Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 64

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Verlossing van die arm gevangenes. Oordeel en jongste dag

64 Omdat die priores (owerste) dit sien gebeur, maak sy onmiddellik die een kruisteken na die ander, neem haar toevlug tot `n wywaterbak en sprinkel ywerig wywater na ons biegvader en ons non. Ook roep sy die susters uit alle mag om te kom help. Hulle kom ook dadelik, staar die biegvader aan, maar kan heeltemal niks duiwels aan hom ontdek nie. Nou maak die owerste `n groot kruisteken voor haar uit, gaan na die biegvader en die non toe, wil haar met geweld van hulle meester maak en sê met `n skel luide stem: Jy, afskuwelike helse duiwel, jy, wat die vervloekte brutaliteit het om, deur leuens en bedrog, in die gedaante van `n ligengel, ons heiligdom binne te sluip, ek beveel jou in die naam van die heilige drie-eenheid, die allersaligste maagd Maria, die heilige Josef en die heilige Teresa, dat jy onmiddellik van hierdie heilige plek sal verdwyn en terugkeer na jou ewige verdoemenis en na jou helse vuur om daar vir ewig te brand.

2 Kyk nou, ons biegvader laat hom nie in die minste deur hierdie verskriklike, ‘eksorsistiese’ (duiwelsbesweerder) banvloek van koers afbring nie en sê: Luister, blinde leidster van hierdie arme kudde, jy noem my `n duiwel en het my bowendien ook nog danig verdoem; sê net wat ek hier, as jou vermeende duiwel, met jou en met hierdie suster hier gedoen het?

3 Ek het slegs aan hierdie suster gesê wat hier in die Ryk van die geeste die volle waarheid is, en jou deur haar laat roep om ook vir jou, as leidinggewende, verder in die goddelike waarheid te onderrig. In plaas van om na my te wil luister, het jy dadelik die gloeiende swaard van die oordeel gegryp om hierdie arme suster oftewel, as dit moontlik sou wees, met één hou dood te slaan, of haar selfs dadelik aan die hel uit te lewer.

4 Ek, as jou duiwel, het my oor hierdie arme suster ontferm en het haar met my krag gered van jou woede; maar daarvoor het jy my uitgedryf en my in die helse banvloek verdoem.

5 As ons ons harte net met mekaar sal vergelyk, dan is daar `n groot en gewigtige vraag te beantwoord: In welke hart sou meer waaragtige naasteliefde wees, in joune, wat hemels wil wees, of in myne, wat duiwels sou wees?

6 Ek sê vir jou: Nou is dit gedaan met jou heerskappy oor hierdie arme blinde kudde! Teresa het weliswaar hierdie orde op aarde gestig, maar in haar tyd was waaragtige naasteliefde die fonda­ment, en die belangrikste kloosterreëls wat Teresa in die gestigde orde ingevoer het, was die werk van die liefde en die noodsaaklike suiwerheid van die hart. Onder sulke omstandighede was hierdie orde dan ook vir die Heer welgevallig, maar jou reëls, in kom­binasie met die allerstrengste klousules en die baie, vir julle meestal onbegryplike, lippegebede is `n gruwel vir die Heer en is op geen enkele manier vir Hom welgevallig nie, en gladnie wanneer, soos in jou geval, ware tirannieke, despotiese heerssug, gepaardgaande met blinde waanidees die orde binnegesluip het nie!

7 Het jy ooit op aarde gehoor dat daar, na die dood van die liggaam, nog kloosters en kloosteragtige instellings in die gees­telike wêreld bestaan? Vir sover ek weet, het jy slegs geglo dat jy na die liggaamlike dood, oftewel tot by die laaste oordeel in `n soet sieleslaap sou oorgaan, of in die paradys, of miskien regstreeks in die hemel sou kom. Maar as jy dit onteenseglik geglo het, hoe het die klooster dan ontstaan? 

8 Kyk, nou is jy met stomheid geslaan, en kan geen antwoord op my vraag gee nie. Dieselfde vraag het hierdie arme suster egter ook aan jou, as owerste, gestel. Omdat jy vir haar, net soos vir my, `n antwoord skuldig is, het jy in hewige woede ontsteek en het jy die vraestelster `n klinkende oorveeg gegee.

9 Nou sal ek jou net sê waar hierdie klooster vandaan kom. Dit het ontstaan uit jou heerssugtige karakter, waardeur jy as gevolg van jou blinde waanidees, deur leuens en bedrog, heeltemal net vir jou en hierdie arme susters ook hier in die geesteswêreld so `n inrigting gestig het. Daarom is hierdie inrigting ook slegs `n waaninrigting, wat vir God, die Heer sekerlik in geen enkele opsig aangenaam is nie. Ek het die mag, alhoewel ek vir jou soos `n ware Beëlsebub moet lyk, om hierdie inrigting vir al hierdie arme susters op te hef en hulle almal vry na buite te bring. Vir jou moet ek egter in hierdie inrigting agterlaat, totdat jy jou innerlik berouvol bewus geword het van jou geestelike dwaling en insien dat so `n inrigting `n dwaling van die menslike gees is en niks waars of goeds bevat nie.

10 Sodat jy en al hierdie arme susters mag insien dat ek die volle mag het om so te handel, en die mag het ek nie van Beëlsebub, wat jy, owerste, met wywater besprinkel het, gekry nie, maar regstreeks van God, en kondig ek om te begin aan, dat hierdie suster wat deur my gered is, Teresa self is, wat deur my na jou toe gestuur was om jou van jou waanidees te bevry. Vervolgens verkondig Ek aan jou, dat Ekself Die Een is wat so innig deur Teresa bemin word! As jy dit nie wil glo nie, plaas dan, net soos Thomas, jou hande op My wondtekens!

11 En let nou op, jy, owerste van die klooster, in jou groot blindheid het jy My verdoem. Kyk, ook Ek het die mag om jou te verdoem, maar sodat jy kan sien dat Ek beter is as jou orde, verdoem Ek jou nie; in plaas daarvan, onderrig Ek jou en toon jou die weg na My toe. Nou kan jy My nog nie volg nie, maar eers dan, wanneer jy jou skynklooster tot op die grond afgebreek het.

12 Kyk nou, alle susters val voor die Heer op hulle knieë, loof en prys Hom oor Sy groot liefde en erbarming en smeek Hom om genade vir hulle owerste. En die Heer sê: Dit is so, maar die owerste het nog haar vrye wil en sal dit ewig behou. As sy die klooster wil afbreek, dan mag sy saam met julle gaan; as sy dit wil behou, dan sal Ek dit ook geen sekonde vroeër van haar afneem, as die oomblik dat sy dit vrywillig aan My sal afstaan nie.

13 Kyk, die owerste staan asof versteend voor die groep susters en weet nie wat sy nou moet doen nie, want self beskou sy hierdie toneel nog steeds as `n uitsonderlike werk van die duiwel. Die Heer sê aan haar: Wat dink jy nou by jouself? Was dit dan nie `n geloofspunt by jou, dat die Satan vir die Naam van Jesus Christus op die vlug moet slaan en dat elke knie voor hierdie Naam moet buig, sowel in die hemel, as op aarde en onder die aarde nie? Wanneer die Satan egter so `n geweldige vrees koester vir die naam van Jesus, sal hy hom dan self uitspreek, of hom selfs in Sy gedaante verander? Kyk net hoe groot is jou dwaasheid! Jy is nog nie ryp vir `n suiwer lig nie en jy sal ook nie ryp wees, alvorens jy nie die laaste klip van die klooster in jouself vernietig het nie. 

14 Bowendien sê Ek nog vir jou, dat jy jou maar net tot My hoef te wend, as jy ooit uit jou instelling bevry wil word.

15 Op jou “jongste dag” sal jy tevergeefs wag, want dit is voortdurend vir alle mense daar. Dit is vir die liefdevolle regverdiges `n dag van opstanding tot die ewige lewe, dit wat die volkome wedergeboorte van die gees is. Maar vir almal wat My nie in die gees en nie in die waarheid en dus nie met alle liefde in homself wil opneem nie, is dit ook `n dag van oordeel.

16 Nou weet jy waaraan jy toe is; rig jou daarvolgens, dan sal jy jou jongste dag vir die ewige lewe bereik het, maar anders sal die son, wat hierdie dag verlig, sekerlik vir ewighede lank nie meer vir jou opgaan nie!

17 Nou wend die Heer hom tot die susters en versoek hulle om Hom te volg. Soos wat julle in die gees kan sien, werp die owerste haar ook nou eindelik vertwyfeld voor Hom neer en smeek Hom, noudat sy Hom herken het, om haar nie so alleen agter te laat nie. En die Heer sê aan haar: Kyk, hier is My liewe suster Teresa; Ek wil dat sy by jou bly en jou help met die afbreek van jou klooster. En kyk, Teresa help die owerste dadelik met alle liefde orent, bring haar terug en toon haar die ware weë van die Heer.

18 Die Heer trek met Sy onskuldige lammers na die ewige môre! Dit sal nie lank duur voordat ons liewe leerling van die Heer haar nog blinde suster van haar instelling bevry het nie. Tog sal sy nie so vinnig na die môre nie, maar na die middag of na die tweede hemel gebring word.

19 So het julle weer `n ander manier van bevryding uit `n verkeerde geestelike saligheidsoord gesien, wat trouens een van die beter instellings was. Daar is egter nog baie ander, waarby dit veel moeiliker gaan. Die volgende keer sal ons `n soortgelyke manne­klooster onder die loep neem. Dit sal ook een van die strengstes wees en julle sal sien met welke probleme die lewe daar te kampe het, waar `n vloed van valse beginsels die lewenssaad totaal verstik het.

20 Daarom moet niemand hom ook in iets vasbyt nie, maar die liefde vir die Heer en sy naaste as enigste rigsnoer vir sy lewe behou. Want die liefde is goeie grond waarin die saad van die lewe uitstekend gedy; maar as daar eers in hierdie aarde onkruid gesaai word, dan sal die goeie saad slegs moeisaam opgroei. Dat sal ons duidelik by die volgende voorbeeld sien. En so is dit genoeg vir vandag!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205