand. Vriend, dink hieroor soos u wil, tog sal u, wat die Christendom betref, onmoontlik tot `n ander gevolgtrekking kan kom, ongeag alle hoër, geestelike ervarings wat mens hier in gelouterde toestand, soos in my geval, na verloop van verskeie eeue opgedoen het. Waarde vriend, ek is nou uitgepraat, en u kan doen wat u wil. Wees origens steeds verseker van my hoogagting en my vriendskap; dit sal vir my ook `n groot genoeë wees as ons mekaar weer oor `n paar eeue sal ontmoet. Kyk, die ander gaan weg en trek met sy hele geselskap weer verder, ons paar word alleen agtergelaat. Oor die effek van hierdie “pragtige redevoering” en die besonder mensvriendelike onderrig sal ons eers die volgende keer meer ervaar. En dus genoeg vir vandag. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205