Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 91

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die verlossingsvoorwaarde. Die oorbrugging van die kloof

91 Die prior sê: O liewe, agtenswaardigste vriend en broer, hierdie heerlike gedagte het hom ook volkome van my gevoel meester gemaak. Ek sien maar al te goed in dat die voltooiing in die Heer sekerlik sal plaasvind, maar daarna sien ek ook in hoe eindeloos onwaardig ons almal vir so `n buitengewone heilige hulp is.

2 Die eenvoudige man sê: Liewe vriend en broer, ek sê vir jou, sodat jy duidelik kan insien, is dit vir jou en jou broers ook die beste, want solank iemand dink dat hy iets uit homself sou kan doen, of dat hy die goddelike genade en erbarming waardig is, solank kan hy ook daarop reken dat die Heer hom sal laat wag totdat die dwase selfbedrog in hom verteer is. Wanneer dit egter tot jou verworwe innerlike insig kom dat jy niks is en tot niks in staat is nie, maar dat die Heer alles in almal is, die Eerste en die Laatste, die Alfa en die Omega, dan eers gee hy hom heeltemal vrywillig aan die Heer oor en dan neem die Heer hom op en lei hom langs die korrekte weg.

3 Wat jou geval betref, dink ek dan nou ook: Lê alle liefde vir jou broers en alle sorg oor hulle voor die voete van die Heer neer en omvou dit met vurige liefde in jou hart, dan sal jy jou sekerlik daarvan kan oortuig dat die Heer juis dan aktief begin te word, wanneer die mens, vanuit sy deemoedige innerlike besef dat hy alle nietige daadkrag en swak wilskrag liefdevol aan die Heer moet oordra. Dit is trouens ook reeds die geval by mense wat `n wêreldse leier in hulle middel het.

4 So lank iemand sy vermoë self wil beheer, sal die leiding­gewende hom nie oor hom en sy vermoë bekommer nie. Het iemand ingesien dat hy nie in staat is om sy vermoë self te beheer nie, dan sal hy dit met `n deemoedige, liefdevolle hart vol vertroue in die hande van die leier gee en die beheer daarvan volledig aan hom toevertrou. Die leier sal die vermoë in sy bank sit, sodat vir die verstandige, maar ondeskundige eienaar, die belange op sy tyd behartig kan word. Dit gebeur, soos gesê, reeds baie dikwels by die mense op aarde, hoewel die bedoelinge dan tog min of meer onsuiwer en liefdeloos is. 

5 As die dwase mense op aarde al weet om hulle materiële vermoë op die manier goed te belê om hulle daardeur `n lyfrente vir `n sorglose lewe te verskaf, moet dan die veel wyser geestelike mens nie nog baie beter insien, wie die allerbeste beheerder en versorger van alle lewensbehoeftes van die geestelike mens is nie, wanneer hy sy hele lewenskapitaal vooraf aan Hom oorhandig het.

6 Bowendien gee die Heer in die evangelie tog ook duidelik aan, tot Wie hy wat belas en belaai is, moet kom om die korrekte verkwikking te vind en aan Wie hy al sy sorg kan toevertrou. As jy goed daaroor nadink, sal jy ook maklik en vinnig insien dat jou sorg vir hierdie broers, met al jou liefde en redelikheid, `n bietjie ydel is.

7 Jy sou dit graag deur die volledige bevryding van die broers sover wil bring, dat jy aan die Heer sou kan sê dat jy ook `n totaal nuttelose kneg was. Kyk, hoe mooi dit ookal op sigself klink, tog sit daar, wat jou verdienstelikheid voor die Heer betref, nog ietwat ydelheid by. Jy wil, deur selfstandig te handel, die Heer weliswaar `n goeie diens bewys, maar dan tog daarna maak asof julle niks gedoen het nie, om op die manier deur die Heer geprys te word. Maar ek sê vir jou dat daar in die Ryk nog baie is wat sê, ek is voor God die laaste en allerminste. Maar hy wat so-iets van homself sê, wil juis daardeur by die Heer in die guns kom om so volgens die uitspraak van die Heer in die evangelie, tog veral die eerste en grootste in die Ryk van God te word.

8 Op `n ander plek sê die Heer egter ook: As jy nie word soos hierdie kinders nie, sal jy die Ryk van God nie binnegaan nie. Hoe en waarom dan? Omdat die kinders werklik die geringste en kleinstes is, deurdat hulle al hulle sorg aan hulle enige vader oorgee. Het jy ooit `n kind gesien wat sorglik aan sy ryk ouers sê: wat sal ons eet en drink en waarmee sal ons onsself klee? Kyk, soortgelyke sorg is vir die kinders vreemd. As hulle honger of dors het, loop hulle na hulle vader en vra hom brood en iets te drinke en hulle vader gee dit aan hulle. Hulle vra hom selfs nooit vir klere nie. Wanneer hulle koud kry, merk hulle vader dit die beste en gee hulle nie net warm nie, maar ook mooi en netjiese klere, omdat hulle sy liewe kinders is.

9 Dus, my liewe vriend en broer, gee jy jou ook heeltemal oor aan die Heer en wees daarvan verseker dat Hy jou nie minder sal voorsien van alles wat jy nodig het nie en dat Hy dit sekerlik veel eerder en onuitspreeklik beter sal doen, as die rykste aardse vader wanneer dit kom by die versorging van sy kinders.

10 Die prior sê: Luister, liewe vriend en broer, hoewel jy so eenvoudig en gewoon lyk, moet ek tog aan jou beken dat jou woorde nog onvergelyklik meer verhewe en werklik meer waaragtig klink as die van die vroeër, deur my genoemde, hemelse boodskapper van die Heer. Ja, jy het my nie slegs die lewendigste waarheid van alle waarhede getoon nie, maar ek moet openlik aan jou beken dat jou woorde my met so `n lewendige troos vervul het, dat ek my van suiwer deemoedigste dankbaarheid en liefde vir ons onuitspreeklike liefdevolle hemelse Vader totaal verpletter voel.

11 Die woorde van die verhewe bode van die Heer was vir my gevoel soos `n ruwe vyl, waarmee hy, ewig dank aan die goddelike genade, die baie en allergrofste dwalings van my afgevyl het. Ook was dit dikwels soos `n skerp swaard wat iemand uiters pynlik verwond, alhoewel die kwaadverwekkende bloed daardeur kon wegvloei.

12 Jou woorde daarenteen, o vriend en broer, is soos `n allerheilsaamste, lieflikste balsem. O, ek kan nouliks beskryf hoe onuitspreeklik heerlik ek my by elke woord van jou begin voel! Ek het nou ook sover gekom dat ek opreg en eerlik vanuit my diepste gevoel kan sê:

13 O Heer, almagtige, heilige, goeie Vader, nou geskied vir my en vir al my arme broers slegs U heilige wil! Al my sorg en al my wil lê ek aan U heilige voete neer. Wat U met my sal doen en wat U my wil gee, daarin geskied ook slegs U heilige wil! O jy liewe, hemelse broer, jy moet sekerlik `n nog groter vriend van die Heer wees as die vroeëre verhewe bode. Jy moet my maar vergewe, want jou woorde het my ook met so `n liefde vir jou vervul, dat ek nie daaromheen kan kom om jou te omarm nie, om jou so met my warmste broederliefde my dankbaarheid vir jou hemelse leer te betuig. Waarlik, soos ek ewig nooit sal ophou om ons liefdevolle heilige Vader lief te hê, sal ek ook nooit ophou om in my hart aan jou te dink nie!

14 Die eenvoudige man sê: Ja, my liewe broer en vriend, kom by my en het my lief, want dit is tog die wil van die Heer dat alle broers mekaar in die Heer moet liefhê! Kyk hoe ons prior nou op die nog onbekende man afstorm, hom omarm en uit alle krag aan sy hart druk, terwyl die eenvoudige man die gebaar van die prior nog lewendiger beantwoord. Wat dink julle, is dit `n gunstige of `n ongunstige teken vir die prior? Ek sê vir julle, so `n teken is van oudsher af gunstig, want dit lê al ewig baie kenmerkend in die karakter van die Heer, dat Hy met ons en al Sy hemelse bodes die grootste vreugde aan `n teruggekeerde verlore seun het.

15 Soos julle sien, het ons geliefdes mekaar ook weer losgelaat en die eenvoudige man sê nou aan die prior: My liewe vriend en broer, kyk net, dit lyk vir my dat tydens ons gesprek en ons broederlike en liefdevolle omarming, die hele kloof verdwyn het. Ek dink dat dit nou nie meer moeilik sal wees om die arme broers te gaan haal nie. Daarom gaan ons na hulle toe om dit vir hulle te sê.

16 Nou gaan beide na die naakte sieleslapers. Hulle kom orent en kyk met verbasing en oë vol dankbaarheid en blydskap na die plek, waar die huiweringwekkende kloof eers was. Die eenvoudige man sê aan hulle: Kyk, die kloof is nie meer daar nie, volg ons dus gerus. Maar die naaktes sê: O liewe vriend en verhewe broer, ons is naak en durf ons nouliks na die ligter gedeelte van ons vroeëre refter (eetsaal) begewe. Die eenvoudige man sê aan hulle: “Maak julle geen sorg oor die kleding nie, want Hy wat hom oor julle ontferm en hierdie kloof laat verdwyn het, het ook reeds vir die korrekte kleding gesorg. Kyk, daar in die middel van die vertrek by die tafel sal julle vind wat julle nodig het. Kom daarom en volg ons!”

17 Hulle kom nou en die prior, gegryp deur sy groot liefde vir sy liewe broers, sê aan hom: Nee liewe hemelse vriend en broer, vir hierdie liefdesdiens kan ek jou nie, net soos ons almal, laat loop nie; daarom vra ek jou, laat jou deur my gedra word!

18 Die eenvoudige man sê: Liewe broer, laat dit maar agterweë, want as dit daarop sou aankom, sou ek eerder vir jou, saam met al jou medebroeders, kan dra so ver as wat julle maar wil, as dat jy my ook maar na die tafel dra. Maar dat jy my in jou hart dra, o broer, dit is vir my heelwat beter as dat jy my sou wil dra en miskien ook op die hande gedra het. Jy vra my nou, wat ek met die “miskien” bedoel. Ek sê egter vir jou: Bekommer jou nou nie meer daaroor nie; mettertyd sal alles wel vir jou duidelik word. Laat ons daarom na die tafel gaan, sodat ons naakte broers daar hulle korrekte klere kan neem.

19 Die prior sê: Ja, ja, geliefde broer, soos wat jy wil, is dit vir my ook volkome in orde. Die “miskien” speel nog wel `n bietjie deur my gedagtes, maar ook dit sal ons aan die allerheiligste voete van die Heer lê en sodoende geskied Sy en jou wil.

20 Kyk, nou gaan almal na die tafel en soos wat julle kan sien, is alle arm broers ook reeds sonder die hulp van `n kamerdienaar geklee. Hulle gewaad lyk lyk weliswaar nog nie eg hemels nie, maar dit is `n gewaad van geregtigheid en dit kom ooreen met hulle liefde vir die Heer. Wat verder daar sal gebeur, sal die vervolg ons leer.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205