|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 43
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
Merkwaardige omgewing en woning van salige geeste
43 “Wanneer julle `n bietjie op hierdie heerlike plek rondkyk, wat sien julle dan en wat val julle die meeste op? Julle sê: Beste vriend, dit sou maklik gepraat wees, as mens maar woorde sou gehad het om die tallose dinge wat ons hier sien, te beskryf! Wanneer mens egter nie die woorde daarvoor het nie, bly daar niks anders oor nie, as om gebukkend met `n vinger te wys na dit wat ons die meeste opval.
2 Wat ons oë daar aanskou, kan nóg `n gebou, nóg `n boom, nóg `n berg genoem word. Dit is in `n sekere sin `n saamgevoegde geheel van die mees verskillende, maar op sigself geneem, volmaakte bestanddele. Ja, ja, julle sou aan die een kant wel gelyk kan hê, maar as julle bietjie skerper kyk, dan sal julle die voorwerpe wel duideliker kan onderskei.
3 Ons sal dit net probeer. Wat sien julle daar reg voor ons aan die regterkant van die rivier? Julle sê: Ons sien `n ietwat kegelvormige heuwel wat aan die onderkant deur `n soort ringmuur omgewe is. Hierdie ringmuur lyk meer soos `n lewende tuindoringstruik as soos `n eintlike muur, maar die blare lyk tog weer om uit `n soort muur te groei.
4 Die muur self is hier en daar deursigtig gekleur, ongeveer soos `n reënboog; sy hoogte sal nouliks `n klafter (1.9 meter) bedra. Bo die muur is boë soos van glas aangebring. Bo-op die boë loop `n soort geut, soos van goud en in hierdie geut beweeg voortdurend allerlei gekleurde, stralende bolle wat `n deursnee van ongeveer twee handbreedtes het, terwyl die afstand tussen die bolle `n halwe klafter bedra. Die laaste top van hierdie ietwat kegelvormige heuwel is met `n soort tempel versier. Die pilare lyk soos slanke populiere by ons op aarde. Tog lyk die dak asof dit van gepolyste goud is en dit lyk asof dit meer vry bo die pilare sweef, as wat dit op die een of ander manier daarmee verbind is. Bo-op die dak is weer `n deursigtige, stralende bol.
5 Kyk, beste vriend, dit is dit nou, wat ons hier in eerste instansie op die regteroewer van hierdie pragtige rivier sien. Dit lyk egter of dit alles `n geheel is. Ons oë het nog nooit so-iets gesien nie, en `n mens kan hom so-iets ook nouliks voorstel. Daarom weet ons ook nie wat dit is nie, waarvoor dit dien en welke naam dit het nie. Dit bied die oog weliswaar `n buitengewone merkwaardige en pragtige skouspel, maar dit is ook die enigste reële wat ons tot nou toe daaruit kan aflei.
6 Wel, geliefde vriende, julle het alles goed bekyk en dus kan ek julle al sê dat dit hier dan ook `n woning van salige geeste is. Julle sê weliswaar: Dit sal wel wees, maar tot nou toe kan ons nog niks ontdek van die bewoners van so `n merkwaardige woonhuis nie. Maar ek sê vir julle: Laat ons maar bietjie nader aan hierdie merkwaardige woning gaan, dan sal julle die bewoners spoedig te siene kry. Kyk, ons is reeds vlak by die muur en hier is ook `n toegangsdeur. Laat ons deur hierdie deur gaan, dan sal ons dadelik by die bewoners van dié gebou kom.
7 Ons is nou in die gebou; kyk net rond en sê vir my wat julle nou daarvan dink. Julle maak groot oë en sê: Ja maar, wat is dit nou weer vir `n gekhouery!? Ons is nouliks deur die eienaardige ringmuur wat ons daar gesien het, of die ringmuur is nie meer daar nie, die heuwel is weg, dus het ook die merkwaardige tempel verdwyn, en die hele land, so ver ons oog reik, lyk nou baie anders as voorheen. Vroeër het ons op die vlaktes, op soortgelyke hoër of kleiner heuwels `n groot aantal van sulke sonderlinge woongeboue gesien. In plaas daarvan sien ons nou `n hele klomp indrukwekkende paleise in skitterende styl gebou en aan die oewer van die rivier, wat nog as enigste oorgebly het, selfs aansienlik groot stede. Liewe vriend, wat beteken hierdie metamorfose nou weer? Waarom kon ons dan nie netso goed die merkwaardige woning, wat ons al vroeër van buite af gesien het, ook van binne as dieselfde herken nie?
8 Ja, beste vriende, volgens aardse maatstawwe sou dit inderdaad vanselfsprekend korrek wees, maar volgens geestelike maatstawwe werk dit absoluut nie. Julle sê: Het die gees dan nie sy oë om die dinge te sien soos hulle is nie? Waarom hoef hy `n voorwerp dan slegs van een kant te bekyk om te weet hoe dit lyk, maar verdwyn dit vir hom en is as`t ware nie meer aanwesig, sodra hy dit van `n ander kant wil bekyk nie.
9 Ja liewe vriende, wanneer julle `n voorwerp op aarde met julle stoflike oë bekyk, sal die voorwerp steeds konstant bly en nie verander nie, en julle sal dit altyd as sodanig aan sy uiterlike vorm herken. Gestel nou net dat iemand nie meer genoeg daaraan het om steeds weer dieselfde uiterlike vorm te bekyk nie, maar graag die wese van die hele voorwerp sou wil leer ken en wel vir eers, deur dit meganies te ontleed. As hy die voorwerp in `n voldoende aantal onderdele opgedeel het en hy bekyk dit afsonderlik, dan sal hy vervolgens nog sy toevlug neem tot die skeikunde, en die voorwerp wat ontleed is, in allerlei oersubstanties laat uiteenval, waarna hy, in plaas van die oorspronklike voorwerp, enkel en alleen grondstowwe kry, waaruit die voorwerp as vorm bestaan het.
10 Sou ek julle nou ook nie kan vra: Waarom is, na so `n skeikundige ontleding, die vroeëre vorm van die ondersoekte voorwerp nie meer te siene nie? Julle sê: Beste vriend, dit is tog baie natuurlik, want deur die ontleed van die voorwerp, moet die vroeëre growwe uiterlike vorm tog onvermydelik verlore gaan. Goed, sê ek, maar wat was die aanleiding, of die oorsaak dat dié deel, wat voorheen `n baie bepaalde vorm uitgebeeld het, so opgelos moes word? Julle haal die skouers op en is verleë oor `n deugdelike antwoord. Wel, dan sal ek julle `n antwoord daarop gee. Die oorsaak was die gees, wat dieper wou deurdring in die meer inwendige van die materie. Hy het die weë bewandel en het tot die inwendige van die materie deurgedring, maar daardeur het die oorspronklike vorm tog duidelik so goed as heeltemal verdwyn.
11 Kyk nou, wat op aarde nog altyd meer meganies gedoen word, om aan die behoeftes van die gees tegemoet te kom, manifesteer hom hier in die gees as die mooiste, harmoniese werklikheid. Want as julle hier een of ander ding, wat julle eers van buite gesien het, binnegaan, dan wil dit sê: Julle gaan binne in die innerlike betekenis en dus ook in die totale ontleding en oplossing daarvan, anders gesê, julle dring deur tot die wese van die aanskoue. Daarom hoef mens dan ook hier van binne-uit die van buite af gesiene vorm nie meer waarneem nie, maar wel die diepere betekenis, wat geestelik met die uiterlike vorm ooreenkom.
12 Om dit nog duideliker vir julle te laat sien, sal ek vir julle uitlê wat die ooreenstemming is tussen dit wat julle van buite af gesien het en dit wat julle nou binne sien. Die “stroom” of rivier beteken hier die voortdurende en ook altyd sigbare geestelike lewe op sigself, bestaande uit die liefde en die wysheid, of wat identies is met, “uit die ware van die geloof en die goeie van die liefde”. Die “heuwel” wat ons eers op die regteroewer van die rivier gesien het, beteken eintlik die omhoog strewe van die wysheid; die sagte gloed van die heuwel wil sê dat die wysheid uit die liefde voortkom. Die “ringmuur” wat die heuwel omsluit, beteken dat die wysheid haar nog steeds binne `n bepaalde vorm beweeg. Dat die ringmuur rondom die heuwel loop, beteken dat die wysheidsvorm deur die liefde versag word; dat daar blare uit die muur groei, wil sê dat die wysheidssirkel vol lewe is en dat dié lewe ook liefde is. Hierdie muur is hier en daar deursigtig gekleur, wat dui op die eenwording van liefde en wysheid. Die “boë” bo hierdie ringmuur gee die orde van die wysheid aan wanneer sy met die liefde verenig is. Die “geut” wat bo-op die boë loop, stel `n oop opnamehouer voor, wat `n weg is van die lig. Die “bolle” in hierdie geut wat hulle voortbeweeg en straal, beteken die egte lewe wat voortkom uit die wysheid, wanneer dit met die liefde verenig is.
13 Die “tempel” op die heuwel, waarvan die pilare soos lewende populiere lyk, waarbo `n swewende goue dak is wat heeltemal bo voorsien is van `n stralende bol, gee aan dat so `n wysheid, deur liefde vir die Heer, tot lewe gebring word; vandaar die lewende pilare. Die “swewende dak van goud” staan vir die rykdom van die goddelike genade vanuit so `n liefde; die “stralende bol” bo die dak, beteken die lewendige hoë wysheid in die goddelike dinge. Kyk, dit is nou eenmaal ons vorm.
14 Wanneer ons nou daar binnegaan, het hy ook verdwyn, maar in plaas daarvan sien julle dan die getoonde verhewe werklikheid wat in so `n sfeer, waarin die wysheid met die liefde vir die Heer verbind is, tot uitdrukking kom. Al hierdie paleise, geboue en stede kom, wat hulle doelmatigheid betref, dan ook ooreen met die goeie van die liefde en die alom pragtige vorm van die stralende wysheid.
15 Sodoende het ons hierdie belangrike dinge weer ons eie gemaak en kan ons onsself in hierdie streek dan ook verder begewe en die heerlikhede in oënskou neem. Ons sal ewenwel nêrens so `n gebou binnegaan nie, want daarin sou ons weer baie ander dinge te siene kry; daar sou dan weer baie uit te lê en te bespreek wees en daar sou immers geen einde daaraan kom nie. As julle egter eenmaal self suiwer geestelik sal wees en julle dus in `n totaal geestelike toestand bevind, dan sal julle die eindelose verskeidenheid en wonderbaarlike veelvuldigheid sonder meer ewig te siene en te beskou kry. Vir ons is dit hier om die egte saak te deurgrond hoe die geestelike hom ontwikkel. Nou kan julle julle oë dan ook die kos gee en in alle rigtings die groot wonderbaarlike heerlikhede na hartelus bekyk, en dan sal ons die volgende keer alles wat julle gesien het, opsom, en daarna weer verder gaan. En hiermee is dit genoeg vir vandag.
|
|
|
|
|