Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die sfeer van die sesde gees. Die rots Petrus

11 Omdat ons liefdevolle geestelike gasvrye vriend al hier is, kan julle julleself dadelik, sonder veel moeite, in sy sfeer begewe om dinge daar in `n ander lig te aanskou.

2 Wel, julle is reeds in sy sfeer. Waarom kyk julle nou ineens so angstig om julle heen? Julle sê: Omdat ons onsself op `n hoë klip bevind en om ons heen niks anders sien as `n eindelose, golwende see nie. Dreigend en verskriklik bruis en golf hy om die eensame klip waarop ons onsself bevind en oral lyk hy bodemloos diep te wees. Wat sal daar van ons word as hierdie see ons swak klip met haar sterk golwe oorspoel? Ons het slegs ons sekere ondergang voor oë! Waar kan ons redding vind as al die golwe oor ons heen sou spoel?

3 Maar Ek sê vir julle: Julle het julle oë sleg geraadpleeg. Kyk maar net rustiger in die rigting van die môre, waar die groot wateropper­vlak rooi begin te kleur, dan sal julle dadelik op ander gedagtes gebring word. Julle kyk al in die goeie rigting; en wat sien julle?

4 Soos Ek sien, maak `n nog groter angs hom van julle harte meester en julle sê met bewende stem: O Heer en Vader, red ons, anders is ons heeltemal verlore! Want netso groot en hoog as die bergtoppe, verhef vreeslike monsters hulle koppe bo die eindelose uitgestrekte golwe van die see en blyk met groot snelheid reg op ons af te pyl. O julle kleingelowiges en nog kleinmoediges; waarom is julle, terwyl Ek by julle is, tog bang vir dinge wat niks beteken nie? Ek sê vir julle: Gebruik maar naarstig julle gesigsvermoë, want die dinge wat julle nou sien is uiters belangrik. Span daarom julle oë nog meer in, kyk in die rigting van middernag en sê vir My wat julle daar sien. 

5 Julle skrik nog meer as eers en kan nou van louter dwase angs geen woord meer uitbring nie; wat is dan daar? Julle sien hoe die watermassa homself daar splits en sien langs die vogtige wande, `n dreigende vuur in die diepte, wat steeds meer na bo kom en die golwe van die see dampend verteer. Te midde van die vuur sien julle `n groot, vurige draak. Sewe koppe het hy en op elke kop tien horings. Met sy magtige stert splyt hy die golwe en uit vier koppe, wat hy reeds bo die oppervlakte van die see opgehef het, spoeg hy heftig groot vuurkoeëls na alle kante oor die oppervlakte van die see. Julle sien nou ook hoe `n massa tallose vlermuise en ander nagtelike ongediertes in sy vier wyd oopgesperde bekke vlug en hoe hy dit haastig in sy vlammende keelgate laat sak. Om die koppe sien julle dreigende stapelwolke hang, wat naarstig om die horings draai en hom met bliksems vul, wat na buite geslinger word op die gewoel van die golwe. Dit sien julle en is, o so bang! Maar Ek sê vir julle: Kyk nogeens tweemaal so goed; julle sal agter die draak nog iets anders sien. Kyk, om sy stert is `n sterk ketting gewerp en daaragter loop hierdie ketting uit in ontelbare kleiner kettings. Kyk hoe ontelbare menigtes aan die einde van so `n ketting saamgebind is, wat deur hierdie magtige draak op sy vuurweg meegesleur word.

6 Angstig vra julle nou: Vader, wat gaan daar met die armsalige slawe van hierdie draak gebeur? Maar Ek sê vir julle: Kyk maar net baie goed, dan sal julle spoedig ontdek hoe hierdie slawe agter hulle draak met vurige swaarde in die hand juig en sê: Ere aan jou, magtige vors, dat jy die volkere van die aarde oorwin en die hemele aan jou skatpligtig gemaak het! Want so het jy `n magtige regter geword tussen God en alle skepsele. Hemel, aarde en alle afgronde moet voor jou buig en die verdienste en werke van die Seun uit God het jy oorwin en jy het hulle op aarde, bo die aarde en onder die aarde skatpligtig aan jou gemaak. Wel, wat sê julle nou van hierdie aanhangers van hierdie draak nadat julle dit gehoor het? Julle huiwer tot in die diepste van julle wese. Maar Ek sê vir julle: Bly maar op julle nou standplaas staan, kyk met vaste blik in die rigting van die aand, dan sal julle dadelik `n ander toneel voor oë kry.

7 Wel, julle kyk al. Wat is daar wat so angsaanjaend is om te sien? Met `n byna vertwyfelde stem sê julle: Heer, as dit verder so gaan, dan is ons reddeloos verlore, want die draak het hom soos `n magtige, onafsienbare groot slang in `n wye kring op die golwe van die see gelê. Soos deur `n onafsienbare, groot, vurige ringmuur is ons deur hom omgewe. Ons sien nêrens meer `n uitweg nie; Dus is ons onvermydelik sy buit! Ons kan nie vanaf ons standplaas omhoog kom nie; wat sal van ons word? Aan alle kante sien ons die wyd uitgestrekte oppervlakte van die see al sterk gloei. Tallose kolke word sigbaar op die gloeiende en geweldig dampende seeoppervlak. Vurige orkane werp gloeiende golwe hemelhoog deurmekaar. O Vader, help ons voordat al hierdie kwellings steeds nader kom, anders gaan ons sonder meer ten gronde! En as die gloeiende golwe, vol pestilensie en stank, vol vloek en vol verter­ende vuur ons sal verslind, sal U ons dan wel uit die eindelose, ewig verderflike afgrond trek?

8 O julle kleinmoediges, waarom is julle so erbarmlik en angstig aan die kerm! Kyk maar net na die middag en julle sal dadelik `n ander toneel te siene kry. Sien julle hoe daar agter die wye en magtig gloeiende slang sirkel, reusagtige engelgeeste met magtige swaarde gewapend staan om te wag op slegs `n teken, `n klein wenk van My om die slang onskadelik te maak? Kyk maar net rond na alle kante en tel die rigtende engelgeeste. Is daar nie twaalf nie? Ja, dit is so! Kyk julle nou maar net om julle heen. Die engele het die wenk gekry. En kyk, die slang lê daar gedood en in stukke geslaan. Haar stukke sink in die diepte van die gloeiende golwe; die golwe stort daar van alle kante donderend oorheen. En kyk nou net, waar is die golwe, waar die see? 

9 Vredige land kom op die plek van die afskuwelike vloed te voorskyn. En kyk, van alle kante kom lieftallige bodes, wat My lewende Woord in hulle hande dra en dit oral soos koringkorrels uitstrooi. En kyk daar in die rigting van die môre: `n Nuwe, heerlike son kom op! Uit die hemele val oorvloedige dou op die nuwe grond van My genade en ontferming, en nuwe, heerlike vrugte ontkiem oral. Begryp julle die beeld wat julle gesien het? Ek sê vir julle: Dié beeld is baie naby aan julle; dit speel voor julle oë af. Daarom moet julle ook nie angstig wees nie, want julle het in dié beeld van hoër geestelike waarheid die einde gesien van die skandelike hoerery. Kyk julle nou nog eenmaal om en kyk na die gees in wie se sfeer julle dit alles gesien het. Ken julle hom?

10 Julle sê: O Heer en Vader, hy kom baie bekend vir ons voor, maar tog weet ons nog nie goed wie hy is nie. Wil U ons nie sê, wie ons gasvrye vriend, wat vir ons so `n huiweringwekkende en heuglike gastemaal in sy sfeer berei het, nou eintlik is nie? Dan sê Ek vir julle: Hierdie gasvrye vriend moet julle tog maklik herken as julle maar `n bietjie let op die plek waarop julle julleself nog bevind. Aan wie het Ek eens gesê dat hy `n rots is waarop Ek My kerk sal bou, wat nie deur die poorte of magte van die hel oorweldig sal word nie? Julle sê: Aan Simon, wie daarom Petrus genoem was. Wel, hy is dus ook ons geestelike gasvrye vriend. Hy sien My en sien ook vir julle. Maar wanneer Ek met julle spreek, swyg hy volkome, omdat hy vol liefde vir My is.

11 Tree julle nou maar weer uit sy sfeer, want daar nader alweer `n ander, die sewende gees, in wie se sfeer ons weer baie ander dinge sal sien. Hierdie sesde gees sal ons egter ook in ons geselskap hou. Oordink goed wat julle vandag gesien het, dan kan julle by die volgende geleentheid `n suiwer oplossing daarvoor verwag. En hiermee is dit genoeg vir vandag.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205