Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 46

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

In die heuwelland van die ewige môre. `n Klein liefde-eksamen. Hoe stel julle die Heer vir julleself voor?

46 Kyk, met die reeds bekende manier van snelreise is ons ook al ter plaatse. Daar voor ons staan al juis so `n huisie. Lyk dit nie byna soos `n egte, lieflike alpehuisie in Switserland by julle op aarde nie? Julle sê: Ja inderdaad, so lyk dit werklik. Daar is weliswaar `n groot verskil tussen so `n huisie en `n paleis of selfs `n groot stad soos ons dit vroeër meer benede in die laagvlakte gesien het, maar desondanks sou ons liewer daardie huisie wil bewoon as so `n paleis. 

2 Goed, ons sal nou so `n huis binnegaan, die inrigting bekyk en ook die uiteindelike bewoners sien. Kyk, ons is al binne. Julle vra nou: Maar beste vriend, hoe is dit dat dié huis inwendig nie verander op die gebruiklike geestelike manier nie, maar `n onver­anderlike huis is, waar die inwendige volkome met die uitwendige ooreenkom?

3 Liewe vriende, dit sal julle gaandeweg in die omgang met die bewoners van hierdie streek presies leer begryp en wel in die loop van die geleidelike ontwikkeling van ons sienswyse, en hoe die bewoners in die omgang met hulle aan ons sal voordoen.

4 Sien julle ook nie allerlei landbouwerktuie hier nie? Daar is sekels grawe, harke, klemhake en skoffelpikke; selfs die ploeg en die eg ontbreek nie en as julle goed rondkyk, sien julle agter die huis selfs `n klein skuur en `n stal vir een of twee paar osse. En daar sien julle weer `n kombuis, hier `n kamer vir die personeel en daar vooraan `n egte smaakvol ingerigte kamer vir die eienaars van die huis. Wat sê julle daarvan?

5 Dit verbaas julle wel ietwat, soos ek sien, want julle sê vir julleself: Werklik, dit lyk vir ons alles baie gesellig en ons sou graag inderdaad sonder meer hier wou bly, maar tog maak hierdie totaal aardse inrigting in hierdie blykbaar egte hemel `n ietwat vreemde indruk.

6 My liewe vriende, ek het wel gedink dat julle so-iets `n bietjie vreemd sou vind. Maar dit sou baie verstarde aardspape (pouse), wat die hemel vir hulle voorstel as `n ewige niksdoen, waarskynlik nog meer verbaas. Hoe die sodanige mense egter hier vaar, sal ons tydens die voortsetting van ons wandeling deur die omgewing van die middag, nog voldoende te wete kom.

7 Sodat julle sal weet waarom julle hier al hierdie landbouwerktuie net so aangetref het, soos op aarde, sê ek julle voorlopig slegs dat die soort gereedskap onmoontlik ooit op aarde uitgevind sou gewees het as dit nie eers in volkome ooreenstemmende wyse en vorm in alle hemele voorhande sou gewees het nie.

8 Daarom hoef dit julle nie te verbaas dat julle hier in die geestelike ryk van die hemel die mees oorspronklike vind, want al die gereedskap dui die werk uit liefde aan en dit staan hier ter beskikking, as middel vir die voortbring van die goeie en vrugbare. Meer hoef ons voorlopig nie te weet nie.

9 Kyk, daar kom die eienaar van die huis so pas terug van sy akker. Ons sal na hom toe gaan, hom groet en ons vraag aan hom voorlê. Hy het ons al gesien en kom ons met oop arms tegemoet. Hoe geval sy kleding julle? Julle sê: Beste vriend, voorwaar nie sleg nie, want ons is gewoond om sulke kleding te sien. Hy lyk soos `n egte godvrugtige, ywerige boer op ons aarde. Ons sien dat hy `n gewone, nie al te fyn hemp aanhet en `n broek wat ook van dieselfde linne vervaardig is. Dit is dan ook al wat ons aan hierdie goeie man ontdek. As hy geen rooi gordel om sy middel sou dra nie, sou hy nouliks van `n landarbeider te onderskei wees.

10 Ja my liewe vriende, hier is dit nie meer so luisterryk as daar in die paleise nie. Julle vra nou wel en sê: Beste vriend, sou dit dan wel `n hoër graad van saligheid wees as die in die eindelose vlakte daar benede, wat oorgiet is met tallose heerlikhede en onuitspreeklike prag? Ek sê vir julle: Die graad van saligheid is hier des te hoër, namate hy in uiterlike heerlikheid en prag agterbly. Die waarom sal vir julle spoedig duidelik word. Kyk, ons man is al daar en dus sal ons hom dan ook dadelik ontvang.

11 Luister, hy sê: Wees duisend maal welkom, geliefde broers. Ek sien dat julle nog `n aansienlike geselskap saamgebring het. Ek weet wel wat hulle hier soek. Ek sê egter ook dadelik vir julle, dat dit hierdie liewe goeie mense nog baie inspanning en selfverloëning sal kos, voordat hulle aan die hoër lewe gewoond sal wees, en selfs dan sal dit hulle nog meer moeite en aansienlike inspanning kos voordat hulle hulle dié hoër lewe volkome eie gemaak het. Maar jy, my beste broer, weet immers dat met liefde en geduld alle moeilikhede oorwin kan word.

12 Daarom sal ek dan ook nie nalaat om al die nodige vir die waaragtige, ewige, lewende versorging van hierdie liewe broers en susters te doen nie.

13 Nou liewe vriende, sal ons my woning binnegaan en die stamouerpaar van die geselskap saamneem om die nodige voorbereidings met hulle te tref, sodat hulle baie spoedig volgens die ewige liefdesordening onderrig kan word. Laat ons dus gaan!

14 Kyk, ons gasheer wink die paar al en hulle begewe hulle op hierdie wenk baie verheug saam met ons in sy woning. Ons is reeds in die kamer; let dus goed op alles wat hier sal afspeel.

15 Ons gasheer sê aan die egpaar: Liewe vriende, ek heet julle welkom uit die diepte van my hart; sê my vrymoedig en vry wat julle beweeg het om julle groot heerlikheid te verlaat om hier op die heuwels, waar geen prag, rykdom en oorvloed aanwesig is nie, julle verdere vooruitgang te soek.

16 Die man antwoord: Hemelse vriend, ek ken julle nog nie, weet nie wie julle in wese is nie, maar omdat jy my vanuit jou diepste wese vra na die beweegredes van ons onderneming, sê ek vir jou dat die Heer die enigste beweegrede van my, en dus ons almal, se onderneming is.

17 Die gasheer sê: Om dit van julle te verneem, is die grootste vreugde van my hart. Maar die Heer het julle tog al `n onmeetlike groot beloning geskenk; wil julle dan nog meer hê? Ek is naamlik van mening dat dit tog voldoende moet wees as die Heer julle alles gegee het wat julle in die diepste van julle hart maar kan oordink en daarom vind ek dan ook dat julle onderneming byna op ondank gegrond is.

18 Die man sê: Liewe vriend, oppervlakkig bekyk kan dit wel so lyk, maar nie volgens ons innerlike nie. Kyk net, wat sou jy dan in my plek gedoen het, as jy heerlikhede sou besit wat nog duisend maal mooier sou wees om te sien as myne, maar by al die onuit­spreeklike heerlikhede die heilige Gewer tog egter nooit te siene sou kry nie? In jou groot liefde tot die Heer sou jy sekerlik eerder alles verlaat, om moontlik daardeur steeds nader aan die Heer te kom.

19 Die gasheer sê: Liewe vriende, dit sien ek baie goed in en ek weet ook waarom julle dit vir my gesê het. Maar weet julle ook baie seker dat julle die Heer hier te siene sal kry en wanneer? Weet julle verseker dat dit een van die streke is waar die Heer werklik persoonlik verskyn?

20 Die man sê: Liewe vriend, dit weet ek weliswaar nie verseker nie, maar soveel weet ek wel, dat die Heer die kleinste liewer het as die grote, want Hy het Self gesê: “Laat die kleintjies na My toe kom!” Daarom glo ek nie dat ek my op `n dwaalweg bevind, noudat ek hier voor jou staan nie, nadat ek uit liefde tot die Heer, al my prag verlaat het en die eenvoud en nederigheid van hierdie heuwels gesoek het.

21 Ons gasheer sê: Liewe vriend, jy het my goed geantwoord, ek dink net dat jou antwoord misplaas is hier, want die Heer het so-iets immers slegs vir die wêreld gesê, aangesien Hy tog duidelik verkondig dat alle wêreldse grootheid vir Hom `n gruwel is en verder sê Hy: “Wie op aarde die geringste is, die is voor My of in die hemele die grootste.” Jy is nou egter nie meer op aarde nie, maar jy is in die hemel. Op aarde was jy klein, ja, jy was `n onopvallende herder in die Alpe en daarom het die Heer jou in die hemel groot gemaak. Vra jou dus net af wat jy soek.

22 Die man sê: Beste vriend, ek besef egter goed dat jy my, in wysheid uit die Heer, oneindig ver oortref, maar ek weet ook dat ek in die loop van my langdurige groot saligheid die Heer tog nooit anders gesien het, as slegs in Sy heilige genadeson nie.

23 Die gasheer sê: Wat wil julle dan nog meer hê? Het julle dan nooit gelees nie: “Die Heer, God JaHWeH woon in ontoeganklike lig”? Wil julle Hom dan meer nader as wat vir julle moontlik is?

24 Die man sê: Beste vriend, dit is waar, maar die Heer God JaHWeH was op aarde ook `n mens en het dus ons natuur aangeneem en as mens syne verseker, dat hulle ewig by Hom sal woon. Hy het selfs tot die medegekruisigde misdadiger gesê: “Heden vandag nog sal jy met My in die paradys wees!” Ook die apostel Paulus verheug hom daarin om by die Heer te kom. Daarom glo ek ook dat dit in God se hemele êrens moontlik moet wees om die Vader in Christus menslik te ontmoet en Hom met `n hart boordensvol liefde en met `n allersaligste blik in die oë te aanskou!

25 Die gasheer sê: Goed, omdat jy dit so glo, mag jy hier bly, want wat die Heer op aarde gesê het, is waarlik in gelyke mate ook gespreek vir alle hemele en wel omdat juis alle hemele gemaak is uit die woord wat die Heer op aarde gespreek het. Maar nou, my liewe vriend, kom daar iets anders.

26 Kyk, daar benede was jy `n heer in jou luisterryke, groot grondbesit en jou hele geselskap was dit ook. Maar hier sal julle moet dien en brood en voedsel met die werk van eie hande verdien. Soos wat julle kan sien, moet ek self ook werk en die grond hier verbou, sodat ek kan oes en in my onderhoud voorsien.

27 Die grond is weliswaar baie deur die Heer geseën en bring meer as honderdvoudige vrug op, maar desondanks moet hy vlytig bewerk word, anders laat die Heer nie Sy seën daarop rus nie. Daarom sal julle hier moet ploeg en die velde met allerlei landbougereedskap bewerk, met sekels die veld opgaan om koring te maai, dit in gerwe bind, in die skuur bring en daarna dors. En dit sal julle alles as knegte, en nie as eienaars van een of ander stuk grond moet doen nie. Ja, julle moet daarby selfs baie vlyt aan die dag lê, want mense sal nie duld dat iemand van julle lui rondloop nie!

28 Dink goed daaroor na, en as julle dit vir julleself raadsaam vind, bly dan hier, want aan arbeid is hier geen gebrek nie, maar dikwels wel aan arbeiders. Staan hierdie onherroeplike voorwaardes julle egter nie aan nie, dan kan julle gerus weer na julle heerlikhede teruggaan.

29 Die man sê: O liewe vriend, maak vir jou geen sorge daaroor nie. Ons is wel sedert lank aan die lui lewe gewoond, maar darem nog nie die geseënde arbeid ongewoon nie. Want wat ons alles op aarde gedoen het uit eiebelang, dit sal ons hier sekerlik nog duisend maal eerder doen uit liefde vir die Heer en vanuit hierdie liefde ook uit liefde vir jou, jy wat sekerlik `n belangrike vriend van die Heer is!

30 Die gasheer sê: Wel, as dit so is, bly dan maar hier. Die man sê: Maar liewe vriend, ons is hier met ruim honderd mense; hoe wil julle ons almal in jou beskeie huisie huisves? Die gasheer sê: Liewe vriend, maak vir julle geen sorge daaroor nie! Het julle dan nooit gehoor wat die Heer as mens op aarde gesê het nie? Het Hy nie gesê: “In die huis van My Vader is baie wonings”? Kyk daar by die heuwels, so ver julle oog reik in die omgewing van die môre, en kyk net hoeveel eenderse huise daar staan. Daar sal julle almal wel `n plekkie vind. Julle vra van wie al hierdie wonings wel is? Ek sê vir julle: Hierdie wonings behoort alles slegs aan een eienaar en daarom sal ek julle daar huisves en julle die werk vir almal aanwys. Julle vra of ek `n bevoegde beheerder vir die eienaar van al hierdie wonings is? Liewe vriende, as ek dit nie sou gewees het nie, hoe sou ek dan hier so met julle kan praat? En hoe sou ek dit vir my kan veroorloof om julle met andermansgoed te wil lastig te val, as ek nie bevoeg sou wees om regmatig en na eie welgevalle liefdevol daaroor te beskik nie?

31 Jy en jou vrou kan hier in my woning bly, maar jou geliefde geselskap sal ek in my naaste omgewing verdeel. Gaan dus maar na buite en vertel dit vir hulle!

32 Die egpaar gaan na buite en hy deel die nuus met `n vriendelike gesig mee aan die angstig wagtende geselskap. Kyk nou hoe die hele geselskap dankbaar op die knieë val en die Heer daarvoor dank, dat Hy so genadig vir hulle was, en hulle almal onderdak gegee het, waar hulle hulle vreugdevol diensbaar kan maak.

33 Nou gaan ons gasheer na buite, lê sy hande vir almal op en wys hulle die wonings aan waarheen hulle hulleself moet begewe.

34 Sien nou net hoe die vroeëre vorm van ons geselskap na die handoplegging verander is. Hulle vroeëre wit kleur gaan oor in `n natuurlike rooiagtige kleur en hulle buitengewoon subtiele, tere wese het egter stewig geword. En kyk hoe opgewek, lewendig en vergenoegd hulle nou daar uitsien, terwyl daar voorheen `n geheimsinnige, wyse erns in hulle gelaatsuitdrukkings gelê het.

35 Hulle gaan uitmekaar en by elke woning wat aan hulle toegewys word, wag die bewoners hulle al met oop arms in.

36 Maar nou kom ons gasheer met die stamouerpaar van die geselskap weer na binne en hy vra so pas vir hulle: Liewe vriende, hoe stel julle die Heer eintlik vir julleself voor; sou julle Hom wel herken as Hy net voor julle sou staan?

37 Die man sê: O my vriend, Wie ons in die Naam van die Heer so liefdevol opgeneem het, dit is `n vraag wat buitengewoon moeilik te beantwoord is! Want in ons religie op aarde, het ons onsself nooit met die menslike, visuele uiterlike van die Heer besig gehou nie, maar slegs met Sy woord en ons het daarby gedink: In hierdie wêreld sal die Heer hom sonder meer dadelik aan ons te kenne gee en ons sal Hom aan Sy stem en uit Sy woorde herken. Maar nou sien ek eers in dat die waaragtige liefde vir die Heer, naas Sy woorde, ook die Gestalte van Sy wese omvou. Dit is vir ons egter nie maklik nie, omdat ons nooit aandag daaraan bestee het nie, en dit dus ook nie in onsself opgeneem het nie. Dus sal jy, liewe vriend, nou ook so goed wil wees om die Gestalte van die Heer aan ons te beskryf.

38 Die gasheer sê: Wel, omdat julle dit lewendig uit die grond van julle harte begeer sê Ek vir julle: Kyk na My, want presies soos wat Ek lyk, so lyk die Heer ook in Sy menslike gestalte.

39 Die man sê: Ag liewe vriend, dit is vir my `n groot troos en `n groot vreugde en ek is reeds oorgelukkig om so `n volkome ewebeeld van die Heer voor my te sien. Maar wat `n saligheid sal dit dan wees as ek die Heer Self mag aanskou!

40 Die gasheer sê: Waarlik, jou liefde vir die Heer het groot geword; verheug jou daarom ten volle, want sien, Ek is die Heer, en jy sal nou ewig by My woon!

41 Kyk hoe alles skielik verander het; en hoe daar nou niks meer te siene is van die omgewing van die middag nie. Tog het die vroeëre eenvoud van hierdie omgewing gebly en sy is die alleen waaragtige, ewige, allerhoogste môre van die Heer! Vir ons is dit egter nog geen tyd om hier te bly nie, maar om ons volgens die wil van die Heer nog verder in die middag te begewe. Laat ons daarom verder gaan!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205