Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 39

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Waar bevind die hemel en hel hulle?

39 Julle sê: “Hoe steil gaan dit daar na benede en die weg loop oor soveel klippe en steil hellings! Ja, ja, beste vriende, dit lyk maar net so vir julle; maar diegene van wie die gemoed met hierdie plek ooreenstem, het daar `n breë en goed begaanbare weg. Laat ons daarom maar dapper verder gaan; dit sal nie lank duur voordat ons die sigbare vlammesee bereik het nie.

2 Kyk daar benede hoe die vlamme langsamerhand begin te verdwyn, sodat julle baie gloeiende plekke sonder vlamme daarbo sien.” Maar julle vra: “Moet ons dalk daaroorheen loop?” Ek sê vir julle: “Maak julle geen sorg daaroor nie, want dit is alles maar verskyningsvorms, wat die gemoedstoestand weergee van diegene wat daar benede woon. Die “vlam” beteken die werksaamheid van die boosheid, die bo die vlamme opstygende “walm” kom ooreen met die totaal verkeerde, en die “gloed” verwys na die volkome eieliefde en as gevolg daarvan, die verkeerd gerigte ywer en die sleggeworde wil van diegene wat hulle in sulke eieliefde bevind. Maar hoe dit alles ter plaatse in besonderhede sal ontwikkel, sal julle dadelik met julle eie oë sien.”

3 “Kyk nou nogeens na benede; wat sien julle nou?” Julle sê: “Die vlamme het heeltemal verdwyn en die gloed het hom tot hope versamel; maar tussen die hope sien ons `n stikdonker nag.” Julle vra nogeens: “Waar is tog die rivier wat ons vooraf heeltemal gloeiend omlaag gesien stort het?” “Hierdie rivier is ook slegs `n verskyningsvorm en dui op die gang van die verkeerde soos wat dit uitmond in die boosheid. So gee hierdie afgrond ook die diepte van die boosheid aan en hoe hy ook sluwe en goeddeurdagte planne smee om sy slegte voornemens uit te voer.

4 Omdat julle dit nou weet, sal ons moedig daarop afgaan om so vinnig moontlik by ons doel en dus ook by ons geselskap te kom. Nog maar enkele tree en kyk, ons is reeds in die vlakte en dus ook heeltemal in die diepte. Julle sien hier nou heeltemal niks nie, want die duisternis is so diep dat julle nooit iets met die lig van julle oë sou kan sien nie. Daarom is dit nodig dat ons voldoende lig verskaf vir ons om iets hier te kan onderskei. Tog mag niemand van die aanwesiges hier iets van ons lig merk nie. Daarom moet julle julle stewig aan my vashou en die sfeer van `n gees nie nader benader as wat julle deur my toegestaan word nie.” 

5 “En kyk net, ons het nou al soveel lig as wat nodig is om die oord van naderby in oënskou te neem. Wat merk julle hier op?” Julle sê ietwat opgewonde: “Om God se almagtige en allerbarmhartigste wil, wat se huiweringwekkende oord is dit tog! Ons sien niks anders nie as swart sand en swart gesteente en dit is die enigste, waaruit die bodem van hierdie streek bestaan. En tussen die sand en die gesteente styg hier en daar dampe op soos ons dit dikwels op aarde gesien het, wanneer daar kole verbrand word.” Verder vra julle: “Waar is dan wesens hier te sien? Hierdie streek lyk wel heeltemal uitgesterf. Ja, my liewe vriende, dit is ook maar `n verskyningsvorm en hierdie stel die “dood” voor! Maar maak geen sorge oor die afwesigheid van wesens in die oord nie, want julle sal spoedig meer as genoeg te siene kry.

6 Kyk, daar, nie ver van ons vandaan nie, is iets te sien wat lyk soos `n taamlike groot brandstapel op julle op aarde. Ons sal hierdie stapel net van naderby bekyk, dan sal julle julleself spoedig daarvan kan oortuig uit welke materiaal hy bestaan. Wel, ons is al op die regte afstand; bekyk hom nou maar bietjie beter. Wat sien julle?” Julle sê alweer: “Maar in God se almagtige Naam, wat is dit tog? Dit is tog net mense, wat soos harings op mekaar gepak en bowendien nog met `n baie sterk ketting sodanig aan die grond bevestig is, dat dit sekerlik vir niemand moontlik is om hom in hierdie toestand ook maar die minste te beweeg nie. Wanneer dit egter so is hier, dan sien dit daar met die ewigdurende vryheid van die gees besonder merkwaardig uit.

7 Ja, ja, beste vriende, bekyk ons dit vanuit ons hemelse lig dan lyk dit op die eerste oogopslag inderdaad so. Daarom is dit egter net `n “verskyningsvorm” wat met die ware situasie ooreenkom. In diepste wese gee hierdie verskyningsvorm eintlik weer, hoe `n geselskap gevange gehou word, deur haar eie totaal verkeerde instelling, en die daaruit voortvloeiende boosheid. Laat ons hierdie stapel nou egter verlaat en verder gaan. Kyk, daar voor ons is alweer nog `n groter hoop. Ons is al daar naby, sê my nou wat julle daar sien.” Julle sê: “Beste vriend, ons sien hier dieselfde as voorheen, die hoop is kegelvormig en daar is `n massa kettings oorheen gewerp waarmee hierdie wesens stewig saamgepers blyk te wees, sodat hulle liggame as te ware platgedruk is. Ons kan nêrens ontdek hoe hulle gesigte lyk nie, want hierdie wesens lê almal met hulle gesigte na benede gerig.” Julle vra: “Vriend, bevind ons vroeëre viertal hulle miskien ook in hierdie hoop?” Nee vriende, ons sal nog wel by hulle kom. Noudat ons alles hier gesien het, gaan ons weer `n bietjie verder.

8 Kyk, ver van ons verwyder is `n egte berg te sien, en omdat ons alweer op die regte afstand is, kan julle hom bietjie van naderby bekyk. Wat sien julle?” Julle sê alweer: “Maar om God se almagtige en regverdige wil, wat is dit nou weer! Dit is ook net menslike wesens wat opgestapel is onder kettings en ysterroosters. Tussen hulle is ook `n hele klomp slange en adders, wat met hulle afskuwelike oë na alle rigtings kyk en hulle tonge vinnig in en uit laat skiet. Wat wil dit sê? Dit wil sê dat dit `n geselskap is wat al meer en meer vanuit sy verkeerde instelling tot die boosheid oorgegaan het. Laat ons nou maar weer van hier af verder gaan. Kyk daar, nie ver van ons vandaan nie is `n gebergte wat julle nie so maklik in `n oogopslag kan aanskou nie. Dit is ook nie nodig nie, want `n plek spreek vir die geheel. Hier is al die voet van een van die uitlopers van die gebergte; bekyk hom bietjie beter en sê my wat julle sien.” Julle sê: “Ons sien daar niks anders nie as allerlei soorte gevelde en geknewelde gedrogte; slegs hier en daar steek daar nog `n plat gedrukte geraamte van `n menslike kadawer tussenin uit. Wat beteken dit nou weer? Dit stel die reinste eieliefde voor en dit is die verskyningsvorm van wêreldse mag, grootheid en rykdom, wat ontstaan wanneer hierdie kenmerke op aarde vir egoïstiese en slegte bedoelings gebruik word.”

9 Julle vra alweer en sê: “Maar beste vriend, ons weet nog baie goed dat ons onsself in jou sfeer en in wese op die geestelike son bevind, waar ons eintlik niks as hemelse dinge verwag nie; hoe is dit dan dat ons hier ook die volledige hel aantref?” “Ja, my liewe vriende, is julle by julle oorgang na die geestelike son dan nie tegelykertyd deur die Heer Self uitgelê dat die geestelike die mees innerlike, die alles deurdringende en allesomvoutende is nie? As die geestelike so geaard is, dan deurdring dit immers alle planete en die hele sfeer, so ver as die lig van die natuurlike son deurdring; maar suiwer geestelik geneem, nog oneindig veel verder. Bygevolg bevind julle julleself nou nie in die sfeer van die eintlike son nie, maar in die spesifieke sfeer van julle planeet. Soos alle planete hulle lig en hulle warmte van die eintlike son ontvang en haar werking al hierdie planete deurdring, so is dit ook die geval met die geestelike son, aangesien ons op die trillings van haar geestelike straal ook die geestelike van haar planete deurskou. Omdat ons dit nou beter begryp, sal dit vir julle hopelik tog ook duidelik wees dat mens langs hierdie geestelike weg, ook die geestelike wese van die hel, betreffende julle planeet, baie duidelik kan deurskou.

10 Julle moet julle die hemel en die hel nie materieel ruimtelik, as van mekaar verwyder voorstel nie, maar slegs as toestand. Ruimtelik kan hemel en hel dus langs mekaar wees, soos `n hemelse goeie mens langs `n helse, slegte kan loop en selfs met hom op `n bank kan sit. Die een het die volmaakte hemel in hom en die ander die volkome hel. As bewys hiervan kan ek julle oombliklik in my eie sfeer laat sien dat hier netso goed die hemel as die hel kan wees, want julle sien dit alles tog sonder meer in my sfeer en julle hoef slegs `n tree buite my sfeer te sit, of julle sal julle weer op dieselfde plek bevind vanwaar julle oorspronklik my sfeer binnegetree het. Omdat julle dit nou weet, kan ons die gebergte weer verlaat en dit alles ook in `n ander lig beskou.

11 Let nou op, die lig het verander. Hoe sien julle hierdie berge nou? Julle verbaas julle daaroor, dat julle nou, in plaas van die berg, dadelik heeltemal vry rondwandelende groepe sien en selfs allerlei wonings, wat ten dele soos smerige kroeë, ten dele soos ou swart ridderkastele lyk en kyk, dit alles selfs in `n rooiagtige skemerlig.

12 Maar kyk, nie ver voor ons nie, staan `n ou ridderkasteel, wat blyk om teen `n rotsgebergte gebou te wees. Daarheen sal ons gaan. Kyk, ons is al daar; die poort staan oop. Ons is hier onsig­baar, daarom gaan ons hierdie kasteel binne, dan sal ons sien hoe dit daar gaan. Wel, daar is die eerste saal al. Die wande is behang met allerlei moord en folterwerktuie. Daar op die agtergrond sit die sogenaamde kasteelheer op `n troon. Hy pleeg oorleg met sy krygsmakkers op welke manier hulle die goedere en skatte van die eienaar van `n naburige, gelyksoortige kasteel kan bemagtig. Luister hoe hy hulle opdra om die kasteel, waarop hulle dit gemik het, in alle stilte te oorval, alles wat daar leef, meedoënloos neer te sabel en vervolgens na die skatte te gryp. Diegene wat hulle hardnekkig versit, moet, soos al dikwels gebeur het, saamgeneem word, waarna so `n gevangene hom dan die allerpynlikste folterings moet laat welgeval. Wel, die besluit is geneem en die beraad word beëindig. Almal gryp na die wapens en hardloop na buite. Omdat ons hier niks meer te doen het nie, hardloop ons hulle ook agterna. 

13 Kyk, daar voor ons, nie ver hiervandaan nie, lê die genoemde kasteel reeds. Hy word omsingel en let nou op, die vreeslike slagting begin. Die boosaardige wesens veg verwoed teen mekaar, waarby die bewoners van die tweede kasteel in stukke gekap word. En kyk verder; daar word die bekende viertal so pas deur die krygsmakkers van ons vorige burgbesitter geketting en wel nader gebring. Laat ons onsself by hulle aansluit en tog net die dialoog aanhoor. Hoor, die man sê aan die vrou: “O jou ellendige slang, nou het ek jou deursien! My angstige vermoede het my altyd heimlik toegefluister dat jy van `n slegte gees deurtrek is! Dit is nou die hoë skool en jou erbarmlike lig waaroor jy op `n listige manier as `n sogenaamde geestelike wese vol ervaring gehuigel en my voorgelieg het. Hierdie gekettingde boosaardige professor van hierdie hoë skool sit nou ook met ons in hierdie afskuwelike gevangenskap, waarin ons verseker `n allerafskuwelikste lot te wagte staan.”

14 Die vrou sê: “Hoe kan jy nou so oor my dink? Wie kan dan iets doen aan `n onvoorsiene ongeluk? Met jou het ek dit tog maar net goed bedoel.” Die man sê: “Swyg, jou ellendige slang! Aan jou alleen het ek dit te danke dat ek my nou kennelik in die hel bevind. Tussen my en jou sal nou elke band vir ewig verbreek wees. En U, my Jesus, op wie ek my altyd beroep het, help my uit hierdie verskriklike gevangeskap. Ek wil liewer, as dit U allerheiligste wil is, baie duisende jare in daardie duistere oord ronddool om daar vir al my gebreke te boet, as om nog `n oomblik langer hier in die oord van verskrikking, wat blyk om vir ewig totaal van U genade en erbarming uitgesluit te wees, te bly! O Jesus, help my! O Jesus, red my!”

15 Kyk nou, twee vermomdes kom so pas haastig op hierdie stoet af. Kyk, hulle is al daar. Hulle lê hulle vermomming af en soos wat julle kan sien, is dit twee strafengele van die Heer. Elkeen van hulle het `n vlammende swaard in die hand. Die een swaai daarmee oor die oorwinde kasteel, waardeur die verskeurde en in stukke geslaande wesens hulle weer tot hele gestaltes saamvoeg, wat begin om te weeklag oor die onreg wat gely is. Die ander engel swaai met sy swaard oor die eerste berugte kasteel, waardeur dit, soos julle kan sien, in ligte laaie te staan kom. Brandende en huilende gestaltes stort hulle oral uit die openinge, vensters en deure na buite en vervloek hierdie twee wrekende engele.

16 Kyk verder; `n engel slaan met sy vlammende swaard tussen ons viertal. Die ketting is verbreek. Die man val voor beide engele neer en smeek hulle om genadige redding. En die een engel gryp hom vas en trek hom saam met hom, maar die vrou gryp hom ook vas en skreeu vir haar man om genade en erbarming en om haar tog veral nie te verlaat nie. Kyk, hoe lank sy haar met haar man deur die engelgees laat voortsleep! Kyk nou, beide engele beweeg hom omhoog en die een dra die man, terwyl die vrou haar laat saamdra en die man nie loslaat nie. Eers nou, al op `n groot hoogte, maak die ander engel deur `n hou van sy swaard die vrou met baie moeite van die man los. Skielik val sy nou huilend in haar element terug en die man word na die grens van die kinderryk gebring, waar dit egter nog baie skraal en donker lyk.

17 Nou het julle so `n bevryding gesien en nog wel een van die beste. Daar is egter nog tallose en baie verskrikliker en hardnekkiger soorte, waarvan julle die aanblik, selfs in woorde uitgedruk, maar moeilik sou verdra. Daarom sal ons nou weer na ons oorspronklike plek teruggaan en dan vandaar oorstap na die omgewing van die middag. Dus genoeg vir vandag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205