|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 23
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
Wie spaarsaam saai, sal maer oes
23 Noudat ons hier behoorlik van ons reis uitgerus het en ondertussen menigmaal uitgebreid ons blik kan laat gaan oor die gebied waarvandaan ons gekom het, sal die voortsetting van die reis ons sekerlik geen al te groot moeilikhede meer besorg nie. Kyk, daar strek al `n taamlik breë dal, waarin `n klein see-inham is, landinwaarts uit. Laat ons ons weg aan die regterkant van die baai vervolg. Hier kan julle alweer vryer wandel, want nou het ons vaste grond onder ons voete. Kyk net daar voor julle in die diepte van die dal waar dit baie smal word. Daar moet ons vinnig heen en ons eerste klein tussenstop maak. Dus maar lewendig daarop af, dan sal ons spoedig ter plaatse wees. Kyk hoe die dal steeds nouer word en daar aan alle kante angsaanjaende rotse van `n hooggebergte so sterk afhang, hulle kan enige oomblik na benede val. Maar laat julle nie daardeur afskrik nie; aan niemand sal ook maar `n haar gekrenk word nie.
2 Kyk, daar is ons al by ons smal kloof; hoe geval dit julle hier? Julle sê: Nie bepaald goed nie! Dit is egter nie ter sake nie; as ons maar net `n skerper blik op hierdie omgewing sal werp, sal hy julle wel bietjie beter geval as nou. Sien, daar naas die kloof loop daar aan die linkerkant net so `n nou langgerekte kloof wat na die middag toe deurloop. Wat sien julle daar? Julle vertel wat julle sien: Ons sien na benede gloeiende bergweiding met hier en daar `n skaars akker. Hier en daar, meer in die laagvlakte, is `n klein huisie, asof teen die berg aangedruk, gebou. Wederom hier en daar sien ons groot en enorm hoë watervalle omlaag stort; bome en struike staan ook hier en daar. Dié dal is dus baie nou deur berge omsluit, soos wat dit op aarde in Switserland te siene is.
3 Sien julle geen mense nie? Julle sê: Tot nou toe het ons nog niemand gesien nie, maar soos wat dit vir ons voorkom, sien ons so pas daar uit die eerste boerehut enkele baie armsalige landliede na buite kom. Hulle is, presies soos op aarde, in loodgrys jasse gekleed. Ook daar verder op sien ons landliede wat daar net so lyk en wat op hulle akkers besig blyk te wees om onkruid uit die beter gars te skoffel, en as ons ons nie vergis nie, sien ons daar, op `n meer op die agtergrond geleë bergweiding `n bietjie maer uitsiende kudde koeie. Dit, beste vriend en broer, is soos julle julleself kan oortuig van alles wat ons hier aan lewende wesens sien. Loop dié dal nog verder deur of eindig dit by dit wat ons nou gesien het?
4 Beste broers en vriende, dié dal loop nog baie ver deur, word geleidelik steeds breër en vriendeliker, maar is tog nie te vergelyk met die streke wat ons voor die eerste pilaar gesien het nie. Julle vra: Wat is dan die betekenis van dié dal? Ek sê vir julle: Dié dal en nog baie gelyksoortige dale is niks anders as `n volledige onthulling van die teks uit die skrif wat as volg lui: “Wie spaarsaam saai, sal ook karig oes.” Julle vra my nogmaals: Wie was hierdie mense op aarde dan? Ek sê vir julle: Dit was op aarde baie welgestelde mense, wat in hoë aansien gestaan het en die arme, behoeftige mensdom baie goed gedoen het. Tog was hulle vir hulleself die grootste weldoeners.
5 So was die eienaar van die eerste hut, wat julle daar op die voorgrond sien, `n baie ryk man. Hierdie man het by elke geleentheid die armes soms heel aansienlike toelaes geskenk, maar al hierdie toelaes tesame het nie `n tienduisendste deel van sy vermoë uitgemaak nie. Kyk nou, hierdie man het wel naasteliefde gehad; maar as julle sy naasteliefde afweeg teen sy sterk oorheersende eieliefde, dan sal julle baie gou begryp, waarom hy nou hier so `n baie behoeftige boer is. Julle sê: Ons begryp dit ongeveer wel, maar nog nie heeltemal nie. Goed, ek sal dit dadelik vir julle nog `n keer baie duidelik uitlê, maar julle moet vir eers weet dat mens hier in die ryk van die gees ook buitengewoon baie verstand het van kapitaal en renteberekening, en wel met `n sodanige akkuraatheid dat daar selfs rekening gehou word met die kleinste deeltjies van die rente-opbrengste.
6 Let nou goed op: Hierdie behoeftige boer hier het op aarde `n vermoë van rondom die twee miljoen silwer gulde besit. Volgens julle wetlike rentekoers het dié aansienlike kapitaal hom jaarliks honderd duisend silwer gulde aan rente opgebring. Van dié kapitaal het hierdie man op aarde so `n volle dertig jaar lank die vrugte gepluk. Daardeur het sy oorspronklike vermoë nog met drie miljoen silwer gulde toegeneem. Die koste van sy huishouding het hy met die saamgestelde rente bestry. Van hierdie saamgestelde rente, wat ook heel aansienlik was, het hy ook allerlei uitgawes vir liefdadige doeleindes aangewend, wat aan die einde van sy lewe bymekaar getel, so `n vyftigduisend gulde bedra het. Hoe staan hierdie som in verhouding tot sy basiskapitaal en die jaarlikse rente wat dié kapitaal opgelewer het? Dit is `n vyfde deel van sy jaarlikse hoofinkomste. Hy het egter jaarliks, nadat sy kapitaal tot vyf miljoen gestyg het, die vyfvoudige bedrag aan basisrente ontvang, terwyl die som van vyftig duisend gulde, wat hy aan liefdadige doeleindes bestee het, oor sy hele lewe verdeel is. Hierdie som was noukeurig oor die dertig jaar deur ons verdeel en die jaarbedrag wat dan daar uitkom, word as kapitaal aanvaar. Oor dié kapitaal word hy nou rente vergoed. Die kapitaal maak nou sy hele bedryf uit en die opbrengs van dié bedryf stem presies ooreen met die wettige rente. Die twee persone wat hulle aan sy sy bevind, is sy vrou en `n oorlede seun. Hulle het in `n sekere sin in die gees van hulle vader meegewerk; daardeur het hulle glad geen eie kapitaal nie, maar moet al drie van die rente-opbrengs van die boerderybedryf lewe.
7 Julle vra: Kan hierdie mense dan nooit hulle besit vergroot nie? Die moontlikheid is wel voorhande, maar so-iets gaan hier nog baie moeiliker, as by julle op aarde. Julle weet egter hoe moeilik dit vir iemand is om hom met `n kapitaal van so `n duisend gulde langs die wetlike weg van die rente op te werk tot miljoenêr. Kyk, nog moeiliker is dit hier om sy besit te vergroot, want hierdie arm grond se opbrengs is nouliks voldoende om hierdie drie persone die hoogs nodige vir hulle lewensonderhoud te verskaf. Daarom kom mens hier met spaar nie veel verder nie.
8 Daar is maar een moontlikheid vir die arme bewoners van hierdie streek om hulle geleidelik aan op te werk en dit doen hom as volg voor: Daar kom van tyd tot tyd verskriklike arm pelgrims deur die nou ravyn na binne. Hulle is gewoonlik naak en byna uitgehonger. As hierdie pelgrims die huisies sien, begin hulle dadelik te bedel. As so `n boer in al sy armoede so `n bedelaar dan tog met oop arms tegemoet tree, hom in sy behoeftige hut bring, hom daar van die nodige kleding voorsien en sy karige maal broederlik met hom deel, dan word sy kapitaal deur so `n hulp met die helfte vermeerder, maar so, dat hy nie daarvan bewus is nie. Doen hy so-iets gereeld, of neem hy die sorg van so `n baie armsalige op, deur aan hom te sê: Beste broer, kyk, ek is arm en het nie veel nie, bly egter tog maar hier, dan sal ek dié weinige altyd broederlik met jou deel, solank ek nog iets het. En as ons alles saam opgebruik het wat ek het, dan sal ek daarna met jou sonder meer na die bedelstaf gryp.
9 As dit die geval is, word die kapitaal van so `n boer dadelik heimlik verhonderdvoudig. En as daar by so `n geleentheid nog meer behoeftiges by hom kom wat hy ook liefdevol opneem en so goed moontlik versorg, sodat hy, as hy nie meer daartoe in staat is nie, byvoorbeeld met die pelgrims na die ander bure gaan om daar vir hulle onderdak en so moontlik versorging te vra, dan word sy kapitaal verduisendvoudig; ewenwel buite sy wete.
10 As dit dan so ver kom dat hy hom, as gevolg van sy naasteliefde, so van sy besittings en houding ontdaan het, dat hy dan werklik met sy pelgrim na die bedelstaf gryp, dan word hy `n tyd in die situasie gelaat, sodat hy moet bedel vir die lewensonderhoud, ten eerste vir sy opgeneemde arm medemens en daarna eers vir homself; maar vir homself dan so, dat hy steeds die grootste deel aan sy arm broer gee. Dan gebeur dit, dat die Heer `n engelgees, wat hy nie as sodanig herken nie, na hom toe stuur; hom vra na sy situasie, waarop hy dan sê: Beste vriend, jy sien dat ek arm is; hierdie armoede is my ewenwel nie tot las nie, maar ek gaan die meeste daaronder gebuk dat ek my broer hier nie meer kan help nie. Wat dink jy dan wat daar gebeur? Nou keer die arm broer hom om en sê aan hom: Ek het naak na julle toe gekom en julle het my geklee; julle het my, hongerig en dorstig, te ete en te drinke gegee, en julle het geen ag geslaan op julle gawes nie, sodat julle selfs met my na die bedelstaf moes gryp en oral brood vir my gesoek het. Kyk, daarom is Ek nou egter ook jou groot beloning want Ek, jou arm broer, is die enigste Heer van die hemel en alle wêrelde en Ek het by julle gekom om julle te help.
11 Toe jy op aarde was, het jy weliswaar spaarsaam gesaai en `n arm oes moes daarom noodgedwonge jou aandeel wees, maar met jou arm oes het jy nie meer gewoeker nie; omdat jou hart milder geword het, kon jy geen arme by jou hut verby sien gaan, sonder om jou karige oes met hom te deel nie. Dit het jou gehelp en jou tot `n ryk bewoner van die hemel gemaak. Kyk, hierdie broer wat jou hier tegemoet gekom het, sal jou binnelei in jou nuwe besitting.
12 Nou verdwyn die Heer en die gestuurde bode bring die liefdadige, arm bewoner van hierdie streek oor na die goue middag waar `n nuwe eiendom, wat noukeurig afgemeet is volgens die kapitaal van sy liefdadigheid, op hom wag.
13 Dan sê die verblyde boer aan die bode: Beste vriend en broer, ek is eindeloos gelukkig omdat die oneindige genade en ontferming van die Heer my so-iets geskenk het. Ek weet dat dié nuwe besit sekerlik baie mooi en oorvloedig sal wees. Maar kyk, daar is nog ander arm broers hier, ek staan van my bestemde landgoed aan hulle af. Laat my maar weer teruggaan na my armsalige hut, want dit sou tog kan gebeur dat onder die baie armes wat my arm hut sal besoek, die Heer weereens sal verskyn. Daarom wil ek teruggaan en in my hut elke arm broer met nog honderd keer meer liefde tegemoet tree, as wat tot nou toe die geval was. Werklik, ek kan vir julle sê, as so `n geluk my in my armsalige hut nogeens ten deel mag val, dan sal ek in alle ewigheid gelukkiger daar wees, as wanneer julle my die grootste en pragtigste goedere sou gee in die allermooiste gedeelte van die hemel! Laat my daarom maar weer teruggaan.
14 Vervolgens gebeur dit ook dat die gees die arm boer met sy klein familie laat teruggaan. Wanneer hy dan in sy armsalige hut aankom, wag die Heer ook al daar met oop arms op hom en maak hom selfs tot burger van die ewige môre!
15 Kyk, dergelike taferele vind gereeld hier plaas, maar dit is nouliks te glo wat `n hoë graad van selfverloëning daarvoor nodig is. Want met armoede is die eieliefde maar al te gereeld outomaties byna onverbreekbaar verbind. Daarom vra `n arme dan ook slegs hulp vir homself. Het hy dan `n kleinigheid bymekaar gebedel, dan is dit nouliks genoeg vir sy eie behoeftes en sy nood en armoede stel hom nouliks in staat om sy baie karige besit met `n ander arm broer te deel. Om hierdie redes vind mens op aarde, onder die arm klasse dan ook gereeld die afskuwelikste afguns. Daaruit volg egter dat dergelike arm bewoners van dié dal hulle soveel moontlik vir die bedelaars verberg. Om die rede sien julle ook maar weinig mense buite hulle huise; maar diegene wat julle buite sien, het al `n goeie gesindheid.
16 Die volgende keer sal ons die baie ontoeganklike dal regs van ons, na die noorde toe, bekyk. En dus genoeg vir vandag.
|
|
|
|
|