Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 76

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die opblaas van die bedrieglike hemel

76 Julle sien hierdie hemel nog in sy vorige ineengeskrompelde toestand, maar omdat die bewoners van hierdie hemel, naas hulle verkeerde insigte, ook `n bietjie kwaadaardiger is, begin hulle hulleself nou, na ietwat oorlegpleging, teenoor ons op te blaas. Die opblaas sal ons spoedig in die hele hemel sien gebeur. Julle vra nou hoe so-iets moontlik is, nadat die bewoners van hierdie hemel eers van suiwer erbarmelike angs vir ons weggekruip het. Dit lê immers reeds in die natuur van elke, nog baie natuurlik gesinde mens, dat angs en dikwels ook verdriet, niks anders is as die saad vir spoedig daaruit opgroeiende toorn en ten slotte selfs vir wanhopige driftige roekeloosheid nie. Want dit sien julle die beste by krygsliede wat teen `n vyand te velde trek. Hulle trek ook die vyand met angs en bewing tegemoet. Maar staan hulle dan teenoor die vyand en het hulle enkele gedugte salvo’s afgevuur, dan gaan hulle angs dadelik oor in gloeiende toorn. En as hulle met die vyand in `n handgemene geveg verwikkel raak, dan verdring `n vlammende raserny hulle gloeiende toorn, waarby so `n voorheen versigtige krygsman, hom woedend in die grootste gevare stort.

2 Dieselfde is ook die geval by mense wat verdrietig is. As hulle die effektiewe veroorsaker van hulle verdrietige situasie te gryp kry en voldoende mag het, dan sou dit met die teenstander, wat die oorsaak van so `n verdriet is, werklik nie goed gaan nie. Ek sou julle wel duisende en nog eens duisende kan aanwys wat in hulle vrugtelose verdriet die Heer selfs op die gruwelikste manier verwens. Daarom het die Heer ook nooit verdriet op aarde goedgekeur nie, behalwe dan verdriet oor sy eie toestand, wanneer dit nie is soos wat die orde van die Heer dit vereis nie. Dit wil sê, in die geval moet verdriet gelyk wees aan `n hart vol opregte berou en moet dit `n natuurlike groot liefde tot die Heer as grondslag hê, of die verdrietige mens moet met `n volkome sagmoedige hart treur.  

3 Dit is daarenteen ook weer seker, dat diegene wat die Heer waaragtig liefhet, baie weinig rede tot treur sal hê, want verdriet is in die grond niks anders as pyn oor die verlies van `n persoon of `n voorwerp nie. Maar wanneer iemand die Heer besit, wat kan hy dan nog verloor wat hom pyn kan aandoen? Julle weet uit die Skrif dat baie vrouens by die kruisiging van die Heer die swaar mishandelde Heiland van die wêreld gevolg en oor Hom geween en gerou het. Maar Hy het hulle verdriet nie goedgekeur nie, maar het hulle verwyt en het hulle te verstane gegee dat hulle liefs oor hulself, dus oor hulle sondes en oor hulle kinders moes ween. 

4 Maar soos dit met verdriet gestel is, so is dit ook met angs gestel, wat niks anders is as `n beklaenswaardige bewussyn van die eie onmag en swakte. Maar wanneer iemand in sy liefde en dus sekerlik ook in sy volste vertroue, die Heer besit, hoe kan hy dan vir iets bang wees? Sodoende is vrees steeds `n gevolg van `n onsuiwer gewete en dan, soos gesê, van die bewussyn van eie onmag en swakte.

5 Wanneer ons nou van hierdie definisie oorgaan op ons hemelbewoners hier, dan vind ons dat hulle presies in hierdie definisie inpas. Bekyk hierdie hemel nou vanuit hierdie oorweging en julle sal dadelik ontdek dat al hierdie hemelse dinge langsamerhand groter begin te word met die bedoeling dat ons respek daarvoor sou kry. Die vergroting het as oorsaak die opswelling van die gemoedere van hierdie hemelbewoners. En kyk nou net hoe die hele hemelse teater podium in alle rigtings begin opswel.

6 Die hoofde van die gerubyne en serafyne, wat eers so groot was soos `n vuis, het intussen `n deursnee van `n klafter gekry. Die drie-eenheid is reeds so groot, dat julle dit op aarde, op tien myl afstand, nog baie goed sou kon sien. Die vooraf baie ondiep agtergrond van die podium lyk wel om `n diepte van twintig myl te hê en soos julle sien, verskyn die vroeëre wolkesyskerm nou as enorme swaar onweerswolke. Op aarde het julle wel gesien hoe dit hulle dikwels van die môre en die aand op mekaar begin opstapel. Maar let nou ook net op die grond waarop ons staan, hoe dit hom ook in dieselfde mate buitengewoon uitgebrei het en ons staan nou hier soos drie stippeltjies, wat `n mens nouliks in so `n groot ruimte opmerk. Hoe geval hierdie gebeurtenis julle?

7 Julle sê: Werklik, hierdie metamorfose, of veeleer hierdie egte teatrale skynvertoning is nog die beste en mees besienswaardige van hierdie hele hemel, alhoewel mens baie nugter daarby moet sê, dat mens hom by so `n reusagtige vergroting van die dinge ietwat aaklig voel, of soos wat `n mens gewoonlik op aarde sê, nie meer lekker nie.

8 Goed gespreek; ek sê julle tog dat hierdie komedie julle ietwat sou verras. Maar die eintlike komedie het nog nie begin nie. Tot nou toe is die verskynsel in `n sekere sin niks anders nie as die ooptrek van die doek van die mees ergerlike teater op aarde. Eers wanneer julle die handelende persone op die hemelteater sal sien, dan sal julle oë nog groter rek. Maar soos gesê, julle moet julle niks aantrek van alles wat nog gaan kom nie, want dit alles kom voort uit die totaal niksseggende bedrieërye van hierdie geeste.  

9 Maar let nou net weer op die podium; wat `n enorme afmeting dit in die breedte en die hoogte gekry het. Ja, momenteel het dit oënskynlik wel `n hoogte soos van julle aarde tot aan die maan, dit wil sê, dit lyk so. Nou staan dit dan ook daar in sy volledig opgeblase toestand en daarom sal `n komediant ook spoedig op die agtergrond verskyn. Let nou op, met één voet kom hy al van agter die syskerm te voorskyn. Kyk, nou is hy al heeltemal te siene. Maar ek sien dat julle ietwat ontdaan raak. Wat is dan daar aan die gang?

10 Julle sê: Luister vriend, dit is tog `n onmenslike mensegestalte. Werklik, as so `n reus op aarde sou staan, dan sou dit selfs met die maan sleg gaan. Ondanks die groot afstand tot by die agtergrond, kan ons sy ontsettende grootte nie eens met een slag aanskou nie; maar net die onsinnige groot swaard wat hy in sy hand hou! Werklik, daarmee kan hy die hele aarde, sonder enige moeite, soos `n appel in twee slaan. Vriend en broer, as hy op ons sou afkom, dan is ons van mening dat dit wel net beter kan wees om die ietwat te groot spektakel te ontglip, voordat hierdie waaragtige Sirius­komediant ons met sy respek inboesemende swaard bereik.

11 O my liewe vriende en broers, dit moet julle gladnie beangstig nie, want hier in die ryk van die geeste belewe ons, dienare van die Heer, dikwels baie ander gevegte as dit, waarvan julle nog nouliks die eerste begin te sien. Wag net eers tot hierdie helde meer na vore sal kom, voorsien van allerlei wapens; dan sal julle eers die reusagtige van hierdie teaterhelde sien. Julle sien nou ook ons vroeëre klein Abrahamstafel op dieselfde manier vergroot. So sal julle ook sien, hoe hom hier spoedig, sonder om hulle oor ons te bekommer, enkele reusagtige bediendes sal vertoon en hierdie tafel gaan dek met eweredige reusagtige vrugte. Baie gou daarna gaan sulke reusagtige gaste aan tafel sit en julle sal meesterstukke van veelvrate sien, deurdat julle dan in die letterlike sin van die woord en die betekenis waaragtige wêreldeters voor julle sal sien. Maar stel julle vir vandag tevrede met dit wat julle tot nou toe gesien het. Die volgende keer sal die hoofkomedie volg en dus genoeg vir vandag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205