|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 92
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
Drie beproewings om die diensvaardigheid van die liefde te toets
92 Die eenvoudige man vra aan ons prior wat daar nou met die geredde en so pas geklede broers moet gebeur, en die prior antwoord: Liewe vriend en broer, die opdrag wat die verhewe bode van die Heer my gegee het, lui, om almal na buite te bring in die tuin, waar ons skyn- en klooster “paradys” voorheen was. Daar sal hulle dan sekerlik van die bode verdere instruksies kry oor die weg wat hulle van daar af moet inslaan. Dit staan hulle nog te wagte en ek moet daarvoor sorg dra, dat hulle vir die doel in die tuin kom.
2 Die eenvoudige man sê: Nou, hierdie opdrag sal wel maklik uit te voer wees en daarby sal julle My nie nodig hê nie. Dan sê die prior: O liewe vriend en broer, doen alles wat jy maar wil, maar ek smeek jou, laat my nie alleen nie, want ek moet jou in alle opregtheid sê dat my gevoel my sê, dat wanneer jy my verlaat, dit vir my sal wees asof my eie lewe my verlaat het. Daarom mag jy my nie alleen laat nie, al was die opdrag ook hoe maklik te volbring; want tot nou toe het jy alles baie voorspoedig gelei en my en hierdie arme broers in die Naam van die Heer tot op die punt waar ons nou staan, duidelik aantoonbaar gehelp. Dus asseblief, help my en hierdie arme broers in die Naam van die Heer nou ook tot die einde toe. Dit vra ek jou, liewe vriend en broer, uit die diepste van my hart.
3 Die eenvoudige man sê: Ja my liewe vriend en broer, alles goed en wel, maar een ding moet jy nie vergeet nie, naamlik dat die hemelbode dit aan jou opgedra het om hierdie opgawe op te los. Wanneer Ek nou saam met jou na hom toe gaan en die bode sien, dat nie jy nie, maar Ek, jou opdrag uitgevoer het, sê net, is jy dan vooraf daarvan verseker dat hy tevrede oor jou sal wees? As jy My kan verseker dat Ek jou geen skade berokken as Ek saam met jou sal saamgaan nie, dan sal Ek graag doen wat jy verlang. Maar skaad wil Ek jou in geen geval nie, ja, jou sekerlik nie teenoor die hemelbode in verleentheid bring nie. Hoe dink jy hieroor?
4 Die prior sê: O liewe vriend en broer, as dit nie anders is as dit nie, kom dan maar vinnig saam met my na buite, want ook al sou jy dit nie doen nie, dan sou ek die verhewe bode tog onmiddellik self vertel, dat slegs jy aan die gestelde voorwaarde voldoen het wat aan my gestel is en dat ek daarby nie slegs as vyfde, maar eerder as tiende wiel aan die wa beskou moet word. Daarom kan jy dit sekerlik nie as argument gebruik om nie verder saam met my te gaan nie. Wat die nut of die uiteindelike skade vir my betref, dit is `n heel ander saak. Wat my betref, werklik, ek sou as dit moontlik was, selfs na die hel gaan vir jou, laat staan dat ek myself, uit liefde vir jou, nie `n paar skerp woorde van die hemelbode sou laat welgeval nie.
5 Die eenvoudige man sê: Goed, my vriend en broer, in die opsig is ons in die reine met mekaar, maar nou kom daar `n ander, nog veel belangriker punt. Ek ken die streng nougesetheid van jou hemelbode en weet, dat daar in die Naam van die Heer met hom nie in die minste te kibbel is nie en daarom het iets belangrik my so pas te binne geskiet.
6 Kyk, dit is bes moontlik dat die hemelbode al hierdie nou bevryde broers, deur sy groot mag, spoedig weer in hulle vorige toestand sou wil bring, omdat nie jy nie, maar Ek aan die deur die hemelbode gestelde voorwaarde vir hulle bevryding voldoen het. Maar Ek kan wel daarvoor sorg dat die bode nie te wete kom dat Ek jou arme broers gehelp het nie. In die geval staan jy dan voor die bode as `n volkome geregverdigde man, wat sy opdrag perfek, volgens die gegewe instruksies, uitgevoer het.
7 Die prior sê: O liewe vriend en broer, ek sou nog veel liewer na die hel gaan as om myself iets toe te skryf, waar ek nóg part nóg deel aan het. Ek wil immers self openlik voor die bode beken dat die welslae van my sending slegs aan die Heer en aan jou te danke is. Sou die bode nie daaroor tevrede wees nie en daarom die arme broers weer opnuut in hulle nou verkreë vryheid belemmer, dan sal ek my dadelik voor hom in die stof werp en hom baie deemoedig vra om, in plaas van hierdie broers, slegs vir my, volgens sy goeddunke, in die Naam van die Heer te tugtig. Ek wil immers graag alle skuld op my neem.
8 Die eenvoudige man sê: Liewe vriend en broer, so mag Ek jou werklik baie graag help. Die tweede punt het ons nou ook opgelos en dit kan My nie daarvan weerhou om saam met jou na buite te gaan nie.
9 Maar nou is daar nog `n derde struikelblok. Kan jy ook daaroorheen spring, dan sal niks my meer weerhou om jou wens in te willig nie. Kyk, hier in die Ryk van die geeste is dit algemeen gebruiklik en baie gewoon, dat die meer volmaakte geeste van die hoogste hemel, waartoe ook Ek behoort, oombliklik alles wat daar met betrekking tot die Heer ook maar êrens gespreek en gereël word, lewendig ervaar. So het Ek dan ook van die bode die goeie gelykenis verneem, waarin hy die Heer voorgestel het as `n koning, wat slegs deur middel van uitsonderlike liefde en deemoed toeganklik was.
10 In hierdie gelykenis, sê die bode, het slegs die Heer die sleutels van die gevangenis en sodoende is ook Hy alleen in staat om die gevangenis te open, of die brug oor die kloof te bou, omdat niemand anders die reg daartoe het nie. Jy het weliswaar die Heer vanuit die volheid van jou gees, jou lewe en waarheid aangeroep, sodat Hy jou en hierdie arme broers sou mag help, maar terwyl jy, vol vertroue, hulp van die Heer verwag, kom Ek soos per toeval die vertrek binne en toe Ek naderkom, begin jy dadelik jou sorg aan My toe te vertrou. Ek het medelye met jou gehad en omdat jy My ook eg vriendelik vra om jou te help, het Ek dit ook na vermoë gedoen. Dit is nou net die vraag of die bode, gesien sy gelykenis, die hulp wel sal aanvaar.
11 Want, begryp my goed, kennelik moes die verhewe koning tog self gekom het om jou te help. Hoe moet ons dit nou sien? Sal die bode nie aan jou sê: Waarom het jy, toe jy hierdie vriend en broer sien, die vertroue in die Heer in soverre laat vaar, dat jy hierdie vriend en broer om hulp gevra het, terwyl jy tog uit die gelykenis kon aflei dat vir so `n verlossing, niemand anders as die Heer die korrekte sleutels vir die gevangenis besit nie.
12 Die prior sê: O liewe vriend en broeder, dit is natuurlik weer `n ander vraag, en by die beantwoording daarvan sal ek dit baie benoud kry. Maar weet jy wat, ek hou my maar by die waarheid. Ek het niemand behalwe die Heer aangeroep nie en toe ek my volkome aan die Heer oorgegee het, het jy gekom. Kan ek nou iets anders dink, anders doen en anders glo as dat die Heer, deur Sy eindelose erbarming genoodsaak was om jou in Sy Naam na my toe te stuur? Ek sou tog onmoontlik kan verlang dat die allerheiligste Heer van hemel en aarde Self na my toe sou kom om my, aller onwaardigste te help! Aan Hom is daarom egter tog alle lof en eer, aangesien dit tog slegs Hy is wat, deur jou te stuur, vir my en hierdie broers gehelp het. So sal ek dit ook aan die bode sê en hy moet dan maar in die Naam van die Heer met my doen wat hy wil, want ek sal alles op my neem.
13 Die man sê: Goed dan, Ek sien dat jy volkome opreg en trou is en daarom sal daar niks meer My ook kan weerhou om met jou en jou broers na die tuin te gaan nie. As die bode jou dan uiteindelik streng daarvoor veroordeel en na elders verban, wat sal Ek in my situasie dan doen?
14 Die prior sê: Liewe vriend en broer, wat dit betref, is ek gladnie bang nie. Ek sal jou weliswaar nie kan help nie, maar dit sal sekerlik ook gladnie nodig wees nie. Jy is iemand wat sekerlik geen hulp van mense nodig het nie, omdat jy tog, as bewoner van die boonste hemel, sonder meer volledig met die goddelike krag uitgerus is. Inteendeel vra ek jou slegs in die Naam van die Heer of jy my, as dit miskien al te sleg met my sou gaan, net soos nou wil help.
15 Die eenvoudige man sê: Wel, ek sal ook die versoek van jou in die Naam van die Heer in gedagte hou. Laat ons dan nou gaan.
|
|
|
|
|