Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 50

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Onhoudbaarheid van hierdie materiële voorstelling van die hemel

50 Kyk, ons is al bymekaar en kyk nou verder; die geselskap wat weggeloop het, het by die grens van die groot tuin aangekom. Die is omgewe deur `n deursigtige muur, soos wat julle vir julleself innerlik daarvan kan oortuig, oënskynlik wel `n hele mooi versiering vir hierdie tuin is; maar omdat hy deursigtig is, het hy die fatale eienskap dat mens daardeur heen verby die tuin in `n verskriklike afgrond inkyk. Ons gaste sou nog graag `n poging aangewend het om nog verder te kom en sou ook sonder veel moeite oor die muur kon klim, maar die fatale bekende situasie verhinder so `n onderneming. Ons sien ons hele geselskap dan ook totaal verbluf by die muur staan en geeneen van die gaste weet nou wat hulle verder sal doen nie. Soos julle tewens kan sien, kom daar al verskeie tafeldienare op hulle af, terwyl `n aanvoerder van die dienare na die bietjie skugter geselskap toe gaan en hulle as volg aanspreek: Liewe vriende en broers, wat het julle nou gedoen? Die geselskap antwoord: Vergeef ons, beste vriende, ons het niks anders gedoen as dit wat ons as `n noodsaaklike lewensbehoefte in ons gevoel het nie. Ons kan jou vanuit ons mees innerlike lewensdrang verseker dat hierdie hemel, waarvan die gesteldheid ons nou maar al te goed bekend is, onmoontlik dit kan wees nie, en daarom het ons ook `n poging aangewend om in beweging te kom.

2 Die eerste tafeldienaar sê: Ek begryp goed dat die lang sit en die voortdurende eet, netsoos die altyd deur saai aanskouing van julle goddelike drievuldigheid, julle begin te verveel, maar as julle weer terugdink aan julle lewe, dan het julle tog werklik tot by julle laaste uur vir niks anders gebid as vir “die ewige rus” en vir “`n ewig stralende lig”, en bowendien dat julle ook aan die “tafel van Abraham, Isak en Jakob in die hemelryk versadig mag word” en aldaar God, wie “in die ewig ontoeganklike lig woon”, van aangesig tot aangesig mag aanskou. Wanneer julle dit nou alles letterlik en getrou gekry het, waarom kan julle dan nie daarmee tevrede wees nie?

3 Die gas wat die woord voer, sê daarop: Beste vriend, ek sal jou namens van die hele geselskap antwoord; wees dus so goed om na ons te luister. Op aarde het ons vas en seker aan alles geglo wat ons kerk ons voorgehou het. Ons het by onsself gedink: Wanneer ons redelikerwys streng volgens die leer van die kerk lewe, werksaam in die geloof, volgens die liefde wat dié geloof tot lewe bring, dan kan dit met ons in geen geval misgaan nie. Daar was immers steeds vir ons gepreek, dat hierdie kerk nie kan dwaal of faal nie, omdat dit voortdurend in die besit van die Heilige Gees sou wees. Wel, ons het werklik alles bereik wat die kerk ons geleer het en waaraan ons ook altyd vas geglo het.

4 Maar helaas het by ons, eers by die bereik van al wat ons geglo het, `n ander lig opgegaan en as gevolg van die lig het ons ook die vermoede gekry dat daar êrens `n ander soort hemel sou moet wees, want die hemel waarin ons onsself nou bevind, is immers letterlik en figuurlik gesproke niks anders as jou reinste gevangen­skap nie. Waartoe dien `n ewig goedvoorsiene tafel, waartoe die ewige aanskouing van die drie goddelike persone as daar deur die eeue heen nooit eens `n weldadige verandering intree nie? En dan, neem my nie kwalik nie, beste vriend, die ewige moet sit! Hierdie gedagte moet tog elke, nog so beskroomde gees, mettertyd tot wanhoop bring!

5 Ons moet wel toegee dat die sit geen pyn veroorsaak soos die geval op aarde was nie. Ook is dit bepaald nie onaangenaam om voortdurend in `n baie goedige en vroom geselskap te wees nie; ook word ons oog, by die aanskoue van die goddelike drie-eenheid, altyd baie aangenaam getref. Die spyse en dranke is so smaaklik, dat hulle ons verhemelte en ons maag nie teenstaan nie. So nou en dan hoor mens van die baie gaste aan tafel ook lieflike, aangename gesange wat baie pragtig in die ore klink.

6 Kyk, dit sou alles wel in orde gewees het, maar as julle bedink, beste vriend, dat daar die verskriklike ewigheid nogeens bykom, dan moet julle tog, as julle tenminste `n bietjie lewendige, menslike gevoel in julle het, self ook tot in die diepste van julle siel huiwer. Want soos mens op aarde gewoonlik sê, is dit logies en waar dat die lewe `n vrye bewegende krag is. Kyk, hierdie krag voel ons in onsself, maar ons moet ondanks die lewendige gevoel ewig aan tafel sit! Is dit nie duidelik in teenspraak met die begrip lewe nie?

7 Bowendien moet ek hier, op grond van my ervarings wat ek op aarde opgedoen het, nog `n opmerking toevoeg en ek glo dat jy maklik daaruit sal kan aflei hoe onnatuurlik hierdie hemel is, met betrekking tot die menslike gevoel. Toe ek destyds op aarde `n jong lewenskragtige man van ongeveer dertig jaar oud was, ontmoet ek as vrygesel toevallig `n meisie, wat ek so hemelsmooi gevind het, dat ek in my hart gesê het: My God en my Heer, as U my dié meisie tot vrou sal gee, sal ek gelukkiger daarmee wees, as wanneer U my dadelik vrye toegang tot die hemel sou gee! Ek het ook dadelik in my hart gesweer dat hierdie hemelse engel my vrou moet word. Na so `n eed het ek dan ook al die moontlike gedoen om haar tot myne te maak. Dit het my baie moeite en inspanning gekos, maar hoe harder ek vir hierdie aardse engel moes veg, des te gelukkiger het ek gedink, sou ek my voel as ek haar eenmaal sou besit. Ja, in my fantasie het ek werklik so ver gegaan dat ek my voorgestel het dat, wanneer hierdie vroulike engel vir altyd voor my sou staan, en ek haar steeds van top tot tone sou kan bekyk, ek onmoontlik ooit genoeg daarvan sou kry nie. 

8 En sien, na byna twee jaar deur bittere stryd word hierdie engel werklik my vrou. Voorwaar, die eerste tyd het ek self geglo dat ek egter die gelukkige was wat nou met die volste reg aan hierdie engel kon sê: My liefste vrou! Ek was oorgelukkig! Maar kyk, na ongeveer twee jaar het hierdie engel vir my so-iets gewoon geword dat dit my dikwels behoorlik baie selfverloëning gekos het om tenminste fatsoenshalwe en eershalwe by haar tuis te bly. In die begin was ek in my hart ook so jaloers, dat ek selfs vir `n egte engel uit die hemel kwaad sou geword het, as hy dit sou gewaag het om in die omgewing van my hemelse ideaal te kom. Maar na twee jaar, moet ek eerlik aan jou, tot my eie skande beken, was ek dikwels egter bly wanneer my hemelse ideaal so nou en dan net besoek gaan aflê het, sodat ek tyd gevind het om bietjie in die vrye, goddelike natuur te wandel.

9 En kyk, toe al dink ek by myself: My God en my Heer, as dit later ook so met die hemel gestel moet wees, dan sal dit bepaald nie aan die behoeftes van die mens voldoen nie. Tog dink ek daarna: As die hemel ook so `n ewige eentonigheid was, dan sal God die gevoelens van `n onsterflike gees wel so verander dat die ewige eentonigheid tog `n ewig onuitspreeklike saligheid vir hom sal berei. Nou het ek dan die werklike hemel geproe en ek sê vir jou, dit gaan met my geen haar beter nie; inteendeel, nog aansienlik slegter as wat dit met my in my aardse hemel gegaan het. Wanneer die Heer daardie fatale gevoel van verveling, veral by die vooruitsig op die ewige eentonigheid, nie uit my liggaam verwyder nie, sou ek werklik veel liewer vir ewig op aarde `n houthakker wil wees. Want, beste vriend, ek sê jou nogeens, die idee dat alles wat mens hier geniet, sonder die minste afwisseling vir ewig sal duur, is iets verskriklik!

10 Oordeel nou self oor dit wat ek in my wanhoop gesê het en doen met ons wat jy wil. Na die tafel laat ek my egter nie meer bring nie, al doen jy hoeveel moeite! Nog sal ek eerder vir ewig in hierdie tuin rondswerf en as ek honger kry, self iets te ete van die bome probeer te bemagtig; maar soos gesê: Ek gaan nie meer terug na die tafel toe nie!

11 Ek moet jou ook sê dat die herinneringe aan my werksame aardse lewe hier, werklik `n nog groter genoeë verskaf, as die hele hemelse tafel, vanselfsprekend met uitsondering van die aan­skouing van die goddelike drie-eenheid. Daaroor sou weliswaar ook nog die een en ander te sê wees, maar daardie tema is te heilig en ons is nie waardig om ons daaroor nader uit te spreek nie. Beoordeel daarom slegs dit en handel daarvolgens.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205