Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 38

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

In die eerste graad van die hel

38 Julle sê: “Beste vriend, ons volg die paar soos hulle voor ons uitgaan al geruime tyd netso blind en stilswyend as wat hierdie nag is, en kyk, daar is nog nêrens iets te sien van die môrerooi agter die berge waaroor die vrou gespreek het nie. Waar is dit dan? Sou die vrou haar man werklik belieg het? Ek sê vir julle: Wees nog netso geduldig, dan sal julle die lofwaardige môrerooi nog vroeg genoeg te siene kry. Let maar op ons paar, hoe die vrou steeds vroliker, die man daarenteen steeds meer bedroef en somberder word.”

2 Julle vra: “Waarom? Die antwoord is voor die hand liggend: Sy nader die element waarna haar liefde uitgaan; daarom word sy ook blymoediger. Maar by hom is die teenoorgestelde die geval. Hy nader `n element wat nie aan hom verwant is nie, word nie deur sy liefde getrek nie, maar veeleer deur die liefde vir sy vrou in hom meegesleur.

3 Dit gaan met hom byna soos die minnaar in die ou verhaal, wat oor die liefde van die skone Sirene gaan. Solank die minnaar die betowerende Sirene vanuit sy sfeer aanskou, was hy vol verrukking. `n Omhelsing van so `n geliefde blyk vir hom die top­punt van geluk te wees. Toe hy egter sy geliefde nader en sy hom in haar sagte arms omhelsend na benede in haar element begin te trek, gaan die aanvanklike fantastiese bekoring verlore en kom hewige skrik en doodsangs in die plek daarvan.

4 Kyk, presies so gaan dit ook hier. Die man merk dat dit gaandeweg steeds duisterder word. So `n steeds ondeurdringbaar wordende nag is nie sy element nie, maar die vrou voel haar des te behaagliker na mate dit donkerder word, omdat die mees volslae duisternis die element van haar liefde en dus ook van haar lewe is. Maar nou kan julle reeds vanuit die verte `n dowwe geraas hoor, ongeveer soos `n verafgeleë groot waterval.

5 Julle vra wat dit beteken? Ek sê vir julle: “Niks anders nie as dat ons taamlik naby die grensrivier gekom het, wat ons reeds leer ken het by ons besoek aan die noordelike streek. Daarom maar dapper daarop af, dan sal ons die oewer spoedig bereik. Julle vra nou alweer na die eersgenoemde môrerooi agter die berge, wat nog steeds nie te siene is nie. Wees maar nog `n bietjie geduldig. Wanneer ons die oewer van die rivier bereik het, waaraan ons nou al baie naby is, wat julle uit die steeds sterker wordende geraas kan aflei, sal die môrerooi in die verte agter die berge sekerlik te siene wees. Let nou goed op en kyk goed na die grond, want ons hoef nog maar enkele treë te gaan, dan is die oewer bereik.

6 Stop nou; ons is al by ons doel en kyk daar langs die rivier, daar ver op die agtergrond is `n oop sterk, rooi gloed te siene, netsoos by `n veraf groot brand. Maar let nou weer op die gesprek van ons paar. Sy sê: “Wel my liewe eggenoot, wat sê jy nou, het ek gelyk of nie? Kyk daar, wat `n pragtige môrerooi, en hier is die breë rivier. Wat sal ons nou doen om in die glansende streek te kom? Kyk, ons kan die rivier nie oor nie, maar ons kan wel saam met die stroom langs hierdie oewer loop. Dit word steeds ligter soos jy met jou eie oë kan sien en mettertyd sal ons ook sekerlik die hele glansende streek bereik.”

7 Die man sê: “My liewe, baie gewaardeerde vrou, dit lyk vir my dat daar iets nie in die haak is met dié lig nie. Wat die rooi gloed aanbetref, dit blyk absoluut geen verwantskap met `n egte môrerooi te hê nie. In my oë lyk dit nie na `n gloed wat van die son afkomstig is nie, maar veelmeer soos die van `n brandende stad agter die berge. Of daar `n stad aan die brand staan, sal ek nog betwyfel, maar dat daar `n brand is, dit staan sekerlik buite verdenking. Ek wil daarom ook so ver met jou saamgaan totdat ons `n taamlike sterk lig van die vuur kry, maar verder sal ek nie gaan nie. Want mens kan tog nie weet waar dit vandaan kom nie, en daarom is dit altyd verstandiger om ver van daar af te bly, want `n mens kan liewer uit die omgewing bly van die dinge wat hy nie ken nie, en wat gladnie aan sy natuur verwant is nie.”

8 Sy sê: “Nee, maar wat se onsin praat jy tog! Nou sien mens eers hoe dom jy eintlik is; maar waardeur kom dit? Ek sê jou, enkel en alleen deurdat jy jou op aarde, ten eerste maar weinig bekommer het oor die eintlike uitwerkings van die oerkragte van die natuur, waardeur jy nou dan ook nie goed in staat is om dergelike verskynsels te verklaar nie. Ten tweede is jy nog veels te kort hier en het jy nog veels te weinig geleentheid gehad om sulke verskyn­sels te observeer en jou daaroor te laat onderrig deur die wyses van hierdie streek. Maar kyk, daar langs die oewer kom twee manne so pas aangeloop. Laat ons hulle tegemoet gaan; ek is daarvan oortuig dat jy baie voordeel daarvan sal hê as jy `n gesprek met hulle sal begin.” Die man sê: “Ja, liewe vrou, ek was tog altyd `n groot vriend van manne wat baie kennis besit; waarom sou ek dit dan nie nou wees nie?”

9 Maar nou sê ek vir julle: “Let veral goed op. Die man begroet die grotere en imposantste baie hoflik. Hy maak `n koel buiging en vra aan die man van die vrou: “Wie het vir julle, naggespuis, die weg uit die duister na die domein van die lig gewys?”

10 Die man sê: “Baie agtenswaardige vriend, ek het net enkele dae gelede hier in hierdie diep nag aangekom, maar my vrou bevind haar reeds sowat ses jaar in hierdie streek. Sy weet niks van hierdie ligdomeine af nie; ek weet ook niks nie, maar voel slegs `n groot drang na lig, sodat niks anders vir my oorgebly het, as om my as geheel onervare persoon deur my meer ervare vrou hierheen te laat lei nie. Daarom sal u, agtenswaardige vriend, dit tog nie as `n fout teen my wil aanreken nie? As iemand met hierdie stap verkeerd gehandel het, dan was dit kennelik net my vrou.”

11 Die vreemdeling sê: “En so-iets durf jy as man hier te beken? Werklik, jy lyk vir my ook nie veel besonders te wees nie, want manne wat die leiding van hulle vrou nodig het, staan by ons in dieselfde aansien as die ape.” Hierop wend die vreemdeling hom tot die vrou en sê aan haar: “Was dit werklik u werk gewees, my allerbeminlikste, liefste dame?” Sy sê: “O agtenswaardige vriend, ek moet helaas tot my skande beken dat hy, my origens egte liewe man, sekerlik eerder honderd en nogeens honderd jaar uit suiwer dom en onbenullige liefde vir die, u welbekende Joodse filosoof in die digste duisternis mos en dor gras sou wil eet, as dat hy die weg van die lig sou wil bewandel, dit wat hom nie slegs deur my nie, maar ook deur die besonder wyse, u welbekende geleerde wat homself Melanchthon noem, aangeraai is.”

12 Die vreemdeling sê: “O baie agtenswaardige, beminlike dame, ek het werklik opregte medelye met u, maar daarenteen bewonder ek tog ook weer u sterk innerlike krag waarmee u so onvermoeibaar besig is om so `n onhandige man op die regte pad te bring. Allerliefste agtenswaardige dame, u moet my maar nie kwalik neem nie dat ek, wanneer ek in die glansende en steeds helderder wordende tydperk ook maar iets hoor oor die ou christelik-Joodse filosofie, van suiwer ergernis uit my vel sou kan spring. Ja, dit kom my nog veel dommer en onnoseler voor as wanneer iemand hom sou voorneem om trou te bly aan `n vreeslik ouderwetse, meer as duisend jaar oue kleredrag, terwyl die hele wêreld rondom hom reeds lank die groter voordele van die nuwe kleding ingesien en dit dus ook sondermeer aangeneem het.”

13 Nou wend die vreemdeling hom tot die man en sê aan hom: “Is dit egter waar, wat jou werklik baie verstandige vrou oor jou gesê het?”

14 Kyk, die man is bietjie verbouereerd en weet nie onmiddellik wat hy hierdie man, wat vir hom baie geleerd voorkom, moet antwoord nie. Christus wil hy nie laat los nie, en om iets oor Hom te sê, lyk vir hom, in die omgewing van hierdie baie magtige en geleerd voor­komende man, nie baie raadsaam nie. Daarom swyg hy.

15 Maar die geleerde vreemdeling wend hom opnuut tot hom en sê: “Ja my beste vriend, as dit so met jou gesteld is, dan kom jy, volgens my, aan die kos sonder om te betaal. Begryp jy my?” Die man sê: “Nee, ek begryp nie wat jy bedoel nie.” Die vreemdeling sê: “Dit verbaas my nou nie meer nie. Wat die “sonder te betaal” betref, was dit reeds by die ou wyse Romeine en Grieke gebruiklik dat mens gekke en dwase oral gratis kos gee. Selfs in hierdie tyd verleen mens manne soos jy kosteloos die eervolle gekkediploma, waarmee hulle dan maklik in `n goed ingerigte gekkehuis opgeneem kan word. Dit sal vir jou tog sekerlik nie onbekend wees nie, want volgens wat ek weet, was jy tog op aarde vertroud met bestuurlike en staatkundige sake. Begryp jy nou wat ek bedoel?”

16 Die man sê: “Helaas moet ek dit wel begryp, maar staan my nou ook toe om `n vraag aan jou te stel. Wie gee vir jou, met al jou geleerdheid, eintlik die reg om my, nadat ek jou tog besonder hoflik tegemoetgekom het, so grof te behandel, soos op aarde `n vreeslik verwaande skoolmeester dit met `n dom, armlastige leerling sal doen?” Die vreemdeling sê: “Luister beste vriend, dat ek jou bietjie bars bejeën het, was slegs `n besondere onderskeiding van my kant af, wat jy uitsluitlik aan jou deugdelike vrou te danke het. Anders het ek so `n dom Christuslummel baie anders bejeën, en so `n bejeëning sou jou verseker die verlange na `n glansende streek vir ewig ontneem het. Maar as jy vir rede vatbaar is, die kant van jou vrou kies en my die versekering kan gee dat jy spyt het van jou ou wêreldse domheid, waardeur jy eintlik in hierdie duisternis beland het, dan sal ek jou (begryp wel, net terwille van jou vrou) in die omgewing van daardie glansende plek, na `n onderwys­instelling bring waar jy, as jy nie al te traag van begrip is nie, tot `n beter insig sal kom.”

17 Die man sê baie deemoedig en verbluf: “Beste, geagte vriend, as dit so is, dan vra ek jou om my daarheen te bring. Op aarde het ek as student tog altyd tot die bestes behoort en sal in jou skool sekerlik ook nie die slegste wees nie.”

18 Die vreemdeling sê: “Goed, ek sal jou aanneem, maar dink daaraan, met slegte resultate sal jy die hoë kollege weer dadelik moet verlaat en teruggestuur word na jou oorspronklike nag. Maar as jy `n uitstekende student is, dan sal `n regverdige onderskeiding ook nie van jou weerhou word nie. Maar wat jou ou christelik-Joodse filosofie betref, raai ek jou by voorbaat aan om nie veel in die hoë skool daaroor te praat nie, anders loop jy die gevaar om openlik uitgelag te word. So-iets is `n ongunstige teken, want dwepers is nie geskik vir die studie van ernstige, hoë wetenskappe nie; daarvoor kan mens slegs nugter en beheersde denkers gebruik.”

19 Nou val die vrou op haar knieë voor die geleerde en dank hom al voortydig met die mees vleiende woorde vir so `n buitengewone guns. En die geleerde gee haar ten antwoord: “Ja, ja, my geagte liefste dame, u is die enigste van die duisende, ja miljoene bewoners van hierdie nagtelike streek aan wie hy dit te danke het. Volg my dus maar!”

20 Kyk, die vrou gryp die arm van haar man, volg die geleerde en sê onder die loop aan hom: “Wel, wat sê jy nou? Ek hoop dat jy nou tog insien dat die verhoudings hier baie anders lê as wat jy op aarde gedroom het.” Die man sê: “Liewe vrou, dit is `n duidelike saak, maar of hierdie verhoudings goed en nuttig is, sal die toekoms leer. Onder ons gesê, vir my kom die hele gedoente nog altyd baie bedenklik voor, maar soos gesê, die tyd sal uitwys wat daarvan sal kom.

21 In `n teks van die eerbiedwaardige apostel Paulus staan: “Ondersoek alles en behou die goeie.” Dit sal ek ook hier doen, maar diep in my hart dink ek dat van hierdie eienaardige beproe­wing heeltemal niks nie, of tog maar bitter weinig goeds te verwag is. Die steeds feller wordende lig, wat vir my voorkom asof mens steeds `n stad nader wat in ligte laaie staan, lyk absoluut nie vir die beligting van die goeie geskik te wees nie. Maar soos gesê, dit kom alles slegs op die proef neer. Kyk maar net `n bietjie verder langs hierdie rivier; daar ver op die agtergrond word hy byna gloeiend en dit lyk asof die golwe hulle in `n gloeiende newel oplos. Dit is asof ons `n vuursee nader wat hierdie rivier opskrik.”

22 Die vrou sê: “Ja my liewe man, hier is die saak om die werkende kragte tot in hulle diepste wese te leer ken, en dit gee wel `n bietjie grootser aanblik as wanneer mens `n armsalige student op aarde sien, wat by die treurige lig van `n skemerlampie `n Romeinse skrywer bestudeer.

23 Kyk, hier is `n boot aan die oewer vasgemaak.” Die bootsman sê: “As julle my wil volg, julle grootste geluk tegemoet, klim dan in hierdie boot waarmee ons stroomafwaarts sal vaar na die verhewe kontreie van die lig.”

24 Die vrou klim baie vinnig in die boot, maar die man krap hom bedenklik agter die ore en weet nie wat hy moet doen nie. Om egter nie alleen agter te bly nie, en ook in sekere sin fatsoenlik­heidshalwe, klim hy in die boot. Nou word die boot losgemaak en kyk net hoe hy soos `n pyl uit `n boog stroomafwaarts wegskiet. Maar nou gaan ons ook vinnig, want so vinnig as wat die vaartuig is, is ons ook, en as dit nodig is, ook nog bietjie vinniger. 

25 “Nou het ons reeds die boot bereik. Kyk hoe die water daar onder steeds meer begin te gloei tot daar waar die rivier in `n bergspleet uitmond. Laat ons daarom vinnig `n voorsprong tot oor die gebergte neem en ons boot by die monding van die rivier inwag. Skrik maar nie, want ook hier is ons onskendbaar; al hierdie verskrikkings wat julle daar sal sien, sal ons nie keer nie.”

26 “Kyk, ons is al daar. Julle skrik nou, omdat julle die rivier as `n breë gloeiende waterval in `n verskriklike, onafsienbare diep vlammesee donderend na benede sien stort en julle vra wat dit dan kan beteken.”

27 “Ek sê vir julle: Dit is die eersgenoemde “hoë skool”, waarin ons arme man die fundamentele werking van die oerkragte sal leer ken, of beter gesê: Dit is die eerste graad van die hel!

28 Maar kyk nou weer na die rivier; so pas kom ons boot aan. Die man staan handewringend met sy arms omhoog en wil uit die bootjie spring, maar die vrou slaan haar arms om hom heen, hou hom vas en kyk, nou stort die boot met die viertal omlaag, regstreeks die hoë skool binne!”

29 Julle vra: “Moet ons dalk ook nog daarin afdaal?” Ek sê en het immers tog al eerder gesê dat julle die hele ontwikkeling tot aan die einde moet sien, omdat julle andersins maar net die helfte sou weet van dit wat die binding van so `n dubbele liefde in `n hart wil sê. Wees maar nie bevrees vir hierdie vlamme nie, want dit is slegs `n verskyningsvorm van die helse. Ter plaatse sal alles egter weer baie anders lyk. Volg my dus sonder angs!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205